Korrupsie: Cyril soek die verkeerde sondebokke
Probleme met die president se blaamsverskuiwings.
Wanneer pres. Cyril Ramaphosa oor korrupsie skryf of praat, kom die woorde van Edmund Burke by my op: “Hypocrisy can afford to be magnificent in its promises, for never intending to go beyond promise, it costs nothing.”
In 'n onlangse nuusbrief (hy is beter daarmee om hulle te skryf as om hul inhoud uit te voer) vaar die president uit teen allerlei korrupsie en bied dan sekere flou beloftes en advies aan rakende een van die grootste skandvlekke op ons samelewing. Die prestasies waarna hy wel verwys, is opgesmuk en oordrewe: Hy skryf oor inhegtenisnames en voortgaande ondersoeke, en nie oor skuldigbevindings en tronkstraf nie.
Wanneer blaam vir iets toegedeel word, moet die reikwydte, grootte en impak onder die loep kom en vergelyk word om die graad van skuld en skade te bepaal.
Hy benadruk hoe die private en selfs burgerlike sektore ook betrokke is by korrupsie. Dit mag die geval wees en tot enige mate voorkom (hy verskaf nie voorbeelde nie) maar dit is onbetwisbaar dat hierdie organisasies en sektor oor ander mandate, aansporings en finansierings- en bedryfsmodelle beskik as openbare instellings. Hulle beskik inmiddels oor ander teenwigte wat korrupsie betref.
Ongerieflike besonderhede
In teenstelling met die regering, sal die voorkoms en blootlegging van grootskaalse korrupsie in private besighede en burgerlike organisasies aandeelpryse, opbrengs en ledetal verongeluk.
In uiterste omstandighede kan dit hulle heeltemal ruïneer. Maar hulle maak staat op ongewaarborgde inkomste en private entiteite kan nie kontrakte opblaas tussen mekaar nie, want niemand gaan daardie uitermatige koste kan of wil dra nie. Hulle maak derhalwe op hul reputasies en die slim aanwending van skaars en onsekere hulpbronne staat om kostedoeltreffend te oorleef en mee te ding. Hulle veg meestal hard om hul beeld teen bewerings van korrupsie en ongerymdhede te beskerm.
Hulle bedien kliënte en lede, wat vrywillig hul produkte en dienste koop asook hulpbronne soos geld en kundigheid verskaf, met inbegrip van aandeelhouers in genoteerde maatskappye. Hul belanghebbendes se steun kan skielik onttrek en na mededingers geswaai word. Die mark sal die beoordelaar van hul optrede wees. Korrupsie, nes onbevoegdheid en 'n gebrek aan mededinging, is onbekostigbaar in die private sektor.
Ramaphosa noem 'n paar van die korrupte praktyke waarby die private sektor na bewering betrokke is: Belastingontduiking, mark-manipulasie, opgeblase kontrakte en tendersameswering. Belastingontduiking en mark-manipulasie is weliswaar onwettig en kwalifiseer as korrupsie ingevolge sekere omskrywings. Daar is egter 'n verskil tussen belastingvermyding en die ontduiking van die ontvanger se aanslae. Om onnodige belasting te vermy is heeltemal wettig kragtens die wetgewing van verskeie lande en selfs wenslik (veral met inagneming van wat die staat met ons belasting aanvang). Die ontduiking daarvan is egter nie.
Die verskil is dikwels uiters tegnies en kompleks. Talle ryk individue sowel as klein en groot besighede toets die grense hiervan met die hulp van gesofistikeerde rekeningkunde en regsadvies. Maar ondanks die voorkoms van belastingontduiking in die private sektor, is dit moeilik om te bepaal of dit wel so erg is as wat die president voorgee. Hy noem nie spesifieke voorbeelde om sy aantygings te ondersteun nie, soos wat hy wel met Eskom, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die waterrade en munisipaliteite doen.
Daar is wel een klinkende en kommerwekkende voorbeeld van sulke beweerde misdade: Die Phala-Phala rooftog. Dit is juis nou weer aktueel. Nadat rowers 'n groot som geld op Ramaphosa se wildsplaas in 2020 geroof het, is hy van die besit van onverklaarde buitelandse valuta, geldwassery en belastingontduiking beskuldig. Daarbenewens het hy vermoedelik nagelaat om die polisie hiervan in kennis gestel en 'n senior presidensiële lyfwag beveel om die diewe, wat later boonop omgekoop is in ruil vir hul stilte, te soek – 'n ernstige en besliste wanaanwending van openbare hulpbronne vir eie gewin.
Hy het Busisiwe Mkhwebane as openbare beskermer (OB) geskors op die dag nadat sy aangekondig het dat sy hom oor die groeiende skandaal gaan ondersoek. Desondanks die billike smaad wat Mkhwebane ontlok het oor haar onbevoegdheid en bande met oudpres. Jacob Zuma, is die tydsberekening van haar skorsing en uiteindelike vervanging hoogs verdag. Na afloop van die Artikel 89-paneel se bevindinge van growwe wangedrag teen Ramaphosa, het die ANC in die parlement teen 'n staat van beskuldiging gestem, die nuwe OB het hom van alle wandade kwytgeskeld, en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het dit gerade geag om hom nie te vervolg nie. Dis darem gerieflik om die president te wees en anders as in die private sektor en met individuele belastingbetalers, die agentskappe te beheer wat veronderstel is om jou aanspreeklik te hou.
Ramaphosa noem voorts “opgeblase kontrakte en tender-sameswering deur besighede” wat ons ekonomie skaad. Hierdie gevare is die kern van tenderpreneurskap, die skadelike ANC-verskynsel wat toelaat dat skynbaar private besighede uitsluitlike munt uit regeringskontrakte slaan. Vir die sameswering en oorgroot kontrakte om verwesenlik te word, moet 'n ander party hulle aanvaar (en dikwels fasiliteer). Kortom, 'n “staatskoper” moet willens en wetens tot die disproporsionele kontrakprys instem.
Soos te veel keer die bewese geval is, is daar sameswering tussen tenderpreneurs en staatsamptenare en daar is eintlik nie 'n onderskeid tussen hulle nie. Aangesien mededingende prosesse gereeld omseil word, kom voorsieningsketting-onreëlmatighede in die staat uiters algemeen voor en tenderpreneurs is in wese parasitiese verlengstukke van die regering wat hulle as private rolspelers voordoen. Hulle geniet daarbenewens amptelike beskerming van litigasie en gevolge.
'n Eensydige sosiale kontrak
Tersaaklik hier is die feit dat staatsinstellings deur verpligte belasting onderhou word en dus die publiek dien deur die verskaffing en onderhoud van openbare goedere en dienste. Dit sluit in die bou en onderhoud van paaie, skole en hospitale. Buite die Wes-Kaap word ons belasting egter nie verstandig of wettig aangewend nie – om dit sagkens te stel. Die OB se agtereenvolgende verslae toon juis herhaaldelike verdoemende bevindinge oor onreëlmatighede in munisipaliteite en ander staatsdepartemente. Gaan kyk maar oor hoeveel skole in Gauteng halfklaar staan oor tendergeskille en korrupsie.
Ons kan nie as belastingbetalers bloot weier om te betaal en toelaat dat die regering ineenstort sonder om die gevolge daarvoor te dra nie. Anders as die private sektor wat vrywillige kliënte dien, is die sogenaamde sosiale kontrak nie vrywillig nie (hoewel ek wens dit was). Terwyl Ramaphosa aansienlike blaam vir korrupsie na die private sektor verskuif, skitter die ironie dat hierdie sektor, tesame met indiwiduele verbruikers en belastingbetalers – wat veelal self entrepreneurs is of in die private sektor werk – die staat deur verskeie belastings befonds. Daarbenewens moet hulle vir private dienste betaal omdat die openbare dienste se treurigheid en agteruitgang hulle geen ander keuse laat nie.
Nie om enige skuldige partye vry te spreek nie, maar die regering het klaarblyklik 'n groter plig jeens die private sektor en belastingbetalers om korrupsie te bekamp. Hulle is immers 'n party wat met verpligte inkomste en 'n omvattende openbare mandaat toevertrou word, maar juis daardie vertroue ernstig skend.
Nié die private sektor nie. Dit is hoekom, soos wat die president ook in sy nuusbrief noem, korrupsie in die private sektor veel minder dekking as korrupte bedrywighede in die openbare sektor geniet.
Dr. Brink is 'n sakekonsultant, entrepreneur en ontleder van die Paarl.
Nog artikels deur Eugene Brink:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.