Die beiteltjie se nuwe momentum
Hoe KI, YouTube en die Springbok-skrum Afrikaans se toekoms herteken.
Op 8 Mei 2025 vier Afrikaans sy honderdjarige bestaan as amptelike taal.
Hiermee word natuurlik nie bedoel dat die taal spontaan ontstaan het in 1925 nie, inteendeel, oor die eeue van ontwikkeling voor hierdie erkenning is daar al baie navorsing gedoen en baie gepubliseer. Hierdie eeufees is as’t ware 'n Janus-moment vir ons taal - Janus is natuurlik die Romeinse god van poorte, deurgange, van einde-en-begin gewees.
Soos wat Janus se ou en bebaarde gesig die vergangenheid met moë oë aangegluur het, het sy ander gesig, die jong gesig aan die ander kant van sy kop, die nuwe begin met helder oë sien opkom oor die horison. Dit is moeilik om aan 'n oomblik te dink waar daar oor die afgelope 100 jaar vir Afrikaans soveel nuwe geleenthede was, soos wat met die begin van hierdie tweede eeu binne ons bereik is.
Die internet: 'n digitale, grenslose leefwêreld vir Afrikaans
Die opkoms van die internet het verander hoe ons leef. As tiener het ek twee of drie keer per jaar met my familie wat 'n uur weg gewoon het gesels, omdat kuiertyd tot naweekbesoeke en vakansies beperk was. Die telefoon en sy vreesaanjaende rekening aan die einde van die maand was ten volle die domein van die volwassene, die heersersklas oor ons groeiende gepeupel.
Sedert die opkoms van Whatsapp en soortgelyke platforms is ek paar keer per dag in kontak met ooms, tannies, neefs en niggies van oraloor. Die werksdag dreig Vrydagmiddag nog net met tjailatyd dan koekeloer die braaivleisvuurfotos van letterlik alle uithoeke van die wêreld af vir my op al wat 'n familiegroep is. Hierdie fenomeen is op baie groter skaal ook waar vir ons taal. Afrikaanse YouTube-kanale, podsendings, aanlyntydskrifte, digitale leermiddels en selfs TikTok-videomakers skep inhoud wat Afrikaans nie net lewend hou nie, maar dit lewendig en dinamies maak vir nuwe generasies.
Benewens die geweldige toename in toegang tot bestaande bronne, bied die internet ook 'n aldeur aan groeiende golf van skeppingsgeleenthede. As voormalige podsender ken ek die opgewondenheid van aanlyngesels met eenders- of andersdenkendes aan die ander kant van ‘n grendeltydgrens al te goed. Om sonder ‘n ateljee of duur kameras sommer maar net in jou taal te kan praat, en daardie idees en inhoud dadelik wyd en onmiddelik beskikbaar te sien word, bied vir ons geleenthede waarvan vorige geslagte maar net kon droom.
Hierdie geleenthede vir groei en gesels is natuurlik nie tot die sosiale beperk nie. Die hoogste vlak van Afrikaanse denke is nie meer tot die stowwerige rakke van biblioteke wat om 22:00 toemaak (ek kyk na jou, Ferdinand Postma Biblioteek) beperk nie, maar is aanlyn beskikbaar vir ‘n ieder en ‘n elk, teen 'n appel en 'n ei, en sommer van heinde en verre. Maar nou ja, van die os op die jas, kom ons praat oor die KI in ons taaltas.
Kunsmatige intelligensie: nuwe horisonne vir die taal
Een van die mees opwindende ontwikkelings vir die toekoms van enige taal is die opkoms van kunsmatige intelligensie (KI), en dan in besonder teks-genererende KI. Daar is natuurlik, soos met enige nuutskepping, uitdagings en risiko’s, maar ek bepaal my eerder by die spoedgrenslose Autobahn as die stopstraat wat per geleentheid met die sypaadjie verenig word. KI bied, selfs in sy huidige kleutertekkies, die onwegneembare geleentheid vir enige taalgemeenskap om die speelveld gelyk te maak. Waar tale soos Engels vroeër 'n onbetwiste tegnologiese voordeel gehad het, skep KI nou kanale waarlangs kleiner tale, soos Afrikaans, weerkaats kan word met nuwe krag. Ek demonstreer graag:
Ek, aan Chat GPT:
Wat is Aquinas se mees belangrike vraag en antwoord in sy Summa, en gee 'n Afrikaanse vertaling onder die oorspronklike Latyn.
ChatGPT:
Die mees ikoniese en belangrike vraag in Thomas van Aquino se Summa Theologiae is algemeen beskou as:
Prima Pars, Quaestio 2, Articulus 3
“Utrum Deus sit?”
“Is daar ‘n God?”
Oorspronklike Latyn (verkort):
Articulus 3 – Utrum Deus sit
Responsio:
“Respondeo dicendum quod Deum esse demonstrari potest per ea quae sunt manifestiora nobis, scilicet per effectus eius. Omnis enim effectus dependet a causa, et si effectus sit notus nobis, ex ipso devenimus in cognitionem causae. Unde ex his quae sensibilia sunt, demonstratur Deus esse.”
Afrikaanse vertaling:
Artikel 3 – Is daar 'n God?
Antwoord:
“Ek antwoord dat dit wel moontlik is om te bewys dat God bestaan, deur middel van dinge wat vir ons meer waarneembaar is, naamlik sy werke (of gevolge). Want elke gevolg het 'n oorsaak, en as ons die gevolg ken, kan ons vanuit dit tot kennis van die oorsaak kom. Daarom kan ons uit dit wat sigbaar is, bewys dat God bestaan.”
Hulle wat Latyn bemeester het (daar is leerkragte van verskeie range aan die Mooirivier wat sal getuig dat ek my nie ten volle by hierdie skare mag voeg nie), sal weet dat dit kundigheid van die hoogste vlak en heelwat inspanning verg om so 'n vertaling te produseer. Natuurlik sal daar dalk nog foutjies met vertaling en interpretasie voorkom, en natuurlik behoort KI nie ons strewe na kundigheid en bemeestering van die klassieke te demp nie, maar die toeganklikheid wat KI vir die leek of aanlynmeningskrywer bied is sekerlik iets om te vier. Die noodgedwonge verwysing na Engelse, Nederlandse, of Duitse vertalings in ons akademiese werk is dalk ook eersdaags nie meer nodig nie. Myns insiens 'n wen.
KI help natuurlik ook met taalbewaring. Aan die ander kant van die aardbol kan ek eenvoudig vra: “Lys vir my Marais se 5 mees belangrike gedigte”, en binne sekondes kom hierdie lys na vore.
Hier is ’n akkurate lys van 5 van Eugène Marais se belangrikste en bekendste gedigte:
Winternag
Die dans van die reën
Skoppensboer
‘Waar Tebes in die Stil Woestyn’
Die Dans van die Reën Lied van die vioolspeler Jan Konterdans, uit die Groot Woestyn
Weereens mag ons natuurlik saamstem al dan nie met die reaksie (“Skoppensboer” moet immer bo “al wat roer” wees?), maar die punt is dat hulle wat nie toegang tot die volle versamelde werke het nie, en selfs hulle wat het maar eenvoudig nie by die lees daarvan uitkom nie, skielik ‘n oop deur na leer en waardering van Afrikaans gevind het waarvan die broeders Louw maar net kon droom.
Afrikaans in die 21ste eeu: Taal van oplossings en planne
Op 23 Oktober 2023, so skuins voor tien, roep ‘n Hugenoot-afstammeling in die diep donker kelders van Stade de France in Parys na die manne om hom: “Kom ons f****n trek man, ons kan nie hierso sit nie.” Daai man was Pieter-Steph en die res van die storie ken ons, maar is daar 'n beter metafoor vir wat Afrikaans kan wees? Suid-Afrika is vandag baie meer as 6-12 agter, en Afrikaans wil deel van die oplossing wees. Hy wil handopsteek, hy wil sy kant bring om die skip (of die skrum) te draai. Afrikaans het die taal van selfdoen geword, van planmaak, van vrywillige gemeenskapsbou en vriendelike oplossings.
Picasso het blykbaar opgemerk “Elke daad van skepping is eers 'n daad van vernietiging” (dankie KI) - hierdie vernietiging som in ‘n groot mate ons afgelope paar dekades op. Die dikwels roekelose en gemene verwydering van Afrikaans aan amptelike instellings was vir die meeste mense onaangenaam. Vir ons wat moes wakker word en #AfrikaansMustFall teen die mure van ons koshuise en klaskamers lees, en dit daarna uit die monde van ons visekanseliers moes hoor, was dit verpletterend. Die riem onder die hart van Afrikaanse skepping wat uit hierdie vernietiging gekom het, die inisiatief en ondernemersgees wat die wa steeds deur die drif trek, laat my toe om 'n asemteug te skep wat dalk 'n dekade gelede amper onwaarskynlik gevoel het.
Van buurtwagte tot onderwysprojekte, van landbou-koöperasies tot kultuurfeeste – oral waar mense in Afrikaans saamkom, word daar beplan, gesels en gesamentlik aan oplossings gewerk. Die hand wat na ander kultuurgroepe en Afrikaanssprekendes in die buiteland uitgesteek word, die saamtrekkery oor voormalige grense heen, dit alles wys vir my wat Afrikaans kan wees en moet wees: 'n Taal waarin jy dinge gedoen kry. 'n Taal wat waarde toevoeg tot mense se lewens, ook hulle wat die taal nie by die huis praat nie. ‘n Taal wat probleme aanspreek.
'n Taal wat vorentoe kyk
Afrikaans het reeds bewys dat dit aanpasbaar is, vindingryk en lewenskragtig. Die volgende honderd jaar sal gewis uitdagings en vrae bied, dit sal krisisse skep wat gesamentlike oplossings gaan verg, maar dit gaan ook nuwe tegnologiese vooruitgang bied. Deur hierdie skuiwe heen kan ons beiteltjie weer en steeds kap en kap en klipmure oopbreek in die soeke na die altyd-komende dagbreek, wat volg uit diep van donker nagte.
Nog artikels deur Paul Maritz:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: