Brandwag is nie meer so Blou nie
Daar is tektoniese skuiwe in die kiesersgedrag van Bloemfontein vaardig.
Die nypende tekort aan studentebehuising in Suid-Afrika het die afgelope paar dekades daartoe gelei dat verskeie buurte naby universiteite 'n algehele gedaanteverwisseling ondergaan het.
Talle studies is al gedoen oor die impak van “studentifikasie” op die karakter en leefstyl van hierdie buurte, maar die politieke implikasies daarvan het nog weinig aandag gekry. Om die uitwerking van “studentifikasie” op die politiek te illustreer, gaan ek spesifiek na twee voorstede in Bloemfontein kyk: Brandwag en Universitas. Albei buurte is naby aan die Universiteit van die Vrystaat en die Sentrale Universiteit van Tegnologie geleë. Hul gunstige ligging vir studente het meegebring dat daar 'n ekonomiese aansporing was om voormalige enkelfamilie-huise in hierdie buurte na studentehuise te omskep. Nou woon tot tien studente in 'n enkele huis. Hieronder kan 'n mens sien watter voorstede langs die universiteit lê.
Figuur 1: Voorstede om die universiteit
Figuur 2: Verspreiding van studenteverblyf in Brandwag en Universitas
(Bron vir albei figure: Donaldson et al., 2014)
Met Kovsies wat jaarliks al hoe meer studente inneem, is dit veilig om te aanvaar dat die studentifikasie van Brandwag verder toegeneem het sedert hierdie kaarte opgestel is. Studentifikasie het boonop 'n welbekende sneeubal-uitwerking: sodra een huis verander in studenteverblyf, ontstaan daar 'n leefstyl-verskil wat meebring dat nog meer gesinne uit die omgewing trek en dan word hul huise óók omgeskakel na studentebehuising.
Suid-Afrika se voorstede staan deesdae in politieke terme bekend as die “blou voorstede”. Die term verwys na die handelsmerk-kleur van die DA, wat al jare lank koning kraai in die voormalige slegs-wit buurte. Daarom sou 'n mens kon verwag dat voorstede soos Brandwag en Universitas bankvas agter die DA staan. Hierdie stelling was grootliks waar vir Brandwag, maar 'n toeloop van jong studente het dié prentjie op sy kop gekeer. In die 2014-verkiesing het die DA byvoorbeeld 49.4% van die steun gehad. In 2019 het die DA se steun gedaal na 35.6%. Maar in die 2024-verkiesing is hy uit die bloute deur die EFF verbygesteek.
Figuur 3: Nasionale kiesuitslae vir Brandwag 2024
Figuur 4: Nasionale kiesuitslae vir Brandwag 2014
(Beide bronne : Firth, 2024)
Figuur 5: Nasionale uitslae vir Universitas 2024
Figuur 6: Nasionale uitslae vir Universitas 2014
(Albei bronne: Firth, 2024)
Let wel dat die grense van die Dr. Bohmer Sekondêre Skool-kiesersdistrik 'n klein bietjie verander het. Die dekade van studentifikasie het sy tol geëis op die sogenaamde blou voorstede. Die opkoms van die EFF in hierdie dele van Bloemfontein eggo die sukses wat dié party in studenteraadsverkiesings behaal. In 2020 het die EFF Student Command die ANC-gesinde studente-organisasie SASCO by Kovsies onttroon – en nog nie weer teruggekyk nie. Daar is 'n duidelike korrelasie tussen watter studente-organisasie die SR beheer en vir watter party studente dan in nasionale verkiesings stem.
Die politieke veranderings in buurte soos Brandwag en Universitas kan die DA se taak in soortgelyke wyke in volgende jaar se munisipale verkiesing bemoeilik. Die enigste langtermyn-oplossing vir die party sou wees om sy studentevleuel, DASO, soveel as moontlik te versterk sodat hulle organisasies soos die EFF Student Command en SASCO die stryd kan aansê in SR-verkiesings.
Wat Bloemfontein spesifiek betref, is daar darem 'n sprankie hoop vir die DA, met DASO wat vanjaar drie setels teenoor die vorige jaar se nul verower het.
Die party het egter nog heelwat werk om te doen in die politiek betwiste studentebuurte.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.

















Daar moet egter net verwys word na (Ackermann & Visser, 2016) se artikel oor Bloemfontein se studentifikasie. Prof. Donaldson se figure en Adriaan Firth se verkiesingsuitslag-webtuiste.