Afrikanervlugtelinge: Is om minder te weet, soms beter?
Inligting wat ingebore instinkte opdiep, het ongesonde implikasies.
Maandagoggend sit my vrou oudergewoonte die nuus vroegoggend aan. Die BBC Global News Podcast doen verslag oor die “49 Africaw-nuhs” wat as vlugtelinge voet aan wal gesit het in Washington.
Ek skarrel vinnig uit die slaapkamer uit, maak die deure toe (asof ek nie belangstel nie en eerder iets anders wil luister). Ek pak die skottelgoedwasser uit, luister hardop my luisterboek. Toe ek merk dat die volgende storie begin het, maak ek weer die deure oop, waag dit nader aan die slaapkamer waar ek my kan aantrek en regmaak vir die dag.
Die probleem is nie dat ek nie belangstel in die Afrikanervlugtelinge nie. Die probleem is dat ek heeltemal te veel belangstel. Ek het toe later die dag in 'n oomblik van swakheid die Daily Maverick oopgemaak en die 49 gesiggies met stars-and-stripes in hand Deputy Secretary of State Christopher Landau sien toeluister.
Die Afrikanervlugtelinge is vir my 'n teerpunt. In beginsel is ek een van “die linkses” wat verontwaardig is oor die swak verdoeselde rassisme van die saak. Dat Rohingya-moslems en die Masalit van Soedan – oorwegend arm mense wat in hulle tienduisende vermoor word om eksplisiet volksmoordadige redes – nie verder toegelaat word nie, maar 49 wit Suid-Afrikaners wel, is moreel absurd en 'n deursigtige simboliese foefie om “die linkses” te irriteer. Die saak van wit Suid-Afrikaners is al lank 'n gunsteling besprekingspunt onder die wit etnonasionaliste op die internet, omdat dit die bordjies verhang: 'n wit minderheid in Afrika, die teiken van baie agterdog en hoofstroom politieke haatspraak, teen gediskrimineer deur wetgewing, sondebokke van 'n onbekwame staat. Teen die agtergrond van massamigrasie is dit 'n skrikbeeld waarna regspopuliste graag gryp: “Sien? Witmense kan ook slagoffers wees. Binnekort is ons almal minderhede in ons lande en dan gaan dit met ons ook gebeur!”
Gerieflike politieke afleidings
Die lastigheid is dat daar iets daarin steek dat wit mense in Suid-Afrika, en Afrikaners in die besonder, veral oor die afgelope twintig jaar, 'n gerieflike politieke afleiding was. Ek sou argumenteer dat die totale mislukking van die staat die politieke winde uiteindelik effens anders laat waai het. Hoe dit ook al sy, die feit is dat die vingerwysery na white monopoly capital en die Stellenbosch mafia gevaarlike politieke vonke aangewaai het. Ek is ook 'n Afrikaner, met meestal Afrikanervriende en Afrikanerfamilie waarvan sommige op plase in afgeleë landelike gebiede woon, waar plaasaanvalle 'n aanvoelbare realiteit is. In 2016 het 'n Wits-student opslae gemaak toe hy 'n hemp gedra het met die woorde “kill all whites” daarop. 'n EFF-erige pel van my plaas toe oogrollend op Facebook, iets soos: “Can all my white friends please go and use their privilege to explain this to their friends and family. I am so EXHAUSTED of consoling your white tears.”
Asof daar 'n voor die hand liggende uitleg van daardie woorde was wat witmense uit loutere rassisme of domgeit net nie wóú insien nie. Dit het my so ontstel dat ek naar kon word.
Die risiko wat ek loop, en wat ek glo ons almal loop, is dat ons onsself sal indoktrineer. As jy soos ek is, dan het my storie oor my EFF-vriend jou waarskynlik die harnas ingejaag en jou banger en bitterder gemaak. Voor my heilige siel weet ek, dat as ek in die nuus oor die Afrikanervlugtelinge gaan duik, veral as ek die gesprekke in die kommentaarafdeling gaan lees, gaan my woedemeter heeldag en heelweek op 100 staan. Presies dít is die groot lokval van die hedendaagse inligtingstelsel: ons het almal feitlik onbeperkte lees- en kykstof waarmee ons onsself kan radikaliseer. Die internet en konstante verbondenheid het wonderlike dinge meegebring; matelose inligting en wysheid is te vinde as jy jou foon aansit. Maar daarmee saam kom die matelose vermoë om meer en meer histeries te raak en jou wêreldbeeld te verwring.
Ons sagtewareprobleem
Op die voorouerlike savanne het daar voedelskaarste geheers. Wie meer geëet het, het beter oorleef. Toe ontwikkel ons 'n byna onstilbare honger. Vir ons ewolusionêre voorgangers was daar nie iets soos “te veel” eet nie. Vir ons is daar wel, en nou sit ons met instinke wat nie pas by ons omstandighede nie. Nou het ons onbeperkte voedsel en moet ons allerlei truuks uitdink om maer en gesond te bly. As daar 'n sjokolade in my kombuiskas is, word hy opgeëet, al weet ek dis nie goed vir my nie. Hier in Nederland is daar 'n sjokolade gevul met speculoosroom wat onweerstaanbaar is. Nou plaas ek allerlei hindernisse tussen my en die sjokolade. Koop net een keer 'n week kruideniersware, sodat ek net een keer 'n week hoef te weerstaan. Pak my dag vol aktiwiteite dat ek nie dink aan eet nie. Verklaar my voorneme aan my vriende en familie sodat die verleentheid van mislukking my vraatstug teëwerk.
Op die voorouerlike savanne was daar ook inligtingskaarste. Wie meer geweet het, het beter oorleef. Toe ontwikkel ons 'n onstilbare nuuskierigheid.
'n Nuuskierigheid oor ons omgewing, aan die een kant: watter bessies is giftig? Waar drink die bokke? Maar 'n ander tipe nuuskierigheid ook: sosiale nuuskierigheid. In sy boek Why Buddhism is True (‘n misleidende titel vir ‘n wonderlike boek) skryf Robert Wright die volgende:
“An elephant will always win in a one-on-one fight with a human. But if you give a hundred humans some time to prepare, they’ll kill all the elephants and everything else they can get their hands on. The difference is language, the ability to cooperate in large numbers.”
Omdat die mens se sukses as 'n spesie gegrond is op ons vermoë om saam te werk en komplekse maatskaplike strukture te vorm, is sosiale inligting besonder belangrik vir ons. Dit is belangrik dat klaplopers nie misbruik maak van hierdie sisteme nie, so ons soek instiktief inligting oor wie ons kan vertrou, wie bring nie hulle kant nie, wie ondermyn die struktuur – sodat ons hulle kan straf, kan vervreem of kan elimineer. Skinder is 'n oorlewingstaktiek. Baie van ons dink dat ons in staat is om koel en kalm op soek te gaan na feite, maar die werklikheid is dat ons dink met ons gevoelens. Emosies is die kragtigste stukke gereedskap in ewolusie se gereedskapskis. Soos ek wat nie logies nadink oor my speculoos-sjokolade-vretery nie, so dink ek ook nie logies as ek skindernuus hoor nie: ek dink met my gevoelens. Ek lê inligting vas teen 'n agtergrond van verontwaardiging, van opgewondenheid, van vrees. Dinge wat ons laat vóél, is makliker om te onthou en raak makliker deel van hoe ons die wêreld sien. In 'n artikel in Nature Neuroscience word dit bondig saamgevat in die abstrak:
“Studies examining memories of arousing 'real-life' events show that emotion heightens the feeling of remembering, without necessarily enhancing the objective accuracy of the memories.”
Ewolusie het ons ook toegerus met 'n stel vertrekpunte wat baie sin gemaak het op die savanne: my mense is goed, vreemdelinge is sleg. In sy boek The World Until Yesterday: What Can We Learn from Traditional Societies? redeneer Jared Diamond hoe ongewoon ons tyd is, omdat ons tussen 'n klomp vreemdelinge leef. Hy beskryf uit sy antropologiese werk in tradisionele samelewings in veral Papua Nieu-Guinee hoe mense vreemdelinge as inherente bedreigings beskou, omdat hulle om beperkte hulpbronne kompeteer. In daardie omstandighede, maak dit baie sin om buitestanders met argwaan te bejeën, want die koste van naïwiteit, was dalk jou dood. In alle waarskynlikheid het ons voorouers vir honderde duisende jare in sulke omstandighede geleef, en dit het sy merk gelaat op ons kognisie: in plaas daarvan dat elke geslag van voor af moet leer dat vreemdelinge bedreigend is, is dit as deel van die basiese sagtewarepakket alreeds ingebou.
Wat ek hier beweer, is dat ons in 'n bepaalde sin gebore xenofobe is. Studies met kleuters het al getoon hoe ons van baie jonk af reeds 'n konsekwente geneigdheid toon om met mense wat soos ons lyk en klink, te speel, as ons die keuse het. Steven Pinker beskryf dit uitgebreid in sy boek How the Mind Works.
'n Sagteware-update vir die moderniteit: hiërargie
Maar ons leef nie meer op die voorouerlike savanne nie. Ons het ook die kognitiewe aanpasbaarheid om ons basisinstinkte te oorkom en uit te styg bo ons drange. Yuval Noah Harari beskryf in sy boek Sapiens hoe ons dit begin doen het met die landbourevolusie ongeveer 13 000 jaar gelede: ons het in groter samelewings met meer komplekse hiërargieë gaan woon, gespesialiseerde beroepe het ontstaan, tegnologie is ontwikkel. Ons voorouers van net tien generasies gelede sou waarskynlik nie kon glo in watter wêreld ons leef nie. Siektes word genees, nie eens arm mense ly eintlik meer honger nie, amper almal kan lees en skryf, as daar 'n groot droogte in is, kan 'n land kos invoer op ‘n skaal wat ongekend sou wees selfs net 'n eeu gelede. Die wêreld is in baie opsigte 'n baie beter plek.
Om vooruitgang te maak, om 'n beter lewe vir meer mense te gee, vereis dat ons ons basisinstinkte moet oorkom. Die streng hiërargieë van antieke samelewings het grootliks daarvoor gesorg: die kerk, die koning, later die staat en die elite, het norme en waardes verplig wat dit moontlik gemaak het vir miljoene vreemdelinge om saam te werk. Harari skryf in Sapiens: “Hierarchies serve an important function. They enable complete strangers to know how to treat one another without wasting the time and energy needed to become personally acquainted.” En die proof is in the pudding.
Tegnologiese vooruitgang het ons egter op 'n manier ingehaal. Veral die sosiale tegnologie wat oor die laaste drie dekades van feitlik nie-bestaande na alomteenwoordig ontwikkel het. Die massiewe – en ongereguleerde – vloei van inligting oor die internet maak dit moeiliker vir 'n klein elite om die res voor te sê oor wat om te doen. Dit is 'n goeie ding as jy sit met 'n Stalin of 'n Pinochet of 'n Zuma. Maar op 'n manier het dit ons basale instinkte weer losgemaak, omdat dit gesag so fundamenteel ondermyn. Jy sien die tribalism, polarisering, selfs angs en histerie.
Byna geen aanlyn-groep vat die moontlike irrasionaliteit wat hieruit kan ontstaan beter saam as die incels nie – die involuntary celibates – 'n groep mans met swak selfbeelde wat mekaar op die internet gevind het en mekaar radikaliseer met pseudo-wetenskaplike idees oor maat-seleksie en die onomkeerbaarheid van jou omstandighede by geboorte: as jy gebore is as 'n loser, bly jy 'n verloorder, en niks kan dit verander nie. Ek was op 'n kol in my lewe naby aan hierdie gemeenskap en hulle filosofie en idees. So belaglik as wat dit vir baie lesers sal klink, was daar iets singewends daaraan vir 'n ongemaklike jong man wat ongelukkig en sosiaal onbehendig voel. Dit bied 'n skuiling.
Ek weet natuurlik vandag dat dit alles bog is, maar ek het gedink met my emosies en kon onbeperkte bevestiging vir my griewe vind deur die internet. In die verlede het jou skool, jou gemeenskap, of jou kerk vir jou voorgesê hoe jy sin in jou bestaan moet vind. In die wêreld van vandag, is dit baie moeiliker vir daardie gesagsbronne om hulle mag te behou. Baie mense skep antisosiale gemeenskappe aanlyn om sin te maak van hulle bestaan. Baie kom nie daaruit nie. Sommige incels het al terroristiese aanvalle gepleeg.
Dit sou beter gewees het as hulle hul rekenaars en fone net afgesit het en by 'n drafklub gaan aansluit het. Maar hierdie goed is verslawend en dit voel rég.
'n Gesonder inligtingsdieet behels minder inligting
Dit bring my terug by die Afrikanervlugtelinge. Ek kan myself nie vertrou met daardie nuus en die gesprekke daaroor nie.
Ek weet nou dit het gebeur, verder moet ek dit net uitlos. Enige iets verder sou my net radikaliseer, miskien op onverwagte maniere. Dit druk al die verkeerde knoppies om my wêreldbeeld te verwring: my tribalist instinkte rondom my etniese groep, die emosionele lading van 'n groep Boere wat voel hulle moet vlug voor die tirannie van 'n vyandige swart regering, die vrees en wrokkigheid wat dit by my inboesem oor die komende einde aan die Afrikaner se avontuur in Afrika, en my verontwaardiging dat Trump ons as 'n suiwer simboliese skaakstuk gebruik om vir “sy mense” te wys aan watter kant hy is, ongeag wat dit vir die oorgrote meerderheid Afrikaners in Suid-Afrika polities gaan beteken.
As ek 'n belangrike rol gespeel het waarby dit vir my nodig was om die besonderhede van hierdie kwessie beter te verstaan, dan sou ek die pil moes sluk. Van wat ek by vriende en familie hoor, is Suid-Afrika vandag steeds dieselfde land as verlede naweek; burgeroorlog het nie losgebars nie. Om verder meer hiervan te weet, gaan my gedrag en my wêreld nie verander nie. Dit gaan my net radikaliseer, my werk belemmer, my verbitter en my blind maak vir die lot van ánder Suid-Afrikaners wat nie die goue kaartjie Amerika toe gekry het nie, maar óók slagoffers van 'n swak regering is.
Daar is tientalle sulke kwessies op enige gegewe dag. Niemand kan alles wat belangrik is regtig ten diepste verstaan uit alle oogpunte nie. Om net genoeg te weet om jou eie vooroordele te versterk, is dalk erger as om niks te weet nie.
Om in die rabbit hole te duik as 'n kwessie vir ons besonder gevoelig is, is 'n fout. As die nuus belangrik genoeg is, sal dit jou vind.
Om beter te verstaan moet ons soms minder weet.
Christoff Odendaal werk as sisteembioloog aan die Technische Universiteit Delft in Nederland.
Nog artikels deur gasskrywers:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: