Bokkieweek, Die lied van jong Suid-Afrika en Eitemal
Wanneer geskiedenis plek maak vir politieke etikette.
Op 11 Julie publiseer News24 'n artikel waarin drie joernaliste hul bes probeer om die pas afgelope Bokkieweek swart te smeer. So bietjie meer as 23 jaar gelede het dié mediahuis 'n soortgelyke artikel geplaas, maar hierdie keer het hulle hulself oortref. Die strekking van die artikel is dat elke waardige organisasie of individu in die land hierdie sportbyeenkoms verwerp het en dat dit slegs 'n handjievol vêrregses is wat aanhou om die Suid-Afrikaanse reënboogsukses uit te daag deur jaarliks hiermee voort te gaan. Boonop is die skool waar dit plaasgevind het vernoem na Hans Strijdom en hy was premier tydens die apartheidsjare – so, dit móét 'n rassistiese toernooi wees. Of so lui News24 se logika.
Verskeie nugter stemme het al op die artikel gereageer en uitgewys dat News24 se dawerende stilte oor ander kultuureie byeenkomste waarskynlik daarop dui dat hulle eerder net hul mes in het vir Afrikaners as vir sporttoernooie wat eksklusief tot 'n bepaalde taal-, kultuur- of geloofsgroep is.
Daar is egter nog een ooglopende onwaarheid in News24 se artikel wat 'n effense deegliker antwoord vereis: Sommer in die tweede sin beweer News24 dat “die apartheidslied” (the apartheid anthem) by die Bokkieweek se opening gesing is, met verwysing na Die lied van jong Suid-Afrika. Hierdie onsinnige idee dat Die lied van jong Suid-Afrika “die apartheidslied” is, is deur Panyaza Lesufi herhaal en het selfs sy weg gevind tot in 'n parlementêre persverklaring. Vir enigeen met 'n basiese kennis van Suid-Afrikaanse geskiedenis, behoort dit nie eens nodig te wees om te verduidelik waarom hierdie stelling verkeerd is nie, maar aangesien dié gerug al so ver gevorder het, is dit die moeite werd om 'n paar feite te stel.
Eerstens het apartheid nie 'n lied gehad nie. Die Stem van Suid-Afrika was van 1957 tot 1994 Suid-Afrika se volkslied en sedert 1997 is 'n aangepaste weergawe van Nkosi Sikelel’ iAfrika Suid-Afrika se volkslied. Om te sê Die Stem was “die apartheidslied”, is soos om te sê Nkosi Sikelel’ iAfrika is “die transformasielied”. 'n Land het 'n volkslied; 'n politieke beleid het nie een nie.
Tweedens was Die lied van jong Suid-Afrika nooit Suid-Afrika se volkslied nie. Voor 11 Julie 2026 het byna niemand ook gedink dat dit ooit was nie.
Derdens gaan die inhoud van Die lied van jong Suid-Afrika glad nie oor apartheid nie. Ek sal News24 die voordeel van die twyfel gee deur te aanvaar hulle het “apartheid anthem” eintlik figuurlik bedoel – om te verwys na enige lied wat apartheid ophemel. Selfs dán kwalifiseer Die lied van jong Suid-Afrika nie as “apartheidslied” nie. Linkse joernaliste en politici het die gewoonte ontwikkel om alles wat voor 1994 in Suid-Afrika gebeur het, in een groot apartheidsmenger te dompel. Voor '94 was daar apartheid en dis al wat jy hoef te weet. Afrikaners het hulle van die môre tot die aand besig gehou met apartheid, en hulle het oor niks anders gepraat, geskryf of gesing nie. Enige kulturele artefak van voor '94 kan beskryf word deur net die voorvoegsel “apartheid-” vooraan te voeg. Ek het nuus vir News24 (woordspel doelbewus): Die lied van jong Suid-Afrika hoort nie in daardie apartheidsmenger nie.
So wat is Die lied van jong Suid-Afrika en waaroor gaan dit? Dis 'n volksliedjie wat gaan oor Afrikanerskap en Afrikaners se verbintenis aan Suid-Afrika. Dis geskryf deur die digter Eitemal en is die eerste maal in 1937 in die FAK se Volksangbundel opgeneem. Dit bevat geen verwysing na ras, velkleur, “swart gevaar” of afsonderlike ontwikkeling nie. (Gaan soek gerus self die lirieke.)
News24 sal op hierdie punt terugkap en sê dat daar dalk nie woordelikse verwysing na apartheid in die lied is nie, maar dat dit steeds subtiele ondertone van apartheid bevat of dat die digter 'n apartheidsmentaliteit gehad het. Selfs hieroor is hulle verkeerd. 'n Vinnige kykie na Eitemal se lewe sal dit bevestig.
Wilhelm Jacobus du Plooy Erlank, wat later as Eitemal sou bekend word, is in die middel van die Anglo-Boereoorlog gebore. Toe hy sewe maande oud is, word hul plaashuis afgebrand en word hy saam met sy ma op 'n oop treintrok na die konsentrasiekamp in Pietermaritzburg vervoer. In die kamp sterf talle klein kindertjies aan 'n maagsiekte, maar sy ma kon hom aan die lewe hou deur onwettige sop in te smokkel by die kamp. Die begin van sy lewe getuig dus nie juis van bevoorregting op grond van ras nie.
In 1919 word hy vir ses weke geskors van die Transvaalse Universiteitskollege, omdat hy 'n Britse vlag wat op die kampus gehys was, afgehaal en verbrand het. Hy het dit aanvanklik ongesiens gedoen, maar toe 'n Engelse professor daarvan bewus raak dat die vlag verwyder is en 'n uitdaging rig aan die “hooligan” wat dit gedoen het om hom te kom spreek, het hy gegaan en die professor onbeskaamd vertel dat dit hy was.
Tydens die Tweede Wêreldoorlog was Eitemal gekant teen Suid-Afrika se deelname en is hy selfs in hegtenis geneem vir neerhalende opmerkings wat hy skynbaar teenoor Geallieerde soldate gemaak het. Terwyl hy as verhoorafwagtende in die Pretoria Sentrale Gevangenis aangehou is, het hy verse van Die lied van jong Suid-Afrika teen die mure uitgekrap.
Eitemal se Afrikanerskap word dus uitgeleef teenoor Britse antagonisme. Sy hele lewe getuig daarvan dat hy waarskynlik Die lied van jong Suid-Afrika as jong man teen hierdie agtergrond geskryf het. Hy was beslis nie op soek na versoening tussen die blanke volke (soos apartheid vereis het) om swart mense uit te sluit nie. Enigeen is vry om te beoordeel of hy sou saamstem met alles wat Eitemal geglo het, maar “apartheid-” is gewis nie die manier om sy politieke sieninge te beskryf nie.
Laastens, News24: as Die lied van jong Suid-Afrika waarlik “die apartheidslied” is, waarom sou Nataniël 'n opname daarvan maak?
Louis Boshoff is woordvoerder van AfriForum Jeug. Hy het self twee maal aan die Bokkieweek deelgeneem.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










