Spesiale Vrystelling met Afrikaans100: Geluk lesers!
Afrikaanse selfgeldendheid is nie onbespreekbaar nie. En nog bydraes.
“Barbarous tongue”. “Mongrel language”. 'n Primitiewe mengelmoes van woorde.
Die radioman Albe Grobbelaar herinner vanoggend op RSG se Historiese Almanak-program die luisteraars aan hierdie soort vernederende beledigings en hovaardige houdings, wat die Engelssprekende elite in Suid-Afrika slegs 'n honderd jaar gelede nog oor Afrikaans gehuldig het.
Dit is ironies dat selfs die ANC en EFF, wat deur hul eie Lord Milner-agtige beleide en etniese politiekery oor die jare, skynbaar hulself (nog nie) gewend het tot hierdie klas van sentimente jeens Afrikaans as taal nie.
Ook in daardie tyd, soos tans, was Afrikaans se stryd gekoppel aan 'n stryd om maatskaplik-ekonomiese en kulturele geregtigheid. Daardie koppeling maak nie opsigself Afrikaans se stryd geldig nie. Maar dit weerlê beslis die siening van kritici dat ‘n stryd om Afrikaans noodwendig ‘n stryd om oorheersing of bevoorregting moet wees.
Aan diegene wat gereeld ophaal dat “aanbeweeg en vergeet” in ons politiek verboten is, en in dieselfde asem redelike Afrikaanse selfgeldendheid afmaak as iets onnodigs of outyds, moet 'n mens vra: waarom, teen hierdie geskiedenis, moet Afrikaanssprekers bloot vergeet?
Om by Langenhoven te leen, en bietjie aan te pas, waarom is taalpolitiek vir u altyd uitsluiting, maar die uitsluiting van Afrikaans is altyd net politiek?
En meer bepaald aan Engelssprekende Suid-Afrikaners wat hierdie stellings opper: onthou julle die geskiedenis, en waarom moet sulke houdings in die gewaad van fatsoenlike beleide herklee word?
Taalpolitiek is ook gesond
Afrikaans100 verteenwoordig die eeu sedert Afrikaans se inlywing as 'n amptelike Suid-Afrikaanse taal. Daar gaan nog baie hieroor geskryf word, ook op OntLaer.
In hierdie dae van herdenking is daar die volgende spesiale bydraes ter viering van Afrikaans100:
Die geredekawel oor wie en wat Afrikaans100 verteenwoordig, is wel bietjie gister se debat. Ons erken uiteraard by OntLaer dat gesprekke oor herkoms en eienaarskap van die Taal onontbeerlik is. Dit is tog ons missie by OntLaer: om Afrikaanse laers van meningsvorming die geleentheid te gee om indringende, priemende en hoflike gesprekke te voer, ter verryking van die Afrikaanse leefwêreld. Ons kan almal tevrede wees, soos daar al baie geskryf is, dat Afrikaans 'n sambreeltaal is met verskeie gemeenskappe, identiteite en variasies. Afrikaans is baie uiteenlopend, en het verskeie magskonsentrasies en drukpunte. As politiek die eeue-oue vraag behels oor “wie wat moet kry, en wanneer”, dan is Afrikaans as gedeelde belang - en taal oor die algemeen - uiteraard ook 'n politieke onderwerp.
Ons moet nie hiervan wegskram nie. Politiek is ‘n gesonde en noodsaaklike menslike werksaamheid, en daarmee bedoel ons nie slegs die eng benadering tot politiek as “partypolitiek” nie. Vir Afrikaans se doeleindes, vind politiek plaas wanneer ons besluite moet neem oor die taal se plek in basiese onderwys en naskoolse onderrig. Politiek gebeur wanneer ons geskiedenis skryf oor Afrikaans, en wanneer ons haar viering beplan. Politiek gebeur hier, ook hier op OntLaer, wanneer ons gesprekke voer en menings vorm in Afrikaans en deur Afrikaans. Politiek gebeur wanneer ons hoofsake soos buurtkomitees, skole, geloofsinstellings, kulturele organisasies en so meer bestuur in en deur Afrikaans.
Afrikaans, soos die kunstenaar Elandré treffend sing, is meer as 'n taal, ten minste in die eng sin van die woord. Sy is die een wat ons ook máák. Taal is ‘n eksistensiële toestand waarin ook ons as Afrikaanssprekendes gewerp word; waardeur ons die wêreld in die oë kyk. Ons deel dit as 'n taalkollektief, ons praat dit individueel, maar leef deur die konteks wat dit skep. Dit gaan essensies vooraf. Ons taal is 'n gedeelde hulpbron, wat soveel van ons bestaan kenmerk en moontlik maak.
Sy en haar sprekers is gelykwaardig aan die Engelse leefwêreld: die unieke skepping van 'n talige gemeenskap wat deur stampe en stote, as ‘n spieëlbeeld van haar sprekers, die toekoms in vloei.
Taalpolitiek beteken ook dat ons krities kyk na die bloedarmoedige opvatting van die eietydse, “postliberale” tydsgewrig, wat aanvaar dat net die groot spelers in die taalomgewing soos Engels en Mandaryns en Spaans, saak maak.
Dit beteken ons bevraagteken die veronderstelling dat Afrikaans tot private wêreldjies gerelegeer moet word, asof Engelssprekendheid op 'n natuurlike toestand van oorheersing geregtig is.
Dit beteken ons bevraagteken die verskynsel dat ons heeltyd moet kies tussen Afrikaans en Engels, asof twee belewenisse en moontlikhede nie terselftetyd waar en geldig kan wees nie.
Die baie opvattings oor Afrikaanse selfgeldendheid
Afrikaanse selfgeldendheid kry dikwels baie teenkanting uit regeringskringe, maar veral vanuit die Afrikaanse gemeenskap self: sommige wil net braai en feesvier, en raak ongemaklik as daar oor werksinsette ter wille van Afrikaans en moeilike gesprekke oor Afrikaans, gepraat word.
Ander raak verstok absolutisties oor alles Afrikaans, as 'n suiwerheidsidentiteit wat deur vuur en vlam verdedig moet word.
Nog stemme, prominent tydens die laaste dekade se taalstryde in naskoolse onderrig en veral vanuit die Afrikaanse akademiese en media-elite, raak piëtisties oor veronderstelde Afrikaanse bevoorregting, asof die feite daaroor alleenlik op ongeregtigheid moet dui. Hul vier as ideologiese “vooruitgang”, die ooglopende uitskakeling van Afrikaansheid as 'n deelnemer aan die groter politieke vraagstukke, soos oor hoe hulpbronne verdeel moet word deur ons staat en grondwetlike republiek.
Om vir Afrikaans en Afrikaanse belange op te staan kan inderdaad verskillende prioriteite vir verskillende Afrikaanssprekendes dra, en verskillende dinge beteken. Daaroor wil ons graag op OntLaer gesprekke hieroor aanroer. Wat beteken Afrikaanse selfgeldendheid vir jou, leser?
Die feit van die saak is, die “mongrel language” wat uit die interaksie van soveel verskillendes in die moederskoot van hierdie suidelike stukkie Afrika gebore is, is ons almal se erns. Ons het al soveel in Afrikaans reggekry, en ons kan nie net die vrugte daarvan eet nie: ons moet saampraat en saamdoen om deurlopend vir Afrikaans ‘n lewenskragtige en billike plekkie in die Afrika-son te verseker.
Mag Afrikaans nooit nog 'n slagoffer van die tragedy of the commons word nie.
Gaan geniet julle feesdag, lesers!
Nog artikels deur Frederik van Dyk:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: