Iran: Trump het g’n ander keuse
Die ooreenkoms wat Iran meer gee as wat oorlog kon neem.
Diegene wat Amerika en Israel se oorlog vanjaar gesteun en nou die memorandum van verstandhouding (MVV) tussen Amerika en Iran kritiseer, verdraai en ignoreer sekere feite op skreiende wyse. Trouens, die meeste van hulle het op sosiale media en elders slegs stil geraak hieroor. Dit is ook veelseggend.
Kom ons begin egter met 'n grondwaarheid: Pres. Donald Trump was in 'n dooiepunt gewikkel met Iran en het geen ander keuse gehad as om solank in wese te kapituleer nie. Die MVV is uiters gunstig vir Iran en herstel nie slegs die status quo wat voor 27 Februarie gegeld het nie, maar bied selfs veel meer. Amerika se strategiese petroleum-reserwes gaan weldra opraak en die oopstel van die Straat van Hormoes (waardeur olie sowel as landbou-noodsaaklikhede vloei en nou as’t ware onder Iran se beheer is) is 'n saak van dringendheid.
Trump is reg as hy spog oor Amerika se militêre vermoëns, maar hy is verkeerd in die impak daarvan in werklike situasies. Iran is beslis verinneweer deur die aanvalle aan die begin van die oorlog en het groot skade gely. Die uiteindelike vraag was egter of dit genoeg sou wees om sekere ekonomiese en politieke uitkomste te bereik. Duidelik was dit nie, as die MVV se inhoud en ander optrede (of die gebrek daaraan) beoordeel word. Trump het self meer omgegee oor Iran se vernietigde vloot en lugmag as wat Iran daaroor omgee.
Trump se eie raadgewers in die Sentrale Intelligensiediens (CIA) en elders het hom vooraf gewaarsku dat Iran geen duidelike en naderende gevaar vir die VSA inhou nie en hom afgeraai om aanvalle uit te voer. Meer onlangs het Amerikaanse intelligensie daarop gedui dat, ondanks al die ekonomiese skade en die vlootblokkade, Iran vir 'n onbepaalde tyd met hierdie situasie kon saamleef. Terwyl Trump onwys was om nie ag op die eerste stuk advies te slaan nie, het hy wel pragmatiese leierskap getoon deur nie laasgenoemde inligting te misken nie en iets nuuts te probeer. As die MVV nie so gunstig vir Iran was nie, sou Benjamin Netanyahu, Ted Cruz, Mark Levin en Lindsey Graham nie ontsteld daaroor gewees het nie. Dit sou ook nie onder meer die lot van Libanon, die opheffing van sanksies en die blokkade, ontvriesing van Iranse bates, en wedersydse (maar in praktyk eensydige) respek vir Amerika en Iran se grondgebied ingesluit het nie. Dit het gebeur selfs nadat Iran enorme skade aan Amerikaanse basisse in die Midde-Ooste aangerig het. Klaarblyklik is wraak nie meer 'n opsie nie.
'n Tafereel van die toekoms
Een van die risiko’s wat ek al vroeg in hierdie konflik geïdentifiseer het is dat, indien sake op die huidige realiteit uitloop nadat die mees drastiese roete gevolg is, dit Amerika se globale geloofwaardigheid beduidend gaan aantas en allerlei toekomstige optrede teen Iran geweldig bemoeilik.
Die MVV en militêre en politieke werklikhede dikteer dat Amerika nie weer, soos sommige steeds glo, weer aanvalle kan hervat nie. Peilings wat self deur Trump op sosiale media versprei word, dui aan dat 'n wesenlike meerderheid van Amerikaners die huidige MVV steun. Hulle is moeg van iets wat logieserwys geen voordeel vir hulle inhou nie. Newsweek het ook oor die uitslae van Civiqs se bewegende aanlyn peiling onder meer as 110 000 geregistreerde Amerikaanse kiesers berig. Hoewel hy steeds aansienlike steun in diep rooi state soos Wyoming, Alabama en Idaho geniet, is dit nou kleiner meerderhede. Florida en Idaho het juis die grootste dalings in steun vir hom getoon. Sy goedkeuring in sekere rooi state soos Louisiana en Nebraska is selfs nou effens negatief.
Sy goedkeuring in linkse state soos Vermont en Kalifornië is so laag dat seges daar later vanjaar selfs meer onrealisties as ooit lyk. Dit is egter die sogenaamde weegskaal-state wat die meeste kommer by hom en die Republikeine behoort te wek. State soos Florida, Nevada, Wisconsin en Pennsylvania was deurslaggewend in sy 2024-sege en enige party moet etlike van hulle verower om te kan wen, maar tans is hul kiesers taamlik ontevrede met Trump.
Uiteraard kan hierdie syfers nog verander, maar dit gaan moeilik wees en baie gaan afhang van wat ten aansien van Iran gaan gebeur en of die ekonomiese skade teen November omgekeer kan word. Ek sal nie geld op positiewe vooruitsigte en 'n skielike verbetering verwed nie, al is dit moontlik.
Daar is tewens die spook van hernieude oorlog ná die verkiesing wat ongetwyfeld 'n rol in persepsies speel. Die volgende vraag maal deur uiteenlopende kiesers se koppe: Koop Trump straks tans tyd om die verkiesing agter die rug te kry en daarna met die oorlog voort te gaan? Daardie moontlikheid is wat die Republikeine se veldtogte ondermyn, terwyl dit hernieude energie en suurstof vir die Demokrate bied.
Die konserwatiewe veteraan Steve Bannon het dit juis laat blyk dat die Iran-debakel die Republikeine se energie uitsuig en hy voorsien volslae mislukking vir hulle vanjaar. Heelwat konserwatiewe kiesers kan derhalwe eerder wegbly as om noodwendig vir die Demokrate te stem, en linkse kiesers in stede en onbesliste maar ontevrede kiesers kan die weegskaal hewig teen Trump laat swaai. Nog 'n gewilde konserwatiewe kommentator, Tucker Carlson, beliggaam tans hierdie sentiment. Hy het onlangs aangedui dat ofskoon hy nie vir die Demokrate vanjaar gaan stem nie, gaan hy weens hierdie oorlog vir die eerste keer in dekades nie vir die Republikeine stem nie. Volgens hom is Amerika nie eerste met hierdie oorlog gestel nie. Hy is korrek.
Iran se regime is buitendien nie gebonde aan dieselfde openbare druk en demokratiese en ander politieke prosesse nie. Hulle kan uithou in die onderhandelinge totdat hulle die uitkomste bereik wat hulle begeer. Trouens, die aanvalle het 'n groeiende laer-mentaliteit in Iran gekweek en van openlike binnelandse opposisie is daar op die oomblik geen sprake nie.
Die Golf-state, wat geografies nader aan Iran geleë as aan die VSA en onnodig oor die laaste paar maande gely het, respekteer Iran na dese veel meer ondanks sluimerende vyandigheid. Desondanks dat hulle Amerika nogtans as 'n bondgenoot sal beskou in die toekoms, weet hulle dat Iran gedug en weerbaar is en sal hulle veel dieper samewerking en konstruktiewe optrede moet najaag omdat die VSA vanjaar bewys het dat sy veiligheidsambreel vir sy bondgenote en veral in die Midde-Ooste onbetroubaar en ondoeltreffend is. Dit is miskien nie 'n slegte uiteindelike resultaat vir Amerika nie en Trump moedig immers vriend en vyand op transaksionele wyse aan om self verantwoordelikheid te neem. Die proses is egter vernederend en Amerika se aansien is vir 'n wyle erg geskaad.
Vir die afsienbare toekoms, en waarskynlik ook daarna, is daar nie enige werkbare militêre opsies vir Trump oor nie. Trump is inderdaad onvoorspelbaar en onkonvensioneel, maar die afgelope paar maande het gewys hy het geen aptyt vir kernbom-aanvalle of konvensionele oorlog met troepe nie. Dit is wys, maar dit beteken ook dat hy nie die aard van die regime in Iran kon verander nie, ekonomiese druk moes trotseer en Iran as't ware in 'n sterker posisie geplaas het. 'n $300 miljard-heropboufonds vir Iran se skade sal nie as 'n wortel in die onderhandelinge gebied word indien daar toekomstige aanvalle uitgevoer gaan word nie. Trump is immers 'n sakeman en dit maak geen sin om duur beleggings – waarvan Amerika kwansuis die meeste of alles gaan verskaf, al word dit amptelik ontken – te verwoes nie.
Iran het gewys dat jy nie die grootste of sterkste weermag ter wêreld benodig om uiteindelik die allerbelangrike politieke stryd te wen nie. Jy hoef bloot die wedloop teen tyd te wen – op welke manier ook al. Terwyl Amerika hul duur wapens tydens die eerste kort fase van die oorlog verskuif en opgebruik het (en daardeur hul posisie in die Stille Oseaan en Asië te verswak), is Iran se vloot en lugmag weliswaar verpletter maar slegs die grotendeelse bedreiging van ballistiese missiele en goedkoop hommeltuie, tesame met beheer oor Hormoes (en dus blote geografie en konsentrasie van mag), kon voorlopig en allig op die lang termyn 'n gunstige uitkoms vir hulle verseker.
Iran kan maklik voldoen aan al die eise in die MVV omdat hulle reeds daarmee besig was en eerste aangeval is. Hulle het tewens nog nooit kernwapens gebruik of verifieerbare wapens gebou nie – ondanks Netanyahu se dekades lange waarskuwings daaroor. Die enigste werklike knelpunt vir Iran is juis die MVV se agtste artikel oor kernwapens en verrykte kernmateriaal. Selfs indien hulle nie instem tot volledige voldoening aan die ganse punt nie, is daar nie juis veel wat Amerika of enigiemand anders voortaan daaraan kan doen nie. Sanksies kan heringestel word en bates weer bevries word, maar dit is reeds as futiel bewys. Gedurige geteikende aanvalle op sekere liggings waar uraan vermoedelik verryk word, sal ook uiteindelik ongewild word en teenreaksies soos vergelding of internasionale veroordeling uitlok. Toekomstige Amerikaanse presidente sal na verwagting versigtiger jeens Iran sal optree. Ondanks die MVV se mildelike en vernederende toegewings aan Iran wat hulle nie voor 28 Februarie beskore was nie, is dit tans die enigste uitweg uit hierdie dooiepunt. Trump móét volhard daarmee en tans blyk dit dat hy sal.
My raad aan Trump en sy administrasie sal nou wees om terug te keer na die kernbeginsels van die Make America Great Again (MAGA)-beweging: Die vermyding van onnodige buitelandse verstrengeling, en eerder 'n fokus op die ekonomiese, kulturele en sosiale herstel van die VSA. Bowendien sal hulle die regime in Iran op realpolitieke wyse moet hanteer, met naakte belange wat tussen gelykes nagejaag word.
Dr. Brink is 'n entrepreneur, ontleder en sakekonsultant van die Paarl.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









