Die Grondwet skep 'n Onderwyskrisis
Oorvol klaskamers en nuwe denke oor basiese onderwys.
Protesaksies deur leerders in Kraaifontein het skielik onvoorsiene spanning in die toepassing van die Grondwet op die voorgrond geplaas. Volgens Artikel 29 (1) van die grondwet het elkeen die reg op basiese onderwys. Dit sluit alle inwoners in. Burgers, sowel as immigrante. Die kinders van wettige immigrante asook die van onwettige immigrante. Hierdie beginsel word verder ingeskerp deur die Skolewet wat vereis dat “elke ouer elke leerder vir wie hy of sy verantwoordelik is 'n skool laat bywoon”.
Die probleem is egter dat die grondwetlike en wetlike plig al hoe moeiliker uitvoerbaar raak in 'n openbare skoolstelsel wat onder ernstige geldelike, administratiewe en kapasiteitsdruk verkeer.
Die Grondwet is geskryf in 'n tyd toe onderwys hoofsaaklik as 'n institusionele aktiwiteit beskou is. Volgens Artikel 29(2) het elkeen die reg om onderwys te ontvang in openbare onderwysinstellings, en Artikel 29(3) gee aan elkeen die reg om onafhanklike onderwysinstellings te vestig en te bedryf. Daar is nie eksplisiete voorsiening vir onderwys buite instellings soos bv. aanlynonderwys, tuisonderwys of ander gedesentraliseerde vorme van onderwys nie.
Die Druk Laai Op
Die kostes om onderwys aan 'n kind in 'n openbare skool te verskaf, beloop ongeveer R25 000 per jaar. Volgens 'n mediavrystelling van minister Gwarube in Januarie 2026 is daar ongeveer 250 000 buitelandse leerders in openbare skole. Dit kos die belastingbetaler dus ongeveer R6 miljard.
Soos die skuldlas van die staat groei en die belastingbasis krimp, verloor die staat die vermoë om die reg op basiese onderwys te verwesenlik. Die openbare skoolstelsel het reeds te min kapasiteit. Daar is nie genoeg skole nie, bestaande skole raak oorvol en nie alle kinders kry plek nie. In 2026 het daar boonop berigte verskyn dat sommige onderwysdepartemente sukkel om bestaande skole se rekeninge en salarisse te betaal.
Hierdie druk op die stelsel skep toenemende spanning in gemeenskappe. Wanneer Suid-Afrikaanse kinders nie plek in openbare skole kan kry nie, terwyl ongeveer 250 000 buitelandse leerders reeds in die stelsel geakkommodeer word, word die tekort aan skoolplekke en befondsing sigbaar vir die algemene publiek. In Mei 2026 het leerders van skole in Kraaifontein byvoorbeeld ‘n protesaksie geloods en geëis dat buitelandse leerders openbare skole en die land moet verlaat. Die protes wys hoe 'n kapasiteitskrisis in onderwys maklik in sosiale konflik kan omskakel. Waarskynklik 'n situasie wat die skrywers van die Grondwet nie voorsien het nie.
Buiten grootskaalse deportasies, is ‘n meer haalbare oplossing vir hierdie tameletjie om onderwys buite openbare instellings meer toeganklik te maak. Alternatiewe onderwys vorme kan bekostigbaar wees vir selfs die armstes vir verskeie redes.
Eerstens benodig dit nie die bou van skole nie. Dit kan in bestaande infrastruktuur soos residensiële eiendomme, kerke en gemeenskapsentrums bedryf word. Tweedens benodig dit nie groot hoeveelhede geregistreerde onderwysers in fisiese lokale nie, aangesien aanlynplatforms die werk van enkele goed gekwalifiseerde onderwysers beskikbaar stel aan baie meer leerders as wat in ‘n gewone klaskamer moontlik is. Derdens is hierdie modelle meer aanpasbaar en kan beter ingerig word volgens die behoeftes van individuele kinders sonder dat elke behoefte noodwendig ‘n aparte gespesialiseerde skool vereis.
Ongelukkig het die staat die laaste tyd alternatiewe onderwys moeiliker gemaak, veral met die invoering van die BELA wet.
Alternatiewe opvoedingsdenke is Onwelkom
Ten spyte van verskeie oproepe aan parlement is geen voorsiening in die wet gemaak vir aanlynonderwys nie. Ten spyte van oorweldigende kritiek teen die wysigings van artikel 51 van die Skolewet, is die registrasievereistes vir tuisonderwys strenger gemaak. Ten spyte van die groei van 'n verskeidenheid klein en meer informele leersentrums, is die vereistes om as 'n onafhanklike skool te registreer moeiliker gemaak deur die straf vir die bedryf van 'n ongeregistreerde onafhanklike skool te verhoog.
Die algemene beleidsrigting om onafhanklike onderwys te beperk en moeilik te maak is nie slegs ANC beleid nie. Dit strek oor partygrense heen en kan nie opgelos word deur 'n verkiesing of regering van nasionale eenheid nie. Dit gaan 'n onderwyskrisis vereis vir die staat om van rigting te verander. Soos wat vlak 6 beurtkrag die deure oopgemaak het vir onafhanklike kragvoorsiening, kan 'n krisis in onderwys dalk die deure oopmaak vir bekostigbare onafhanklike onderwys.
Die protesaksies in Kraaifontein kan 'n vroeë waarskuwing wees dat druk op die onderwysstelsel toenemend in sosiale konflik omsit. Die staat kan op hierdie krisis reageer deur meer ruimte te skep vir alternatiewe onderwys.
Eerstens kan die Nasionale Onderwysraad geherstruktureer word om wesenlike verteenwoordiging van aanlynonderwys, informele leersentrums, tuisonderwys en onafhanklike skole in te sluit. So 'n raad kan beleid voorstel wat onderwys buite openbare skole meer toeganklik en bekostigbaar maak, ook vir die armste gemeenskappe.
Tweedens kan omsendbriewe wat onnodige beperkings op die gebruik van aanlynonderwys plaas, teruggetrek word.
Derdens kan daar 'n moratorium geplaas word op die vervolging van ouers wie se kinders nie geregistreer is vir tuisonderwys nie.
Vierdens kan daar ook 'n moratorium geplaas word op persone of gemeenskappe wat onafhanklike onderwysinstellings bedryf wat tans nie binne die bestaande registrasiestelsel kan registreer nie.
Die Grondwet het 'n onderwyskrisis geskep. Op sy beurt kan hierdie krisis deure oopmaak vir 'n nuwe bedeling waarin meer onderwysvorme erken word en onderwysvryheid prakties uitgebrei word.
Nog artikels deur Bouwe van der Eems:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











Skitterend, Bouwe. Ek sal selfs nog verder wil gaan as wat jy voorstel, want ek vertrou nóg hierdie regering, nóg enige toekomstige een. Behalwe dat dit vir ewig sal duur ás hulle oortuig kan word om die sinvolle aanpassings en regstellings te maak wat jy aanbeveel, sal regerings omtrent altyd beheer wil behou oor ons kinders se "hearts and minds". Ek hoef nie die redes uit te spel nie.
Die huidige onderwysstelsel is uitgedien en argaïes. Daar is nie ’n manier waarop burokrasieë tred kan hou met die spoed waarteen kennis beskikbaar word en die maniere waarop dit aangewend kan word nie. KI het die hele speelveld op sy kop omgedraai. Die ontwikkeling is eksponensieel en onmoontlik om deur burokrate beheer te word. Al wat leerders nodig het, is internet en ouerlike toestemming, om in die regte rigting gewys te word, en basiese ouerlike of tutoriale toesig — wat ook elektronies gehanteer kan word. Die kinders sal verder (meestal) self hulle pad vind, want hulle word met tablet-rekenaars groot voordat hulle nog hul bababedjies ontgroei het!
Die hele formele, regeringsgoedgekeurde kwalifikasiesertifikate, soos ons dit tans ken, is vinnig besig om irrelevant te word. Dit maak die regering ook grootliks irrelevant, behalwe om Elon se Starlink-aanbod te aanvaar sonder om "kickbacks" te probeer kry — iets wat Elon geregverdiglik weier — sodat die internet bykans universeel toeganklik is.
Ek is van mening dat die regering dus wel omseil kán word en omseil móét word, vir ons kinders en die vooruitgang van ons samelewing se onthalwe. In sektore waar ekonomiese/finansiële groei, produktiwiteit en innovasie van belang is, is bewese vaardighede die sleutel tot indiensname. Ek verstaan dat sekere ondernemings nie eens meer belangstel om sertifikate van kwalifikasies te sien soos ons dit ken nie. Hulle wil selfs op intreevlak sien of bepaal of ’n kandidaat sekere take kan verrig en byvoorbeeld KI bemeester het — of nog beter — alreeds sy of haar eie suksesvolle "startup" begin het op 18-jarige ouderdom...
Daar tans 11 voorstelle vir veranderings van die grondwet is by die portefeulje komitee vir grondwetlike hersiening. Van hierdie voorstelle word vermeld: "Several submissions also questioned whether constitutional rights such as healthcare, housing and education should be reserved more explicitly for citizens." https://pmg.org.za/committee-meeting/43236/