Hoosen vir Durban
'n Ontleding van koalisiedinamika en verkiesingsvooruitsigte in eThekwini.
Durban val binne die eThekwini-metro in KwaZulu-Natal (KZN). Aangesien die uMkhonto weSizwe-party (MKP) in die 2024-provinsiale verkiesing 'n indrukwekkende 45% van die stemme in KZN behaal het, is dit nie ondenkbaar dat koalisie-opsies ná die 2026-plaaslike verkiesing ook die politieke toekoms van eThekwini ingrypend kan bepaal nie.
Sal Durban dus 'n MK-burgemeester kry? Of sal 'n IVP-burgemeester, na die voorbeeld van die huidige premier van KZN, die leisels oorneem? En waar pas die veelrassige Demokratiese Alliansie in binne 'n streek waar identiteitspolitiek en nasionalistiese sentiment so ’n groot rol speel?
Die kernvraag van hierdie artikel is of Haniff Hoosen, die DA se kandidaat vir burgemeester van eThekwini inderdaad 'n geloofwaardige kans staan om burgemeester van Durban te word. Om dié moontlikheid te beoordeel, moet daar eers gekyk word na die samestelling en dinamiek van die huidige provinsiale regering in KwaZulu-Natal.
Die regering van provinsiale eenheid in KZN
Uitslae van KZN se 2024 provinsiale verkiesing:
(Firth, 2024)
Die setels van die KwaZulu-Natalse provinsiale wetgewer is as volg verdeel:
MKP: 37 setels
IVP: 15 setels
ANC: 14 setels
DA: 11 setels
EFF: 2 setels
NFP: 1 setel
Die 80 setels in die KwaZulu-Natalse provinsiale wetgewer is tussen hierdie partye verdeel. Geen party het ’n volstrekte meerderheid behaal nie, wat beteken het dat ’n koalisieregering onafwendbaar was. Uiteindelik het die IVP, ANC, DA en NFP saam ’n meerderheidskoalisie met 41 uit die 80 setels gevorm, terwyl die MKP en die EFF gesamentlik oor 39 setels beskik het. Omdat die IVP die grootste party binne dié koalisie was, het die premierskap aan hom toegeval.
Provinsiale verkiesingsuitslae en SRF-peilings in eThekwini-metro
Wat volg berus op twee aannames:
Eerstens dat die ANC, DA en IVP ná die plaaslike verkiesings in 2026 koalisievennote sal bly. Tweedens dat die grootste party binne die koalisie die burgemeesterskap in eThekwini sal bekom.
Op grond hiervan kan 'n paar afleidings gemaak word uit die provinsiale verkiesingsuitslae in die eThekwini-munisipaliteit, soos hieronder gesien:
Gegrond op hierdie aannames en die provinsiale verkiesingsuitslae in eThekwini, blyk dit dat die DA waarskynlik die grootste party binne so 'n koalisie sal wees. Maar dit eindig nie hier nie, want die nuutste peiling van die SRF dui dieselfde aan.
uMkhonto weSizwe-party (MKP): 44%
Demokratiese Alliansie (DA): 28%
Inkatha Vryheidsparty (IVP / IFP): 18%
African National Congress (ANC): 8%
Hierdie peiling was vir die eerste keer berig op The Common Sense en is op 'n 56% kiesersopkoms en 'n 4% foutspeling uitgewerk. Dieselfde inligting het ek verkry in die artikel van Rapport deur Dawie Boonzaaier, met Theuns Kruger, wat die grafiek in die berig gemaak het.
Slot
As die kaarte reg val en die peilings van die SRF voorspel die verkiesings reg, dan sal die DA die grootste koalisievennoot in 'n anti-MK/EFF groepering wees. Dit is dus heel waarskynlik dat binne die koalisieonderhandelinge daar ingestem sal word dat die DA die burgemeesterskap behoort te kry.
Vir die DA skep dit 'n seldsame maar werklike strategiese opening in eThekwini. As die party daarin slaag om sy steun te konsolideer en as die mees geloofwaardige, stabiele en regeringsgereed alternatief tot MKP en die ANC te posisioneer, kan dit homself nie net as koalisievennoot nie, maar as natuurlike leier van 'n nuwe stadsregering vestig.
Haniff Hoosen se moontlike opkoms as burgemeester sou juis simbolies belangrik wees omdat dit sal wys dat die DA ook in 'n komplekse, diverse en polities gelaaide metro soos Durban die voorste voertuig van verandering kan wees. In daardie opsig gaan hierdie scenario nie net oor koalisiegetalle nie, maar oor of die DA daarin kan slaag om die politieke sentrum van eThekwini na hom toe te trek.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












