Bloemfontein mag dalk 'n Blou Vlekkie kry
Wie kies die ANC in Mangaung, met persentasies onder 50%?
Bloemfontein sit in die metropool Mangaung en is die enigste metro binne die Vrystaat. Die metro is sedert die bestaan van die nuwe bedeling regeer deur 'n volstrekte meerderheid ANC-raad. Daar was egter vir 'n klein rukkie 'n DA-spreker wat deur 'n geheime stembrief met hulp van ANC-raadslede ingestem is. Sy is wel kort daarna verwyder nadat die ANC-koukus sy interne probleme uit die weg geruim het.
Tydens hierdie bespreking sal daar verwys word na Mangaung as Bloemfontein. Die huidige trajek vir die ANC in Bloemfontein is dat dit onder 50% kan val in die 2026 plaaslike verkiesing. Dit maak die deur oop vir geleenthede vir ander partye om heelwaarskynlik saam met die ANC te kan regeer.
Van die 23 munisipaliteite in die Vrystaat het geen plaaslike raad in die afgelope nege jaar 'n skoon oudit verkry nie. Mangaung Metro word so swak finansieel bestuur dat die metro al sedert 2019 wetlik onder administrasie geplaas is. Met ander woorde, die Mangaung Metro is al sedert 2019 deur 'n ander vlak van regering bestuur as die stadsraad self. Volgens Good Governance Africa is die Mangaung Metro die mees swak regeerde metro in die land.
Kom ons kyk wat die syfers vir ons wys van die ANC se uitslag in die 2024 nasionale verkiesing.
ANC - 50.1%
DA - 24.6%
EFF - 13.8%
PA - 2.8%
VF Plus - 2.7%
M.K. - 1.2%
'n Betroubare patroon vir ANC stemsyfers is om in ag te neem dat die ANC vaar altyd swakker in die plaaslike regering as in die vorige nasionale verkiesing. Dit is byvoorbeeld presies wat tussen 2019 en 2021 gebeur het. Die ANC het nasionaal 57.5% in die 2019 nasionale verkiesing gekry, maar net 45.6% in die 2021 plaaslike verkiesing twee jaar later.
Watter Koalisie kan die Rosestad laat Floreer?
Afhangend van hoe ver die ANC se steun gaan daal sal daar myns insiens drie moontlike koalisies ter sprake wees. Hierdie drie scenario’s is nie volgens waarskynlikheid gerangskik nie.
Eerstens, 'n ANC/EFF regering: Gestel dat die ANC in Mangaung homself sal wil gedra soos die Gautengse ANC, dan sal die ANC vir die EFF nader om 'n koalisie te bewerkstellig. Die Mangaung ANC is wel dikwels meer gehoorsaam aan die nasionale ANC, en sou die nasionale vleuel instruksies uitgee om ander moontlikhede te oorweeg, dan sal die Mangaung ANC heelwaarskynlik nie 'n Lesufi trek nie.
Tweedens, 'n ANC/VF Plus regering: Ons het dit al gesien, soos in die Noord-Kaapse provinsiale regering waar die VF Plus die ANC-premier help verkies het (met geen sprake van 'n LUR-pos in ruil nie), dat die VF Plus wel soms bereid is om saam met die ANC te werk as 'n buffertaktiek. Miskien val die ANC met net 'n paar persent en dan kan hulle saam met die VF Plus genoeg setels hê om 'n regering saam te stel. My aanname in hierdie geval is dat die VF Plus hoogstens vir 'n enkele burgemeesterskomiteelid kan vra.
'n Anonieme Bloemfonteinse inwoner sê dat die VF Plus maklik sal kies vir hierdie idee.
Derdens, 'n ANC/DA regering: Hierdie opsie sal heelwaarskynlik die paal haal omdat die Vrystaatse ANC gehoorsaam sal wees aan ʼn nasionale bevel om saam met die DA te werk. Myns insiens sal die DA instem tot hierdie samewerking. Bloemfontein benodig so dringend enige vorm van herstel en verbetering dat die DA sal kan aandring op 'n paar burgemeesterskomitee-posisies. Die DA sal dalk meer vaskop as die ANC aandring op 'n veelparty koalisie of 'n regering van plaaslike eenheid wat meer partye insluit as wat nodig is. Hoekom sou mens die moeilike taak van koalisies bestuur nog moeiliker maak?
Die bogenoemde scenario’s is met min kwantitatiewe inligting uitgedink en meer op grond van die voorspelling wat die afgelope rukkie my aan die spekuleer hou. Die vraag is: Is daar hoop of wanhoop vir Bloemfontein? Die antwoord het alles te doen met die uitslag van die verkiesing en watter koalisie aan bewind gaan kom.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











🤞🏻🤞🏻🤞🏻 Die Universiteit van die Vrystaat is my Alma Mater. Ek het nog altyd 'n sagte plek vir Bloem gehad. Maar nes elders, is dit rojaal deur ANC wanregering opgefoks... 😢😢😢