Die Minister van Openbare Werke, Dean Macpherson, het hom sterk uitgespreek teen onteiening “sonder vergoeding” ingevolge die nulvergoedingsraamwerk in die nuwe Onteieningswet 13 van 2024.
Macpherson se kritici het uitgewys dat onteieningsmagte nie onbekend aan liberaal-demokratiese state is nie. Per slot van rekening moes die voorgrondwetlike 1975 Onteieningswet deur nuwe wetgewing herroep word, om onteieningsregulasie te belyn met die Grondwet. Laasgenoemde voorsien vir onteiening in die openbare belang of vir ‘n openbare doel, en teen vergoeding.
Die debat oor “nulvergoeding” bly fel, hoewel talle kenners reeds sedert die destydse poging om die Grondwet te wysig om die nulvergoedingsmoontlikheid te konstitusionaliseer, volhou dat “nulvergoeding” nie dieselfde as onteiening “sonder vergoeding” beteken nie: Eersgenoemde is onderhandelbaar, laasgenoemde is nie.
Maar die gevolge van die nuwe nulvergoedingsraamwerk word ietwat onderskat deur sommige wat die politieke nuanses van die nuwe Onteieningswet ontleed. Daar word geredeneer dat die Minister van Openbare Werke, wie in die nuwe wet met onteieningsgesag beklee word, 'n DA-minister is binne die konteks van 'n regering van nasionale eenheid (RNE). Gevolglik sal die Minister deur middel van regulasies die angel van vrese vir radikale onteieningsprogramme uit die nulvergoedingsraamwerk kan verwyder.
Boonop kan President Cyril Ramaphosa nie vir Macpherson sommerso verwyder nie: Macpherson het reeds gesê dat hy slegs sal bedank as sy partyleier John Steenhuisen hom sodanig versoek. Ramaphosa kan onder die gespanne toestande in die RNE wat sedert die omstredenheid met die BELA wetgewing heers, nie regtig bekostig om van Dean Macpherson ontslae te raak nie. So, volgens hierdie benadering is alles soos Peach van Pletzen sou sê, legeh, en soos mense by NAMPO sal sê, “klopdisselboom”.
Die probleem is dat die Onteieningswet nie die enigste wet is wat met onteiening omgaan nie. Gevolglik is Macpherson van Openbare Werke, ten spyte van sy primêre rol in onteieningsregulasie, nie die enigste sheriff op die dorp wanneer onteiening ter sprake kom nie, tensy 'n tussentydse argument slaag wat alle verwysings na die ou 1975 wet as irrelevant vir doeleindes van die nuwe wet ag. Hieroor verskaf ek nou 'n nota oor wat ek voorspel die mees omstrede konflik oor die uitleg van wetgewing kan wees in die konteks van onteiening, naamlik die skakeling tussen die Wet op die Restitusie van Grondregte 22 van 1994 (die “Restitusiewet”) en die nuwe Onteieningswet.
Die Restitusiewet maak grondeise deur middel van vergoeding of die herstel van ontneemde grondregte moontlik. Dit is gewoonlik grondrestitusie waarna verwys word wanneer daar in die omgangstaal van “grondhervorming” in Suid-Afrika gepraat word. Grondrestitusie is egter 'n hoogs prosedurele en geweegde oefening en is beslis nie gelykstaande aan grondgryp diktaat soos in ons een buurland nie.
Die nulvergoedingsraamwerk van die nuwe Onteieningswet dra egter die moontlikheid dat 'n meer radikale Minister van Grondhervorming (wat die Restitusiewet administreer) hul politieke somme kan maak en voortgaan om op groot skaal grondhervorming deur nulvergoedingsaanbiedinge te probeer voltrek.
Hier is hoe dit moontlik kan gebeur
Artikel 3(2) van die nuwe Onteieningswet bepaal dat die Minister van Openbare Werke daardie staatsorgane wat nie met onteieningsmag beklee word nie, op versoek deur die Minister wat vir hul verantwoordelik is, mag help met onteiening deur dit namens so 'n staatsorgaan te voltrek. Die Minister van Openbare Werke moet egter tevrede wees dat die beoogde onteiening vir 'n openbare doel of in die openbare belang is, wat natuurlik 'n DA-minister die geleentheid sal gun om bepaalde ideologiese remskoene uit te oefen.
Dis hier waar die onteieningslang begin om te seil. Om te bepaal watter staatsorgane wel met onteieningsmag beklee is, moet na die omskrywing van “onteieningsowerheid” in die nuwe Onteieningswet gekyk word. Dit lui:
“ ‘[E]xpropriating authority’ means an organ of state or person empowered by this Act or any other legislation to expropriate property or to bring about the compulsory acquisition of property contemplated in section 2(3) for a public purpose or in the public interest.”
Ten spyte van die Minister van Openbare Werke se politieke voorkeure, is onteieningsmagte nie tot hom beperk nie. Dit hang af wat ander wetgewing oor die magte van bepaalde Ministers of staatsfunksionarisse sê wat onteiening betref.
Ingevolge artikel 42E van die Restitusiewet word die Minister van Grondsake (vandag, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling) met onteieningsmagte beklee. Die Minister moet volgens artikel 42E(2) die 1975 Onteieningswet toepas vir doeleindes van onteiening onder die Restitusiewet.
'n Teenvraag wat hier geopper kan word, is of die Minister van Grondhervorming enige onteieningsbevoegdheid oor het, siende dat die Restitusiewet na die 1975 Onteieningswet verwys en nie na die nuwe Onteieningswet nie. As die wet wat hul moet toepas om onteiening vir grondrestitusie doeleindes te voltrek, nie meer bestaan nie, hoe kan die Minister onteieningsmagte oorhou?
Artikel 28(1) van die nuwe Onteieningswet bepaal dat alle ander wette wat met onteiening handel, “in ooreenstemming met” die nuwe Onteieningswet uitgelê moet word (“interpreted in a manner consistent with ...”). Die oogmerk hiervan blyk te wees dat die aangewese onteienaars in ander wetgewing die betekenis van “onteieningsowerheid” in die nuwe wet aanneem, en dat “vergoeding” in ander wette ook as nulvergoeding vir doeleindes van die nuwe wet begryp kan word.
In 'n sirkelbeweging verwys die nuwe wet se omskrywing van “onteieningsowerheid” terug na die aanwysing van onteieningsowerhede soos vervat in ander wetgewing. Verder, in artikel 28(2), neem die nuwe wet voorrang bo ander wette wat met onteiening te doen het.
Daar is dus 'n koppelvlak wat uitreik vanaf die nuwe Onteieningswet na die Restitusiewet. Maar die regstreekse verwysing na die 1975 Wet in die Restitusiewet beteken dat daar nie 'n hand is wat uitdruklik tekstueel uitreik na die nuwe Onteieningswet nie.
Doelmatige uitleg
Daar kan geredeneer word dat die nuwe wet se artikel 28 genoegsaam voorsiening maak, indien dit doelmatig uitgelê word, dat die Minister van Grondhervorming nou die nuwe Onteieningswet moet inlees waar daar melding van die herroepe 1975 Onteieningswet in die Restitusiewet voorkom. Gevolglik sal die Minister van Openbare Werke effektief deur die Minister van Grondhervorming omseil kan word.
'n Effens desperate teenargument kan gebaseer word op regspraak oor regsuitleg in die saak Natal Joint Municipal Pension Fund v Endumeni Municipality 2012 (4) SA 593 (HHA), dat die teks die beginpunt en eerste oorweging van regsuitleg is. Dit sal lui dat die nuwe Onteieningswet spesifiek voorsiening maak vir die inlees van omskrywings in ander onteieningsmagtigende wetgewing, synde die omskrywing van vergoeding en van onteieningsowerhede. Die argument is dat die Parlement slegs oor hierdie twee aspekte uitdruklik is, en nie voorsiening maak vir die inlees van die hele nuwe onteieningsbedeling waar die 1975 Onteieningswet uitdruklik in ander wetgewing genoem word nie. Die Parlement sal dus eers artikel 42E van die Restitusiewet moet wysig om na die nuwe Onteieningswet te verwys, voordat die Minister van Grondhervorming links en regs kan begin onteien.
Hierdie kwessie van ooreenstemmende uitleg tussen die Onteieningswet en die Restitusiewet het in die konteks van 'n PAC-minister van grondhervorming, die potensiaal om 'n grondwetlike en politieke brandpunt te word, veral as opportuniste in die EFF, MKP en dele van die ANC druk op die Minister van Grondhervorming plaas.
Die feit bly egter staan dat Macpherson nie die Horatius op die brug is soos wat sommige dink hy is nie.
Hierdie artikel het oorspronklik op 31 Januarie 2025 op Vrye Weekblad verskyn, en word met die vriendelike vergunning van die voormalige redaksie van Vrye Weekblad herplaas.
Nog artikels deur Frederik van Dyk:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: