Ubuntu: brandhout vir die offeraltaar van vryheid
Wanneer saamwerk en saam sukkel met mekaar verwar word.
Ubuntu is nie 'n term wat ons elke dag hoor in gesprekke nie, en tog is dit voortdurend op 'n onsigbare wyse teenwoordig. Die term ubuntu is vervleg in die boustene van Suid-Afrika soos wat ons dit vandag ken. Ubuntu as fondament is dalk al byna vergete, maar ons staar die nalatenskap daarvan steeds in die oë wanneer ons kyk na die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), die Basic Education Laws Amendment (BELA), die magdom staatsinstellings, en die lys hou net aan.
Die Oostenrykse ekonomiese filosoof Friedrich August Hayek (1899-1992) definieer sosialisme as die afskaffing van vrye onderneming. Sosialisme gaan vir Hayek daaroor dat die staat eienaarskap het van en besluite neem oor 'n land se kapitaal, hulpbronne en arbeid. Hoe groter die magsfeer van die staat, hoe minder vryheid het die individu om keuses uit te oefen.
In Suid-Afrika is staatspandering ongeveer 34% van die BBP. Dit beteken dat die regering besluit wat met meer as 'n derde van belastingbetalers se geld gedoen word. Dit is belangrik om te verstaan dat die regering nie ander geld kry as belasting of lenings nie, boonop is lenings net geld van toekomstige belastingbetalers. Verder het Suid-Afrika ook meer as 100 staatsbeheerde ondernemings wat besluite oor produksiemiddele en arbeid neem. Daarmee saam het ons ook BELA wat vir ons besluit hoe ons kinders opgevoed moet word en die NGV wat ons mediese beplanning doen. Tog dink sommige steeds aan ons land as 'n welsynstaat eerder as 'n totalitêre staat.
Volgens Hayek is sentrale beplanning die voorganger van totalitarisme. Hy stel:
“In 1934 het Amerika na Italië, Duitsland, Rusland en Japan gekyk vir die voorbeeldigheid van sentrale beplanning in hul ekonomiese beleid. Net 10 jaar later was elkeen van hulle bekende totalitaristiese state. Dit is nie toevallig nie.”
Voorstanders van staatsbeheer daag gewoonlik nie op en kondig aan dat hulle die man op straat se vryheid wil wegvat nie. Dit kom gewoonlik toegedraai in 'n pakkie van sentrale beplanning. Gewoonlik word dit ook sterk beklemtoon dat sentrale beplanning nie 'n keuse is nie, maar dat die een of ander omstandighede die land dwing tot sentrale beplanning.
In Suid-Afrika word staatsbeheer dikwels verkoop in 'n pakkie van ongelykheid wat reggestel moet word deur die land se inwoners wat vir mekaar omgee: Ubuntu. Daar is min dinge wat nog nie as betekenis aan ubuntu toegeskryf word nie, maar die bekendste betekenis kom uit in die frase: “umuntu ngumuntu agabantu”. Dit beteken “ek is, want ons is” of “'n mens is 'n mens deur ander mense”.
Ubuntu is 'n woord wat beide die identiteit en die deug van 'n mens omskryf. Die mens vind sy identiteit in sy verhoudings met ander. Die mens se identiteit lê nie in die individu nie, maar in die gemeenskap. Nie in individuele eienskappe nie, maar in handelinge met die groep. Die mens is gevorm deur elke interaksie wat hy al met 'n ander mens gehad het. Dit is in hierdie sin dat die mens regtig is omdat die mense rondom hom is. 'n Mens is 'n mens deur ander mense.
Die tweede konsep wat tegelykertyd in ubuntu vervat word, is dit wat 'n mens behoort te wees. Die deug van werklik mens wees waarna elkeen moet streef. Hierdie deug sluit waardes soos vrygewigheid, empatie, kompromie en gasvryheid in. Ubuntu beteken in hierdie sin ook om ander mense met menswaardigheid te hanteer. Omdat die individu is, kan hy weet dat die ander mens ook 'n mens is en goed behandel moet word. Dit is dus baie belangrik in hierdie konteks om ander te respekteer en te dien en veral om vrygewig te wees. Die individu moet onselfsugtig dien.
Om nie selfgesentreerd te wees nie en op te tree in die belang van die groep is natuurlik nie sleg nie. Enige westerling sal, ondanks groot verskille, insien dat daar baie goeie dinge in die konsep van ubuntu skuil. Die probleem is dat leiers van Suid-Afrika met kulkuns met die woord werk wanneer dit op nasionale vlak toegepas word.
Nog 'n aspek van ubuntu wat verstaan moet word, is ubuntu se siening van die individu en die groep. Ubuntu hou die verstaan in dat wanneer 'n individu in die belang van die groep optree, die individu natuurlik sal floreer. Dit beteken dat die groep se doelwit en die individu se doelwit beide belangrik is en deur na die een te streef, sal jy outomaties nader aan die ander een ook kom. Dit is bloot nie die geval nie. 'n Baie spesifieke groepsdoelwit en individuele doelwit is nodig om dit te kan regkry. Westerlinge het al in die polis van antieke Griekeland begin stry oor die beste manier om 'n samelewing te orden sodat die individu en groep kan floreer. Suid-Afrikaanse leiersfigure gaan wel gereeld nog verder as om albei gelyk te handhaaf.
Dat die individu moet floreer word sommer heeltemal by die venster uitgegooi. Wat dan oorbly is 'n tipe Afrika-kollektivisme wat geassosieer word met ubuntu. Kollektivisme is die siening dat die groep altyd belangriker is as die individu. Dit kan baie gevaarlik wees, want die individu word dan baie gou net gesien as 'n middel tot die groep se beskikking. Dan word die staat nog in die mengsel gegooi om te besluit wat goed is vir die groep en hoe die verskillende individue gebruik moet word om die groep te bevorder. Die betekenis van ubuntu word so op 'n slinkse manier verdraai vanaf ‘ek is, want ons is’, na ‘ek is, want die regering gee my belastinggeld vir jou as toelaag” of “Ek is, want die regering maak besluite oor 'n derde van my hulpbronne”.
Ons sal die Switserse filosoof René Descartes (1596-1650) selfs se bekende “ek dink daarom is ek” kan dekoloniseer met 'n stelling soos “my regering dink vir my, daarom is ek.”
Deur die betekenis van ubuntu so te verander dat die groep bo die individu geplaas moet word, is ons hele land besig om ons vryheid op te offer. Die term ubuntu dien as brandhout deurdat dit gebruik word as die rede vir die noodsaaklikheid van sentrale beplanning. Politici sal uitwys dat daar ongelykheid, armoede en tekortkominge is. Volgende sal ons herinner word van ons gees van ubuntu en hoe ons nasie saam moet staan vir mekaar. Uiteindelik sal die regering intree met 'n oplossing wat sentralisering verg.
Wee die een wat die oplossing bevraagteken. Hy kan gemerk word as iemand wat teen die belang van die groep optree. Iemand sonder ubuntu. Hier word dan ook teruggegaan na ubuntu se konsep van mensheid en menswaardigheid. Indien jy gemerk is as 'n groepsverraaier en nie ubuntu het nie, hou dit ook in dat jy nie werklik menswaardigheid het nie.
Daar is soveel maniere waarop 'n groep van individue georganiseer kan word. Ek dink nie dit is noodwendig dat ubuntu moet lei tot totalitarisme nie. Inteendeel dink ek dat die ware betekenis van ubuntu ook verbrand word in die offervuur van ons vryheid. Daar is verskeie stelsels wat op verskeie maniere vergestalting kan gee vir die konsep van ubuntu. Daar is sekerlik 'n manier om 'n samelewing op 'n ekonomiese wyse te organiseer sodat die individu en die groep bemagtig word. Ek hoop om met hierdie meningstuk die vloer te open vir verdere gesprekvoering.
Leandrè Steenberg studeer ekonomie en filosofie aan die A.P. Akademie, sy is ook 'n wiskunde-tutor.
Nog artikels op OntLaer:
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
Baie goeie balans tussen die goeie en die uitbuiting van 'n filosofiese beginsel. Nog iets wat ek al gelees het wat my ook telkens tref, is dat die Christen tog 'n mededeelsaamheid filosofie het, maar dat dit van die uitlewing (nie noodwendig die bedoeling) van ubuntu verskil in die sin dat die Christen sê: "Ek het oorvloed, daarom gee ek", terwyl ubuntu (of meer spesifiek die regering se siening daarvan) in effek sê: "Jy het oorvloed, daarom kan ek vat". Ons het nog baie om te leer in ons land oor hoe ons eerder kan help bou en vorentoe gaan, in plaas van afbreek en vassteek by die verlede.
Ware stof tot nadenke!