BELA konsepregulasies: Nuwe strydfronte, ou spelers
Moedertaalonderrig moet die beste moontlike verdrag kry.
Goewermentskennisgewings in die Staatskoerant sorg nie normaalweg vir opwindende leesstof nie. GK 53119 en 53120, wat die Minister van Basiese Onderwys Siviwe Gwarube se konsepregulasies oor die BELA-onderwyswet in volume 722 van die Staatskoerant boekstaaf, dra op die oog af reeds saai burokratiese opskrifte wat vir die gewone ou op straat moontlik verveliger as 'n koppie koue tee op die rusbank voor die sportkanaal kan wees.
Vir die gesoute skaak- of gholfspeler sal die BELA konsepregulasies dalk meer bekend lyk: op die oog af stil, passief en sonder ooglopende omstredenheid, maar op die bord of baan voor jou lê die opgeslote vermoë tot strawwe mededinging.
Hoe hier gekom?
Die feit is dat die DA met terugskouing 'n uiters moeilike balanseertoertjie met die BELA wet moes uitvoer (toegegee, die uwe was self semi-histeries en krities oor die skynbare onbeholpenheid van die DA as laaste hoop teen BELA se wetswording).
Die President en sy party het na die vorming van die RNE hulle agterente aan die teenstanders van die BELA wet afgevee. Die DA-gevulde ministerspos van basiese onderwys het wel vir die blou party se ondersteuners en diegene wat hul misnoeë met BELA in November verlede jaar treffend in oranje laat blyk het, 'n tikkie hoop gegee.
Teen Desember 2024 moes Steenhuisen watertrap, nadat Ramaphosa die NEDLAC-skikking tussen die regering en Solidariteit gewoon geïgnoreer en die BELA wet onderteken het. Terwyl die druk opgelaai het, moes Kabinetslid Gwarube 'n tegnokraties-onpartydige gesig voorhou, wat kennelik uiters ingewikkeld was. SADOU het lankal bloed geruik en gedreig en geblaas; die Afrikaanse gemeenskap was millimeters daarvan weg om 'n algemene verraadsweersin teen die DA te ontwikkel.
Oplaas het die Minister onderneem om sogenaamde “riglyne” te skryf en te publiseer, wat tyd sou koop alvorens regulasies uitgevaardig word. Die riglyne is uiteindelik, onder die protesgeskal van SADOU en parlementêre komiteelede dat Gwarube slegs by magte is om regulasies op te stel, in Junie vanjaar gepubliseer. Die Minister het haar riglyne openlik verdedig met verwysing na haar grondwetlike magte, maar dit is opvallend dat die konsepregulasies nie baie lank na hierdie relletjie gepubliseer is nie, synde dan op 6 Augustus 2025. Dit trek die tydkoop-teorie oor die riglyne in die twyfel; dit kan ook wees dat die Minister se regsdiensleweraars gewoon vinger in die vars lug gekry en die wetskryfpenne skerpgemaak het.
Moontlik strydfronte
Die voordeel van Gwarube se ministerskap is nie net dat sy tog op talle vlakke haar party as klankbord moet gebruik ten einde politieke begronding te behou nie, maar dat die bal nou in die baan van die voorstanders van 'n radikale uitleg van BELA is om haar regulatoriese magte en magsuitoefening aan te vat.
Die bewyslas is verskuif, wat vir die teenstanders van die groter BELA-ideologie kans gee om die besware en verwyte teen die Minister se konsepregulasies en ander magsbesluite onder oënskou te neem. Die BELA-voorstanders en Lesufi’s van die onderwysomgewing sal nou hul kaarte moet speel, wat nuttig kan wees vir doeleindes van litigasiestrategieë. Soos wat Internet Freud of Jesaja of Amos van Tekoa vermoedelik gesê het: Si vis pacem, para bellum. Soek jy vrede? Berei voor vir oorlog.
Die regulasies in GK 53120 vervat reëlings rondom kapasiteitsbepaling in openbare skole. In paragraaf 4 word minimumfaktore uiteengesit wat by kapasiteitsbepaling betrek moet word. Benewens faktore wat binne die sigbare refrein van wanbestuur en swak beplanning teen die bygeloof dat Afrikaanse skole halfvol sentrums van onregverdige bevoorregting is, sal inwerk, word die gedagte van parallel- of dubbelmedium onderrig in paragraaf 4 sterk gekwalifiseer deur die “vaartbelyndheid” en “bestuurbaarheid” van die kurrikulumaanbod. Akademiese prestasie word subtiel hier gehaak aan die beste belang van die leerder-kind, wat natuurlik die grondslag vorm van die Grondwet se Artikel 28 oor kinderregte. Daar sal nie maklik onder hierdie regulasie plek wees vir Lesufi om hond se gedagte oor Afrikaanse kurrikula te kry nie.
Vir BELA se teenstanders, vir wie kapasiteit nog altyd onlosmaaklik verbind is met die vereistes van onderrigtaal, skep GK 53120 'n keurstel van faktore waaraan die optrede van provinsiale amptenare getoets kan word. Die koers waarteen amptenare administratiefregtelik avers optree, is natuurlik 'n takties voordelige vooruitsig vir die voorstanders van openbare skole wat vry is van staatsinmenging en onderrig-deur-diktaat.
Toelatingsregulasies: 'n Regspolitieke skaakbord
GK 53119 het groter potensiaal om 'n regspolitieke skaakbord te word, indien nie 'n links-baan vol potbunkers vir alle rolspelers nie. Hoewel dit toelatingsbeleid poog reguleer, is daar nie 'n omskrywing van byvoorbeeld onderrigtaal in die omskrywingsblad nie. Dit kan wees dat die Minister nog beoog om 'n afsonderlike stel regulasies oor taalbeleid uit te vaardig, siende dat bepalings oor taal en toelating - hoewel verbind - op verskillende plekke in die BELA wet vervat word.
Die regulasies plaas gelukkig 'n skynbare premie op bewoording wat samewerking tussen HOD’s (hoofde van departemente) en beheerrade voorsien. HOD’s kry ook lywige takies, soos om “duidelike prosesse vir leerdertoelating nie later nie as Meimaand van die voorafgaande skooljaar” af te handel. Dit skep 'n hekkie waar kwaadwillige HOD’s maklik in prosedurele onregmatigheid kan vasval.
Die toelatingsbeleid van 'n skool moet nie net rasioneel en regverdig wees nie, maar moet sewe faktore inreken, onder andere die “demografie en onderwysbehoeftes van die omliggende omgewing, met inbegrip van taal en die getal verpligte skoolgang-ouderdom leerders”. Die verwysing na die omliggende omgewing is 'n ooglopende strydpunt: waar is die grense van die omliggende omgewing? Op die platteland sal hierdie omligging anders lyk as in die stede. Verder, wat is die maatstaf vir doeleindes van taal en demografie in die omliggende omgewing? Werk ons met proporsionaliteit of eenvoudige meerderheid/minderheid berekeninge? Indien laasgenoemde, sal die uitkoms omtrent in alle gevalle teen Afrikaanse onderrig inwerk, en omtrent teen elke onderrigtaal behalwe Engels.
Die beskikbaarheid van skole in 'n gebied, die hulpbronne beskikbaar en departementele planne vir die uitbreiding van skoolinfrastruktuur is verdere belangrike faktore vir die opstel van skooltoelatingsbeleide. Dit opper nog 'n strydvraag: as die onderwysowerhede nie planne het om uit te brei nie, maar hulle behoort dit te doen, kan hulle staatmaak op die afwesigheid van beplanning om aan te voer dat 'n tekort aan kapasiteit in 'n gebied beteken dat bestaande hulpbronne fyner herverdeel moet word?
Met ander woorde en byvoorbeeld, kan 'n Afrikaanse enkelmedium skool gedwing word om Engelsmedium onderrig by te werk wanneer die departement nie eens probeer het om planne vir die uitbreiding van skoolinfrastruktuur ter tafel te lê nie? Teen die agtergrond van Grondwethofuitsprake oor positiewe verpligtinge op die staat wat betref die verskaffing van middele om basiese regte gestand te doen (soos Grootboom of TAC) is hierdie 'n dwingende regsvraag.
Skuiwergate en 'n uitleg van “breër behoeftes”
Die berugte propagandistiese taktiek om leerders “in te bus” na skole, om dan beheerrade en dagbesture in uiters moeilike posisies te plaas, word ingeperk deur die regulasie in paragraaf 6(2) dat HOD’s wat hul eindmagtiging uitvoer om 'n leerder in 'n skool toe te laat, eers die beheerraad skriftelik moet verwittig en die beheerraad 'n “redelike geleentheid [moet] gun” om terugvoer te gee.
Volgens paragrawe 6(3) en (4) is die redelikheid, wetlikheid en prosedurele billikheid (dus, die administratiewe besluitneming) van 'n HOD se besluite van 'n lywige lys oorwegings afhanklik. “Breër behoeftes van die gemeenskap” staan hier uit: weereens, watter gemeenskap is ter sprake? Waar is die grense daarvan, en is daar sinvolle grense? Dit is moontlik, wat my betref, om “breër behoeftes” saam te lees met “omliggende omgewing” en die begrip nader aan die groter behoeftes, strewes en volhoubaarheid van gevestigde taalgemeenskappe in 'n gebied te uit te lê.
Dit blyk wel by lees van paragraaf 7 - oor die hersieningsversoek wat 'n HOD aan 'n gegewe beheerraad kan rig wanneer 'n gegewe skool se toelatingsbeleid as ontoereikend beskou word - dat daar 'n skuiwergat ontstaan om die lywige paragraaf 6 vereistes te ontduik. Anders as elders in die konsepregulasies, word die beheerraad nie in paragraaf 7 die geleentheid gegun om kapsie te maak of vertoë te rig sou dit voel dat die HOD se besluit onredelik of andersins gewoon verkeerdelik geneem is nie. 'n HOD wat gekant voel teen die lywige besluitnemingsproses in paragraaf 6(4) ('n proses wat, kernbelangrik, “per leerder” funksioneer en dus nie massatoelatings met 'n enkele besluit magtig nie) kan soos sake nou uitsien gewoon die beheerraad beveel om hul toelatingsbeleid te wysig ingevolge paragraaf 7. Dit plaas die bal in die beheerraad se baan, en die HOD kan op hierdie manier toelatings bewimpel wanneer hul weet dat die redes wat hul ingevolge paragraaf 6(4) moet verstrek, nie werklik water hou nie.
Oor onbillike diskriminasie
Laastens verbied die konsepregulasies natuurlik toegangsweiering op grond van onbillike diskriminasie, wat onder andere “taal” vermeld.
Hierdie strydpunt gaan met verwysing na die BELA wet self en die ouer grondwetlike uitsprake oor taal- en toelatingsbeleid nog moontlik 'n geweldige kwelpunt word. Die toets vir onbillike diskriminasie in Harksen v Lane, synde die posisionering van uitgeslotenes in die samelewing, hul geskiedenis van diskriminerende slagofferskap, gekoppel met die doel en teiken van die uitsluitingsbesluit en die mate van impak op die uitgeslotenes, sal hier inspeel. Tot dusver het die toets geneig om volgens 'n binêre historiografie van Suid-Afrika se geskiedenis te werk.
Maar dit is denkbaar dat die uitdagings wat Afrikaanse onderrig en die taalekosisteem in die gesig staar, die druk wat dit ook geskiedkundig ervaar het en steeds ervaar, asook die lofwaardige en menswaardige doelwitte daarvan as manifestasie van geslaagde moedertaalonderrig, die knoop hier kan help deurhaak. Selfs belangriker, moet impak op uitgeslotenes vir doeleindes van die Harksen toets teen die agtergrond van die staat se 30 jaarlange versuim om moedertaalonderrig en skoolinfrastruktuur uit te brei, verstaan word. Staatsversuim behoort nie deur regulasies die skoolgemeenskap se probleem te word nie.
Die konsepregulasies, ten slotte, bied hoop. Maar dit is nou belangrik dat die pedaal weer vasgetrap word, sodat die reeds gunstige Ministerie soveel aanbevelings as wat ingedien kan word kan oorweeg, sodat die omvattendste toevoegings doenlik bygewerk kan word.
Nog artikels deur Frederik van Dyk:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.