DinkWeer Donderdag | Outentiekheid en Pragmatisme: Spanning en Balans
Waarom pragmatisme nie verraad teen beginsels hoef te wees nie.
Outentiekheid en pragmatisme word nie dikwels in dieselfde konteks gebruik nie en daar word allerweë aangeneem dat hulle slegs in spanning met mekaar staan.
Dit kan waar wees, maar dis egter nie altyd waar nie. Outentiekheid is gevestig in waardes, beginsels en norme wat iets wat eie aan iemand of iets is en hulle in die verlede sukses laat verwerf het. Daarop kan en moet voortgebou word. Maar dit beteken nie dat innovasie, verbetering en vernuwing nooit nodig is nie.
Pragmatisme is die vermoë om situasies te lees en daarby aan te pas tot jou (en ander se) voordeel. Dis om die werklikheid te sien vir wat dit is en dienooreenkomstig op te tree. Om nie onnodig halsstarrig en selfbehep te wees nie. Die uiteinde kan wins, oorlewing, prestasie, of ’n kompromie en vrede wees.
Soms kan pragmatisme op die uitverkoping van die eie of oorgawe uitloop en daarvan is daar menigte geskiedkundige voorbeelde. Maar pragmatisme kan ook juis ingespan word om die outentiekheid van iets te bewaar, soos deur onderhandelinge en te gee terwyl daar geneem word of om eerder self iets te doen as om vir ewig daarvoor te wag. Soms is daar bloot geen ander keuse as om hierdie opsies uit te oefen nie. ’n Klein of tydelike toegewing of opoffering kan straks later massiewe skade óf rendement oplewer. Dis waar visie en insig bepalend is.
Ek glo outentiekheid is meer aanvullend tot pragmatisme as wat aangeneem word, en ’n balans tussen hierdie twee eienskappe is waarna gestreef behoort te word. Te veel van die een of ander een – hetsy in ’n huishouding, heterogene land of maatskappy – is benouend en selfs gevaarlik. Outentiekheid lei tot eerlikheid en vertroue, maar te veel daarvan kan tot verkramptheid, isolasie en vervreemding aanleiding gee. Pragmatisme het allerlei deugdes soos ’n oop gemoed, maar ’n oormaat kan tot ’n opportunisme, selfverloëning en nihilisme lei.
Frederik van Dyk se taksering van die reaksie op die rolprent The Odyssey bespreek juis hierdie spanning en waarheidsgetrouheid in die filmbedryf. Die fliek is reeds ’n reuse lokettreffer en omdat Christopher Nolan die hedendaagse Francis Ford Coppola is, sal hy seker een of twee pragmatiese miscastings vergewe word. Die vraag is of dit die dun kant van die wig is – of aanduidend van die heersende tydsgees – wat absurditeit en ’n gebrek aan kreatiewe en gewaagde ontwrigting tot gevolg het. Verlede jaar het meestal animasie-rolprente die meeste by die loket verdien. Regisseurs en die hele filmbedryf is myns insiens (oor)versigtig om omstrede stories te vertel en die balans tussen outentiekheid en pragmatisme met rolle verkeerd te kry. Ek sal wel eers self The Odyssey met ’n oop gemoed kyk om te besluit hoe outentiek en indrukwekkend die ganse produk werklik is. Die geraas op sosiale media oor verskeie kwessies is dikwels heel onoutentiek én onpragmaties.
Die teendeel van pragmatisme is egter wat ons in die regering, vakbonde en helaas, groot segmente van die media, sien. Dit het name: Redeloosheid, eenogigheid en werklikheidsvermyding. Die oorsake daarvan is velerlei, soos papbroekigheid, ideologiese verstoktheid en gevestigde belange in wisselende mates.
Daar is dus ’n verband tussen te tref tussen Louis Boshoff se Bokkieweek, Die lied van jong Suid-Afrika en Eitemal en prof. Johan Fourie se Ekonome in die Nuuskantoor. Bokkieweek is meer ’n kulturele viering as ’n noemenswaardige skolesport-geleentheid waarvan selfs Afrikaners geringe kennis neem, maar News24 asook politici het dit tot nuwe hoogtes aangevuur met hul aanvalle. As jy verontwaardig raak oor Die lied van jong Suid-Afrika, kan jy net sowel gebelgd wees as Riaan en Franna Benadé Ken jy die land sing. Of as ’n Afrikaanse gemeente kermis hou.
Fourie is in die kol as hy skryf dat menings volop (en boonop gratis) is, ontleding skaars is en geheime (lees: spesialiskundigheid) nog skaarser. En dat hierdie kundigheid bowenal vertroue inboesem en uiteindelik mense vir seldsame inhoud laat betaal. Nuus is ewe volop en kan deur verskeie media sonder ’n betaalmuur bekom word. Die verpakking en verduideliking van nuus in meningstukke is dikwels een van die druk- en digitale publikasies se enigste mededingende voordele. Eufemisties gestel, neem hulle dit nie ernstig genoeg op nie want die lesersbriewe se menings is deurgaans meer outentiek en interessant as die meningsvormers s’n.
Hilde Kruger se Van Vloed na Invloed is tekenend van hoe ’n ramp die betekenis en outentiekheid van ’n produk en handelsmerk pragmaties kan handhaaf en selfs verhoog. Soos met rolprente, het produkte en rampe geldelike implikasies. Verrinneweerde wynbottels se waarde is juis verhoog omdat dit gelouter is deur ’n sekere gebeurtenis en dus as versamelstuk of herinnering kan dien terwyl die wyn verouder. Handelsmerke is juis ’n gepaste voorbeeld wat deurentyd aan die wisselwerking tussen outentiekheid en pragmatisme onderworpe is.
Die afruiling tussen outentiekheid en pragmatisme in die politiek word treffend deur Johan Weideman toegelig in Kleiner partye kan die magsbalans swaai. Hy lig die belangrike kwessie van stemme vir wyksraadslede en proporsionele verteenwoordiging in plaaslike verkiesings uit. Dit is weliswaar nie oral die geval dat ’n ongewenste derde party met die kroon kan wegstap nie, maar die politiek raak meer mededingend en dit kan vanjaar in ’n groeiende lys van wyke en munisipaliteite die geval wees. Nie slegs is die DA, ANC en VF+ onderhewig aan hierdie tendens nie, maar ook die EFF, MK Party, PA en IVP. Waardes en outentiekheid kan ’n groter rol begin speel by kiesers, maar in sommige gevalle moet en kan pragmatisme ook figureer om ’n beter uitkoms te verseker en die slegste scenario af te weer. Munisipaliteite gaan juis oor kwessies wat suiwer pragmaties benader moet word, te wete skoon en beskikbare water, instandhouding van paaie en kraglewering.
Adv. Francois Lion-Cachet is waarskynlik korrek in Johannesburg is Reeds Suid-Afrika se Regsprekende Hoofstad dat die Goudstad as tuiste van die Konstitusionele Hof meer aansien as Bloemfontein moet geniet wat regsgesag betref. Maar omdat die status van die onderskeie hoofstede nie statutêr verklaar word nie en mense met alledaagse pragmatiese belange en probleme nie juis met regspleging gemoeid is nie, is die setel van regsprekende gesag nie ’n rigtinggewende openbare debat nie. Dit sal daarom ’n akademiese kwessie bly wat na willekeur beoordeel word. Dit is wel interessant om te weet hoe die outentiekheid van howe ontstaan en ontwikkel het.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
















