Ek is seker bietjie van 'n internet-kruiper - hopelik nie een met “vuurhoutjievingers” soos in jou gedig, “'n virus” nie - maar ek het jou bietjie gaan Google, want jou Instagram-profiel is privaat …
Jou LitNet-profiel beskryf jou onder meer as skrywer, dosent en vertaler wat in die Laeveld grootgeword het. En nadat ek jou bundel gelees het, blyk dit dat jou bundel jou ook só beskryf. Nie net is daar verwysings na die Laeveld in Kruiper/Crawler nie, maar het jy as digter ook elke gedig vertaal sodat dit in beide Afrikaans en Engels verskyn. Ek het toe gewonder wat jou akademiese werk oor jou sal verklap en daarom het ek na jou MA-tesis gaan kyk.
Toe ek die titel van jou tesis sien, “Translation x Poetry x Gender: A Queer-Feminist Analysis of Afrikaans Poems with English Translations” (2018), is my (knopie)spinnekop-sintuie dadelik geprikkel. So ek wil sommer begin met die volgende aanhaling wat ek in jou tesis gevind het: “Furthermore, our queerness contaminates all”.
1. Is ek reg wanneer ek sê dat jy queerness beskou as iets wat meer omvattend is as dit wat nie heteroseksueel en cisgender is nie? Met ander woorde: Dat dit wat queer is enigiets is wat vreemd is; wat grense oorskry en die normatiewe, wat ook al dit mag wees, uitdaag oftewel kontamineer omdat hulle “viraal” is soos in die gedig, “iemand wat op hul knieë hoort”?
Jy is oppit. Ek verstaan en werk met kweerness innie breedste sin moontlik (dinamiese diagonale bewegings, dwarsboming van binaries, frustrasie met voorskrifte, ens.) mar ek strek my konseptualisasies vanuit kweer menslike lywe, begeertes, en gemeenskappe. Die ‘virus’ was vir my vrugbare metafoor vir kweerheid, taal, en vertaling.
2. Dit blyk dat jy baie bewus is van die dominante, normatiewe ideologieë wat ons realiteit as Suid-Afrikaaners, maar ook skrywers, vertalers en akademici onderlê. Om dan te sê dat queerness die normatiewe “kontamineer”, is interessant en dié kontaminasie vind ek ook in jou gedigte. Ek dink byvoorbeeld nou aan van die gedigte in die eerste afdeling, soos “die rottekoning” waar skryf en die produk daarvan nie as iets mooi of grasieus beskou word nie, maar eerder as iets wat geassosieer moet word met korsige “afsettings en oorblyfsels”, en dít wat kriewel. Wou jy met Kruiper aspris die normatiewe, wat insluit taalgebruik, temas en ideologie, kontamineer oftewel uitdaag?
Hoofsaaklik wou ek poësie skep wat ek sou geniet, speel mettie membrane tussen die spreker ennie outeur, in gesprek met verskeie digkunsgenres, gedigte, digters tree – en wys hoe ek klink. Al hierie doele vorm deel van verskeie voorafgaande tradisies – waar die teks norme uitdaag, wat van leeservaring tot leeservaring sal verskil, ontbloot dit waar daai dominante verwagtinge begin gemaklik word het.
3. Net soos wat ons epidermis poreus is, is ons geestelike of kognitiewe grense, a.k.a. membrane, ook deurlaatbaar. So kontaminasie, of om as skrywer geïnspireer te word deur ander en die alledaagse, is seker onvermydelik. En dit bring my nou na die skrywer toe. Die spreker van “wurm” kan, volgens my, vergelyk word met 'n skrywer – maar spesifiek een wat op dooie materiaal oorleef en onverstaanbaarhede (“aaitsjooiek/tjiekierie”) produseer.
Dink jy jou uitdaging van die normatiewe, deur soos die wurm-spreker iets queer te produseer, kan mense wat (on)bewustelik inkoop in die normatiewe ongemaklik maak? En sou so 'n ongemak iets wees wat jy wil bewerkstellig?
Vervreemding, ongemaklikheid, en onsekerheid is normaal en belangrik vir my. Die eerie, weird, en goties is estetikas wat my fassineer en wat ek beeldskoon vind.
4. Rebels, vreemd en absoluut ikonies ... Ek dink jy is die Suid-Afrikaanse weergawe van Lady Gaga – en dit is 'n kompliment! Met jou skryfwerk daag jy doelbewus die dominante normatiewe figure soos die akademici en die groter kanon uit in “rot”:
liewe prof
doen 'n close reading hier
jy is 'n ikoon, kanoniek, legendaries,
spieël-brein,
as jy hunker om my weer in jou broeksak te druk
trek, hierie, kweer, rot, bloed
Wat is jou ervaring met hierdie figure? Het jy gevoel dat van die literêre hekwagters jou in hulle “broeksak” wil druk, oftewel jou wou kry om tot hulle repertoires te konformeer?
Die skrywer en hul mentors, lektors, inspirasies, kollegas staan in professionele en literêre, mar ook sosiopsigiese verhoudings tot mekaar. Skerp hiërargieë en oneweredige wisselwerkings is vir my Oedipaal, ongesond, of ten minste un-ideal. Iets wat afgedwing word of met intimidasie oorgedra word, dra nie vars vrugte nie. Ek is dankbaarste virrie leiers en leraars wie my wêreld vergroot, my voortdryf en ons interafhanklikheid erken. Ek dink dis belangrik dat ons die kennis en uitwysings wat ons ontvang met ons eie weses en ervarings filtreer en kombineer – nuwe drywe vir 'n nuwe dag.
5. Retweet! Jou antwoord lei my direk na my volgende vraag oor jou gedig, “welwitschia mirabilis se besies”. Ek moes eers hierdie spesie gaan Google en het agtergekom dit verwys na 'n onsterflike plant, 'n “lewende fossiel”. In jou gedig, probeer die spreker dié “kanniedood” sonder sukses verbrand. En later sê die spreker hulle “dig met blits en boer met vuur” – 'n idee wat ook in “fin-tech rotte en vlooie” voorkom met die skrywer wat sê hulle is 'n piromaan. Verwys hierdie gedigte na jou skryfproses? Of sluit dit eerder aan by die idee dat dit moeilik is om die gevestigde norme uit te daag en af te brand sodat nuwe idees (of lewe) tot stand gebring kan word?
Ek dink daar bestaan teoretici wie sal voorstel dat elke gedig as meta-gedig gelees kan word – al hierie lesings is vir my interessant. / Sjoh – vlamme is maar magneties en sommige wortels is weerstandig. Taal, en moontlik veral Afrikaans, is vir my vlambaar: warm en voedend en aansteeklik en dodend en ruik beste innie reën.
6. In verwysing na “mbombela gothic”: Selfs jou antwoorde is poëties en “hondmooi”! En voordat ek jou probeer oortuig om 'n parfuum te ontwikkel wat soos vlamme in die reën ruik, wil ek eers fokus op 'n ander aspek van jou bundel wat vir my interessant was.
Die persoonlike is mos polities en hierdie bundel is nie bang vir die persoonlike nie. Ek is bewus dat die spreker nie die digter is nie, maar in jou onderhoud met Dianne du Toit Albertze het julle gesels oor queer seksuele identiteite, wat jou eie insluit. Jy is nie bang om oor seks en seksualiteit te skryf nie, en jy gaan ook slim daarmee om en dink dadelik nou aan “'n kreepy krauly”. Terselfdertyd is daar gedigte (“iemand wat op hulle knieë hoort”) waar die queer spreker(s) baie bewus is dat hulle nie deur almal aanvaar word nie. Is dit 'n struikelblok wat jy self moes oorkom voordat jy meer gemaklik oor seksualiteit en seks kon skryf?
Ons seksuele begeertes en skatologiese lewens verbind, indien nie alles met organe, meeste mense. Die grotere samelewing plaas onnodige struikelblokke aangaande natuurlike prosesse en ontwikkelings vierkantig innie pad van ons kollektiewe vryheid, plesier, en konneksies. Ek wens dat elke mens, op hul eie tempo, tussen oper koppe, hulself kan aanhou herontdek of nuwer omskep. Eers wanner mens behoorlik liefde aan jouself kan wys, kan mens voller liefde aan anner offer. Op my kaalste is ek steeds nie kaler as enige anner mens nie – as ek myne wys en jy wys joune hoef niemand meer skaam te wees nie.
7. Hoe sê RuPaul? As jy nie jouself liefhet nie, dan hoe kan jy 'n ander liefhê?
Selfaanvaarding is wel nie maklik nie. Veral nie wanneer dit tyd is om die queer en versteekte dele van onsself te aanvaar en omarm nie. Volgens Freud word hierdie gedeeltes van onsself in die Id, die onderwêreld van ons psige, opgesluit. Nietemin raak jy in jou bundel ook aan mitologie. So ek dink ons moet saam die reis na die mitologiese onderwêreld aanpak.
Die Minotaurus word in die mite waar Theuseus hom verslaan, beskou as iets wat chaos en gevaar simboliseer – 'n man met die kop van 'n bul, 'n kruiper, wat vermy moet word. Tog het mense vandag meer empatie met dié monster omdat hy die produk van sy ouers se skandes is en dus eintlik onskuldig is. In jou bundel is die spreker per tye die brawe Theseus-figuur – die een met die mag – soos in “Theseus se Uber”. Terselfdertyd is die spreker in “Debonairs|baardskeerder” 'n “verkeerd manlike[e]” figuur met horings in hulle mond wat chaos saai en die matador verskeur.
Ek wil eintlik nou self die matador wees en daarom vra ek jou wat jy van my interpretasie dink?
Ons het reeds gesels oor jou wat met jou skrywerk die normatiewe uitdaag soos 'n minotaurus, chaos bring. Maar dink jy jy, en ander queer skrywers, tree ook op as minotaurusse in selfverdediging wanneer julle bedreig, oftewel ingeperk, voel?
Ek love jou saamlees vannie gedigte en saamtrek vannie mitologiese verwysings en psigoanalitiese argetipes. Dis 'n groot eer om so gelees te word en te kan gesels. Partykeer raak dit uitputtend om konstant innie anti-hegemoniese posisie te wees, tog is dit moontlik 'n onontsnapbare posisie en dalk 'n etiese verantwoordelikheid vir minority gemeenskappe. Ek lief bell hooks se definisie: “‘Kweer’ nie as iets wat handel oor met wie jy seks het nie (dit kan wel 'n dimensie daarvan wees); maar ‘kweer’ as iets wat gaan oor die self wat in stryd is met alles rondom dit en wat 'n plek moet uitvind en skep en vind om te praat te floreer en te leef.”
8. Die sprekers in baie van jou gedigte is vir my beide Theseus en die Minotaurus; dapper genoeg om hul eie queerheid te aanvaar en soos jy (en hooks) sê, bereid is om vir hulself in 'n samelewing wat hul nie altyd aanvaar nie, 'n plek te soek en te skep.
Dink jy woorde, in plaas van die swaard (die fallus en normatiewe manlikheid) is die queer-figuur as spreker maar ook kunstenaar se wapen?
Alhoewel boeke geweld kan voorstel (en beliggaam), is daar 'n kritiese verskil tussen literêr-simboliese verteenwoordiging ennie psigies-materiële realiteite wat meeste mense aan hul lywe kan voel. Ek is baie geseën om in letterkunde en kuns te kan werk. Die Boek is medium waar onsself kan en mag uitdruk as deel van proses van verwerking. Woordelikse uitings, gesprekke, debatte ennie Biblioteek verteenwoordig vir my noodsaaklike ruimtes waar ons met mekaar kan ooreenstem en verskil en breine kan lat oopkrul en saamkoek.
9. Ek dink jy is net soos jou sprekers – beide Minotaur en Theseus. Jy weet duidelik hoe gevaarlik en magtig woorde is en jy is dapper genoeg om die skynheiligheid van mense en hulle woorde uit te daag. Jy het jou swaard uit vir die teoretici (“wetenskaplikes”) en melodramatiese toekomstige mejuffroue Suid-Afrika (“kokkerotkommer”). Nietemin daag jy die volgende uit: Skoolliedjies soos “down by the river” wat objekte van swart vroue maak, performatiewe woke wit digters (“'n varkie”) en queer kunstenaars met universiteitsgrade wat meer blaf as byt het (“fokken faggots”). Meen jy dat skrywers en akademici maatskaplik betrokke moet wees?
O jy seën my met hierie beskrywing. Ek glo so ja – akademici, veral in publieke universiteite, is verskuldig ānie samelewings wat ons voed en bestudeer, en skrywers kannie sonner lesers volledig bestaan nie. Beide epistemologiese en literêre projekte dra altyd etiese verantwoordelikhede – of dit nou eksplisiet besef of verkondig word of nie.
10. Noudat ek weet wat jou siening ten opsigte van skrywers is wat nog “kaalvoetgedigte” skryf ... Een van my gunstelinggedigte in die bundel is “Ma|knopiespinnekoppe”. Ek het hierdie gedig dadelik vir my ma aangestuur. Mag ek maar vra wat jou ma en ouma se reaksie op die gedig was? Veral omdat jy hulle ook in jou tesis bedank vir hulle “tuisgebakte feminisme”.
My ma hou baie daarvan. Ek is nog 'n aparte gedig aan my ouma verskuldig. Dārie twee dames is elk een van my linker- en regterpote.
11. Ek kan nie wag vir die gedig nie!
Die gebruik van beide Afrikaans en Engels in die bundel maak dít queer en hibried. Jy is 'n vertaler, en duidelik 'n baie goeie een! Maar wat het jou geïnspireer om ’n tweetalige bundel te publiseer? Wou jy meer lesers só bereik binne 'n meertalige Suid-Afrika; wou jy met taal eksperimenteer en 'n queer bydrae tot beide die Afrikaanse en Engelse repertoires maak?
Al die bogenoemde – eksperimentering, dubbele bydraes, wyer gehore. Vertaling is deel van persoonlike skryfpraktyk, akademiese belangstelling, en sommer 'n doodgewone deel van tussen tale leef.
12. Om af te sluit: Wat is volgende vir jou as die UJ-pryswenner, PhD-student, vertaler en dosent?
Lees en skryf en skryf en – my eie linguistiese en literêre repertoires uitbrei. Ek leef my drome uit. Dis net moontlik weens my promotors, uitgewers, families, kollegas, interaktiewe lesers (soos jy), mede-skrywers en vreemdelinge wie my vertroue bied. Oor en oor dankies.
13. Ek en die ander vlieë wat nie skrik vir aardbewings nie (“'n wiggelaar”) sê baie dankie vir jou en jou bydra tot die Afrikaanse (en Engelse) literatuur en navorsing!
En my heel laaste vraag: Wat van 'n deel twee vir “chase net die allergex” of miskien 'n spoken word/rap-weergawe daarvan op Spotify? Want dít is net 'n oorkuiper wat wag om te gebeur ...
chase net die allergex
hy's te mean
soek 'n stache
op 'n smiley face
emoji
perske vlam
vir jou tongvleis
pound vir pound
julle's cagey
faux-fur
cover up
snit is mangy
jeuk rys
oor maag
gruis dye
spoeg’it plat
understall
fuckitup
blaf dit up fat slut
A! Suster! Nou maak jy 'n harige jeuk wakker.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










