Nadat die BELA wet bekragtig is, het baie tuisskoolouers 'n grootskaalse poging aangewend om registrasieaansoeke in te dien voor die sperdatum wat deur die wet voorgeskryf word.
Baie ouers vrees dat vereistes rondom registrasie en assessering nou streng afgedwing gaan word, en dat hulle die wet noukeurig moet nakom om vervolging vry te spring. Ouers wat nie gemaklik is met die vereistes van die wet nie doen tuisonderwys onder die radar en vermy kontak met owerhede.
In die verlede was dit die algemeen aanvaarde standpunt dat die registrasievereiste van Art. 51 van die Skolewet in stryd is met die Grondwet en ander wette en dat ouers regmatige redes het om nie die vereistes van die wet na te kom nie. Dit het aan ouers gemoedrus gegee om met vertroue te fokus op die onderrig van hul kinders. Nou glo baie egter dat die BELA wet alle skuiwergate toegemaak het en nie-nakoming nie meer moontlik is nie. Die tuisonderwysbeweging word nou gekenmerk deur vreesagtigheid en verdeeldheid.
Kan die wet afgedwing word?
Om te glo dat die nie-nakoming aan die BELA wet nie meer moontlik is nie, is problematies vir verskeie redes.
Eerstens het die BELA wet meer teenstrydighede met die Grondwet en ander wette ingevoer. Die wet beperk die vryhede van ouers om in belang van hulle kinders op te tree, sonder enige redelike gronde. 'n Volledige uiteensetting kan hier gelees word. Tweedens, ondanks die feit dat die straftermyn in die strafklousule verhoog is van 3 maande na 1 jaar, bly registrasie nog steeds moeilik af te dwing deur die proses van strafregtelike vervolging. 'n Volledige uiteensettingkan hier gelees word. Derdens het die Minister van Basiese Onderwys in terugvoer aan Parlement aangedui dat die strafklousule nie gemik is op tuisonderriggewers nie. Die woorde van die Minister was : "The penalty clause is not specifically targeted at non-registration for home education." Alhoewel hierdie terugvoer nie in die wet vervat word nie, is dit iets wat regters myns insiens nie eenvoudig sonder rede kan ignoreer nie.
Vierdens is die bepalings oor registrasie en vervolging irrasioneel en skep dit regsonsekerheid. Artikel 51(1) van die BELA-wet plaas 'n plig op ouers om aansoek te doen vir registrasie by die Departementshoof. Terwyl Artikel 3(6) nie-nakoming as 'n misdryf beskryf, gee artikel 3(5) die Departementshoof diskresie om op te tree teen ouers wat versuim om te registreer. Of nie. Dit beteken dat ouers aan 'n strafregtelik afdwingbare plig onderhewig is, maar sonder 'n duidelike en voorspelbare stelsel van handhawing.
Indien sommige ouers vervolg word en ander nie, lei dit tot willekeurige en ongelyke toepassing van die reg, wat strydig is met die beginsels van gelykheid (art. 9 van die Grondwet), regmatigheid in administratiewe optrede (art. 33 van die Grondwet) en die vereistes van regsekerheid onder die regstaatbeginsel. Soos die Konstitusionele Hof in Prinsloo v Van der Linde en Affordable Medicines Trust bevestig het, is arbitrariteit en regsonsekerheid ongrondwetlik. Hierdie situasie word verder gekompliseer deur die feit dat geen Departementshoof sedert 1996 'n tuisskoler suksesvol laat vervolg het weens versuim om te registreer nie.
Vyfdens het die duisende briewe en honderde kragtige getuienisse van tuisskoolouers tydens die proses van publieke deelname van die BELA wet bygedra om die politieke wil van politici en amptenare 'n ernstige knou toe te dien. Dit vind ook gereeld weerklank by die amptenare verantwoordelik vir tuisonderwys wat gereeld opmerk dat hulle tuisonderiggewers wil ondersteun eerder as vervolg. Dit is in skrille kontras met 2004, toe Tidimalo Nkotoe van die Gauteng onderwysdepartement dit duidelik gemaak het dat ouers wat nie registreer nie, skuldig is aan 'n misdryf.
Sesdens gaan onderwysdepartemente dit moeilik vind om die finansiële kapasiteit vir strafregtelike vervolging te regverdig. Veral in 'n tyd van krimpende begrotings. Onder apartheid, toe tuisonderwys sonder twyfel onwettig was, het die hofsaak teen die Meintjies-gesin 5 jaar geduur alvorens tronkstraf opgelê kon word. Om die Nasionale Vervolgingsgesag te oortuig om ouers strafregtelik te vervolg vir administratiewe nalatigheid gaan 'n veel groter uitdaging wees.
Is ouers moreel verplig om die BELA wet na te kom?
Ondanks die onregmatighede en onuitvoerbaarhede in die BELA wet, meen sommige dat dit desondanks burgers se moreel-godsdienstige plig is om die wet na te kom en verwys na Romeine 13 wat bepaal dat “Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is.” Die 1953-vertaling van die Bybel is egter nader aan die grondteks en gebruik die woord “magte”, in plaas van “owerhede”. In die Griekse grondteks is dit “exousia” wat verwys na vermoë, krag, bevoegdheid, kundigheid, kapasiteit of gesag. Die morele argument vir onderwerping aan woorde op papier van 'n vervalle struktuur met bykans geen mag of gesag nie, is moeilik om te verdedig teen hierdie agtergrond.
Aan die ander kant is die bestaan van 'n almagtige God wat my betref 'n realiteit. Hierdie God gee aan ouers die opdrag om kinders volgens Bybelse standaarde op te voed. Daar is geen rol vir die staat om toe te sien dat kinders volgens menslike standaarde opgevoed moet word nie. Ouers kan nie moreel gebind word aan 'n staat wat buite sy bevoegheid optree nie.
Wat staan ouers nou te doen?
Die ouers wat in die verlede vreesloos regmatige nie-nakoming voorgestaan het, het die wil en die vermoë van die staat ondermyn om staatstoestemming vir tuisonderwys af te dwing. Die Parlement het probeer om die gety te keer deur die woorde in die wet te verskerp.
Die toekoms is nou weer in die hande van die ouers. Hulle kan uit vrees vir die BELA wet vrywillig mag teruggee aan die staat. Of hulle kan vreesloos voortgaan om nie te voldoen nie aan onregmatige staatsinmenging op ouerlike gesag en in lyn met hulle morele oortuigings leef, soos hulle die afgelope dekades met groot sukses gedoen het.
Tuisonderwysorganisasies kan onderwysdepartemente ook help deur die wet op 'n wyse uit te lê wat ouerlike gesag versterk en kwesbare leerders beskerm op 'n prakties uitvoerbare wyse. Om die wet op die oog af uit te lê, lei slegs to vrees en konflik.
Bouwe van der Eems is 'n elektriese ingenieur. Hy en sy vrou het hulle vyf kinders tuisonderwys gegee sedert 2000. Van 2002 tot 2024 was Bouwe trustee van die Pestalozzi Trust en bedryf die SAHomeschoolers.org webwerf. Hy woon in Kaapstad en is aktief betrokke by inwonersverenigings.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.