’n Blouligstaat sonder Reg en Rede
Die Bloulig-brigade skurke is vrygespreek agter geslote deure, maar veroordeel in die hof van openbare mening.
In 'n demokrasie is openbare vertroue nie vanselfsprekend nie. Dit word daagliks verdien en dikwels maklik verloor veral wanneer mag misbruik word agter geslote deure. Maar dit word soveel vinniger verloor wanneer magsmisbruik voor die publiek se oë plaasvind.
Die onlangse interne vryspraak van agt lede van die Presidensiële Beskermingseenheid (PBE), wat op kamera op die N1-snelweg in Johannesburg in 2023 gefilm is terwyl hulle burgers aangerand het, is nie bloot 'n administratiewe saak wat nou afgehandel is nie. Dit is ’n ongelukkige voorbeeld van 'n staat in wie se hande die geweldsmonopolie geplaas is, maar wat toenemend nalaat om die mag binne perke van wet en etiek te hou.
As voorsitter van die Portefeuljekomitee oor Polisie is ek grondwetlik verplig om vrae te vra, ook wanneer daardie vrae ongemaklik is vir magtige instellings of vakbonde. Wanneer 'n burger voor die oë van die publiek aangerand word deur beamptes wat betaal word om ons te beskerm en die interne dissiplinêre proses hulle daarna vryspreek ondanks beeldmateriaal wat duidelike oortreding toon dan is dit nie sommer net nog ‘n arbeidsregtelike mistasting nie.
Oorsig is kern
Suid-Afrika is nie 'n polisie-staat nie en behoort dit nie te wees nie. Ons polisiediens werk namens die publiek, word gefinansier deur die belastingbetaler en is gebonde aan die Grondwet van 1996. Artikel 55(2)(a) van daardie Grondwet plaas 'n eksplisiete plig op lede van die Nasionale Vergadering om die uitvoerende gesag en openbare liggame soos die SAPD aanspreeklik te hou. My kommentaar oor die sogenaamde "blouligmafia" is dus nie 'n afwyking van my mandaat nie dit is inderwaarheid die uitvoering daarvan.
Die bewering deur POPCRU (die Polisie- en Gevangenisdienste se vakbond) dat my uitsprake neerkom op politieke opportunisme of selfs aanhitsing, is nie net verkeerd nie, maar dui op 'n fundamentele misverstand van demokrasiese oorsig. Oorsig deur die wetgewer is nie daar om gemaklik te wees nie. Dit is daar juis om ongemak te skep waar mag ongetoets en ongebreideld funksioneer.
Die rol van vakbonde in die beskerming van werkers se regte is onmiskenbaar belangrik. Suid-Afrika het 'n trotse geskiedenis van vakbondaktivisme wat help bou het aan die demokrasie wat ons vandag het. Maar daar is 'n lyn waar lojaliteit aan die werkplek eindig en verantwoordelikheid teenoor die publiek begin. Wanneer vakbonde hulself as kwasi-regsverteenwoordigers vir beamptes gebruik wat oënskynlik die wet oortree het, en dan dreig om parlementêre oorsig stil te maak, dan is ons in die moeilikheid.
Suid-Afrika se polisievakbonde moet kies: wil hulle deel wees van 'n kultuur van aanspreeklikheid, of wil hulle hul lede beskerm ten alle koste selfs teen die publieke belang en die Grondwet?
'n Sistemiese Probleem
Maar ongelukkig is die N1-voorval nie 'n geïsoleerde insident nie. Ons sien 'n patroon van beskerming eerder as aanspreeklikheid, van prosedurele rookskerms eerder as deursigtigheid en geregtigheid. Dat die dissiplinêre voorsitter van die verhoor meer as R112 000 se onkoste aangegaan het en dit alles vir 'n uitspraak wat deur die publiek as belaglik ervaar word behoort selfs die mees lojale ondersteuners van SAPD-bestuur vrae te laat vra.
Hierdie kostes, betaal uit die sak van 'n reeds uitgeputte fiskus, kwalifiseer na my mening as vrugtelose en vermorsde uitgawes. As dissiplinêre prosesse slegs dien om skyn van regverdigheid te skep sonder substantiewe gevolge, is ons nie meer in 'n regstaat nie, maar ‘n staat sonder reg.
Een van die grootste gevare in enige polisiediens is die opbou van 'n kultuur waar sekere eenhede, veral elite-eenhede soos die Presidensiële Beskermingseenheid, hulself begin sien as bo die reg. Wanneer die PDE met masjiengewere op ongewapende burgers afstorm sonder duidelike provokasie en dan, minder as 'n jaar later, volledig vrygespreek word binne die polisie se eie strukture skep dit ongetwyfeld 'n gevaarlike presedent.
Die boodskap is duidelik: as jy naby genoeg aan mag is, sal jy dalk nooit aanspreeklik gehou word nie. Dit is hoe republieke breek, nie met 'n staatsgreep nie, maar met die geleidelike afwatering van geregtigheid.
Daar sal sekeres wees wat sê: “Maar daar is nog 'n kriminele saak aan die gang.” En ja, dit is gelukkig so. Die strafsaak gaan voort in die Randburgse landdroshof. Maar die teenargument is eenvoudig: 'n Interne dissiplinêre proses is 'n integrale deel van aanspreeklikheid binne staatsinstellings. Dit is nie 'n bysaak nie. As hierdie prosesse slegs dien om beamptes van aanspreeklikheid te vrywaar totdat die strafregstelsel, met sy eie strukturele probleme, hulle miskien aanspreeklik hou, dan is dit nie “due process” nie.
En soos Action Society by monde van Juanita du Preez uitwys is die grootste slagoffer van hierdie onregtigheid die publiek wat verder vertroue in die polisie verloor.
Wat nou moet gebeur
Ons as 'n komitee kan nie stilbly nie. Ons het reeds begin met oorweging van wetgewende hervorming om dissiplinêre prosesse te hervorm. Dit sluit in:
'n Verpligting tot deursigtigheid in interne prosesse, met verpligte bekendmaking van uitsprake waar publieke belang op die spel is.
'n Onafhanklike dissiplinêre paneel vir elite-polisie-eenhede, veral dié wat aan die uitvoerende gesag gekoppel is.
'n Verbod op heraanstelling tot enige aktiewe diensposisie vir beamptes wat voorheen met ernstige wangedrag verbind is ten minste totdat kriminele prosesse afgehandel is.
“Ek sal nie stilbly nie”
Aanspreeklikheid binne die polisie behoort nie oor lojaliteit te gaan nie. Nie aan partye, nie aan vakbonde, nie aan senior generaals of adjunkpresidente nie. Dit gaan oor lojaliteit aan die publiek, aan die Grondwet, en aan 'n idee van geregtigheid wat nie selektief toegepas word nie.
Om vrae te vra is nie ondermynend nie. Dit is verantwoordelik en dit is ons plig. En om aandag te vestig op 'n blatante mislukking in dissiplinêre verantwoordbaarheid, is nie “politiek” nie. Dis patriotisme.
Ek sal dus nie stilbly nie. Nie as dit beteken dat burgers se regte geskend word sonder gevolg nie. Nie as dit beteken dat die instellings wat ons veiligheid moet verseker, hulself bo die reg begin sien nie. En beslis nie as dit beteken dat ons as Parlement lê en wag vir toestemming van enige belangegroep voordat ons ons grondwetlike werk kan doen nie.
Die blou ligte op ons paaie mag dalk helder flits, maar hulle sal nie die waarheid verdof nie.
Ian Cameron, DA-LP, is die Voorsitter van die Portefeuljekomitee oor Polisie in die Suid-Afrikaanse Parlement. Hy skryf in sy persoonlike hoedanigheid.
Nog artikels deur gasskrywers:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: