DinkWeer Donderdag | Die Stemme van OntLaer
Elkeen betrokke by hierdie publikasie kan trots wees.
Met ons Dinkweer Donderdag uitgawes probeer ons die goue drade van die voorafgaande Voldag Vrydag plasings saamtrek, lostorring en weer saamvat.
Op 'n stadium was ek skepties oor hierdie werkswyse, want ons redaksionele doelwit is om 'n doelbewuste uiteenlopendheid van menings en argumenteerbare onderwerpe 'n plek in die Afrikaanse diskoers te gee. Dit opper die vraag of hierdie uiteenlopendheid, wat ek dink sover beslis geslaag het, altyd die tersaaklike goue drade gaan openbaar. Sommige goed is net moeilik saam bespreekbaar.
Die uitgawe van 5 Desember 2025 het egter my laat besef dat hierdie redaksionele oogmerke nie net grootliks deur ons skrywers en lesers gedeel word nie, maar dat daar gevolglik 'n soort “meta” of oorhoofse goue draad is wat ons inhoud op OntLaer saambind. En dit is inderdaad die behoefte om ongeag die gevestigde kommentaar-slagordes of narratiewe verwagtinge van die dag, onbeskaamd die geleentheid aan te gryp om te lees, te oordink en 'n nuwe invalshoek te waag. Soos ek in ons eerste uitgawe geskryf het:
“Ons ont-laer, want ons stoot die waens oop, sodat die verskillende meningsvormende groepe en tendense in hierdie eeu van Afrikaanse eggokamers en aanlyn-selfvoldaanheid, 'n nuwe lees en luistergewoonte kan aanleer. Ons ont-laer, ook soos in ont-laag: Ons skep dieper en pak die lagies voorveronderstellings oor onderwerpe uit om wedersydse begrip te verbeter. En waar bydraers stellig standpunt inneem, lok ons juis deelname, kritiek en teengedagtes uit. Deurdagte, bedagte, diverse gedagtes. Ons wil losmaak, oopmaak, afbreek wat verhard het— of dit nou groepsdenke, aannames of ideologieë is.”
Ons het spoedig 'n reeks gereelde bydraers ingewin. Mense soos Hilde Kruger, wat dalk met 'n eerste in Afrikaans, uitstekende besinnings instuur met die onderskeidende kenmerk dat dit nie net onderwerpe oordink en argumente evalueer nie, maar ook die kompleksiteite van die soms vanselfsprekende wêreld van grafiese ontwerp, bemarking en produk-etikettering vir die leek oopstel.
Hilde se artikel van 5 Desember 2025 het die sonderlinge eienskap dat dit empaties met 'n beleërde suiwelbedryf omgaan, en terselftetyd die aanvaarde alledaagsheid van daardie wesensbelangrike wit proteïen in baie van ons se oggendkoffie uit 'n invalshoek wat meeste van ons sal ontgaan, benader. Wat doen ons as die melkbedryf nie langer volhoubaar kan meeding teen onregverdighede in die etiketteringsbedryf nie? Suiwel, wat onontbeerlik vir ons samelewing in Suid-Afrika is, klink dalk soos die minste van ons probleme.
Op OntLaer gryp bydraers egter die geleentheid aan om lesers in te lig oor dit wat misgekyk word, en gaan soek buite die algemene laers van nuuswaardigheid en meningsvorming.
So is daar ook bydraer Jurie van der Walt, wat op OntLaer kon slaag met inhoud wat die frenetiese en uiters aggressiewe pogings tot debat oor die Israel en Palestina konflik met 'n rustige waardigheid, dog 'n ferm konsekwentheid aanpak. In Jurie se skrywes kon ek nie anders nie as om 'n skrywer in my geestesoog te sien wat die hele omstrede Gaza-diskoers fyn betrag, terugsit en deur sy skryfwerk 'n vars uitgangspunt deur die pynlike kwessie probeer oop kerf: Skryfwerk oor tragedies wat voor jou oë afspeel, ruk noodwendig dwarsdeur die siel.
Dit moes vir hom ook so voel in sy 5 Desember-artikel, wat handel oor hoe Vladimir Poetin se oorlog in Oekraïene tekenend is van 'n poging om die Russiese Ryk van ouds te herstel. Die geopolitiek word omsoom met bloed, en die sterkmanne in die vergulde kantore van hul amp sien doodslag as 'n statistiek op weg na gewaande roem. Jurie het inderdaad vir ons 'n wêreldpolitieke inslag gebring wat saakmaak.
Een van ons nuutste opkomende bydraers is dan ook Lezli Edgar, wat uit Johannesburg vir ons die Afrikaanse vrou en haar skynbare onpeilbaarheid by wyse van ontledings van veral die bestaande tydskrifbedryf kom oopskryf. In die gees van Afrikaanse feministiese skrywers, soos Azille Coetzee en Christi van der Westhuizen (van Sitting Pretty-faam), oorweeg Lezli telkens die interessante sosiologiese en politieke posisie van Afrikaanse vrouwees, op maniere wat uit heel ander hoeke induik as die gewone Westerse diskoers oor vroueregte, vrouwees en Afrikaanswees.
Lezli het van meet af op die goue draad van OntLaer geklim met hierdie unieke insigte, wat nuwe denkmoontlikhede in die Afrikaanse feministiese tradisie suggereer. Ons is dankbaar om die redaksie te wees wat mense soos Lezli die geleentheid kan gun om hierdie soort uniekheid op die proef te kom stel.
Ons bydraers probeer nie net om in te lig en argumente te vorm nie, maar nuut en vars oor bestaande kwessies te dink. OntLaer wil beslis nie van verhogies van gevestigdheid af preek en sonder meer die gepeupel “inlig” vir hul eie beswil nie. Om die waarheid te sê, dikwels dra die modieuse praktyk om “explainers” aan die lesende publiek op te dis, vir my 'n klankie van arrogansie en voorskriftelikheid, 'n styl wat in 'n era van ongekende toegang tot inligting met voorlopige verdagtheid bejeën moet word.
Ek gee toe, die explainer is beslis belangrik en wenslik, omdat hierdie eeu van informasie die verskynsel van waninligting dra: Die joernalis se rol is dan sekerlik om die feite sonder vrees of vooroordeel en so akkuraat as moontlik te probeer vasstel, sodat kompleksiteite eerlik en opreg aangebied kan word. Dit is nuttig, en is beslis verkieslik bo die ou laai uit die Covid-tydperk, toe mense gereeld moeilike vrae met die misbaksel beantwoord het dat jy “jou eie navorsing” moet gaan doen.
Maar waar explainer-joernalistiek die pot mis sit, is wanneer die soort wetenswaardighede waar 'n waardeoordeel benodig word – soos debatsoekende onderwerpe in die etiek, politiek of filosofie – gewoon “explain” word in 'n styl wat die leser ontmoedig om die netelige proses van om vir jouself te dink, te omarm.
Daar is meer as genoeg inisiatiewe in die persbedryf wat feitelike explainer-joernalistiek beoefen, en in hierdie opsig is OntLaer se aanbieding stroomaf van daardie soort waardeaanbod. Wat oorbly, is die noodsaak dat die Afrikaanse leserspubliek volgraan-inhoud kry wat debat uitlok, nuwe invalshoeke voorstel, en gesprek voortsit. Soos die bekende spreekwoord oor die persbedryf lui: 'n Koerant, of dan die pers, is in effek 'n nasie of dan samelewing wat met sigself gesprek voer. By OntLaer hoop ons om vanuit 'n Afrikaanse begronding, op hierdie manier te kan bydra.
Ons sien uit na 2026 met OntLaer
Daarom moet ek ook namens die redaksie die res van ons gereelde bydraers wat ons in hierdie eerste jaar gedra het, bedank en eer, met die oog op 'n opwindende 2026.
Uit Hercules Boshoff se pen sien ons filosofiese kritiek op die atomisme en ekonomistifikasie van ons samelewing, en besinnings oor die voorwaardes vir iets anders as die “einde van die geskiedenis” windstiltes waarin die Weste ronddobber. Hercules spring nie heelhuids in edgy populismes in of veg voor die stadshekke van gevestigde progressivismes nie, hy kyk die kat uit die boom en gee telkens iets onverwags en nuuts om te herkou. In tandem hiermee het ons vir Louise Mabille, wat dooierus geneem het op die implikasies van die zeitgeist vir die media, ook in Afrikaans, met verwysing na die Vrye Weekblad se opkoms en ondergang.
Eugene Brink bring 'n debatswaard in sy skrywerk na vore wat forensies en presies werk met veral die strukturele uitdagings en politieke hopelooshede van die Suid-Afrikaanse establishment. Eugene se artikels is 'n sieraad vir die Afrikaanse debatkultuur, en 'n getuienis van hoe onontbeerlik 'n opvoeding is wat debatkundigheid insluit. Hy vat nie nonsens nie, en beslis nie gevangenes nie. Vir Jean Oosthuizen se teenwoordigheid is die redaksie nie net dankbaar omdat hy sy eie lesers telkens aanmoedig om OntLaer te lees nie, maar ook sien ons die belangrike kritiese insigte raak wat hy oor die wêreld van godsdiens kom deel het, asook sy bedaarde ontleding van die groot debatte onder Afrikaners in 2025, toe ons ou volkie hier aan die suidpunt skielik in 'n toutrekkery tussen die Suid-Afrikaanse regering en die Trump-administrasie vasgevang geword het.
Barend Wesseloo het op OntLaer begin publiseer met indrukwekkende polemieke tussen hom en gasskrywers wat verskil het oor die oorlog in Gaza. Daarna het hy met kenmerkende langvorm-meningsbydraes, unieke perspektiewe gebring oor die dikwels vergete verhoudings tussen die Afrikaanse en Joodse gemeenskappe in Suid-Afrika. Louis Boshoff en Fransjohan Pretorius lok 'n glimlag van waardering uit met hul tong-in-die-kies skryfstyle en insigte oor Afrikanergeskiedenis. Bouwe van der Eems hou die debat oor onderwys, en veral die tuisonderrigbedryf aan die lewe en bring ook toenemend insigte wat oor nuwe onderwerpe heen strek.
Daar is ook oor die 80 ander bydraers wat deur die loop van die jaar per geleentheid artikels aan OntLaer gestuur het, wat daartoe bygedra het dat geen week inhoudloos verbygegaan het nie. Die redaksie is baie opgewonde dat daar soveel skryfenergie onder Afrikaanse lesers is. In dieselfde asem het ons redaksie besonderse ondersteuning uit Afrikaanse joernalistieke, akademiese en uitsaaikringe gekry, in die geskrewe pers, oor die radio en televisie. Ons voel geëer en dankbaar dat die helpmekaar-gees onder talle in die Afrikaanse persbedryf nog heeltemal vaardig is, en beskou hierdie ondersteuning as 'n mosie van vertroue om aan te hou met die moeite wat hierdie projek van ons vereis.
Buitelandse bydraers tot ons suksesse
Daar is dan ook 'n groot aantal vername nie-Afrikaansskrywende binnelandse en buitelandse Substackers wat danksy die toenaderingsmoontlikhede wat Substack bied, vir ons regstreeks die geleentheid gegee het om hul werk na Afrikaans te vertaal en met ons gehoor te deel.
Onder hulle tel die Kanadese filosofieprofessor Joseph Heath, wat sonder skroom sy werk aan ons leen, asook die Amerikaanse denker Nils Gilman, die Britse politieke filosoof Helen Pluckrose, die Hongaars-Kanadese sosioloog en skrywer Frank Furedi, die Australiese teologiese denker Michael F. Bird, die Suid-Afrikaanse skrywer Angus Douglas, die Amerikaanse sielkunde-kenner Mike Strambler en die joernalis Wessie du Toit. Ons is veral opgewonde om vir Wessie, 'n bekende bydraer by UnHerd, woonagtig in Brittanje en van Afrikaanse afkoms, op ons blaaie te kan verwelkom. Lees gerus al hierdie mense se leenbydraes op OntLaer sedert April 2025.
Al ons skrywers - ons plaaslike bydraers en internasionale leenbydraers - offer hul tyd op om by te dra tot 'n projek wat openhartig in Afrikaans wil woeker, en in 'n benarde Suid-Afrikaanse perslandskap 'n berekende kans vat om Afrikaanse media op 'n nuwe manier te probeer doen. Die redaksie kan nie anders nie as om ons bydraers met trots en diep waardering as voorbeelde van die moed om vrye meningsuitering te pleeg, voor te hou.
Heil die Leser
U as leser kan ons help om ons bydraers se insette die moeite werd te maak en volhoubaar te laat voortgaan, deur nie slegs 'n intekenbydrae te oorweeg nie, maar ook om die inhoud wat jy boeiend en insiggewend vind, met ander te deel.
Elke OntLaer leser – elke intekenaar – het onteenseglik gehelp om hierdie projek binne 'n baie kort tydjie binne 'n klein taalgemeenskap met 'n klein gereelde leser-gemeenskap, indrukwekkend te laat groei. Op geen manier het ek, Paul of Daniël verwag dat hierdie inisiatief binne 'n kwessie van 8 maande tot oor die 1,100 intekenaars en 'n gemiddeld van 12 000 geleesde artikels per maand sou groei nie.
Ons lesers is gewone Afrikaanse mense, lede van die intelligentsia, professioneles en ambagswerkers, beroepsmeningsvormers en blote nuuskieriges, sakelui en akademici, bekende joernaliste en hul volgelinge, boere en arbeiders, skrywers en die lesers van hul boeke, mense wat onderling dikwels in stryd is oor wat vir Afrikaans en Afrikanerwees belangrik is en wat nie, wat uiteenlopende menings het en soms vurig stry. Vir al hierdie leserskategorieë en meer kan ons net met opregte en diep nederigheid dankie sê, en 'n voorspoedige 2026 met OntLaer aan u sy toewens.
Moenie op OntLaer bloot kom soek vir bevestiging of 'n tribe nie. Kom geniet eerder die gesprek as reis, en help ons met jou deelname om die projek na selfs hoër hoogtes te neem.
Nog DinkWeer Donderdag op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.















Dit was ‘n buitengewone jaar. Báie dankie!
Dankie vir julle almal. Ontlaer is 'n vars platform vir Afrikaans.