My Ouma Sannie was lief daarvoor om te sê: “Sê niks, dan is daar niks.” Vir haar was dit maar 'n manier om die vrede te bewaar en rus in die huis te hou. Vandag hoor ek daardie woorde egter anders. Vandag klink dit nie meer vir my soos goeie raad nie, maar soos 'n waarskuwing. Want ons leef in 'n tyd waarin stilte ook 'n politieke strategie geword het. Die wêreld het vreemd geword. Sentrisme is ongewild, en die ekstremes, aan sowel die linker- as die regterkant, is luider as ooit tevore. Oral in die wêreld het liberale en ander sentristiese partye onlangs swaar gekry by die stembus.
Om verlore grond terug te wen, beoefen baie van hierdie partye iets wat ek “populisme deur stilte” noem. Populiste is immers nie net die mense wat die hardste skree nie. Soms is hulle die mense wat doelbewus stilbly. Ons dink gewoonlik aan 'n populis as iemand wat op 'n verhoog staan, arms en vuiste swaai en die skare opsweep met eenvoudige, populistiese, maar dikwels gevaarlike antwoorde. Maar daar is iets wat dalk nóg gevaarliker is: populisme deur stilte.
Nie lank gelede nie het sentristiese partye — partye wat glo dat die oppergesag van die reg bo alles staan, partye wat glo in menseregte — luid gepraat oor die regte van die LGBTIQ+-gemeenskap, minderheidsgroepe, immigrante en ander kwesbare gemeenskappe. Vandag is baie van dieselfde partye opvallend stil. Agter geslote deure sê hulle vir hulself: “Kom ons wen eers die verkiesing; daarna kan ons weer hierdie kwessies aanpak.” Ek glo dit is 'n fundamentele fout, ons eie geskiedenis behoort ons beter te leer.
Na 1948 was die Verenigde Party die amptelike opposisie teen die Nasionale Party. Die UP het egter nooit 'n duidelike en onwrikbare standpunt teen apartheid ingeneem nie. In die hoop om steun terug te wen, het hulle probeer om almal halfpad te ontmoet. Hul standpunt kon dikwels opgesom word as: daarvoor, daarteen, maar tog ook daarvoor.
Aan die ander kant was daar die Progressiewe Party, wat later die Progressiewe Federale Party geword het. Hulle het geweet hulle sou waarskynlik nie die verkiesing wen nie. Tog het mense soos Helen Suzman geweier om hul beginsels prys te gee. Ja, selfs hulle het soms 'n meer geleidelike benadering gevolg. En dan was daar die Liberale Party, wat nog verder gegaan het en uiteindelik gedwing is om sy deure te sluit. Maar kom ons fokus op die UP en die PFP.
Die ou Sappe het eenvoudig al hoe minder relevant geword. Die kiesers wat apartheid gesteun het, het eerder vir die NP gestem. Die kiesers wat daarteen was, het hul tuiste by die PFP gevind. Die UP het uiteindelik stilletjies verdwyn. Die PFP het nie gesê: “Kom ons vermom ons oortuigings. Kom ons bly stil oor dit waarin ons glo, en sodra ons eendag wen, verander ons die land.” Inteendeel. Helen Suzman het gesê: “It’s not my questions that embarrass South Africa; it is your answers.”
Daarin lê 'n belangrike les. Stilte bring selde die stemme waarop partye hoop. Die kieser sien jou as 'n flou nabootsing van die oorspronklike en stem eerder vir die sterker, harder stem. Die waarheid bly eenvoudig: staan by jou beginsels, of val daarsonder. Maar waarom noem ek dit populisme deur stilte?
Want wat sou gebeur het as Helen Suzman nooit opgestaan het nie? Wat as daar eenvoudig geen stem van gewete was nie? As niemand opstaan en sê: “Dit is verkeerd,” begin twee dinge gebeur. Die populiste begin glo hulle praat namens die meerderheid. Terselfdertyd begin diegene wat beskerming of ondersteuning nodig het, glo hulle staan alleen. Stilte gee moed aan die een groep en ontneem die ander daarvan.
Ongelukkig is dit maar so. Woorde van haat word uiteindelik dade van haat. Persoonlik glo ek vas in twee beginsels. Die eerste is: “Ek verloor liewer met my beginsels as om te wen sonder hulle.” Maak dit my 'n slegte politikus? Sommige sal sê ja. Ander sal sê nee. Die tweede is eenvoudig: “Waarheid bo harmonie.”
Ek sou gewoonlik nooit braaf genoeg gewees het om Ouma Sannie teen te praat nie. Maar as ek vandag kon, in 'n tyd waarin die stilte weerklink, sou ek haar met groot respek antwoord: “Ouma, vandag werk dit nie meer nie. Vandag is daar juis iets.” Daarom wil ek ook uitroep na sentristiese en liberale partye: “Om hemelsnaam, sê iets. Want daar ís iets.”
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










