Afrikaans100: Moenie die mag van taal onderskat nie
Tale dra magtige uitdagings én kragtige moontlikhede.
Taal is oor die eeue heen as 'n magtige middel tot 'n doel deur baie regimes gebruik. Koloniale magte het dit gebruik om hulle belange te bevorder en te vestig. Godsdiensgroepe het dit gebruik om hulle gelowe aan, wat hulle ongelowiges genoem het, oor te dra.
Die meeste koloniale magte het taal as hulpmiddel gebruik om hulle koloniale doelwitte te bereik. Taal is in die kolonies gebruik as maatstaf om beskawingspeil aan te dui. As inheemse volkere by die koloniale mag se gemeenskap ingelui wil word, is taal en daarmee gepaardgaande tradisies gebruik as maatstaf vir suksesvolle integrasie. Die Franssprekende kolonies is 'n tipiese voorbeeld hiervan. Vandag is die kolonies amper meer Frans as die Franse as dit kom by taal en kultuur. Frans is vandag, dekades na onafhanklikwording, die moedertaal en onderrigtaal van daardie kolonies. In Senegal is Wolof en Serer, twee inheemse tale, sekondêr in hulle eie land.
In Mosambiek en Angola is Portugees die taal van onderrig en leer. Die moedertaal van die kinders is Portugees! Portugees is die taal waarin handel gedryf word. Tsonga, een van die inheemse tale speel hier ook ‘n sekondêre rol.
In ons buurland, Namibië, was Engels die opsie as enigste amptelike taal na onafhanklikwording, ten spyte van die feit dat van die inheemse tale soos Oshivambo, Ovaherero, Afrikaans, Nama en Damara die meeste sprekers het. Die probleem met Engels hier word weerspieël in die probleem met onderwys in die land. Die drogredenasie dat Engels die “taal van versoening” sal wees, het eerder gelei tot agteruitgang in die onderwys.
Beleidboelies
In Suid-Afrika met sy beleid van meertaligheid word daar ook grootliks oorgehel na die taal van die eertydse koloniale meesters. Ons onderwysstelsel is in chaos omdat die “kundiges” meen dat Engels die antwoord is tot opheffing en ontwikkeling. Daar word geglo dat Engels die maatstaf vir intelligensie is.
Vandag is die probleem in die onderwys grootliks toe te skryf aan 'n gebrekkige taalbeleid wat daartoe lei dat ons kinders van alle taalgemeenskappe gedwing word om te leer in ‘n taal waarin hulle hulself nie behoorlik kan uitdruk nie, nie behoorlik kan kommunikeer nie, sowel as hulle gevoelens te verwoord nie. Die afdwing van die taal lei selfs tot vervreemding in families omdat ouers en grootouers nie meer sinvol met hulle kinders tuis kan kommunikeer nie.
Volgens kundiges is die kanse op skolastiese sukses veel groter as die kind vir ten minste die eerste sewe jaar onderrig in hulle moedertaal ontvang. Hierdie feit word deur onderwysowerhede in ons land negeer omdat die meeste beleidvormers in 'n taal anders as hulle moedertale onderrig word. Baie van hulle het nie eens in Suid-Afrika grootgeword nie. Selfs al het hulle hier grootgeword, is hulle produkte van privaatskole. 'n Dringende herbesinning oor ondewys is gebiedend noodsaaklik.
Die groot probleem is om mense van die waarde van moedertaalonderrig te oortuig. Ons kinders verloor waardevolle tyd om eers die taal van leer en onderrig te bemeester voordat hulle behoorlike vakkennis onde die knieë kry. As jy enige beroep of ambag leer in jou moedertaal, is jy net so kundig as jou anderstalige eweknie. Die Duitsers het nie Engels nodig gehad om Mercedes en Blaupunkt te vervaardig nie. Die Japanners ook nie om Toyota en Nissan te skep nie. Die Hollanders het ook nie Engels nodig om Phillips-produkte te vervaardig nie. Suid-Afrika het ook nie slegs Engels nodig gehad om die eerste hartoorplanting te doen nie. Jou eie taal het die vermoë om skeppende denke te realiseer. Die universiteite in Suid-Afrika is te bang om te verklaar wat die uitvalsyfers is as gevolg van die verengelsingsbeleid in hoër onderwys. Die huidige tendens van inmenging van die regering in die hoër onderwys is 'n euwel wat eerder vroeër as later aangespreek moet word. Vrye, kritiese denke wat 'n voorvereiste is vir wetenskaplike ondersoek word hierdeur gekniehalter.
Die geleidelike verskuiwing na Engels is egter nie net tot Suid-Afrika beperk nie. Die Europese lande is ook bekommerd oor die voorkeur vir Engels op talle terreine. Die universiteite lê ook meer en meer klem op Engels ten koste die inheemse tale. Die inheemse tale as draers van 'n gemeenskap se kultuur en kennissisteme kan binne 'n paar geslagte uitsterf. 'n Zoeloe is 'n Zoeloe omdat hy Zoeloe as moedertaal praat, so ook Tswana, Sotho, Ndebele, Swati, Tsonga, ensomeer.
Ons eie Afrikaans
Afrikaans is een van ons twaalf amptelike tale, en het pas 100 jaar as amptelike taal gevier. Ons het 'n taal wat binne die bestek van 'n paar eeue tot akademiese taal ontwikkel het. Dit het die vermoê om nog verder te ontwikkel omdat dit dinamies is en lewe in die monde van byna 7 miljoen moedertaalsprekers en nog miljoene ander niemoedertaalsprekers. Dit het die vermoê om 'n belangrike rol in versoening in ons land te speel. As ons nie Afrikaans eksklusief vir sy eie gebruikers toeëien nie, kan dit daardie rol vervul.
Afrikaans het, net soos al die ander tale in ander lande, verskeie variëteite. In Nederland byvoorbeeld praat die inwoners soveel variëteite dat die inwoners in die noorde nie die inwoners in die suide verstaan nie, en dít in 'n land wat nie veel groter as die Vrystaat is nie. Hierdie variëteite dra by tot sy kleuryke verskeidenheid. Tog voel die Brabanders in die suide nie minder Hollands nie; trouens, hulle is trots Brabants én Nederlands. Afrikaans moet ook so dink oor sy variëteite. Saam bou ons aan 'n taal wat ons jongmense gaan saambind om 'n iets te skep wat ons verder uniek gaan maak.
Kom ons beduiwel nie ook ons taal met onnodige politiekery nie. As jy één dag in Londen stap, sal jy anders dink oor ”suiwer” Engels. Ons mag nie etnisiteit aan Afrikaans koppel nie. Ek het al Tswanas en Sotho’s hoor Afrikaans praat wat beter is as die standaardvariëteit wat ek praat. Jy is nie beter Afrikaans net omdat jy Kaaps, Gariepafrikaans of algemene Afrikaans praat nie.
Ons het eendrag en ons gedeelde komvandaan nodig om die wêreldwye bedreigings teen inheemse tale te trotseer. Ons is dit aan ons nageslag en die geskiedenis verskuldig dat ons hierdie gety stuit voordat dit ons soos 'n tsunami verswelg.
Kom ons bevry Afrikaans, sodat sy soos 'n reus dwarsoor die wêreld sonder 'n pas kan reis.
Dr. Hendrik Sebanie Theys is die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad en 'n dosent aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: