Die spook van Julie 2021 loop
Maar die ANC memory hole, want wat anders kan hulle doen?
Die begrip memory hole, en sy werkwoord memory holing, kort 'n lekker Afrikaanse vertaling.
Dit word ontleen uit George Orwell se Nineteen-Eighty Four, en verwys na letterlike gleuwe in die mure van die berugte Ministerie van Waarheid in die roman, waarin ongewenste gedokumenteerde inligting met pype afgevoer en verbrand word. Op daardie wyse verseker die Party, die groot antagonis, dat ongerieflikhede uit die verlede vir ewig uit die samelewing verwyder word.
Memory-holing is natuurlik in die praktyk geen maklike taak in die Inligtingsera en hierdie bloeiende tydperk van generatiewe kunsmatige intelligensie nie. Maar wie weet waartoe die blikbreine werklik in staat sal wees, wanneer ons meer en meer van ons herinneringe, idees en gedagtes op die stroombane oplaai en deel? Dalk, eendag, besluit 'n wreedaardige robotbrein-vandaal om alle ondersoekende en sloernalistieke skryfwerk permanent van die Web te verwyder, met geen teken daarvan nie en geen manier om dit ooit te herwin nie. OntLaer, sal my vrinne Paul en Daniël beaam, sou dan pret wees while it lasted… KI-boosaards kan darem nie nostalgie, humor of herinneringe uit ons eie persoonlike vleesbreine verwyder nie.
Wel, nog nie. En die mens is ongelukkig nogal goed daarmee om onsself te memory hole.
Julie 2021: Ons flous onsself die vergeet in
Die Middeleeuse skolastiese denker Willem van Ockham staan in die filosofie uit as die logikus wat die “Ockam se skeermes” duimreël nagelaat het. Hierdie duimreël, soos in een van ons eerste plasings op OntLaer bespreek is, lui dat kompleksiteit nie sonder noodsaak is nie, te wete, dat ons daardie verklarings wat op die minste aantal aannames staatmaak, die voordeel van die twyfel moet gee.
Wat memory holing betref, moet ons gevolglik in die korttermyn minder bevrees wees vir boosaardige totalitêre heersers wat soos die Party in Nineteen-Eighty Four begin optree, of vir die oorname van die gevreesde robotvandale. Ons moet baie meer bedag wees op die narratiewe wat ons self skep en die blindekolle wat ons self veroorsaak, wat daartoe lei dat ons veral die onlangse verlede vergeet, en gevolglik die hede en toekoms begin misverstaan. Geheuevervakking, ontleen aan “hole” soos in “pigeon hole” of posvakkie, maak vir my sin as vertaling van memory hole.
Die Suid-Afrikaanse samelewing, tot die ANC se vermoedelike blydskap, kyk noord en geheuevervak voort wat die Julie 2021 opstande betref. Die polisiebom van 6 Julie vanjaar, toe Luitenant-Generaal Nhlanhla Mkhwanazi in gevegsdrag saam met 'n span SAPD-taakmaglede die Minister van Polisie, Senzo Mchunu, aan die politieke galg opgetrek het, kan nie juis anders uitgelê word nie as kragtige simboliese terugverwysings na die semi-revolusionêre gees wat in KZN geheers het gedurende daardie winter.
Vir die van ons wat vergeet het: Dit was Jaar 2 van die pandemie. Jacob Zuma is vir minagting van die hof tronk toe gestuur. Opstande het oor KwaZulu-Natal heen uitgebreek, veral vanaf Durban teen die N3-snelweg op na die suide van Gauteng. 'n Nare etniese konflik in die Durbanse voorstede, soos Phoenix en omstreke, het tot die dood van oor die 300 mense gelei, waarskynlik meer. Die ANC van Cyril Ramaphosa het die gewone reaksie getoon: Skok, burokratiese vertraging, harde woorde, beloftes van daadwerklike optrede, en uiteindelik 'n kommissie van ondersoek gelei deur die SA Menseregtekommissie. (In daardie geval kan 'n mens darem sê dat die Menseregtekommissie 'n begroting het; Ramaphosa se troetelprojekte kos die belastingbetaler sonder twyfel 'n ekstra arm en 'n been.)
Vergeet is die dood in die pot
Twee kern aspekte van die Julie 2021 Opstande staan uit. Die eerste is dat die geweldsinisiatief en voetsoolvlak ontnugtering wat dit geopenbaar het, ons samelewing se veronderstellings oor vreedsame geskilbeslegting en eenheid ten dele vernietig en ten dele blootgelê het as ten volle hipoteties.
Die ou bekende aanhaling, toegeskryf aan Jan Smuts, dat “die ergste nooit in Suid-Afrika gebeur nie”, was gou alweer aan flarde. In elkgeval, wat is dan “die ergste”? Voor die amptelike eenheidstaat in 1910 tot stand gekom het, sou Smuts tog kennis geneem het van die konsentrasiekampe waarin bykans 27000 Boerevroue en -kinders omgekom het. Of die daaropvolgende doodslag van die 1922 Randse mynwerkersopstande, en die mensonterende geweld in die townships vanaf 1976 en veral tydens die noodtoestande. Potensiaal vir die ergste is ook in ons DNA, RSA.
Geheuevervakking gaan ongelukkig nie help om die skade van die Julie 2021 Opstande, en vroeëre Ramaphosa-verwante geweld by Marikana te herstel of in die toekoms te voorkom nie. Op Netwerk24 van 17 Julie spreek ontleders kommer uit oor die nimlike Khumbudzo Ntshaveni, Minister in die Presidensie, se loskanon bewerings oor die risiko van 'n staatsgreep in Suid-Afrika. Een ontleder stel dit reguit dat die veiligheidsdienste se vermoë om staatsuitdagende geweld en magsgreep-pogings hok te slaan, steeds ernstig betwyfel kan word. Lesse is gewoon nie geleer nie. En nou gooi senior polisie offisiere die vullisdrom om en steek dit aan die brand, sodat die hele nasie kan ruik hoe vrot die veiligheidsdienste en hul vermoë om ons te beskerm teen misdaad en politieke onlus, werklik is.
Tweedens word Mkhwanazi nou vinnig tot 'n held verhef, 'n verskynsel wat Tim du Plessis teen waarsku as 'n eietydse impuls om sterkmanne te soek wat beslissend optree, wat natuurlik in totale teenstelling is met die regering van Cyril die Stil Ruggraatlose. Maar miskien moet ons ook regverdig wees en Ramaphosa se ruggraat gaan soek in die geheuevakkies waarin ons soveel van die rooiligte van Julie 2021 gaan afgooi het.
Dit voel nie soos sinlose toeval dat Mkhwanazi, ongeag sy motiewe, besluit het om in gevegsdrag sy dramatiese aankondigings te maak nie, in die provinsie waar geweld 'n geskiedkundige leitmotief is en dit omtrent presies tot op die dag vier jaar sedert die Julie 2021 Opstande. Die simboliek daarvan is nie net tasbaar nie, dit voel soos 'n waarskuwing wat selfs die ruggraatloostes nie gewoon kan ignoreer nie. Dit dui wel dan ook op die duiwels wat Cyril Ramaphosa waarskynlik snags wakker hou, die wete dat hy nie veel van 'n keuse het nie as om in 'n soort Faustiaanse pakt met die patronaatnetwerke in sy party 'n tipe verstandhouding te probeer onderhou. Maar in die aar van wat die filosoof Hercules Boshoff ook vandag op hierdie blaaie skryf, is die heroriëntering van regering ter wille van gesindikaliseerde sterkman-misdadigers en die plaaslike krygshere in KZN, 'n teken van die uur van die volkome parasietstaat.
Hoe diep of hoe vlak Ramaphosa in hierdie moeras betrokke is, en of hy sy ruggraat tussen die verrotting sal kan uitvis of nie, raak amper irrelevant. Die punt is dat ons al te gereeld net weer en weer in dieselfde doodloopstraat opeindig, met onbevoegdheid en 'n sistemiese onvermoë om die staat se mees fundamentele funksies uit te voer, die herhaalde tematiek.
Breek die vergeetpatroon: Hou op jou geheue vervak
Al wat die patroon sal breek, is as ons ophou om as 'n burgery in die ANC se hande te speel en die vergeetspeletjie om terapeutiese redes aanhou uitvoer. Stop die memory holes toe, stop die verbasing oor dieselfde uitkomste wat voortkom vanuit die grondslag van wanregering wat nie verander word nie. In 'n sekere sin is die uitkoms van die 2024 algemene verkiesing 'n teken dat die mense van Suid-Afrika darem nie heeltemal geheuevervak is nie.
Die probleem is egter dat die aanvoerders van geweld tydens die Julie 2021 Opstande, hul weg gevind het na die MK Party, wat tans die amptelike opposisie in die parlement vorm. Die MKP is ook die tuiste van talle staatskapers en misdadigers wat die land onder Zuma help lamlê het. As Mkhwanazi se bewerings water hou, en Ramaphosa se soveelste kommissie van ondersoek net weereens 'n hol klinkende simbaal is in 'n patroon wat vir ons die logiese moet laat aflei, dan is die grense tussen MKP en ANC so dun dat korrupsie osmose buitendien plaasvind.
Ons pas dalk geheuevervakking toe in die hoop dat Julie 2021 net 'n groot vet vloermoer deur 'n verwoeste Zuma-faksie was. Dit lyk egter of dieselfde ou geweldsimpulse en politieke wil om onregeerbaarheid tot 'n kuns te verwikkel, nog altyd net onder die oppervlak ronddobber.
Dit sal die RNE-vennote en hul kiesers tot eer strek as die skadelikheid van naïewe geheuevervakking erken en aktief as prioriteit teengewerk word. En dit gouer as later.
Nog artikels deur Frederik OntLaer
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.