Die musiekblyspel Ons vir jou, geïnspireer deur Bok van Blerk se debuutalbum van 20 jaar gelede, het reeds met sy eerste vertoning in 2008 opslae gemaak. Die 2026-produksie van hierdie ikoniese verhaal oortref alle verwagtinge.
Die verhaal, wat tydens die Tweede Vryheidsoorlog afspeel, roer van die eerste oomblik af die patriotiese hartsnare. Reeds in die openingstoneel laat die bulderende mansstemme in die lied Staan op! 'n mens behoorlik hoendervleis kry. Die invloed van oorlog op die lewens van alledaagse mense word indringend uitgebeeld, met die jong liefdesverhaal tussen Adaan en Mariaan as emosionele fokuspunt. Liefde vir jou land, romantiese liefde en hoop smelt saam in Adaan se woorde aan Mariaan: “Ek veg nie net vir ’n vrye land nie, maar vir jou, vir ons toekoms saam.”
Dit is nie bloot 'n oorlogsverhaal nie, maar 'n verhaal van liefde, verlies, opoffering, lojaliteit en identiteit. Die vyand, wat soos 'n reus voor die volk staan, word vergelyk met die bybelse Goliat, en die vraag ontstaan: Wie sal ons Dawid wees? Generaal de la Rey bied uiteindelik die antwoord: “Dawid is in die hart van elke mens wat opstaan teen onreg en onderdrukking.”
Hierdeur word hierdie geskiedkundige verhaal ook relevant in vandag se konteks. Onderdrukking, verlies en soeke na identiteit vorm deel van elke mens se persoonlike oorlog, en net soos vir die Boere van daardie tyd, is dit geloof en vertroue wat rigting gee in moeilike tye. Die sukses van hierdie musiekblyspel rus nie net op die inspirerende teks van Sean Else en Deon Opperman nie, maar ook op uitstekende toneelspel, regie, musiek en beligtingsontwerp wat die geskiedenis lewendig en persoonlik maak. Dit is besonder gepas dat Bok van Blerk self die rol van generaal Koos de la Rey vertolk en die musiek van sy debuutalbum tot lewe bring.
Die emosionele, opregte vertolking en betowerende sangstem van Anika de Beer in die rol van Mariaan is ook genoeg om 'n mens opnuut in liefde te laat glo. Verder bring Christopher Branders die temas van onskuld en ontnugtering op 'n besonderse wyse in sy rol as Kleinboet na vore. Die musiek is ongetwyfeld die hoogtepunt van hierdie produksie – van patriotiese oproepe tot aksie tot ballades wat 'n knop in die keel laat. Die choreografie is eenvoudig, tog treffend en gepas – van die trippelende Engelsman tot die rigiede, trotse bewegings van die Afrikaners.
Alhoewel die stel eenvoudig is, word dit effektief aangewend om die gestroopte werklikheid van die Afrikanervolk en die oorlogsomstandighede uit te beeld. Die beligtingsontwerp dra verder by tot die skep van 'n atmosfeer wat elke toneel versterk.
Al die elemente van teater kom op 'n besonder indrukwekkende wyse saam in die slottoneel van die eerste bedryf, waar beligting, klankeffekte, sang en spel die gehoor as’t ware in die middel van die oorlog plaas.
Die produksie sal jou laat lag, laat huil, jou hare laat rys en jou bors laat swel van Afrikaner-trots. Selfs al is jy nie 'n liefhebber van geskiedenis nie, dwing dit die kyker om na te dink oor die verlede – waar ons vandaan kom, en waarheen ons op pad is.
Ons vir jou is 'n treffende produksie wat daarin slaag om die gehoor van begin tot einde te boei en 'n mens inspireer om saam met generaal De la Rey op te staan en te sê: “Skiet my deur my Afrikanerhart, want ek sal weer opstaan.”
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










