Selfbeskikking se sentrale beplanners
Afrikaners moet waak teen politieke wonderkure.
“Selfbeskikking is die enigste uitweg,” is gereeld die refrein wat op sosiale media en die Internet geuiter word wanneer 'n skadelike maatreël afgekondig (let wel: nie uitgevoer nie) word.
Dit is 'n soort wonderkuur onder menigte Afrikaners en een wat al vir 'n wyle en in enige konteks ingespan word. Geen gevolge vir staatskaping nie? Selfbeskikking. Swak munisipaliteite? Selfbeskikking. Die ekonomie wat nie vinnig genoeg groei nie? Selfbeskikking.
Só 'n komplekse en omstrede begrip word derhalwe ook tot 'n leë leuse of bumpersticker verklein: 'n Emotiewe wekroep sonder inhoud. Dit word sonder konteks – asook enige inagneming van middele, lewensvatbaarheid of implikasies – as eenvoudige oplossing die eter ingestuur. En dit is helaas waar dit dan bly.
Ek was vir jare in verskeie hoedanighede by gesprekke, berade en seminare oor selfbeskikking betrokke. Die noodsaak daarvan was uiteraard menigmaal die leitmotief vir hierdie byeenkomste en debatte, maar uitsluitsel oor die vorm en inhoud daarvan is nooit bereik nie. Terwyl sommiges (uitsluitlik) 'n volkstaat voorgestaan het, wou ander niks daarmee te make hê nie en dit (altans subtiel) as oordrewe romantiek verwerp. Federalisme, magsdeling, outonomie en dergelike ander vorme is ook breedvoerig bespreek en ontleed. Taalstreke met Afrikaans as anker is tewens in die vooruitsig gestel. Uiteindelik het elke gesprek onverrigtersake geëindig. Dit was niks meer as akademiese ontledings nie en dit het die praktiese futiliteit daarvan laat insink.
Nie al die opsies wat bespreek is (en ander wat nie onder die loep geneem is nie) is uit voeling met die werklikhede nie. Sommige kan wel realisties uitgevoer word, maar dit gaan baie moeite verg en lank duur, terwyl sukses nie gewaarborg is nie. Daar is ook vele risiko’s daaraan verbonde wat nie veelal verreken word nie. Dit het ekonomiese, politieke en maatskaplike implikasies vir meer as net die teikengroep. Veral met selfbeskikking blyk dit dat hoop en praat nie 'n strategie is nie. Daar moet iewers begin word om te bou terwyl ruggespraak met ander rolspelers ook nodig is. Al word daar foute begaan, moet iemand die leiding neem om iets te dóén om sodoende solank die selfbeskikkingsnaald te laat beweeg. Dit het egter kategories agterweë gebly.
Een van die ongelukkigste feite van die selfbeskikkingsdebat is dat mense met geen formele politieke mag nie gewoonlik die grootste rasieleiers daarvoor is. Hulle het geen werklike mandaat (behalwe dalk simboliese steun) en vermoë om namens 'n groep mense sulke staatkundige besluite te neem nie. Hulle is veelal ook 'n minderheid van 'n minderheid. Daarbenewens het die politieke partye wat wel selfbeskikking en magsafwenteling voorstaan, nog nooit genoeg kollektiewe steun by die stembus ingeoes om praktiese en wetgewende gestalte aan hierdie idees te begin gee nie. Selfs dan sal daar weer onderlinge verskille oor verskeie aangeleenthede wees.
Boere sonder planne
Wyle Z.B. du Toit, sekerlik een van die mees formidabele Afrikaanse joernaliste tot nog toe, het in sy 1999-boek Die Nuwe Toekoms — 'n perspektief op die Afrikaner by die eeuwisseling oor die bedremmeldheid van die NP-regering se onderhandelingsvermoë in die 1990’s geskryf. Hy het hulle as “Boere sonder planne” getipeer en tereg só. Maar die werklike probleem was nie dat hulle nie planne gehad het nie, maar dat hulle nie hul planne ordentlik kon beding of uitvoer nie. Hulle was onervare en stiksienige onderhandelaars en het internasionale kundigheid en hulp van die hand gewys – selfs ná waarskuwings oor hul misstappe.
Du Toit het voorts op 'n uitgebreide en gesofistikeerde manier aangetoon dat die sentralisering van mag waarop die Grondwet en werklike politieke uitkomste sedert 1994 grotendeels geskoei is, ingedruis het teen die internasionale woelinge in veral die 1990’s. Die ontbinding van die Sowjetunie en die einde van kommunisme, tesame met dikwels bloedige nasionalisme het weliswaar die middelpuntvlietende kragte in veral Europa gaande gemaak. 'n Hele boel nuwe state is gebore en mag is in ander tradisioneel unitêre state soos die Verenigde Koninkryk in die laat 90’s verder afgewentel.
Federalisme en die afwenteling van mag is vandag effens, maar tereg, terug op die agenda soos wat die ANC se steun (en sentralisme as hul leidster) in die noutes beland. Die Wes-Kaapse regering maak die regte en legitieme geluide, maar die res van Suid-Afrika sing beslis nie in dieselfde koor nie. Hul eise is ook vir meer en beter magte en bevoegdhede vir 'n bestaande provinsie en verteenwoordig dus 'n soort burgerlike en administratiewe federalisme. Dit is in teenstelling met die etniese en kulturele soort wat eie aan Afrikaner-eise is. Politieke partye wat boonop volledige afskeiding van die Wes-Kaap wil opeis, vaar erbarmlik in verkiesings.
Vandag is daar steeds Boere sonder planne. Hulle erken skouerophalend dat hulle nie weet watter modelle vir Suid-Afrika of Afrikaners as groep geskik is nie, maar hulle beloof om wel iewers in die toekoms te weet (later maak hulle dan weer dieselfde verskonings). In sekere forums en gesprekke is die pleitbesorgers van selfbeskikking genoeë om ontoepaslike internasionale voorbeelde aan te haal en hulself op die internasionale reg en steun te beroep (selfbeskikking as term en reg kom wel op vae en hoogs ongekwalifiseerde wyses in internasionale handveste en verbonde voor). Hongkong se outonomie (wat snel deur China weggekalwe word), Tsjeggo-Slowakye se fluweelskeiding ('n uiters seldsame voorbeeld van konsensuele maar opportunistiese partisie), die konfederale stelsels van supranasionale liggame soos die Europese Unie (EU) – wat op stuk van sake steeds uit bestaande soewereine state bestaan en tans bitter ongewild is en ander voorbeelde van (anders as Afrikaners in Suid-Afrika) gekonsentreerde minderhede in Europese state word sonder konteks te berde gebring. Daar word egter min oor Afrika gepraat.
Sentrale beplanners teenoor keuses en aksie
Hierdie mense is, nes die teikens van hul smaad, self sentrale beplanners. Vanuit veral Gauteng sien hulle reikhalsend daarna uit om die ideale plan te skep deur navorsing en internasionale druk om die ganse Suid-Afrika (of ten minste groepe daarin) te herrangskik. Die werklike politieke en sosiale opposisie tot enige sulke planne, asook ander struikelblokke, bly tewens onverreken. Hulle wil met ander woorde verbeter op wat van die beste akademiese en politieke breine – ten minste in 'n konseptuele sin – asook praktiese pogings hier te lande oor dekades kon oplewer. Alles van agter 'n mikrofoon en sleutelbord.
Die vraag wat die voorstanders van sulke amorfe selfbeskikking gewoonlik stel, is dat indien hul (of diegene wat hulle aanhang) wollerige en onbekookte idees nie aanvaar word nie, wat is dan die mees gevoeglike antwoord op Suid-Afrika en Afrikaners se vraagstukke? Volgens hulle is dit 'n tweeledige keuse tussen enersyds wat ook al hulle dink is gepas (wat sesessie sowel as minder drastiese keuses insluit), en andersyds “Suid-Afrika onder die ANC en EFF”. Die samesweringsband tussen laasgenoemdes is self 'n oorvereenvoudiging, soos gesien in die vergestalting van die Regering van Nasionale Eenheid (RNE). Behalwe dat die ANC se steun aansienlik afgeneem en nog verdere dalings in die verskiet is, is die EFF nie amptelik in beheer van veel in die land nie. Die vrese hieroor is daarom grootliks oordrewe.
Ewenwel, die status quo (oftewel sekere persepsies daarvan) is nie hoe dit voorkom nie en my antwoord sal wees om te kyk wat reeds spontaan gebeur het en nie sentraal beplan is nie. Daniël Eloff beskryf juis onlangs op OntLaer hoe die middel- en hoërklasse in die algemeen reeds begin aanpas en “feite op die grond” te vestig, soos om in hul selfversorgende residensiële eenhede saam te trek en op hul eie maniere aan hul behoeftes te voldoen. Die private en burgerlike sektore het ook hierdie aanvraag begin bevredig, soos om onderriginstellings te bou. Dit is nie akademiese oefeninge of grootskaalse staatkundige herskikkings nie, maar praktiese ofskoon onvolmaakte oplossings.
Die selfbeskikking-dromers hoef andersins ook nie verder as Orania vir nog 'n voorbeeld van territoriale kulturele selfbeskikking te kyk nie. En ook as toonbeeld van die moeite wat dit verg om beslag aan sulke entiteite en selfbeskikking te gee. Wat mens ook al van Orania dink, hulle het reeds goeie vordering daarmee gemaak om gestalte aan die selfbeskikkingsideaal van Afrikaners te gee. Daar word aan eise ten aansien van onderwys, kultuur, behuising en die ekonomie op verskeie maniere voldoen. Dit het egter meer as drie dekades geduur vir 'n raps meer as 3000 mense om hulself daar te vestig en baie mense het dit ook al verlaat weens verskeie redes, soos beter werksgeleenthede elders. Orania raak op verskeie en innoverende maniere meer selfstandig en outonoom (en dis bewonderenswaardig), maar hulle is nie geensins soewerein nie. Hulle volg egter die regte roete: Raak funksioneel selfversorgend en lewer goeie dienste, terwyl kultuur ten volle uitgeleef word.
Dit is die keuses wat meeste Afrikaners en andere vrywillig uitoefen en dit is die naaste wat daar aan enige selfbeskikking-opsie kort van sesessie bestaan. Dit keer dat die hipotetiese ANC/EFF-kabaal (en misdadigers) oor ons loop, terwyl daar nie gewag word vir slegs teoretiese en onpraktiese idees om beslag te kry nie. Ekself het geen erg daaraan om net deur Afrikaners in 'n eksklusiewe enklawe regeer te word nie. My munisipaliteit bestaan uit diverse mense en dit gaan so goed soos dit kan gaan. Ek en my kinders kan sonder moeite ons kultuur en taal uitleef in my gemeenskap en bestaande instellings – hoofsaaklik saam met Afrikaners.
Ek behou ook die reg voor dat indien ek werklik ontevrede is, ek die keuse kan uitoefen om weg te trek (soos mense trouens doen). Wanneer mense dan oor etniese selfbeskikking praat, is daar baie eenvoudige vrae om te vra. Wie, wat en hoe? Dit sal weldra die kaf van die korrels skei.
Dr. Brink is 'n sakekonsultant, entrepreneur en ontleder van die Paarl.
Nog artikels deur Eugene Brink:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.