Politiek bo prestasie: Deel 1 | Athene en die prys van populisme
Die eerste in 'n reeks oor politieke onkunde ten koste van vooruitgang.
Staatsmislukking word dikwels aan die hand van eenvoudige verskynsels verklaar. Soms is dit 'n tekort aan hulpbronne, vaardighede of geleenthede, soms is daar bose magte anderkant die waters wat jou in wil doen, en soms is daar bonatuurlike magte wat jou net nie wil sien wen nie.
Maar die geskiedenis fluister egter, as jy mooi luister, iets baie meer onheilspellend: Baie samelewings wat stagneer, steier, of skielik stop, was eens baie goed geposisioneer om te floreer, om 'n goue generasie te beleef. Die nodige talent, handel, geografiese voordele, instellings en momentum was aanwesig, maar op deurslaggewende oomblikke het hul regeerders se tekort aan selfbeheersing en selfkennis daartoe gelei dat politiek in die pad van prestasie gekom. Dikwels was dit nie net prestasie nie, soms is vryheid en selfs voortbestaan opgeoffer.
In hierdie reeks van sewe meningstukke gaan ek na sewe sulke gevalle kyk waar leiers, onder watter naam ook al, politieke besluite gemaak het wat regstreeks in stryd met logika en met groei was. Die doel is nie noodwendig om vir of teen 'n bepaalde vorm van regering in die bresse te tree nie, maar eerder om 'n reeks geskiedkundige gevallestudies te ondersoek waar state (ook stadstate) na alle logiese en meetbare matrikse aan die begin van 'n bloeiperiode gestaan het, maar toe as regstreekse gevolg van onbeheersde politieke optrede gestagneer of geval het. 'n Mens wil natuurlik aanvoer dat hierdie onderwerp uit pure interessantheid aangespoor is, maar jy mag nie jok nie…
Elke aflewering ondersoek 'n bepaalde samelewing wat as’t ware by 'n kruispad gestaan het, maar die rigting wat die meeste ekonomiese sin sou maak, en wat die burgers se lewens werklik sou verbeter, nie gekies is nie, ten einde 'n rigting in te slaan wat 'n korttermynoorwinning vir 'n bepaalde faksie gegee het, 'n klein groepie se sakke gedien het, of een of ander utopiese onrealiteit realiteit sou maak. Die bedoeling is nie noodwendig net morele veroordeling of nostalgie nie, maar ook begrip. Waar leer ons beter as uit die lesse van die geskiedenis? Dit is ook nodig om op te merk dat onvermydelike agteruitgang nie hier ter sprake gaan kom nie - soms vlieg skepe teen jou sandduine op wat jy met jou beste pyl en boog nie kan deurboor nie - daarvoor kan politiek nie die skuld kry nie.
Hier gaan dit oor paaie wat opsetlik, en soos my regsgeleerde vriende sou sê, “met voorbedagte rade”, gekies is — so ook die wat nié gekies is nie. Die laaste aflewering sal na Suid-Afrika terugkeer en vra of hierdie geskiedkundige lesse dalk na ons huidige oomblik wys? Is ons grootste probleme dalk ons politiek?
Athene: Stad van wysbegeerte (en onwyse begeerte)
Ons begin waar demokrasie self die eerste keer werklik opgebloei het, en waar dit vir die eerste keer oor sy eie voete geval het.
Die antieke stadstaat van Athene bied een van die vroegste en duidelikste voorbeelde van politiek bo prestasie. Athene was nie bloot 'n demokrasie nie, dit was innoverend, filosofies, en kommersieel aan die woeker. Tog het daardie stad binne enkele dekades sy oorheersing vermors, nie noodwendig omdat demokrasie as sulks misluk het nie, maar eerder omdat dit hoe langer hoe meer onder die indruk van populisme gekom het — in so 'n mate dat Atheners later begin dink het dat die twee verskynsels dalk dieselfde is.
In die vyfde eeu v.C. was Athene die middelpunt van die Griekssprekende wêreld. Die oorwinning oor Persiese magte het militêre daadkrag bewys. Samewerking met bure soos Sparta was nadese op 'n hoogtepunt, en handel het floreer. Benewens 'n magtige vloot, uitgebreide handelsnetwerke en inkomste uit silwermyne, was die stad ook die tuiste van die groot denkers, wat beteken het dat jong leiers van oral na Athene gekom het om kultuur in te drink en as ingeligte heersers na hul ryke terug te keer. Die politieke stelsel van die dag — 'n tipe regstreekse demokrasie vir manlike burgers wat ons nie noodwendig meer vandag ken nie — het breë deelname moontlik gemaak en 'n ongewoon oop ingesteldheid tot debat en intellektuele eksperimentering bevorder.
Benewens politiek, filosofie en tasbare mag, was die ekonomie hoogs effektief vir sy tyd, met handel en entrepreneurskap wat rykdom en weelde 'n realistiese moontlikheid gemaak het vir enigiemand met 'n bietjie woema. Saamgevat het al hierdie faktore meer as net stabiliteit en vooruitgang getoon, dit het volhoubaarheid uitgestraal.
Sekerlik sou die gemiddelde Athener teen die jaar 430 v.C. aan sy olyf verstik as jy vir hom voorspel het hoe kort sy stad se bloeityd werklik gaan wees.
Van groot toekoms na groot geraas
Die les wat ons uit Athene leer is dalk bowenal die les van instellings. Omdat besluite regstreeks deur die Volksvergadering geneem is, omdat daar geen tussen-instellings was nie, het leiers mag verkry deur die onmiddelike oorreding van groot skares. Die goeie spreker, die demagoog wat die mense opstook en sy lyfwag se spies in die lug rondswaai of 'n paar pyle in die rigting van die dak loslaat, wat tasbare en onmiddellike voordele beloof, het dikwels ten koste van opgeleide en ervare leiers aan stuur van sake beland.
Die beste voorbeeld hiervan is die katastrofiese Sisiliaanse Ekspedisie van 415 v.C. Alkibiades, 'n uiters charismatiese jong leier, belowe allerlei blink dinge aan almal wat bereid is om te luister, indien Athene bereid sou wees om Sisilië binne te val. Die ouer, baie meer ervare Nikias bring versigtigheid, realisme en die risiko’s van so 'n Sisiliaanse Ekspedisie te berde, maar hy kan die skare nie op dieselfde wyse as Alkibiades oortuig nie. Laasgenoemde speel doelbewus op die emosies, eergevoel en begeerte van die burgers in. Hy het 'n visie van rykdom, roem en Atheense oorheersing geskilder, so kompleet asof dit 'n gedane saak is, en enige teenstand as lafhartigheid of gebrek aan patriotisme afgemaak. Hierdie demagogie (waar persoonlike ambisie as staatsbelang vermom is) het die massas blind gemaak vir die ooglopende logistieke realiteite en strategiese gevare. Ek het hierbo opgemerk dat instellings hierdie verskynsel sou kon beredder, en dit is dalk so, maar dit maak die gevaar van populisme vermom as die besluit van die massas nie minder gevaarlik in 'n tyd van sodanige instellings nie. Miskien is die groter les dat 'n bevolking hom nie aan die neus moet laat lei nie. Onafhanklike, kritiese denkers. Dit is wat elke samelewing kort.
Hoe dit ook al sy, tussen 415 en 413 v.C. het Athene in Sisilië slae gekry. Siekte, uitputting, swak toevoerlyne en verlore seegevegte het Athene se mag gebreek, en uiteindelik is die hele leër vernietig of gevange geneem. Hierdie rampspoedige nederlaag het Athene se militêre en morele krag ernstig verswak en 'n keerpunt in die Peloponnesiese Oorlog veroorsaak. Athene was nooit weer dieselfde nie, en in 404 v.C. het Athene aan Sparta oorgegee.
Athene het nie afgebrand en onder stof begrawe geraak nie, maar sy politieke en ekonomiese trajek is permanent verander. Die geleentheid vir volgehoue leierskap is verlore. Die tragedie was nie slegs agteruitgang nie, maar die verlies aan wat kon wees.
'n Demokrasie met ankers en fondamente
Ek het altyd van die Fabels van Esopus gehou omdat daar aan die einde 'n toepaslike les is. As beloning vir jou leesmoeite, kry jy nou 'n kennisknolletjie om in die tuin van jou menswees te plant. So wat leer ons by die val van Athene?
Demokrasie, met al sy skete en foute, kan lei tot institusionele kreatiwiteit, deelname en innovasie, juis omdat elke stem tel. Die les van Athene lê myns insiens eerder in wat gebeur as demokrasie gekaap word, en dan veral deur die populistiese belofte van onrealistiese onmiddellike voordele. Sulke beloftes, omdat hulle onrealisties is, sal noodwendig afbrekend van kundigheid en ervaring sê dat dit outyds, verstok en verstar is, maar daardie ou stemme het hulle plek. Wanneer kundigheid afgeskryf word, en wanneer institusionele remme swak is, of summier weggesmyt word, sal besluitneming noodwendig sy langtermynperspektief verloor.
Dit is nie 'n uitsluitlik antieke probleem nie. Dit is 'n strukturele een. Demokrasieë het instellings nodig wat besluite vertraag, minderhede beskerm, en die vermoë van tydelike meerderhede beperk om onherroeplike skade aan te rig. Athene het baie van hierdie buffers nie gehad nie. Daar was geen onafhanklike fiskale gesag, geen grondwetlike hof, geen professionele staatsdiens wat teen politieke inmenging beskerm is nie. Wanneer openbare mening verander het, het beleid saam daarmee verander, vinnig en dikwels roekeloos.
Athene se les is miskien baie op die neus, juis omdat die grootste foute dikwels eerste gemaak word. Goeie bedoelings en populêre legitimiteit is nie genoeg om langtermyn generasionele vooruitgang te verseker nie. Groei berus op voorspelbaarheid, herhaling, selfbeheersing en instellings wat langtermyn aansporings beskerm teen korttermyn politieke druk.
Waar die fokus vandag op 'n demagoog se misleiding was, val die volgende aflewering op Rome, waar 'n selfdienende elite en 'n administratief onbegonne ryk aan die beurt kom.
Nog artikels deur Paul Maritz:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










