Oordenkinge op 16 Desember
Oor korttermyn-oordele en naamsveranderinge ter wille van vrede.
Die gebruiklike geteem aan die einde van elke jaar oor hoe stief ons eie kalender-uitvindsel ons nou sou behandel, verkry darem bietjie humor op die heenverwysende pop-subkulture van sosiale media.
Teen wil en dank ontvang 'n mens grappies en reels en ander inhoud wat grens aan breinvrotsels, wat die toestand van die wêreld op 'n studentikose, aandagspanvreter-wyse probeer voorstel. Australië mag 'n belangrike punt hê met hul veelbesproke verbod op sosiale media toegang vir kinders, maar in 'n droewige, deurmekaar wêreld is selfs die humorsinne van die skermprekariaat darem iets om voor dankbaar te wees.
Daar is baie om oor te voel op hierdie fase van die jaar. Ek is net nie oortuig dat 2025 noodwendig die objektief grondverskuiwende negatiewe jaar was wat baie mense dit as sou voorstel nie, of so marginaal positief nie, as iets goeds wat soos 'n onverwagte Kersgeskenk in die statistieke wegkruip. Dit hang eerder af van waarom ons jare beoordeel, en ons aandagspanne oor liederlike jaarvoorgangers is dikwels kort.
Neem byvoorbeeld 1986, die jaar van die noodtoestand. Daar is selfs 'n boek geskryf oor hoe deur die bank aaklig daardie jaar in Suid-Afrika was, nie net as politieke opsomming van gebeure nie, maar oor hoe die jaar net op alle maatstawwe betreklik sleg was, en die voorspel vir groot nuwe dinge sou wees. In die nuwe bedeling was daar die jare van die laat 1990’s, toe bomaanvalle deur PAGAD in Kaapstad amok en vrees gesaai het. Die politiek was toe nog relatief bestending en in wittebroodfase, en kort daarna in die 2000’s het die ekonomie sterk gegroei. Zuma-populisme het in die latere 2000’s kop uitgesteek, ja, en so ook beurtkrag, maar daar was die euforie van nuwe infrastruktuur en die sokkerwêreldbeker in 2010. Met die voordeel van die terugblik verskuif dit wat eens onhebbelik voorgekom het, na die kategorie van die oorleefbare. Die pandemiejare 2020 en 2021 was uniek in hul verontriewing, hartseer, twiste en die feit dat dit so onvergelykbaar in menseheugenis uitstaan.
Dit alles skep 'n soort paradoks vir hoe ons met die beoordeling van die tye omgaan, want daar is dikwels dwingende redes om 'n pas-afgelope jaar as uniek in sy verwerplikheid te beskou, maar die enigste manier om dit vir 'n feit te bevestig, is as daar genoeg tyd verbygaan om vergelykings te trek. Ons het dus eintlik maar net die verlede as maatstaf wanneer ons die tekens van die tye wil beoordeel.
Miskien is dit die ou reptielbrein, die intuïtiewe instink, wat veroorsaak dat ons na negatiewe beoordelings neig wanneer die jaar einde se kant toe staan. Ons rasionele fakulteite sal dikwels met vers en kapittel bewys dat daar al erger tye was, en die syfers, grafieke ensomeer kan uitruk om dit te bewys. Maar geskiedkundige vergelykings en maatstawwe bevredig ongelukkig nie die sin vir indoening wat aan die einde van 'n jaar onder mense vaardig is nie. Ja, op die ou end sit politiek selfs en loer uit die datumblokkies van ons kalenders. Teen die tyd wat die voordeel van die terugblik wyd genoeg posvat, het mense reeds uit frustrasie 'n sondebok gaan soek. In 'n demokratiese stelsel, begryp ek heeltemal dat politici so bang vir die korttermyn moet wees as die duiwel vir die slypsteen.
Ek kan my aan min ander motiverings om 'n jaar af te skryf voorstel as die dood van geliefdes, kollegas of ander bekendes. 'n Ouer wat vir my sê dat 2025 maar 'n ou verkakte jaar was weens die dood van hul kind, of 'n jongmens oor die dood van 'n ouer, verdien wat my betref hoegenaamd nie om lastig geval te word met wysneus-vergelykings dat die jaar actually op sekere meetbare vlakke betreklik goed gegaan het nie.
Niemand, ook nie Adi Enthoven se onlangse ekonomiese data nie, kan in so 'n hartseer konteks selfs met die akkuraatste statistieke 'n emosionele impak mee maak nie. Op 'n stadium het ek selfs die oombliklike idee gehad om uit radeloosheid met die dood van die een naaste na die ander in 2025, 'n tatoe of 'n ding iewers op my vleeslike aan te bring, om my te herinner aan die verlies. Na oorweging het ek vir my binnebreinse opvoerigheid gelag en sommer besluit om net daaroor te reflekteer, vir die geheuebank. Op die einste 16 Desember vanjaar was ek weer by 'n gedenkdiens van 'n vriend, terwyl ander die groot geveg by die Ncome en sy honderde verskillende faksionele en politieke implikasies gaan herdenk het.
16 Desember. Daar is elke jaar 'n debat oor of dit nou Geloftedag of Versoeningsdag of albei is. Op hierdie stadium is wat my betref gewoon “16 Desember” die beste benaming, want dan impliseer dit sommer alles wat mense op die dag wil onthou, sonder om een implikasie of herdenkingsvorm tot iemand anders se argwaan voor te trek (by wyse van spreke). Miskien sal dit vir Gayton McKenzie rustig maak, wat gekerm het dat die mense nie almal kumbaya tesame Reconciliation Day vier nie. Hy kla waarskynlik ook net omdat 40 000 Afrikaners vanjaar by die Voortrekkermonument plesierig was, wat beslis 'n groter en prettiger opkoms is as die soveelste staats- en ANC-gedrewe poging tot 'n paartie, waar niksvermoedende mense tipies ingebus en met kospakkies ingestop word, net sodat die partybemarking goed uitsien.
As jy die 40 000 Afrikaners by die makietie vra oor hoe 2025 was, sal almal seker vir jou 'n ander storie vertel. Baie mense kla met wit roosterkoeke onder die blad, ander sal positief wees oor hoe dinge (Trumpsgewys of nie) vir Afrikaners se kollektiewe politieke rolspelery begin vorm kry het, en 'n paar sal moontlik daarop wys dat selfs een van die 40 Briefskrywers, of Charlize se 44, bietjie 'n draai moet kom maak. By die Voortrekkermonument op 16 Desember gaan suurderms uitryg of alleen-voel tussen jou 43 ander oorblyfsels mos nie deug nie! Daar is pannekoek, kondensmelkkoffie, en 'n gedeelde sin vir jolyt. Wie kan nou daaroor moan? En as godsdiens en beloftes deur ander ouens amper 200 jaar gelede nie jou thing is nie, dan is daar 'n biertent en in die uwe se ervaring, tuisgemaakte pasteie wat enige ou vir die feestyd sal regruk.
Ja, 16 Desember is opsigself net die perfekte naam. Dit het dieselfde soort valensie as ander geskiedkundige dae wat in dag-en-datum formaat weergegee word. Soos die berugte 7 Oktober, maar met meer mistisismes en sonder die fotografiese beeldmateriaal. Miskien is die oplossing vir Gayton se besware en Cyril se paniek by die Ncome toe Carel Boshoff daar opdaag, dat ons 'n naamsverandering toepas. Die ANC beskou tog die verandering van eiename as 'n soort metafisiese ingreep van die Logos in die materiële wêreld. Dis seker maar wat grootheidswaan aan jou doen, jy ontwikkel die geloof dat jou woord eintlik maar Woord is, wat berge kan skuif en maatskaplike probleme regtoor.
Miskien het Sarel Cilliers so gedink? Toe hy en die span voor die slag by Bloedrivier die Gelofte afgelê het? Hy het darem na die opperwese heenverwys. En Netwerk24 het tog 'n dwingende artikel geplaas wat redeneer dat nie Cilliers of veel ander van die Trekkers na die geveg soveel erns gemaak het met die dag as wat die Nasionale Party in die 20ste eeu daarmee sou maak nie. In die Boererepublieke was die idee eerder om 'n soort Afrikaanse burgerlike feesdag te geniet, ironies genoeg is dit ook wat dit maar vandag geword het.
Ek vind dit wel ironies dat dieselfde mense wat geldige argumente op die beskikbare feite oor Bloedrivier maak om te redeneer dat die Gelofte nie alle Afrikaners “bind” nie, en ook nie moreelgesproke enige reg het om almal te “bind” nie, terselftetyd aanvoer dat daar 'n soort postapartheidsverpligting op alle Afrikaners berus om hul te onderwerp aan 'n eensydige uitleg van hoe regstelling in hierdie land behoort te werk. Elke ou het seker maar sy diepgewortelde teologie!
Maar weinig gewone Afrikaners gee die dieper teologiese implikasies en veronderstellings van die gelofte veel aandag deesdae; die meeste sal sê hulle kom vier hul herkoms en taal en kultuur, want hulle mag en dis 'n vry land. En daar sal diegene wees wat daarmee verskil en neusoptrek, en hulle is welkom om dit te doen. Dis 'n vry land, waar elkeen ook mag argumente aanvoer vir hoekom hy die dag op sy en sy naastes se manier vier, of nie, en of dit so moet wees, of nie. Op beleidsvlak dink ek, los mense om hulle ding te doen, mits dit nie ander ouens inperk om hulle ding te doen nie. Op persoonlike vlak, gaan doen jouself 'n guns en gaan ervaar hoe verskillende mense dae soos 16 Desember vier en geniet, of ten minste herdenk. Dit sal van jou 'n ryker mens maak. Ek dink net nie dit wat ons glo goed is op persoonlike morele vlak, moet noodwendig regeringsbeleid word nie. Ons hoef nie almal modelletjies vir een of ander ideologiese ideaal of progressiewe veronderstelling te wees nie.
Ons sit met 'n liberaal-demokratiese konstitusie, veral na 'n reeks kerrieroosterkoeke, so kom ons gun mense maar die kans om 'n wilde, onpeilbare jaar op hulle eie maniere af te sluit.
Nog artikels deur Frederik van Dyk:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









