Suid-Afrika het nie 'n “Redder-President” nodig nie
Die ANC se kruipsosialisme kniehalter ware ekonomiese vooruitgang.
Die Konfederasie van Afrikasokker-president en sakeman Patrice Motsepe het onlangs voortdurende spekulasie oor sy politieke ambisies aangespreek toe hy bevestig het dat hy nie die politiek sal betree nie. Tydens 'n jaarlikse fondsinsamelingsfunksie het hy gesê hy hoef nie president te word om 'n positiewe bydrae tot die Suid-Afrikaanse samelewing te maak nie.
Ek stem saam met News24 se Qaanitah Hunter dat dit waarskynlik 'n strategiese skuif van Motsepe is, gegewe die huidige politieke omstandighede. Maar dit is nie die fokus van hierdie stuk nie. Wat my méér bekommer, is die mense wat vir Motsepe al as Suid-Afrika se volgende potensiële “redder” beskou, bloot omdat hy in die sakewêreld suksesvol is.
Dis mense wat nie uit Ramaphosa se geval wil leer nie, en ook nie die dieper probleem binne die ANC en die land as geheel verstaan nie.
Die onderliggende probleem
Die probleem in Suid-Afrika is nie een spesifieke individu nie, soos baie mense tydens die Zuma-jare geglo het.
Die probleem is die ANC se groot ideologiese projek van kruipsgewyse sosialisme, wat 'n stelsel gebaar het wat die status quo beskerm, korrupsie aanmoedig en werklike ekonomiese groei versmoor. Dit beteken nie dat individuele etiese mislukkings nie saak maak nie, maar dit beteken wel dat die stelsel waarin hulle werk die dieper bron van disfunksie is, en dat hul mislukkings dikwels net simptome daarvan is.
Dit beteken ook nie individue het geen agentskap nie, maar wel dat die stelsel hul agentskap dramaties beperk.
Baie van die korrupsie en wanbesteding in staatsinstellings gedurende die Zuma-era het nie regstreeks van Zuma persoonlik gekom nie. Dit het voortgekom uit 'n openbare verkrygingstelsel wat SEB-nakomingspunte bo kostedoeltreffendheid beloon. 'n Stelsel wat bepaal dat jou SEB-telling swaarder weeg as jou vermoë om gehalte goedere teen 'n laer prys te verskaf. Dit is hierdie stelsel wat dit vir die Guptas moontlik gemaak het om die staat vir miljoene te melk via entiteite soos Eskom.
Suid-Afrika se ekonomiese afname kan ook nie uitsluitlik aan Zuma toegeskryf word nie. Dit moet eerder toegeskryf word aan 'n ideologie wat 'n “ontwikkelingstaat” vereer, wat die private sektor onderdruk en miljarde rand mors. Geld wat elders doeltreffend en opbouend gebruik kon word.
Die perke van leierskap
Thabo Mbeki het ten minste die resep vir ekonomiese groei verstaan, maar sy vermoë om werklik betekenisvolle verandering teweeg te bring is altyd gekortwiek deur 'n stelsel wat enorme mag aan die ANC se alliansievennote, die SAKP en COSATU gee. Hy kon aan die begroting torring, 'n paar staatsinstellings herstruktureer en handel gedeeltelik liberaliseer, maar hy sou nooit die ondoeltreffende staat kon afskaal nie. Dit is trouens 'n staatsbestel waarvan hy self die fondament help lê het.
Hy sou ook nooit in staat gewees het om betekenisvolle markgesentreerde hervormings te dryf, soos die hersiening van arbeidswetgewing nie. Die alliansievennote, wat hom ná GEAR reeds verafsku het, sou dit onmiddellik verhoed. Sy eie denke en magte as president het vir hom 'n mate van beweegruimte gegee, maar die stelsel het hom uiteindelik tot 'n vaste trajek beperk.
Dit is dieselfde stelsel wat Motsepe sou moes betree. 'n Stelsel gebou op 'n oordrewe groot staat wat vyandig is teenoor die private sektor en dit slegs waardeer vir die belastinginkomste en verwante voordele wat dit bring. Indien hy sou besluit om wel vir die presidentskap mee te ding, sal hy geen betekenisvolle verandering kan bring nie. Trouens, ware verandering sal vereis dat hy 'n stelsel konfronteer wat ook tot sy eie sukses bygedra het. Dit is 'n bykans onmoontlike taak.
Verder as die ANC
Wat dalk nóg meer ontstellend is, is dat die probleem nie tot die ANC beperk is nie. Verskeie ander linksgesinde opposisiepartye, selfs met hul verskillende leiers, sou steeds min of meer dieselfde stelsel behou, selfs terwyl hulle van hervorming en “beter leierskap” praat.
Hoewel hulle nie met COSATU of die SAKP hoef te worstel nie, sal hul ideologiese grondslag steeds die opgeblaasde staat en die reeks regulasies en beleide wat die ekonomie skade aandoen, behou.
Hulle kan die begroting effens aanpas, probeer om onderwys te hervorm en die kabinet 'n bietjie verklein, maar hulle sal steeds vassteek in die denke wat 'n massiewe, te betrokke staat bevoordeel. Hulle sal steeds SEB in plek hou, en ander rasgebaseerde wette ook. Uiteindelik is hul grootste “aanbod” net 'n nuwe stel persoonlikhede wat beweer hulle is meer bevoeg en eties.
Die noodsaaklikheid van strukturele hervorming
Personlikhede maak tot 'n mate saak, maar die werklike oplossing is die hervorming van die stelsel self. Verder noodsaak werklike verander die verbreking van die linkse ideologiese konsensus van die post-apartheid-era. Die ideologie wat beleid vorm en die staat se rol definieer, moet radikaal verander as werklike vooruitgang gemaak wil word en herhalende krisisse vermy wil word.
Die opgeblaasde staat moet verklein, skadelike ekonomiese beleide moet afgeskaf word, en buitensporige regulasies moet verwyder word. Handel moet geliberaliseer word en die private sektor moet ruimte kry om ekonomiese groei en werkskepping te dryf. Sistemiese hervormings in hierdie aar is nie net noodsaaklik vir ekonomiese vooruitgang nie. Dit is ook noodsaaklik om die korrupsie te bestry wat onvermydelik voortspruit uit beleide soos SEB en uit 'n massiewe staat wat individue ongekontroleerde toegang tot staatshulpbronne gee.
Ek wil beklemtoon dat leierskap belangrik is. Maar die stelsel waarbinne dit funksioneer, is net so belangrik. As leierskap eg en werklik effektief wil wees, moet dit daardie stelsel konfronteer en hervorm. As dit net die persoon aan die hoof wil verander sonder om dapper besluite te neem, kan dit nie die oplossing wees nie. Dit is 'n belangrike punt in 'n land waar baie mense steeds deur persoonlikhede aangetrek word. Hul individuele vaardighede en talente maak saak, maar hul ideologiese grondslag maak méér saak. Hul bereidwilligheid om gevestigde belange uit te daag en koers te verander, is belangriker as ou beloftes van minder korrupsie en meer bekwaamheid.
Terwyl ons 'n tydperk van politieke onsekerheid betree, moet ons dit onthou. Persoonlikhede alleen gaan nie ons probleme oplos nie. Ons moet ook omgee vir idees, die idees waarop hul regering uiteindelik gaan rus.
Ayanda Sakhile Zulu het 'n BSocSci in Politieke Wetenskappe aan die Universiteit van Pretoria en is 'n leerklerk by die Vryemarkstigting. Hierdie artikel word met vergunning van The Rational Standard vertaal en herplaas.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











