Eise om Afrikaanse onderrig is g'n rasmombakkies nie
Die demonisering van onderrigtaaleise is sonder feitelike grondslag.
Sedert die afgelope dekade se hofsake oor Afrikaans se plek as onderrigtaal by skole of universiteite, is daar dikwels vanuit sommige regskringe en van regeringskant af beweer dat skole wat enkeltalig Afrikaans is, taal as proksie vir ras en daarom as 'n uitsluitingsmeganisme sou gebruik.
En dit, volgens die aanvoerders, is strydig met Artikel 9(3) en (4) van die Grondwet, waarvolgens ras en taal albei genoem word as faktore wat onregverdige diskriminasie tot gevolg het.
Dit is amper asof diegene wat hierdie kritiek lewer, 'n parallel wil trek met die sogenaamde “Jim Crow” wetgewing in sommige (veral suidelike) state in Amerika tussen ongeveer 1830 en die 1960’s.
Die term “Jim Crow” het ontstaan na aanleiding van 'n swartgesig verhoogkarakter uit die 1830’s en het uiteindelik 'n neerhalende verwysing na alle swart Amerikaners geword. Algaande het dit die benaming van die gepaardgaande rasseskeidingwette in die suidelike state geword. Die onderliggende beginsel van die “Jim Crow” wette was “separate but equal”, en dit was van toepassing op openbare geriewe, skole, biblioteke, parke en openbare vervoer. Daarby is swart Amerikaners deur geletterheidstoetse en beperkings gekoppel aan inkomstevlak van bestaande gekwalifiseerde stemreg ontneem. In sommige state was huwelike en selfs verhoudings tussen wit en swart verbied (soortgelyk aan die Wet op die Verbod van Gemengde Huwelike in Suid-Afrika).
Dit was eers in 1954 met die bekende uitspraak van Brown v. Board of Education dat segregasie in Amerikaanse skole ongrondwetlik verklaar is, deur die aanvoering dat “separate” nie (noodwendig) “equal” is nie. In 1964 is rasseskeiding in openbare plekke en in werkplekke ook verbied. “Jim Crow” wette was vir meer as 100 jaar van toepassing in sommige Amerikaanse state.
Praat Jim Crow nou Afrikaans?
Is dit feiteik, regstegnies en moreel korrek om hoegenaamd vandag 'n vergelyking tussen Jim Crow wetgewing en Afrikaanse onderrig te tref? Met ander woorde, wil die Afrikaanssprekende gemeenskap swart leerlinge uit skole hou deur op Afrikaans aan te dring en hulle daardeur (weliswaar onregstreeks) op grond van ras uit te sluit? En is dit soortgelyk aan hoe wit Amerikaners swart Amerikaners op grond van opvoedingsvlak en welvaart (onregstreeks) van stemreg uitgesluit het?
Die eerste punt wat gemaak moet word, is dat Jim Crow wette oor iets geheel anders gegaan het as oor taal in skole. Trouens, die diskriminasie op skolevlak was glad nie “onregstreeks” nie – swart leerders is verbied om “wit” skole by te woon – punt.
In Suid-Afrika is daar nie onder die voormalige “wit” Afrikaanse skole een meer oor wat slegs wit leerders het nie. Dit opsigself is reeds 'n sterk aanduiding dat dit nie oor ras gaan nie, maar oor taal. Daar is talle swart leerders wie se ouers verkies om hulle in Afrikaans te laat skoolgaan, om hulle horisonne te verbreed, hulle 'n beter kans op indiensneming te gee en ook as gevolg van die algemene hoë kwaliteit in Afrikaanse skole.
Tweedens, en talle kritici van Afrikaans as onderrigtaal vergeet dit gerieflikheidshalwe, is die meerderheid (55%) sprekers van Afrikaans nie wit nie, maar bruin. Hulle sal vandag in die Amerikaanse konteks as “African Americans” beskou word. Die meerderheid van bruin leerders is in Afrikaanse enkeltalige skole, en dit kan aanvaar word dat min indien enige van hierdie skole slegs bruin leerders het. Daar word (veral in die Wes- en Noordkaap) ook swart en wit leerders in hierdie Afrikaanse skole gevind.
Die twee bogenoemde argumente is die eerste aanduiding dat 'n vergelyking tussen die grondwetlike aandrang op Afrikaans as onderrigtaal en die uitwerking van die Jim Crow wette feitelik ongegrond is.
'n Blik op die syfers
'n Verdere nekslag vir hierdie redenasie is die verskil in konteks tussen 18e en 19e eeuse Amerika en vandag se Suid-Afrika wat skool- en leerdergetalle betref. In Amerika was daar, as gevolg van die getalle-oorwig van wit Amerikaners, oneindig meer wit leerders (en daarom skole) as swart leerders (en daarom skole). Met die rasseskeiding is 'n minderheid swart leerders verbied om by die meerderheid wit en waarskynlik goeie skole in te kom. Dit was moreel uitsluitend. In Suid-Afrika vandag is daar 23 000 openbare skole. Hiervan het ongeveer 1000 (of 4.3%) 'n paralellmedium of dubbelmedium-taalbeleid. Daar is 900 Afrikaanse enkeltalige skole oor, wat slegs 3.9% van skole uitmaak. Hier is nie sprake van 'n wit (Afrikaanse) groep wat die meeste skole het en die swart meerderheid uitsluit nie. Trouens, meer as 92% van alle openbare skole in Suid-Afrika het Engels as onderrigmedium en is dus volgens die ANC-regering “toeganklik”. Daar is dus kontekstueel en feitelik geen gronde vir enige ooreenkomste tussen Amerika en Suid-Afrika nie.
Gegewe die feit van veel groter getalle van Engelse (hoofsaaklik swart) skole as Afrikaanse (gemengde) skole, is dit 'n feit dat al sou al 900 Afrikaans enkeltalige skole oornag Engels word, dit nie die probleem van swart leerders se toegang tot gehalte onderwys sal of kan oplos nie. Daar is eenvoudig oor die afgelope 20 jaar te min skole deur die ANC-regering gebou. Die geval van Gauteng is berug. Daar het die voormalige LUR vir onderwys Panyaza Lesufi in 2014 belowe om 250 skole in sy termyn van 5 jaar te bou (een per week!), en uiteindelik is 'n skamele 47 gebou (waarvan ten minste een steeds leeg staan as gevolg van 'n dispuut oor die vleiland waarop dit wederregtelik gebou is). Die probleem met uitsluiting is dus nie die skuld van die Afrikaanse gemeenskap se menseregtelike aandrang op moedertaalonderrig in terme van art 29(2) van die Grondwet nie, maar die ANC regering wat nie die bou van skole beplan, begroot en uitgevoer het nie. Hierdie feit maak die gewaande vergelyking met die “Jim Crow” verskynsel eintlik lagwekkend.
Tale het nie van meet af gelyke speelvelde nie
Afrikaans as 'n minderheidstaal sit verder met 'n probleem wanneer dit by dubbel- en parallelmedium onderrig kom. Ervaring die afgelope 15 jaar het geleer dat, sodra 'n skool van enkeltalig Afrikaans na dubbel- of parallelmedium oorskakel, dit gemiddeld vyf jaar neem voordat dit enkeltalig Engels word.
Dit is enersyds verwant aan 'n internasionale verskynsel, wat die “30% beginsel” genoem word. As 'n enkeltalige Franse skool in Kanada (waar Frans 'n minderheidstaal is) besluit om ook Engels as onderrigtaal in te sluit, en die Engelse leerders groei tot meer as 30% van die totale getal leerders, word die groter internasionale taal te sterk vir die minderheidstaal en die skool word enkeltalig Engels. Andersyds word dit gedryf deur ouers wat hul kinders in Engels onderrig wil hê, wat later as meerderheid druk uitoefen om van Frans (of in Suid-Afrika se geval, Afrikaans) ontslae te raak. Daar is in Suid-Afrika slegs enkele uitsonderings op hierdie reël, en dit is waar die dekadeslange kultuur van tweetaligheid, asook die persentasie nie-Afrikaanse leerders, fyn bestuur word.
Die ander vlak waarop die vergelyking tussen Afrikaans as onderrigtaal en die “Jim Crow” verskynsel verwerp moet word, is op regsvlak. In Amerika van die 19e en vroeg 20ste eeu, was die wetgewing duidelik diskriminerend op grond van ras. Suid-Afrika se Grondwet verbied onomwonde diskiminasie op grond van ras. Ras word uitdruklik in Artikels 9(3) en (4) van die Grondwet as een van die gronde van onbillike diskriminasie genoem. Dit is egter ook waar dat “taal” in dieselfde artikel ook as moontlike gronde vir onbillike diskriminasie genoem word. Die verskil is egter verder dat in Artikel 29(2), die reg van enige Suid-Afrikaner erken word om in die taal van sy of haar keuse in 'n openbare onderwysinstelling onderrig te ontvang, solank as wat die prakties doenlik is en terwyl gelykheid, praktiese uitvoerbaarheid en regstelling in ag geneem word. Dit affekteer, in regsterme, die vraag oor die “billikheid” van diskriminasie, siende dat die Grondwet slegs onbillike diskriminasie verbied. Daar is vandag steeds 900 Afrikaans enkeltalige skole, wat enige leerder van watter ras en stand ook al toelaat, en daardeur gelykheid van toegang nastreef, en terselfdertyd regstelling in terme van gehalte onderwys bevorder. Artikel 29(2) behoort dus balans te bring oor die feit dat taal as 'n diskriminerende faktor in Artikel 9(3) genoem word, maar insgelyks die onderwerp van 'n menseregtelike moedertaalonderrigraamwerk vorm.
Betwyfelbare regspraak oor taal
Daar moet egter ongelukkig daarop gewys word dat in die belangwekkende saak oor taal by die Universiteit van die Vrystaat (Afriforum and Another vs University of the Free State, 2017) die Grondwethof myns insiens verkeerdelik die begrip “redelikerwys doenlik” in Artikel 29 (op Engels “reasonably practicable”) as hoofsaaklik normatief uitgelê het.
Dit is teenstrydig met hoe dit duidelik grammatikaal deur die opstellers bedoel is, naamlik praktiese uitvoerbaarheid. Die hoogedele regters het nie verstaan of in ag geneem dat “practicable” 'n selfstandige naamwoord is wat deur die bywoord “reasonably” beskryf en gekwailifiseer word nie. Dit gaan oor die praktiese uitvoerbaarheid wat as redelik beskryf word. Daardeur het die hoogste hof ongelukkig eintlik die hele Artikel 29(2) ontkrag. Dit gaan sigself ook mettertyd wreek op onderrigtaal op skoolvlak, maar hopelik nie gou nie.
Demografiese feitelikhede
'n Laaste argument oor hoekom hierdie vergelyking tussen die Amerikaanse en Suid-Afrikaanse gevalle nie houdbaar is nie, is die feit dat Engels in Suid-Afrika (anders as in Amerika) slegs die vyfde grootste aantal gebruikers as eerste taal het, met net 8.7% van die totaal. Daarteenoor is isiZoeloe die grootste (24.4%), isiXhosa die tweede grootste (16.3%) en Afrikaans die derde grootste (10.6%). Dit is volgens die jongtse sensus van 2022. As 'n mens na tweede taal sprekers kyk, praat 14 miljoen Suid-Afrikaners Engels as 'n tweede taal, wat die totaal vir Engels op 19.6m of 33% te staan bring.
Daarteenoor gebruik 10.3 miljoen Suid-Afrikaners Afrikaans as 'n tweede taal, wat die totaal vir Afrikaans op 17.2 miljoen of 29% te staan bring. Nie net is dit hieruit duidelik dat Afrikaans en Engels baie naby mekaar lê as spreektale nie en dat nie net Afrikaans as diskriminerend ervaar kan word nie, maar dat 'n beduidende persentasie Suid-Afrikaners dan Engels slegs as derde taal praat, of dalk glad nie praat nie. Die logiese opvolgvraag is dan: is die amper uitsluitlike (en verpligte) gebruik van Engels in 92% van alle Suid-Afrikaanse skole nie ook uitsluitend nie? Die antwoord op hierdie vraag word ook beïnvloed deur die ANC-regering se weiering om (met die uitsondering van 'n enkele loodsprojek in die Oos-Kaap met isiXhosa twee jaar gelede) moedertaalonderrig in skole – selfs in landelike gebiede waar Engels duidelik nie sterk staan nie – in te voer. Die ANC regering pleeg 'n misdaad teen veral landelike leerders deur hulle te dwing om vanaf graad vier in Engels onderrig te word, dikwels deur onderwysers wat self nie Engels goed magtig is nie. Praat van uitsluiting!
Ten slotte: dit is geheel en al onvanpas, en feitelik en juridies foutief om die aandrang van die Afrikaanse gemeenskap om hulle kinders in Afrikaans onderrig te laat word, te vergelyk met en te meet aan die “Jim Crow” wette in sommige Amerikaanse state in die 1800’s en 1900’s. Laasgenoemde was daarop ingestel om 'n totaal uitsluitende stelsel op te rig.
Afrikaans, as die derde grootste taal in Suid-Afrika, gepraat as eerste of tweede taal deur baie meer swart as wit Suid-Afrikaners (byna 30% van die totale bevolking) se gebruik as onderrigtaal in skole is inteendeel 'n daad van insluiting. Daarteenoor moet die afdwing van Engels op waarskynlik meer as 20% van die bevolking wat Engels nie as eerste of tweede taal praat nie, as uitsluitend beskou word.
Dr. Theuns Eloff is 'n onafhanklike kommentator.