G’n “woke” om Diwali in SA te waardeer nie
Dig-geweefde diversiteit begin by nuuskierigheid.
In hierdie doodsnik-weke van elke jaar begin die geruis en donder van klappers vanuit veral die westelike en noordwestelike buurte van Johannesburg, dikwels mededingend met die laat-lente donderstorms en die reuk van die Hoëveld-reëns.
Die weer se tydsberekening skep 'n mooi metafoor vir die Hindoe-nuwejaarsvieringe, die fees van die liggies wat in rye langs straatlanings uitgepak word, in die buurte waar Suid-Afrikaanse Hindoegemeenskappe gevestig is.
Dit is by uitstek ook die tyd van die jaar wanneer die stad se nuwelinge, en opvallend dan diegene in die Engelssprekende middelklasbuurte met 'n knormoerige ingesteldheid, hul stuiwers in die Whatsappgroep-armbeurse begin gooi. “The noise is unacceptable”, of, “the poor animals have no chance with these people”. Maar opvallend in ons land se konteks, besef die knorpotte ook stilweg dat hulle selektiwiteit ook boekdele spreek; dis nooit “these people” op Guy Fawkes nie, gewoonlik word die aanlyndrang om onreg vas te vat dan gereserveer vir uitsprake oor die welstand van die troeteldierbevolking van Greenside-Oos, Sunninghill of Parktown-Noord. Anders as hul busybody Angelsaksiese nefies is die Boere meer tradisioneel as dit by kla kom; die braaivleisvuur sal doen, maar dan heers daar gewoonlik 'n gemoedelike onkunde oor die Indiese fees-fieterjasies en Guy Fawkes is insgelyks die voorwerp van gemeensame ongeërgdheid. Afrikaner se kind is dikwels meer ontdaan en hoogstens afgepis deur die geraas oor die Krugerpark se naam, maar die windrigting van kultureel-politieke, braai-gebaseerde oproerigheid is eerder te vinde in smakkende leedvermaak oor Julius Malema se onlangse strafverhoor. As iemand nou aan die pen moet ry vir openbare rusversteuring, deur middel van die knetterende geraas van 'n aanvalsgeweer in 'n woonbuurt nogal, is dit nou wragtig daai mannetjie met sy rooi pet.
Sensitiwiteite oor diversiteit
Die aanlynwêreld het aansienlik minder ruimte vir eerlike nuuskierigheid en selfondersoek. Onder die invloed van oorhoofse Westerse kultuurstryde en 'n ongesonde dieet van hot takes is daar mense wat baie skisofrenies oor kulturele en godsdienstige uitdrukking nadink.
Sou jy as sake-eienaar, byvoorbeeld, dit selfs waag om 'n aanlynplasing te maak om jou Moslem-kliënte 'n gelukkige Eid-oel-Fitr (of labarang, in die Kaaps-Maleise gemeenskap) toe te wens, of jou Joodse klante met Jom Kippoer, of dan nou iets oor Diwali te plaas, duik daar twee-en-twintig trolle iewers uit wat jou nydig vra of jy iets wesenliks oor Kersfees of Paasfees gaan plaas. As jy jou storie nie ken nie, gaan van die mense so vêr gaan as om die wisselvalligheid van jou feesplasings in die verlede te probeer uitwys. Hier en daar sal een opspring en vol bravade verklaar dat hierdie soort ding die oorgawe van die Westerse beskawing aan selfondermynende wokeness bewys.
In Europa, bepaald, vind die dikwels heel redelike politieke ongelukkigheid met ongebreidelde immigrasie 'n uitlaatklep in die vorm van aanlyn-onsteltenisse met hierdie soort verskynsel. In die Verenigde Koningkryk, waar opeenvolgende regerings en beslis die huidige een, gelei deur Meneer “Two-Tier” Keir Starmer, die Britse premier, weens hetsy onbekookte progressiewe sentiment of doodgewone onbekwaamheid nou met 'n kultuurkrisis sit wat haas onoplosbaar lyk, lei polarisering daartoe dat gesonde kulturele en godsdienstige uitdrukking blitsig en bitsig die teiken word van aanlynmisnoë.
In die Ouwêreldse nasiestate steek daar wel iets in die bekommernis dat regerende elites 'n mengeldrankie van Europese skuld oor kolonialisme met 'n goedkoop immigrasie-arbeidsmark aan hul burgers probeer voer, met min tot geen kreatiewe denke oor hoe onderliggende kulturele vryheid met bestaande oorhoofse nasionale karakter versoen kan word nie.
Vir sommige Europese elites is die antwoord maklik. Die “karakter van die nasie” is juis gesetel in die Westerse sin vir inklusiewe en diverse vryhede, gelykheid voor die reg, demokrasie en broederskap tussen mense. Daarom dat die immigrant, die Ander op jou drumpel, sonder meer verwelkom moet word. Daar is in hul konteks iets geveins en arrogants hieraan: die skynbare sameloop van klassieke Europees-Christelike boetedoening met die subtiele selfingenomendheid dat Europese beskawing noodwendig iets opvoedkundigs vir die “armoedige, ontheemde barbaar” sal beteken, al is dit nou deur die uitbuiting van hul goedkoop arbeid. Dit is ook onverantwoordelik, al is die Europese politieke elites in terme van hul eie aansprake op demokratiese legitimiteit, verantwoordbaar teenoor die ingeburgerdes van hul onderskeie samelewings, wat opregte en diepgaande kritiese vrae opper. Soos, wat is die einddoel van multikulturele beleid, soos dit tans uitsien, in aangesig van nasionale kenmerklikheid? Nou ja, “nasionale karakter” in Europa sluit beslis die Weste se unieke uitdrukkings van idees soos die demokratiese regstaat en gelyke genieting van vryhede in. Elemente daarvan is dalk in talle gemeenskappe wêreldwyd teenwoordig, selfs sedert oertye, maar Westerse denke hieroor is onbetwisbaar prominent en helder opgestel.
Maar eietydse Europese elites het om verskeie redes, waaroor daar baie besin word, 'n ooglopende blindekol wat die realiteit en nut van die “nasionale karakter” se ander onderdele betref, soos dinamiese nasionale tale, betekenisgewende, gemeensaamheid-skeppende tradisies en die eksistensiële outentiekheid wat met kulturele geworpenheid-tussen-ander gepaard gaan. As ons praat van byvoorbeeld Engeland, is nasionale karaktereienskappe soos vrye parlementêre debatvoering, burgerlike durf en billike deelname (fair play) net so skeppend aan die Engelse “onbeweeglike beweeglikheid” van kollektiewe kulturele uitdrukking as die dinamiese Engelse taal en die geskiedenis wat met draaie en swaaie sedert die Angelsaksiese kolonisering van suid-oostelike Brittanje in die jare 500’s saamkom. “Fair play” is op sy eie beskou iets meerendeels universeel en oeroud, maar saamgevat met al die bovermelde onderdele, leer ons Engeland en die Engelse mense ken.
Suid-Afrika is anders
Hoe die Europeërs hierdie kwessies gaan bylê lyk moeilik, veral uit 'n Suid-Afrikaanse oogpunt aanskou. As Suid-Afrika enigsins 'n nasionale karakter het, is een onderdeel daarvan beslis dat die kultuurgemeenskappe van hierdie land oor baie eeue en tot 'n groot mate steeds, met baie huppe en stote die kenmerk aangeleer het om sinvol met diversiteit om te gaan. Anders as die lande van Europa, is ons staat nie gebaseer op 'n enkele etniese substratum waaruit 'n demokratiese en republikeinse nasiestaat uiteindelik gevorm is nie.
Oor baie jare, deur bloedige konflik en fassinerende tydperke van vreedsame saambestaan heen (wat angswekkend teen-intuïtief sal klink vir diegene wat glo dat kulturele verbondenhede die reënboog-konsensus bedreig) het gewone Suid-Afrikaners daarin begin slaag om sonder veel omstredenheid die res publica, of voordele toeganklik aan die publiek, te deel. In die huidige tydsgewrig van die post-apartheidstaat, balanseer die meeste gewone mense hul kulturele, godsdienstige en nasionale identiteit op 'n wyse wat hartlik en gemeensaam is. Die realiteit op die grond is dat, ten spyte van politieke verskille oor toegang tot die hulpbronne in private besit (verskille wat buitendien nie streng volgens etniese lyne loop nie) die Suid-Afrikaners daarin slaag om kulturele karakters neffens nasionale karakter vrylik uit te druk.
Daarom is dit by uitstek vir ons nie fundamenteel volksvreemd en ontstellend as die buurman sy Diwali-kersies op die sypaadjie uitpak nie, of die muezzin met die windjie langs uit Lenasia of die Bo-Kaap draal nie. Ja, soms is mense geïrriteerd of krities oor spesifieke praktyke wat die gedeelde vrede steur, soos die vuurwerke op Guy Fawkes of die Hindoe-nuwejaar, of etnies Afrika-gebruike wat met luide feesviering gepaard gaan. Maar anders as in Europa, skrik ons ons nie dood en stig 'n politieke beweging weens die buurvrou se burqa nie en is bevraagtekening baie meer gereeld 'n kwessie van nuuskierigheid. In my kantoor praat ons 'n roesemoes van tale met mekaar, so deurmekaar en terselfteyd; ons lag vir mekaar, ons spreek mekaar soms kwaai aan; vriendskappe en verhoudings kry vorm. In my buurt kan ek ook vrylik Afrikaans wees en dit geniet, terwyl die gesin by die koffietafel langsaan 'n kosjer-maaltyd nuttig en die winkeleienaar in Portugees laat waai.
Sake is nie perfek in Suid-Afrika nie, en dit sal ek nooit voorgee nie. Krisisse in ons land lyk nie soos die Balkan-lande in die nadraai van die vroeë 1990’s of soos Noord-Ierland tot vandag toe nie; ons krisisse verg nie 'n etniese veronderstelling nie en is meer teen ons heersende politieke leiers as teen mekaar opgestel. Die Verenigde Koningkryk, van Skotland tot Wallis en veral Engeland, sukkel na 'n lang 20ste-eeuse stryd in die einste Noord-Ierland nou self met toenemende Ulsterization, weens hul politieke elites, die verregse uithoeke van hul burgery en immigrantleiers wat assimilasie teenstaan se onvermoë om diepgaande verskille by te lê. Hul enigste werklike keuse is om harder op die onderdele van hul nasionale karakter aan te dring, wat redelike opofferings van almal sal vereis, maar hulle sal nooit soos Suid-Afrika kan word nie, weens hul anderse demografiese, etnies-kulturele en geskiedkundige onderbou. Minstens nie sonder geweld nie, wat heeltemal te skrikwekkend is om selfs te bedink.
Vir Suid-Afrika het ons die onderskeidende voordeel van 'n land waar “inheemsheid” en eerste-wees hol begrippe is, en waar niemand werklik eerlik kan wees indien hul op 'n “meerderheidsreg” of spesifieke eksklusiewe nasionale karakter aandring nie. Die koloniale Engelse en die nasionalistiese Afrikanerpolitici het dit gedoen onder die verskillende fases van kolonialisme en apartheid, en dit was fundamenteel oneerlik en wreedaardig. Die “Swart Eerste”-onderstrominge van Afrika-nasionalisme wat tans in die regeerstoele sit of met rooi oorpakke marsjeer, is ook oneerlik, ten minste as jy die Suid-Afrikaanse staat in sy komplekse geskiedkundige konteks reg beoordeel.
Niemandsland, maar tog almal se land, en die gewone mense weet dit goed. Geknelde land, maar gemeensame land.
Die sinisme van ons eie elites
Tog word hierdie tydsaam opgelewerde “nasionale karakter” van Suid-Afrika nie kreatief, eerlik of sinvol deur baie van ons politici hanteer nie.
Terwyl die gewone Suid-Afrikaner, van watter etnies-kulturele gemeenskap ookal, hul brood en botter verdien in gemeensaamheid met ander, dring politici met 'n aweregse ideologiese visie vir ons land aan op hoogstens 'n oppervlakkige begrip van diversiteit. Hierdie “dun” sin vir diversiteit word dikwels aangehelp deur die kommentaarklasse in Suid-Afrika, wat ten spyte van kompleksiteit, praktiese en geleefde realiteite, aandring op 'n dogmatiese en rassige begrip van ons samelewing.
Hulle erken diversiteit, maar skep vrees om daaroor te praat, omdat Europese “wit” herkoms bevoorregting en mag moet veronderstel, en “swart Afrika” herkoms noodwendig ontheemding, ontmagtiging en slagofferskap. Absurde gevolge vloei uit hierdie vrese: universiteite word nie meertalige instellings nie, maar word gestroop van infrastruktuur hiervoor ter wille van Engelse taaloorheersing. In die naam van inklusiwiteit, nogal. Die BELA-wet staan op die uitgangspunt dat Afrikaanse enkelmediumskole diversiteit en inklusiwiteit in die wiele ry, ten spyte daarvan dat Afrikaanse skole 'n uiters suksesvolle voorbeeld van die moontlikheid van 'n moedertaalgebaseerde skolebestel in ons diverse samelewing is, en beslis nie sentra van hermetiese afsondering vir Afrikaanse leerders nie.
Hierdie soort beleid word deur te veel stemme uit die Suid-Afrikaanse intelligentsia, ongelukkig ook die Afrikaanse intellektuele klasse, goedgepraat. Hulle vergeet gou van hulle eie insigte oor magswanbalanse, en in die konteks van 'n regering met 'n heersende swart-nasionalistiese ideologiese begronding, vergeet hulle ook wat die implikasies hiervan vir sinvolle en ware diverse gemeenskappe kan wees: Die demografiese voorkeur vir Engelse onderrig, wat die regering met baie moeite aanblaas en aanspoor, sal juis veroorsaak dat die vooruitsig van dig-verweefde en ware inklusiwiteit en diversiteit heeltemal ontspoor.
Die Suid-Afrikaanse politieke en akademiese elites het weliswaar daarin geslaag om 'n narratief te skep wat diversiteit en inklusiwiteit ophemel, mits dit volgens 'n sekere vel-skakering en veronderstelde taalvoorkeur begryp en gemedieer word. Eg Orwelliaans en Langenhoven-esque, is die gewone burger se sin vir diversiteit vir die elites tekenend van diskriminasie, maar die gewone burger se sin vir diskriminasie is vir die elites weer diversiteit.
Dink mooi oor Oom Paul
Vir die politieke elites en hul intellektuele en akademiese handlangers, is iets soos die Paul Kruger-beeld op Kerkplein en die Krugerwildtuin verboten en vernietigbaar, omdat hul sin vir diversiteit dun geweef is met ideologiese materiaal.
Diversiteit en inklusiwiteit is nie volgens hul uitgangspunte denkbaar in die vorm van die billike verdeling van ruimtes nie, ruimtes waar uiteenlopende geskiedenisse wat vir gemeenskappe om verskillende redes belangrik is, gevier word. Terwyl die dig-verweefde sin vir diversiteit, soos onder die meeste burgers teenwoordig, sal berus by kulturele uitdrukking wat geskiedkundig sensitief dog regverdig is, en die hoop dra vir meer gemeenskappe om gelykwaardig dieselfde te mag doen, is die tentoonstelling van kultuur en geskiedenis vir die politieke elites wit teenoor swart: letterlik en figuurlik bedoel. Dig geweefde diversiteitsin vra van ons om 'n baie voller ruimte vir kulturele erkenning en vryheid te erken, en strook juis met hoe kulturele vryheid in die Grondwet saamgevat word, in Artikels 30 en 31 daarvan. Dit volg logies dat indien ons grondwetlik verbind is tot diversiteit en kulturele vryheid, maar ons staan enersyds oorheersingsdrange en andersyds segregasie en “afsonderlike ontwikkeling” teen, dan is al opsie wat oorbly dat ons neffens mekaar ons kultuurgemeenskapslewens vrylik, billik en gelykwaardig moet kan ontwikkel en geniet. Die gewone Suid-Afrikaner besef dit reeds, en daarom sien jy na 30 jaar nie massale streeksopstande wat Afrikaner-kulturele uitdrukkings aanval en vernietig nie. Wanneer dit gebeur, kan die skuld omtrent altyd voor die deur van politieke elites en hul getrouste handlangers gelê word.
'n Sin vir diversiteit en inklusiwiteit wat dun-geweef is met grondvlaklose ideologiese veronderstellings, is niks meer as 'n siniese magspeletjie deur plaaslike elites nie. Dit verbeter nie verhoudinge tussen gemeenskappe nie. Dit doen eerder afbreuk aan die dig-verweefde, organiese en veelvlakkige menseverhoudinge tussen Suid-Afrikaners wat reeds gevorm het, ten spyte van politieke verskille oor private hulpbronverdelings en hoe regstelling getakel kan word.
'n Jong dog dig-verweefde sin vir diversiteit en inklusiwiteit onder Suid-Afrikaners praat sagter, maar het meer impak. Ons moet dit koester, en die politieke elites eerder vasvat omdat hulle ons belastinggeld en ons kinders se toekoms roof.
Nog artikels deur Frederik van Dyk:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









