“The one perfectly divine thing, the one glimpse of God’s paradise on earth, is to fight a losing battle – and not lose it.” – G.K. Chesterton
Die keersy van Chesterton se opmerking is dat die ellendigste, mees tragiese ding denkbaar is om 'n edele stryd heldhaftig te stry – en dan te verloor. Dít is wat in 1902 met die Afrikaner gebeur het.
Oor die verpletterde toestand van die Boere ná die Anglo-Boereoorlog is daar al veel geskryf. Die Boere het tydens die oorlog gevoel – met goeie rede – dat hulle 'n regverdige stryd stry. Hulle het die Britse aggressor vir byna drie jaar moedig teengestaan deur besondere militêre vernuf aan die dag te lê. Hulle het gruwelike oorlogsmisdade verduur. Hulle het beraadslaag, gebid en mekaar keer op keer aangespoor om voort te stry. Tog het hulle hul vryheid verloor.
Om sout in die wonde te vryf, moes talle ballinge op dié punt 'n eed van getrouheid aan die Britse kroon aflê om na hul vaderland te kon terugkeer. Hiér moes hulle onder Britse bewind voortleef sonder enige vooruitsig van welvaart of status. Ná die laaste greintjie energie in die oorlogstryd gewerp is, en dit misluk het, was dit byna ondenkbaar dat die Afrikaner 'n toekoms sou hê.
Die Patagonië-geleentheid
Midde-in hierdie omstandighede het 'n aantal Afrikaners die geleentheid gekry om hulle in Patagonië te gaan vestig – met die seën van die Argentynse regering – vêr weg van Britse onderdrukking en in 'n bykans onbewoonde gebied. Daar is 'n plaas en basiese middele aan elke gesin gegee om 'n begin mee te maak. Dit was nie 'n maklike taak nie, maar dit kon beswaarlik moeiliker wees as om in die Transvaal of die Vrystaat agter te bly. As daar al ooit 'n groep mense was wat geregverdig was in hul besluit om hul vaderland te verlaat, was dit hierdie groep Boere.
Van 1902 tot 1907 het daar uiteindelik ongeveer 600 Boere na Patagonië geëmigreer en 'n gemeenskap gevestig, waarvan die invloed op die landstreek vandag nog sigbaar is. Die volledigste weergawe van hierdie gemeenskap se verhaal is opgeteken in Colonia Boer: an Afrikaner settlement in Chubut, Argentina deur die geskiedkundige Brian du Toit.
Dit is die verhaal van stoere, selfs hardkoppige Afrikaners wat 'n dor landskap gaan tem en vooruitstrewende boerderye gevestig het. Hulle het damme en brûe gebou en telegraaflyne aangelê. Hulle het in 1907 vir water geboor en toe op olie afgekom. Vandag is Patagonië Argentinië se belangrikste olieproduserende gebied. Hulle het Afrikaanse liedjies gesing en biltong gemaak van vikoenja-vleis ('n klein lama-agtige dier wat daar aangetref word). Die Doppers en Gatjieponners onder hulle het stry gekry, maar hulle het uiteindelik saam 'n kerk gebou met geld wat deur pannekoekverkope ingesamel is. 'n Britse reisiger het aangeteken dat hulle ook “Dingaansdag” (Geloftedag) gevier het. Hul nasate het eenmaal selfs logistieke hulp aan Argentinië gebied in die Falklandoorlog teen Brittanje. Kortom, hulle was so Boer as kan kom.
Die wegkwyning
Die eerste generasie is oorlede sonder dat die meeste van hulle kon Spaans praat. Die tweede generasie is aktief deur hul ouers ontmoedig om met Argentyne te trou. Hul buitengewoon lange taalbehoud is al deur verskeie akademici bestudeer.
Vandag is daar nog 'n handjievol uit die ouer generasies wat Afrikaans praat, asook etlike jongmense met Afrikaanse vanne wie se enigste taal egter Spaans is.
Terugskouend is dit regtig 'n mooi verhaal. Hulle het meer om op trots te wees as om te berou. En tog het hulle nie in hul aanvanklike doelwit geslaag om hul kultuur en taal in 'n nuwe tuiste – weg van Britse bewind – vir geslagte lank te laat voortleef nie.
Daar is verskeie redes hiervoor:
Die totale getal Afrikaners wat hulle teen 1907 daar gaan vestig het, is waarskynlik minder as waarop daar gehoop is en wat tipies nodig sou wees om 'n hele kultuurgemeenskap te kon handhaaf.
Daar was 'n groot toevloei van Argentyne toe kommersiële olieproduksie begin het, wat 'n bedreiging vir Afrikaans as omgangstaal geword het.
Daar was uitdagings om Afrikaanse onderwys op die been te kry.
Die kontak met 'n kultuur wat oorheersend Rooms-Katoliek was, is iets waarmee Afrikaners nie vroeër te doen gehad het nie.
Kontak met Suid-Afrika was moeilik en ongereeld.
Tog was daar een hoogs onvoorsienbare verwikkeling wat die groei van die Afrikaanse taal en kultuur in Argentinië tot stilstand gebring het en heel moontlik die keerpunt in die verhaal was: die kulturele, politieke en ekonomiese opgang van die Afrikaners in Suid-Afrika.
Rondom 1938 – tydens die honderdjarige herdenking van die Groot Trek – keer ongeveer die helfte van die Boere in Patagonië terug na Suid-Afrika. Dit was nege jaar na die stigting van die FAK, vyf jaar na die publikasie van die eerste Afrikaanse Bybel en drie jaar na die stigting van Volkskas Bank. Die Afrikaner in Suid-Afrika was op 'n groeitrajek en skielik het niemand gedink dis nodig om 'n toekoms elders te probeer skep nie.
Die ander helfte het wel in Argentinië agtergebly en daar is geen rede om hulle dit te verwyt nie. Alhoewel samesmelting met die Argentynse kultuur vandag bykans voltrek is, is daar nog mense wat hul Boere-herkoms hoog ag en moeite doen om daaraan uitdrukking te gee.
Kom ons eer hulle daarvoor en besef dat Afrikaners vandag – nes 120 jaar gelede – verskillende idees het oor waar die toekoms lê.
Louis Boshoff is 'n veldtogbeampte by AfriForum.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: