Mikroplastiekpaniek is die nuwe luukse-bekommernis
'n Té lang meningstuk oor iets wat, eerlikwaar, ook nie so vreeslik saak maak nie.
In Amerika glo amper 9 uit elke 10 huishoudings hulle kraanwater is ongesond, en 8 uit elke 10 is spesifiek bekommerd oor mikroplastiek in hul kraanwater — 'n bekommernis wat volgens die bedryf se eie opnames in twee jaar met 400 persent gegroei het. Die antwoord op daardie angs is 'n florerende mark van omgekeerde-osmose-filters, glasbottels met name wat soos Skandinawiese gletsers klink, vlekvrystaal-kosblikkies in plaas van goeie ou Tupperware, “mikroplastiek-detoks”-filtreerstelsels wat as gesondheidsbelegging bemark word.
Indien mense vra of die mikroplastiekpaniek dalk die wetenskap vooruitloop, dan word mens behandel asof jy in die openbaar getwyfel het of rook longkanker veroorsaak. Die anti-mikroplastiek-beweging duld nie ketters nie. Dis presies hoe 'n ortodoksie klink terwyl dit gevorm word. Nie deur bewyse of data noodwendig nie, maar deur die toenemende sosiale koste om dit te bevraagteken.
Die studie wat die hele paniek in 2024 aan die groot klok gehang het, was 'n artikel in die New England Journal of Medicine wat mikro- en nanoplastiek in die karotisplaak van 304 pasiënte gemeet het, met 'n meer as viervoudig verhoogde risiko van hartaanval, beroerte of dood by dié met plastiekdeeltjies. Dit is die syfer wat sedertdien in koerantberigte, TikTok-video’s en waterfilter-advertensies as bewys gebruik word.
Wat selde saam met die syfer verskyn, is dat ander navorsers binne weke in dieselfde vaktydskrif daarop gewys het dat die studie geen kontrole-monsters uit die operasiesaal self geneem het nie, en dat operasiesale — met hulle buise, sakke en instrumente — self ryklik met presies daardie plastieksoorte “besmet” is. Selfs die outeurs erken hulle studie bewys geen oorsaak-en-gevolg nie. 'n Enkele, moontlik-besmette, nie-oorsaaklike waarneming is dus die grondslag waarop 'n hele generasie se huishoudelike gedrag (ten minste in die welvarende Weste) verander word.
Rob Henderson beskryf die idee van “luxury beliefs” oftewel welvaartsoortuiging: 'n oortuiging wat status aan die elite gee teen byna geen persoonlike koste nie, terwyl die werklike koste op laer klasse afgewentel word. In sy Amerikaanse konteks verwys Henderson na dinge soos die ontfondsing van polisie of die verwerping van die huwelik as instelling. Mikroplastiekpaniek is nie noodwendig 'n oortuiging wat mense verkondig soos 'n welvaartsoortuiging nie, maar 'n bekommernis wat jy jou kán veroorloof om te koester, en waarop jy kán reageer met tyd, kennis en geld wat die meeste van die mensdom nooit sal hê nie. So ek noem dit dus eerder 'n luxury concern.
Die kern van die vertoning gaan eintlik oor die sosiale sein wat mense deur dit wil stuur. Mikroplastiek het 'n kodewoord geword vir 'n baie spesifieke soort status van ingelig wees. Dat jy die regte podsendings luister, die regte nuusbrief lees, die regte artikel raakgesien het voor jou vriende. Dis minder 'n virtue signal as 'n ingeligheidsein.
Dis ook nie die eerste keer dat 'n gesondheidskrisis se erns eweredig is aan die inkomste en die belesenheid van dié wat daaroor praat nie. Die appelskrik van 1989 het binne weke skoolkafeterias en supermarkrakke in die VSA leeggemaak op grond van 'n studie wat later as oordrewe beskryf is. 'n Britse regeringspaneel en 'n VN-paneel het destyds albei bevind daar was geen wesenlike gesondheidsrisiko nie.
Die organiese-kosbeweging, die kruistog teen gluten onder mense sonder seliakie, die anti-GMO-paniek wat glad nie omgee vir die landbou-opbrengste waarop armer lande staatmaak nie — nie een van hierdie foefie-vrese het by mense begin wat honger was nie, maar by 'n stedelike, opgevoede middelklas met tyd en geld om oor voedselsuiwerheid te bepeins, en 'n gehoor om dit mee te deel.
En toe verbruikers uiteindelik op “BPA-vrye” bottels aangedring het, het vervaardigers die bisfenol-A doodeenvoudig met bisfenol-S vervang — chemies byna identies, en volgens latere studies ewe hormoonontwrigtend, indien nie erger nie. Verbruikers in die welvarende Weste betaal graag 'n premie vir 'n etiket al verander dit min aan hul of ander se werklike risiko. Mense vind gemoedsrus in 'n ritueel, en is te trots of te gemaklik in die trop se middel om dit te bevraagteken.
Terug by mikroplastiek. Dit is vandag so alomteenwoordig, in ons bloed, plasenta, moedersmelk en lewers sedert die eerste bevestiging in menslike weefsel in 2004 dat die idee van 'n “skoon” kontrolegroep om werklik te meet of dit 'n probleem is, byna onmoontlik geword het. Sonder 'n werklik onblootgestelde bevolking kan navorsers assosiasies waarneem, maar oorsaaklikheid feitlik nie bewys nie. Selfs die mees deeglike oorsigstudies beskryf die bewyse vir skade aan voortplanting, spysvertering en longe steeds as “vermoedens”, op grond van “matige” gehalte getuienis. Nie as bewese feit nie.
Selfs die VN se eie Voedsel- en Landbou-organisasie erken dat 'n gebrek aan gevalideerde ontledingsmetodes reguleerders tans verhoed om enige duidelike gesondheidsrisiko vas te stel. Dit beteken nie mikroplastiek noodwendig onskadelik is nie. Dit beteken wel dat die huidige vlak van sekerheid nie naastenby die klimaat van paniek — of die selfvoldane vertelling daaroor by die etenstafel — regverdig nie.
Wat ons wél met feite kan sê, is dat plastiek kos goedkoper en veiliger gemaak het. Dit help voedselverlies en -vermorsing verminder deur raklewe te verleng en voedselkwaliteit te beskerm, in 'n wêreld waar reeds sowat 'n derde van alle voedsel vermors word voor dit ooit geëet word. Sonder plastiek sou daardie syfer nog hoër gewees het. Die sogenaamde “sakkie-ekonomie” waar sjampoe, sout, wasgoedseep, koffie ens. in klein plastieksakkies aan miljoene mense in Suidoos-Asië en Afrika verkoop word is juis dit wat gereeld deur “besorgde” aktiviste as omgewingskandaal uitgekryt word. Wat hulle selde byvoeg, is dat dit ook 'n presiese oplossing vir kontantvloei-armoede is: mense wat van dag tot dag leef, koop nie klein pakkies uit gemaks nie, maar omdat 'n groot verpakking se voorafbetaling eenvoudig nie in hulle begroting bestaan nie.
Plastiek het ook medisyne herskep. Sedert 1999 beveel die Wêreldgesondheidsorganisasie, UNICEF en die VN-Bevolkingsfonds gesamentlik aan dat outomaties-deaktiverende spuite by alle inentings gebruik word, juis omdat hergebruikte naalde MIV, hepatitis B en hepatitis C versprei het.
Dit is 'n vreemde wêreld waarin ons leef waar bekommerde verbruikers in die welvarende Weste paniekerig raak oor 'n plastiekhouer op hul kombuistoonbank, terwyl 'n kliniek in ‘n arm land juis op daardie soort plastiek staatmaak om 'n kind veilig teen masels in te ent.
Wanneer dit kom by water het die WGO en UNICEF in 2025 gerapporteer dat 2,1 miljard mense (een uit elke vier mense op aarde) steeds nie toegang tot veilig bestuurde drinkwater het nie. 106 miljoen drink steeds direk uit onbehandelde oppervlakwater. Die welvarende Weste se mens kan oor die bottel worry. Vir 'n kwart van die mensdom is die vraag nie of daar mikroplastiek in die water is nie, maar of daar water is.
Ten slotte, ek erken dat mense opreg oor mikroplastiek mag bekommerd wees en dit mag dalk in die toekoms duidelik word dat mikroplastiekpaniek geregverdig is soos wat die navorsing oor byvoorbeeld asbes ook later eers bekend geword het.
Maar soos met alle dinge in die lewe gaan besluite oor voordele en nadele, afwegings en prioriteite.
Daar is sekerheid oor wat plastiek reeds vir die armes en die wêreld gedoen het, en onsekerheid oor wat mikroplastiek werklik aan enigiemand doen.
'n Samelewing wat homself roem op ingeligte-beleidsmaking en besluitneming behoort eers die sekerhede aan te spreek voor dit paniek oor die onsekerhede saai.
Om dus oor mikroplastiek bekommerd te wees, is moontlik nie irrasioneel nie. Maar om te vergeet wat plastiek vir die armes gedoen het — ter wille van 'n gevoel van ingeligtheid wat net die welgesteldes kan bekostig om te vertoon — is kortsigtig en 'n sosiale sein van 'n ander soort. Dit stuur bloot die sein dat jy net die nuutste hoofstroomartikel gelees het, maar nie daaroor gedink het nie.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









