Preekstoelpolitiek, populisme en magtelose howe
Die Franse maak onkonvensionele teenpopulisme planne.
Van Amerika tot Frankryk en verder, lyk dit asof populistiese bewegings die politieke landskap oorheers. Maar terwyl die regbank in die Verenigde State van Amerika sukkel om 'n toenemend weerbarstige President Donald Trump aanspreeklik te hou, wend hul Franse eweknieë hul tot onkonvensionele metodes om te verseker dat dieselfde nie met hulle gebeur nie.
In hul kern is regterlike uitsprake brose dinge. Hulle bestaan slegs weens ons gedeelde geloof in 'n sosiale kontrak – ons stem in om aan wette gebonde te wees, ons stem in dat diegene wat daardie wette oortree gestraf moet word, en ons delegeer die mag om gewigtige uitsprake oor skuld en onskuld te maak aan regters. Wat ons egter nie doen nie, is om regters die mag te gee om hul eie beslissings af te dwing.
Dit val in die domein van wetstoepassing, van strukture wat nie onder die regbank se gesagsketting val nie. Gewoonlik is dit 'n kenmerk van die stelsel – 'n beskerming teen die risiko van tirannie deur die regbank – maar op seldsame geleenthede kan die gety van populisme dit as 'n ooglopende swakheid ontbloot. As 'n mens die voortslepende sage ondersoek van Trump se stryd met behoorlike regsprosesse in die saak van Abrego Garcia, ’n El Salvadoraanse burger wat onwettig uit die Verenigde State gedeporteer is, is dit duidelik dat – ten minste vir die VSA – die krake begin wys. Maar terwyl daar doelgerigte pogings deur die Amerikaanse regterkant is om die mag en openbare aansien van hul howe te ondermyn, toon die Franse regstelsel oorkant die Atlantiese Oseaan dat dit nie net moontlik is om populistiese leiers vir hul oortredings aanspreeklik te hou nie – dit is trouens noodsaaklik om dit te doen voordat dit te laat is.
“Judge Judy and Executioner”
Die VSA is nie onbekend met pogings deur sittende presidente om die magte en regsprosesse van die regbank te ondermyn nie. 'n Aanhaling wat dikwels aan die sewende Amerikaanse president, President Andrew Jackson, toegeskryf word, dui op sy bondige reaksie op 'n ongunstige uitspraak deur die Amerikaanse Hooggeregshof onder regter Marshall in die saak van Worcester v. Georgia:
“John Marshall het sy beslissing gemaak, nou moet hy dit afdwing.”
Hierdie woorde vang die teenstrydigheid aan die hart van die presidensie se verhouding met die howe vas. Hoewel die howe – gedeeltelik – bestaan as 'n manier om die mag van die presidensiële amp in toom te hou, is hulle magteloos as hul uitsprake geïgnoreer word. Natuurlik is die besluit om ’n uitspraak te ignoreer slegs moontlik wanneer 'n president beskerm word teen enige gevolge wat daaruit kan voortspruit – soos afsetting, burgerlike onrus, en 'n verkiesingsnederlaag as die mees waarskynlike uitkomste. Om dié rede is dit slegs moontlik om so 'n risiko te neem wanneer 'n president oortuig is dat hul ongehoorsaamheid nie hul gewildheid sal verminder nie, en dat hulle steeds die politieke steun van 'n voldoende deel van die bevolking sal geniet, ten spyte van opposisie vanuit die regbank.
Maar dan is daar die 45ste én 47ste President van die Verenigde State van Amerika: Trump se onmin met die regstelsel kom al lank en is deurtrek van geskiedenis – of dit nou is dat hy prokureur-generaal Letitia James as ’n “mal skelm” bestempel, die dogter van regter Juan Merchan aanval, die Amerikaanse Hooggeregshof versoek om “aktivistiese regters” wat teen hom uitspraak lewer in toom te hou, of om bloot teen die beperkinge van die wet in die algemeen keel op te sit.
Hoewel baie mense sy uitermatige benadering tot sosiale media mag bespot, dien dit as duidelike merkers waar rondom sy ondersteuners hulle kan skaar, en stel dit hom in staat om openbare woede op sy teenstanders te rig (hetsy wettig of nie) met slegs ’n enkele plasing vanaf sy Truth Social-profiel. Dit is geensins toevallig nie. As ’n voormalige televisiepersoonlikheid, ’n man berug oor sy obsessie met kykersgetalle, en iemand wat daarop aandring om sy naam aan elke besigheidsgeleentheid en eiendom te heg, verstaan Trump die waarde van bemarking. As populisme die voorstelling is van ’n politieke standpunt wat die “suiwere gewone mense” teen die korrupte “ander” stel (of dit nou elite, buitelanders, LGBTQIA+ persone of interne vyande is) dan is Trump die meester van die populistiese boodskap. Gesien deur die lens van dag-televisie, regse potgooiers, en eindelose Fox News-dekking, is daar geen behoefte om te wag vir die howe om skuld of onskuld toe te ken nie – Trump se kruistog teen die “korrupte Ander” is immers net so onfeilbaar as wat dit heilig is.
Of, ten minste, is dit die beeld wat Trump graag wil voorhou. Die werklikheid, soos geïllustreer deur die lotgevalle van Abrego Garcia, is veel meer kompleks.
Op 15 Maart 2025 het Trump, getrou aan sy veldtogbeloftes om die sogenaamde “Grenskrisis” aan te pak, op onwettige immigrasie toegeslaan deur drie vliegtuigvragte vol vermeende migrant-bendelidmate na die berugte El Salvadoraanse CECOT-tronk te deporteer. Onder die vermeende bendelede was Garcia, ’n El Salvadoraanse burger met beskermde regstatus wat hom verbied het om na daardie land gedeporteer te word. Soos die sluier van geheimhouding rondom die deportasies begin lig het, met dringende hofaansoeke vir sy terugkeer (en dié van ander gedeporteerdes), is daar deur ’n amptenaar van Amerikaanse Immigrasie- en Doeanehandhawing toegegee dat die deportasie inderdaad ’n “administratiewe fout” was. In haar uitspraak op 4 April het distrikregter Paula Xinis ’n voorlopige interdik toegestaan en die regering beveel om Garcia se terugkeer te “fasiliteer en bewerkstellig”. Verdere verduideliking deur die Amerikaanse Hoogste Appèlhof op 10 April het die bevel bevestig dat die regering Garcia se terugkeer moet “fasiliteer”, maar het nie sover gegaan om te vereis dat sy terugkeer bewerkstellig moet word nie. Die hof het eerder vereis dat die laer hof die terminologie verder moet uitklaar. Weke later, en ten spyte van druk van die howe om aan die uitsprake te voldoen, blyk dit dat Garcia geen nader aan ’n terugkeer na die VSA is as op die dag van sy deportasie nie, en geen pogings tot hofbeoordeelde “fasilitering” is tot dusver bekend gemaak nie.
Wanneer ’n mens die verklarings van die Withuis en van Trump self ondersoek, lyk dit of dit doelbewus so beplan is. Op 18 April 2025 het die amptelike Withuis-rekening die volgende beeld getwiet van ’n New York Times-voorblad met verskeie wysigings:
Dit is op hierdie punt belangrik om daarop te let dat Garcia nie aangekla of skuldig bevind is aan lidmaatskap van MS-13 nie – ’n berugte internasionale misdaadorganisasie met wortels in die El Salvadoraanse gemeenskap van Los Angeles. Trouens, hy is nie eens die geleentheid gegee om bewyse van sy onskuld aan te bied nie – ’n reg wat aan alle kriminele beskuldigdes in die Verenigde State toegeken word kragtens die Sesde Wysiging. Die idee dat ’n persoon sonder behoorlike regsproses gedeporteer kan word, behoort enige leser te laat ril – die verdediging teen die aanklag van onwettige verblyf (of selfs bendlidmaatskap) vereis immers dat ’n mens teenbewyse kan voorlê. Om regeringsinstellings toe te laat om hierdie proses te omseil (’n handeling wat opsigself uiters ongrondwetlik is) beteken nie net dat die reg op behoorlike regsproses aan onwettige immigrante ontsê word nie, maar dat dit aan die publiek as geheel ontneem word – want sonder behoorlike regsprosedering, wie kan dan bewys dat hulle nie ’n onwettige immigrant is nie?
Trump, daarenteen, blyk ’n ander siening in te neem. In plasings op sy Truth Social-profiel op 21 April 2025 het die President die volgende te sê gehad:
Hierdie uitsprake is natuurlik nie voor die howe nie. Hulle het geen invloed op die geregtelike lot van Garcia en mede-deportante nie. As Trump se beskuldiging dus is dat “die Radikale Linkses” as skeidsregters optree, dan is hierdie plasings eerder bedoel om die skare aan te vuur – om die President uit te beeld as ’n kampvegter wat teen sy regterlike vyande veg vir die veiligheid van sy volk. Die ongrondwetlikheid daarvan, en die inherente bedreigings wat die afbreek van behoorlike regsprosedering inhou, word glad nie erken nie. In die breër konteks van verklarings deur MAGA-lojaliste soos Visepresident JD Vance en Elon Musk, blyk Trump se ondermyning van die howe deel te wees van ’n doelbewuste poging deur die Amerikaanse regses om die legitimiteit (en dus die teenwigmag) van die regbank af te breek. Deur sy ondersteuners voor te berei om sy onwettige en ongrondwetlike optrede te aanvaar en sy ongehoorsaamheid teenoor die howe te steun, lê Trump die grondslag vir ’n grondwetlike krisis – sou hy ooit werklik regterlike opposisie teenoor sy optrede in die gesig staar. Dít is ’n prestasie wat hy slegs kan bereik danksy sy posisie as President van die Verenigde State en sy steun onder die massas.
“Ceci n'est pas une candidate”
Oorkant die Atalntiese Oseaan, in Frankryk, is die naam Marine Le Pen al meer as ’n dekade sentraal tot enige bespreking van die Franse politieke landskap. Die 56-jarige leier van die populistiese Rassemblement National party, het vir die eerste keer in 2010 bekendheid verwerf tydens haar teenkanting van Moslem-gebed in openbare strate en pleine in Franse stede, waartydens sy dié plekke vergelyk het met die besetting van Frankryk deur Nazi-magte. Alhoewel Le Pen se opmerkings uit baie oorde veroordeel is, het haar groeiende berugtheid, tesame met haar konsekwente teenimmigrasie standpunt en opposisie teen die Sarkozy-, Hollande- en Macron-regerings, haar en haar party ’n weerligafleier gemaak vir die griewe van kiesers wat vervreemd in hul eie land voel. Trouens, ver daarvan om haar politieke loopbaan te kelder, sou ‘n mens vergewe kon word om te sê dat Marine Le Pen se anti-Islamitiese en anti-establishment-uitlatings dit juis geloods het. Vir baie mense was dit egter nie die enigste aantrekkingskrag van haar beleid nie. Benewens kwessies van nasionale identiteit is Le Pen ook bekend vir haar Euroskeptiese standpunte, haar teenkanting teen ongekontroleerde vrye handel en globalisering, en haar standvastige steun vir Franse militêre onafhanklikheid.
Saam het hierdie kwessies Le Pen se kiesersbasis aangevuur, wat haar steun met meteoriese spoed laat styg het – van 17.9% van die stemme tydens haar eerste verkiesingsdeelname in 2012, tot 21.3% in 2017, en uiteindelik tot 41.5% in 2022. In baie kringe het die afnemende gewildheid van Macron se sittende regering, gekontrasteer met die opwaartse trajek van die Rassemblement National se steun onder Le Pen, haar as ’n vroeë gunsteling gemerk om die Franse presidensie in 2027 te verower.
Ten spyte van haar toenemende gewildheid onder die kieserspubliek, is haar verkiesingsvooruitsigte tans in die moeilikheid. Op 8 Desember 2023 het die Paryse aanklaerskantoor aangekondig dat Le Pen tereg sou staan op aanklagte van die verduistering van EU-fondse – ondersoeke wat reeds sedert 2016 aan die gang was. Hierdie fondse, wat bedoel was om die salarisse van EU-parlementêre assistente te betaal, is glo eerder aangewend vir die betaling van personeel van die Rassemblement National. Daar is beweer dat die totale bedrag wat op hierdie wyse deur Le Pen en haar mede-beskuldigdes weggesypel is, meer as €4 miljoen beloop het, geneem oor ’n tydperk van twaalf jaar. Twee jaar later is uitspraak gelewer, en op 31 Maart 2025 is Le Pen gevonnis tot vier jaar tronkstraf – opgeskort hangende ’n appèl – en is sy met onmiddellike ingang vir vyf jaar verbied om vir ’n politieke amp te staan.
Om te sê dat die straf omstrede is, sou ’n onderskatting wees. Hoewel die verbod op veroordeelde persone om vir openbare ampte te staan niks nuuts is in die Franse regstelsel nie, is die besluit om dit te doen vóór die afhandeling van appèlverrigtinge ongewoon. Tensy daar ’n vinnige en gunstige uitslag in daardie verrigtinge is, sal hierdie verbod Le Pen verhinder om as kandidaat aan Frankryk se 2027-verkiesing deel te neem – wat moontlik die doodskoot vir haar politieke loopbaan kan wees. Dit is nie sonder rede dat die uitspraak ’n stortvloed openbare steun van verskeie regse figure wêreldwyd ontlok het nie, met steunboodskappe wat gekom het van Donald Trump, Elon Musk, Jair Bolsonaro, en Viktor Orbán, onder talle ander.
Die besluit om Le Pen te verbied om vir ’n politieke amp te staan, is egter nie sonder meriete nie. Aan Suid-Afrikaners hoef die gevolge van korrupte politici wat die presidentskap beklee terwyl hulle die steun van die stemgeregtigde meerderheid geniet, waarskynlik nie eers verduidelik te word nie. Hierdie presiese gevaar is uitgelig deur die voorsittende regter in die saak, Bénédicte de Perthuis, wat verklaar het dat die besluit om die buitengewone maatreël op te lê direk verband hou met die risiko van ’n veroordeelde persoon wat tot die hoogste amp in Frankryk verkies sou kon word. Hierdie bekommernis was inderdaad een van twee duidelike risiko’s wat die regters in die saak moes weeg – die ander was die “groot risiko vir openbare orde” indien ’n potensiële presidentskandidaat, en trouens ’n waarskynlike wenner, verhoed sou word om deel te neem. Noemenswaardig is dat die verbod nie tot die res van Le Pen se party strek nie, ten spyte van die feit dat die Nasionale Party ander strawwe as gevolg van die skuldigbevinding opgelê is. Voorlopige aanduidings suggereer verder dat die appèlproses moontlik betyds afgehandel kan word sodat Le Pen se lot teen vroeg in 2026 bepaal kan word – ruim binne die tydraamwerk wat vereis word om ’n verkiesingsveldtog te loods. Vir ondersteuners van haar beweging bied dit ’n geleentheid om hul politieke stem te behou, terwyl dit terselfdertyd die regbank in staat stel om die wil van die volk te respekteer sonder om ’n (moontlik) sittende president te vonnis.
Vox Populi, Vox Dei
Soos Frank Herbert, outeur van die Dune-reeks, eens gesê het: “charismatiese leiers behoort met ’n waarskuwingsetiket op hul voorkop te kom: ‘Mag gevaarlik wees vir jou gesondheid.’” Die mag van die howe as ’n teenwig is afhanklik van die sosiale kontrak dat hul uitsprake bindend is. In die afwesigheid van sodanige konsensus is hulle soos ’n stem sonder ledemate. Maar waar die immer-charismatiese Trump elke regsbelemmering aanval en grondwetlike beskermings ondermyn vanuit die Oval Office, op die maat van die luide applous van sy menigte ondersteuners, verteenwoordig die meer versigtige benadering van die Franse howe ’n delikate balans tussen demokratiese vryheid en beskerming teen die bedreiging van populistiese negatiewe rolspelers. ’n Ons voorkoming is immers beter as ’n pond genesing, en ‘n mens wonder of sommige regters, in hul stil oomblikke, nie dalk nadink oor die moeilikheid om ’n sittende president aanspreeklik te hou in die aangesig van populêre steun nie.
En, of dit nie wyser sou wees, tot heil van die hele volk, indien politieke aanspreeklikheid reeds jare gelede afgedwing was nie.
Jacques Fooy het ‘n Meestersgraad in die Regte behaal aan die Universiteit Stellenbosch asook in Ekonomie & die Reg aan die Universiteit Utrecht, en is tans ‘n kandidaatprokureur van Johannesburg.
Nog artikels op OntLaer: