Boekbespreking | "Julian: Rome’s Last Pagan Emperor" deur Philip Freeman
Lesse vir ons tyd uit die ou tyd.
Keiser Flavius Claudius Julianus Augustus, ook bekend as Julios II Apostata oftewel Keiser Julianus, sou sekerlik tevrede daarmee wees dat 'n moderne skrywe oor sy lewe en tyd nié in die Afdeling: Godsdiens en Geloof van die Wordsworth boekwinkel in die Tuinroete Mall uitgestal word nie.
Hierdie merkwaardige man is al vir 'n wyle vir my een van die mees fassinerende geskiedkundige figure, iemand wat my betref gans te min aandag in die eietydse openbare diskoers geniet. Sy bewind, soos dié van feitelik elke laat Romeinse keiser in die enkele eeue voor die val van die Westelike Ryk in die jaar 476, is nie slegs gekenmerk deur verbete en herhalende stryde om Germaanse invallers te verdryf en die aanslae van die Persiese Ryk teen te staan nie: Die opkoms van die Christendom het ook 'n kultuuroorlog dwarsoor die Romeinse Ryk ontketen. Die uitkomste hiervan was grootliks bepalend vir hoe ons die Westerse wêreld vandag ken en verstaan.
Emeritus-professor Philip Freeman het hom goed van sy taak gekwyt om die verhaal van “Julianus die Geloofsversaker” (hierdie keiser se geskiedkundig-oorgelewerde titel is in Afrikaans besonders melodramaties, ek weet!) in kort biografiese vorm vas te vang. Hy skep in 133 bladsye 'n gekontekstualiseerde prentjie van die wêreld van Julianus, die politieke omwentelinge wat tot sy opkoms as keiser gelei het, en verstel telkens 'n fyner lens op die immer menslike eienskappe van die man Julianus. Freeman se skryfstyl is saaklik dog nie akademies nie, met 'n droë humorsin wat plek-plek uitsteek. Na 'n ietwat verwarrende paragraaf, waarin die skrywer bietjies uitasem die politieke intriges, opkomste en val van etlike aanspraakmakers op die keiserskap van Rome detailleer, merk hy droogweg en tot my groot grappige plesier op: “By this point even the most informed citizens across the empire were having trouble keeping track of who was in charge.”
Freeman skryf egter merendeels oor Julianus met 'n diep innigheid, sonder oormatige sentiment, so asof hy oor 'n goeie vriend skryf wat onlangs oorlede is. Dele hiervan kom so 'n bietjie voor asof die skrywer 'n ietwat verlengde begrafnisrede lewer. Nie net vir Julianus nie, maar ook vir die intellektuele tradisie en kultuur wat hy tydens sy bewind voorgestaan het, en wat die jong keiser as kernbelangrik beskou het om die Christelike geloofstradisie se totale monopolisering van alle openbare rituele domeine en magshefbome van die Romeinse samelewing te voorkom.
Freeman verval egter nooit in hagiografiese aanbidding van Julianus nie. Die keiser se jeugdige heethoofdigheid (hy was maar 30 jaar oud toe hy keiser geword het) en ongeduld met sy administrasie, asook die breër burgery se trae pas om by sy komplekse denke en sy staatsvisie in te val, word bondig dog krities uitgepak. Julianus was nie, selfs na oorlewering van sy felste kritici, 'n megalomaniese tiran of ontspoorde maltrap in die aar van sy voorgangers Caligula, Nero, Commodus of Elagabalus nie (om maar enkeles te noem). Freeman maak hierdie eienskap duidelik, en beklemtoon hoe die hoogsgeleerde Julianus in die klassieke gees van die Helleense oftewel Griekse intellektuele tradisie, oortuiging en polemiek as sy vernaamste politieke wapens ingespan het. Freeman hemel nogtans nie Julianus se akademiese briljantheid sonder meer op nie. Hy maak seker dat polemiese en satiriese skryfwerk deur Julianus wel geweegd beskou word.
'n Voorbeeld hiervan is Freeman se beskrywing van die keiser se selfbespottende essay Misopogon, geskryf in reaksie op die burgers van die stad Antiogië (vandag in suidelike Turkye), wat tydens Julianus se verblyf in die stad op weg na sy lotsbepalende militêre veldtog teen die Perse, hom onder andere oor sy bebaarde voorkoms bespot het. Hierdie unieke essay is omtrent die enigste skrywe uit die pen van enige Romeinse heerser wat selfbespotting as 'n wapen teen kritici inspan, siende dat die meeste keisers, aldus Freeman, tot die fynste besonderhede gegaan het om hulle openbare beeld pasgemaak te versorg.
Die uitgelese kenner van Romeinse keisersgeskiedenis, Mary Beard, staan hele hoofstukke in haar magistrale Emperor of Rome af aan 'n bespreking oor hoe die keisers deur allerlei opvoerige openbare strategieë, hulle “PR game” versterk het. Veral die keiser Diocletianus, wat Rome uiteindelik aan die einde van die krisisgeteisterde Derde eeu na hernude stabiliteit gelei het, het die politieke en openbare rol van die keiserskap eindelik uit die tydperk van die sogenaamde skynrepubliek geneem na 'n volwaardige monargie, met die keiser as verhewe heilige met 'n soort goddelike beskikkingsreg. Tydens die vroeër konstitusionele fase van die Romeinse Ryk is keiserskap as 'n soort republikeinse leiersrol opgestel, en die keisersamp as 'n reaksie op die antieke gelyke van die eietydse begrip “permakrisis”.
Sedert Diocletianus is die tersaaklike prag en praal van die keiser-as-opperheerser dus vasgelê. Maar Julianus was uniek, skryf Freeman, omdat hy heeltemal teen-intuïtief opgetree het in sy openbare verhoudinge bestuurstyl, deur die keiserlike obsessies met voorkoms, konvensie en openbare beeld eenkant toe te skuif, waarvan die Misopogon 'n sprekende voorbeeld is. Freeman takseer Julianus se poging wel eerlik, en skryf dat hoewel Julianus die essay goed begin het, gaan die jong keiser getrou aan sy persoonlikheid te ver en raak bitsig en selfbejammerend:
“By its end the Misopogon ha[d] become a tiresome litany of charges against Julian’s many critics. The genuinely humorous and self-deprecating irony of its beginning collapses into the harangue of a man who believes he has been greatly wronged and grossly underappreciated”.
'n Biografie vir ons tyd
Julianus het tydens sy kort bewind tussen 360 en 363 die stryd van idees tussen die groeiende Christelike geloof en die tradisionele godsdienstige opvattings van die klassieke beskawing op 'n mespunt gedryf. Maar wat Julianus weereens uniek maak, is dat hy nie die Christelike gemeenskappe die stryd aangesê het in die styl van die tipiese Romeinse despoot nie, wat Christene vervolg en geheiligde martelaars van gewone mense gemaak het.[1]
Vir Julianus was die kultuuroorlog van sy tyd een van idees, filosofiese kritiek en die geskrewe woord, tussen die ontluikende idees van die Christendom en die klassieke etiek en metafisika soos vanuit veral die Neoplatoniese filosofie beskou, waarvan hy 'n navolger was. In sy grootste werk, Teen die Galileërs, waarvan ons ongelukkig slegs fragmente oor het, het Julianus 'n regstreekse en grondige intellektuele kritiek teen die “geloof van die Galileërs” oftewel die Christene, geloods. Selfs die groot kerkvader Cyrillus van Aleksandrië, wat eers byna sewentig jaar na Julianus se dood 'n repliek getiteld Contra Julianum op Julianus se werk geskryf het, het gebieg dat hy slegs ten dele repliek kon lewer. Volgens oorlewering was Teen die Galileërs soveel van 'n intellektuele kragtoer dat min geleerdes kans gesien het om daarop te repliseer. Wat vir die kerklike establishment oorgebly het, was sensuur: Teen die Galileërs is waarskynlik in die Vyfde eeu tydens “teen-heidense” staatsoptrede tot verbanne leesstof verklaar en vernietig waar dit gevind kon word.
Julianus, wat na sy dood deur die Christenwêreld as 'n “geloofsversaker” en “heidense voorspraakmaker” getakseer en oor gepropageer is, is eers met die hoogbloei van die Renaissance en later die Verligting met 'n regverdiger hand herbeoordeel. Die Franse denkers Michel de Montaigne en later Voltaire, een van die grondleggers van die Verligting, het die pas aangegee in die letterkunde wat die nalatenskap van Julianus uit die eensydige oordeel van die kerk bevry, afgestof en herbesoek het.
Dit is veral tydig dat daar in die huidige tydsgewrig 'n gefokusde biografiese skrywe oor Rome se “laaste heidenkeiser” verskyn, juis omdat daar opvallende ooreenkomste tussen die verbete Westerse kultuurstryde van die afgelope dekade en die intellektuele twiste van Julianus se tyd is.
Die kultuuroorlog tussen 'n groeiende jong Christendom en die lank-gevestigde voor-Christelike godsdienstige opvattings en metafisiese veronderstellings van die Romeinse en klassieke samelewings, waarin Julianus 'n kernrol gespeel het, herinner sterk aan die tema van konflik tussen algemeen aanvaarde Westerse tradisionele waardes uit die Verligting, soos die vryheidsbegrip enersyds, en veral die meer ekstreme vergestaltings van sosiale geregtigheidsleer andersyds, waarvan die woke verskynsel tekenend was. Freeman herinner wel dat daar in Julianus se tyd ook egter talle matige, geleerde, en bedaarde Christen-filosowe en kerklui was, wat die klassieke filosofiese tradisie en mitologiese grondslae van die Romeinse kultuurgeskiedenis waardeer en gerespekteer het. Trouens, dit is grootliks danksy kerklui dat soveel kennis oor voor-Christelike Europa se spirituele praktyke en godsdienste vir ons behoue gebly het. Julianus self het vryheid van geloofsoortuiging uitgebou en voorgestaan, en was self goed onderlê met teologiese kennis van die Christelike godsdienstige tradisie.
Ooreenkomstig met die soort kritiek wat vandag op woke weergawes van die sosiale geregtigheidsleer gemik word, het Julianus egter ingesien dat die veronderstellings en rituele vereistes van die Christelike godsdienstige faksies (hetsy soos voorgestaan deur Arius of Athanasius of die etlike ander streeksweergawes van die nuwe godsdiens) nie onomstrede of onkritiseerbaar is nie. Daarby was hy ietwat sy tyd vooruit deur te vrees dat die georganiseerde Christendom die tradisionele openbare Romeinse instellings en magshefbome moontlik sodanig kan begin oorheers, dat die klassieke sin vir burgerlike vryhede, ook geloofsvryheid en die tradisionele erfenis van Rome, daaronder sal vergaan.
Hy was baie reg: Nie te veel dekades na Julianus se dood in 363 nie, het sy opvolgers Gratianus en Theodosius die laaste van die klassieke Romeinse godsdienstige tempels, orakels en akademiese instellings gesluit. Dit het gevolg na jare van kruipende marginalisering en die maatskaplike uitsluiting van nie-Christelike praktyke deur die groeiende en staatsondersteunde Christelike ortodoksies van die dag. Teen die Middeleeue is haas die hele Europa deur 'n parogiale en paternalistiese georganiseerde Christelike godsdiens oorgeneem.
Die geskiedenis spreek vanself wanneer selfs die pragtigste ontologiese opvattings tot siniese meganismes van magsverkryging omvorm word.
Loop lig vir mooi begrippe
Julianus was Friedrich Nietzsche dalk daarmee vooruit om – nogal hiperbolies – die Christelike godsdiens as 'n “moraliteit vir slawe” af te maak. Maar of 'n ideologie of godsdiens nou vir die verontregtes of vir die maghebbers bedoel is, maak min verskil. Beide gevalle is vatbaar vir die ontkieming van wat Nietzsche self die “magsdrang” of der Wille zur Macht genoem het. Daardie basiese aandrywer van ons rasionalisasies – ook deur godsdiens en politieke ideologie – om te groei en te gedy deur bemagtiging, maar al te dikwels deur om ander mense te oorheers en van vryheid te ontneem.
Julianus se verhaal, soos meesterlik leesbaar en bondig deur Freeman saamgevat, skep die geleentheid om in te sien hoe Christenskap en eietydse sosiale geregtigheidsleer mooi begrippe saamdra oor hoe om oorheersing en boeliegedrag aan te vat, en die mag van die sterkstes met minsaamheid, die noodsaak van herverdeling en stille vredeliewendheid uit te daag. Totdat die onderliggende magsdrange deur sommige volgelinge onkrities gelaat en verdoesel word, ten einde die Nuwe Boelies van die Dag te word. Een uitleg van Julianus, lees mens uit Freeman, is dat die keiser skepties was weens Christene se veronderstelde huigelary: 'n Skaars verdoeselde magsbegeerte steek uit onder die onderrok-belydenis van verlossing, vrede en mededeelsaamheid. Dit was miskien vir hom meer persoonlik, siende dat sy neef en voorganger Constantius II 'n geweldenaar was wat Julianus se broer en die res van sy gesin stuksgewys uitgemoor het. Constantius II was 'n belydende Christen.
Hoe dit ook al sy, Julianus se in-diepte kennis van die Joods-Christelike geloofstradisie ondersteun die aanvoering dat hy, selfs al het hy die indringing van die nuwe godsdiens verfoei, op 'n intellektuele en menslike vlak 'n waardering vir dialoog oor fundamentele oortuigingsverskille gehad het.
Sy hart het gaandeweg verhard, maar hy kon homself aansienlik beter beteuel as wat van jou deursnee Romeinse keiser verwag kon word. Lees gerus hierdie boek, en leer iets van jou eie tyd uit die ou tyd.
[1] Hoewel Freeman nie die gruwelike vervolging van die Christene in die eeue voor Konstantyn die Grote ontken of probeer versag nie, maak hy wel die punt dat vervolgings nie noodwendig altyd uitsluitlik op Christene gemik was nie, en dat daar met groter nuanse na die Romeine se voor-Konstantynse verhoudinge met die Christene gekyk moet word. Vervolging was meer gereeld sporadies, streeksgebonde en met politieke bymotiewe as wat dit struktureel in die Romeinse staat ingebed was.
Nog artikels deur Frederik van Dyk:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









