Afrika: Dieselfde ou storie (en leiers)
Afrika beoefen die stil goedkeuring van politieke onderdrukking.
Ek is onlangs tydens 'n radio-onderhoud gevra wat Afrika se reaksie op Joseph Kabila, voormalige president van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), se doodsvonnis in sy afwesigheid was.
Op daardie stadium was daar nog niks en ek het dit ook só gestel. Ek het sedertdien ook nog niks gesien nie. Altans nie van die Suid-Afrikaanse regering of die Afrika-Unie (AU) nie (Kabila is glo iewers in Suid-Afrika, maar dit kan nie bevestig word nie). Dit is inderdaad 'n seldsame verskynsel vir 'n gewese staatshoof om in sy land ter dood veroordeel te word – selfs in Afrika. Kabila was opsluit korrup en omstrede, maar die proses wat tot sy moontlike dood gelei het, was so moedswillig en polities soos kan kom.
Die DRK het die doodstraf verlede jaar heringestel, maar niemand behalwe Kabila is al hierdie straf opgelê nie. Die parlement in die DRK het tewens vanjaar Kabila se immuniteit teen vervolging ingetrek en derhalwe die weg gebaan vir hom om vervolg te word weens sy besoek aan die oorloggeteisterde Goma-streek en sy gesprekke met die M23-rebelle. Sy aartssonde was dus nie om sy land te plunder en die menseregte-vergrype tydens sy 18 jaar lange bewind nie. Die klugverhoor, wat hy nie bygewoon het nie en waartydens hy nie enige regsverteenwoordiging geniet het nie, het eenvoudig op die maksimum straf vir verraad deur assosiasie uitgeloop.
'n Ontmande opposisie
Dit is net nog 'n praktiese voorbeeld van Afrika se afkeur in politieke opposisie en die swygsame goedkeuring daarvan op hierdie vasteland.
Kabila is nie fisies dood nie en dit is onwaarskynlik dat sy doodstraf wel voltrek sal word solank hy iewers wegkruip. Die doodsklok het egter gelui vir sy politieke loopbaan, altans in die aanloop tot volgende jaar se verkiesing in die DRK. Dít is die voor die hand liggende en enigste rede vir hierdie uitspraak en swaar straf. Terwyl 'n doodsvonnis vir 'n voormalige leier besonder swaar en seldsaam is, word pluralisme en opposisie gereeld in Afrika ondermyn. Suid-Afrika en Namibië het op 'n beraad vir Suider-Afrikaanse bevrydingsbewegings 'n paar maande gelede vir demokrasie en menseregte voorspraak gemaak. Die ander leiers aldaar was tjoepstil daaroor en hul stilswyende gedrag doen eerder die praatwerk.
Humphrey Polepole, 'n voormalige Tanzaniese ambassadeur en kritikus van sy regering, is onlangs onder raaiselagtige omstandighede by sy huis ontvoer. Tanzaniërs gaan op 29 Oktober in 'n algemene verkiesing stem, maar die hoof-opposisieparty is verban en hul leier is sedert April in aanhouding.
In die Sentraal-Afrikaanse Republiek is Dominique Désiré Erenon, leier van die Optog vir Demokrasie en die Volk se Redding Party en 'n fel kritikus van die regering, in hegtenis geneem. Nadat hy vir drie jaar in selfopgelegde ballingskap in Frankryk gewoon het, is hy by die lughawe gegryp toe hy 'n skynbaar grootmoedige oproep van die regering aangegryp het om voor Desember se verkiesing terug te keer. Erenon en Polepole se lot is 'n les waarop Kabila waarskynlik ag sal slaan.
'n Jeugontploffing en ou heersers
Nog 'n skandvlek op Afrika is die voortdurende herverkiesing en behoud van geriatriese leiers. Afrika is by verre die wêreld se jongste vasteland en sowat 70% van Afrikane is onder die ouderdom van 30. Die aanwaskoers op die vasteland, ofskoon laer in sekere lande en gebiede, is veel hoër as elders.
Te midde hiervan word Afrika nogtans deur ouerwordende bewindhebbers wat uitgediende idees aanhang, regeer. In Malawi is die 85-jarige Peter Mutharika vir 'n tweede keer president nadat hy nouliks tydens die aanloop tot die verkiesing gesien is. Blykbaar is sy gesondheid maar wankelrig. In Zimbabwe wil Emmerson Mnangagwa (ook in sy 80’s) duidelik in sy amp sterf. Kameroen gaan weldra na die stembus en die 92-jarige Paul Biya gaan na verwagting herkies word. Hy is slegs die tweede leier van post-koloniale Kameroen en regeer reeds sedert 1982.
In Eritrea is die (ironies-benoemde) Volksfront vir Demokrasie en Geregtigheid die enigste wettige politieke party en die 78-jarige Isaias Afwerki regeer dié land sedert 1993 toe dit van Ethiopië afgeskei het, met 'n ystervuis. Daarbenewens is dit op 25 Oktober ook verkiesingstyd in die Ivoorkus en die 83-jarige pres. Alassane Ouattara is weer op die stembrief, terwyl die vernaamste opposisiefigure verbied is om deel te neem. Afrika is deurtrek met bejaarde leiers wat lewenslank en ten alle koste aan mag wil vasklou.
In Marokko en Madagaskar is Gen Z-opposisiegroepe besig om in opstand teen wanregering te kom. Sub-Sahara Afrika het 'n veelbewoë geskiedenis van politieke geweld, maar hierdie beroeringe bewerkstellig vrywel nooit enigiets wat die status quo bedreig nie. Daarvoor is die ampsdraers se greep op die magshefbome en verkiesingsinstellings bloot te sterk. Betogings kwyn uiteindelik onverrigtersake in die nadraai van bekookte verkiesings, en die uitlatings deur ander Afrika-leiers – as daar wel iets gesê word – is gewoonlik papbroekige oproepe tot vrede en gesprek.
Jonger leiers kom feitlik slegs aan bewind wanneer ouer leiers daarop aandring of sterf – soos die geval met Kabila, toe 'n sluipmoord sy pa in 2001 geëis het. Selfs dan bly die vrugte van goeie regering vir Afrika ontwyk. Die post-koloniale strydkreet om “Afrika-oplossings vir Afrika-probleme” te vind, is nêrens meer toepaslik nie as om nuwe mense en vars idees toe te laat om te gedy. Maar wie gaan leiding hiermee neem, en hoe?
Gegewe die kontinent se groeiende demografiese mag, is dit nie slegs vrae van belang vir Afrika nie, maar ook vir die res van die wêreld.
Dr Brink is 'n entrepreneur, sakekonsultant en ontleder van die Paarl.
Nog artikels deur Eugene Brink:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.