In 2023 was dit duidelik dat vertroue in die regering baie laag is. Dit is bevestig toe die ANC tydens die nasionale verkiesing gestraf is.
'n Diep besef het ontstaan dat antwoorde noodsaaklik is en dat dié antwoorde tussen gewone Suid-Afrikaners lê, en nie by die regering nie.
Uit hierdie besef het die idee van 'n nasionale dialoog ontstaan. Hierdie idee het nie by die regering ontstaan nie, maar binne die burgerlike samelewing. Talle organisasies het met mekaar begin praat. Die sakeman, Mcebisi Jonas, het gepraat van 'n nasionale dialoog.
Swak vertikale verhoudinge
Op die oog af is rasseverhoudinge in Suid-Afrika sleg. Julius Malema sing “Kill the Boer”, Ramaphosa weier om hom daaroor te berispe, en rassewette verdeel die land in raskassies. Plaasmoorde word gerelativeer. Politici gebruik rasretoriek om rassolidariteit aan te blaas. Gesprekke tussen die regering en Afrikaners val vas. Die regering druk die BELA-wet deur. Die Solidariteit Beweging gaan na die Withuis, en die regering begin ondersoeke oor hoogverraad teen hulle. Dít dui op swak vertikale politieke verhoudinge.
Goeie horisontale verhoudinge
Horisontale verhoudinge tussen gewone Suid-Afrikaners is egter steeds goed. Dit is sigbaar in alledaagse interaksies tussen mense. Die 2024-opname van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge bevestig dit:
53% van Suid-Afrikaners glo dat rasseverhoudinge sedert 1994 verbeter het.
87% stem saam dat samewerking tussen rasse noodsaaklik is vir nasionale vooruitgang.
Swak politieke verhoudinge en populistiese rasretoriek is dus nie 'n ware weerspieëling van Suid-Afrika nie.
Die gemeenskap moet praat
In die lig van bogenoemde is dit sinvol dat die gemeenskap met mekaar praat. Sedert Mcebisi Jonas se opmerking oor die nasionale dialoog, is daar heelwat gesprek gevoer. Die Thabo Mbeki-stigting het die idee omarm en ook met ander stigtings gekonsulteer. Die idee van 'n nasionale dialoog het momentum gekry, en binne die gees van die Regering van Nasionale Eenheid het dit 'n noodsaak geword.
'n Algemene konsensus het ontstaan dat dit 'n groot fout sou wees indien die proses 'n regeringsinisiatief word – die wantroue is juis in die regering. Tog het dit deel geword van die RNE-gesprek, en president Ramaphosa het aangekondig dat daar 'n nasionale dialoog gaan plaasvind.
Die staat kaap die gesprek
Die oorspronklike idee was dat burgers met mekaar in gesprek tree. Hierdie belowende inisiatief is egter nou deur die staat gekaap, iets wat een van Suid-Afrika se kernprobleme beklemtoon: 'n staat wat alles sentraal wil beheer. Selfs om te praat moet nou sentraal gereguleer word.
Die president, as staatshoof, het die inisiatief uit sy kantoor aangekondig. Hy bepaal die agenda, die program, en wie as invloedryke deelnemers gereken word.
Die staat probeer die burgerlike samelewing manipuleer deur voor te skryf wat gesê mag word en wie dit mag sê.
Die samestelling van sogenaamde invloedryke persone wys reeds hoe die staat die gesprek rig en beheer. Die kwessies wat bespreek word, word deur die staatshoof bepaal. Die nasionale dialoog ontaard in 'n staatsmonoloog. Mense word gekoöpteer om die staat se agenda te bevestig.
Die regering (lees: die oorheersende ANC) het sy relevansie verloor. Hy is by die stembus verwerp. Nou gebruik hy 'n groot proses om sy verwerpte beleid weer geloofwaardigheid te gee. Hulle sal die gesprek só manipuleer dat dit net hul mislukte ideologie bevestig.
Die ironie is dat die behoefte aan dialoog spruit uit 'n staat wat besig is om te verswak – op plekke selfs te misluk.
Die staat ís die probleem en kan nie die oplossing fasiliteer nie. Die staat het die gesprek nou gekaap. Die burgerlike samelewing mag nie toelaat dat dit gebeur nie. Die toksiese politieke verhoudinge gaan die dialoog ontspoor. Die oplossing lê nie in ’n staatsgesprek nie, maar in 'n gemeenskapsgesprek.
Die Solidariteit Beweging, waaronder Solidariteit en AfriForum, sal saam met ander Afrikanerorganisasies, stigtings, tradisionele instellings en burgerlike organisasies gesels om te besin oor hoe die gesprek van staatskaping gered kan word.
Om dit nie te doen nie, sou kulturele selfmoord wees.
Dr. Dirk Hermann is die bestuurshoof van die vakbond Solidariteit.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: