Boekbespreking | “Die Laaste Afrikanerleiers” deur Hermann Giliomee
Suid-Afrika se grondwetlike skikking verdien herbesinning.
Oor die Kersfeesvakansie het ek uiteindelik tyd gekry om 'n boek te lees wat al lankal stof op my rak versamel het: Die laaste Afrikanerleiers: ’n Opperste toets van mag deur prof. Hermann Giliomee. Die boek fokus op leierskap en die bydrae van vyf sleutelfigure uit die apartheid-era naamlik Hendrik Verwoerd, John Vorster, P.W. Botha, Frederik van Zyl Slabbert en F.W. de Klerk en neem die leser deur die politieke verhaal van apartheid se hoogtepunt tot by die onderhandelinge met die ANC tydens die Konvensie vir 'n Demokratiese Suid-Afrika (Kodesa) in die vroeë 1990’s.
Prof. Giliomee lê sterk klem op die rol van individuele leiers om 'n stelsel te regverdig, in stand te hou en later te probeer hervorm. Terselfdertyd kom daar duidelik na vore hoe hierdie leiers se denke en beleid gedwing is om aan te pas by veranderende realiteite: internasionale druk, ekonomiese krisisse, interne weerstand en demografiese verskuiwings. Hierdie dinamika stem sterk ooreen met Patrick Wolfe se konsep van die “logic of elimination” binne setlaarskolonialisme – 'n ideologie wat nie staties bly nie, maar homself voortdurend herkonfigureer om die projek se oorlewing te verseker wanneer nuwe uitdagings dit bedreig.
Die boek gaan in aansienlike diepte in op die uitdagings waarmee elke apartheidsleier te kampe gehad het, wie in hul binnekring was, en hoe hulle dit probeer aanpak het. Van die afdelings wat my die meeste aangegryp het, is die volgende:
Die Eiselen-verslag wat Verwoerd se denke oor Bantu-onderwys diep beïnvloed het. Dit blyk dat Verwoerd geweet het swart Suid-Afrikaners se intelligensie is nie minder as dié van wit mense nie. Ironies genoeg het die uitbreiding van swart onderwys (ten spyte van sy ernstige tekortkominge) juis meer opgevoede swart mense geskep wat later in opstand teen apartheid gekom het.
Die kort, maar treffende paragraaf oor Ben Schoeman, die enigste minister wat die skrapping van die kleurlinge se stem op die gemeenskaplike kiesersrol teengestaan het. Op elke oomblik as daar sulke besluite gemaak was, was daar tog iemand soos Schoeman wie skepties optree het.
Die verduideliking dat apartheid in baie opsigte 'n burokratiese mislukking uit die staanspoor was: beleide soos werkreservering en die registrasie van trekarbeiders was in die praktyk onuitvoerbaar. Teen die 1970’s het selfs die elite besef dat die tuislandbeleid, met sy hoë koste, volkome onekonomies was.
Mangosuthu Buthelezi (die enigste tuislandleier met werklike massasteun) se sleutelrol om apartheid te ondermyn deur onafhanklikheid vir KwaZulu te weier. Hy het boonop P.W. Botha begin aanpor om met Mandela te onderhandel. Ek dink hy kry vandag nog te min krediet vir hierdie bydrae.
P.W. Botha se hervormings en sy pogings om ná die Rubikon-toespraak ('n duidelike draaipunt) terug te keer na 'n harder handhawing van apartheidbeleid. Hy was 'n hervormer, maar nie iemand wat bereid was om ten volle van die apartheidsdogma af te sien nie. Die werklike impak van internasionale sanksies in sy tydwerk word ook nugter bespreek, en dit is baie minder verwoestend as wat dikwels beweer word.
F.W. de Klerk se ondermyning van die weermag en intelligensiedienste by die Kodesa onderhandeling. Dit het die NP onderhandelaars nie in staat gestel om die ANC se strategie behoorlik op te som nie,
F.W. de Klerk se vasklou aan “magsverdeling”, hoewel die Nasionale Party uiteindelik ingestem het tot 'n grondwet wat De Klerk se beoogde magsverdeling nie regtig weerspieël nie. Hy het ook afgewyk van sy 1992-referendum-beloftes dat hy nie meerderheidsregering sou aanvaar nie. Die oop vraag bly: was dit 'n vrywillige paradigma-skuif na liberale demokrasie, of pure omstandigheidsdruk?
Van Zyl Slabbert se morele verwerping van apartheid en sy latere eerlike erkenning dat die ANC tog wit liberale as “useful idiots” gebruik het.
Die afdelings oor die Kodesa-onderhandelinge, waar nóg die ANC nóg die Nasionale Party presies gekry het wat hulle wou hê. Baie praktiese kwessies, soos die integrasie van staatsdepartemente en regstellende aksie, is eenvoudig vir die volgende en latere regerings oorgelaat.
Dat die NP nooit regtig Afrikaans ernstig op die onderhandelingstafel verdedig het nie. Die ANC se oorspronklike voorstel (Afrikaans, Engels, Zulu en Tswana as amptelike tale) sou waarskynlik baie meer pragmaties gewees het as die uiteindelike lys van elf tale.
Prof. Giliomee se boek is vir my 'n goeie lees vir enigiemand wat die geskiedenis van apartheid wil verstaan. Soos hy self in die inleiding sê: 'n historikus hoef nie om verskoning te vra nie, maar hoef net te probeer verduidelik. Ek glo wel dat hy daarin slaag om sy objektiewiteit te behou, terwyl hy tog 'n nugtere en gebalanseerde analise gee oor hoe die stelsel uiteindelik tot sy val gekom het.
Soos hy in die inleiding skryf, is apartheid fundamenteel ondermyn deur vier ontwikkelinge wat niemand in 1948 kon voorsien nie:
Die swart bevolking sou van 1946 tot 1996 meer as verviervoudig het, terwyl die wit bevolking nie eers verdubbel het nie.
Die Tweede Wêreldoorlog en dekolonisasie het die tradisionele opvattings in die VSA en Europa oor wit oppergesag fundamenteel ondermyn.
Die Europese moondhede het tydens die Koue Oorlog, in hulle mededinging met die Sowjetunie, toenemend teen Suid-Afrika begin draai en hulle kant aan die kant van die Afrika-state gekies.
Die snelle ekonomiese groei in die 1960’s en 1970’s het vaardigheidstekorte veroorsaak wat net deur die opleiding van swart en bruin werkers aangevul sou kon word.
Ek glo mens moet hierdie vier ontwikkelinge dalk memoriseer, want dit lê ver weg van wat vandag in die politiek kwytgeraak word.
Persoonlike mening oor die Grondwet
Dit is nou al 32 jaar ná die 1994-verkiesing, en in retrospek het Suid-Afrika onder 'n demokratiese regering met ’n liberale grondwet beter gevaar as wat baie voorspel het. Dit is belangrik om tog dit te onthou te midde van baie van die doemprofete van daardie jare. Tog bly daar sekere tekortkominge wat reeds by Kodesa destyds geïdentifiseer is, maar nooit genoeg aandag gekry het nie.
As ek een of twee wysigings aan die grondwet kon voorstel, sal dit wees:
'n Grondwetlike klousule wat die amptelike insameling van rassestatistiek verbied, tesame met nog sterker onafhanklikheid vir die regbank. Dit sal dit moeiliker maak vir die ANC (of enige regering) om die grondwet ideologies te herinterpreteer en rassegebaseerde “transformasie” af te dwing.
Minder provinsies (met sterker federale magte aan die oorblywende provinsies toegeken). Reeds tydens Kodesa is gewaarsku dat Suid-Afrika nie die administratiewe kapasiteit het om meer as vyf provinsies doeltreffend te bestuur nie. Vandag se nege provinsies, waarvan baie min ekonomies bydra, is 'n groot bron van begrotingstekorte.
'n Herbesinning oor taalkwessies in die rigting van die ANC se oorspronklike, meer pragmatiese voorstel.
Die implementering van Frederik van Zyl Slabbert se voorstel (uit sy 2003 Electoral Task Team-verslag) vir 'n gemengde kiesstelsel. Dit sal politici meer direk verantwoordbaar maak aan kiesers in spesifieke areas, eerder as net aan partyhoofkwartiere. Waarskynlik is dit nie nodig om die Grondwet hiervoor te wysig nie, aangesien artikel 46(1)(d) slegs vereis dat die stelsel “in die algemeen proporsionele verteenwoordiging” moet verseker – dit kan deur wysiging van die Kieswet en verwante wetgewing bereik word, soos met die onlangse aanpassings vir onafhanklikes.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










