Suid-Afrika het 'n nuwe kiesstelsel nodig
Wat Gulliver en sy reise ons oor die politiek kan leer.
Een van die vreugdes van ouerskap is om weer ou kinderstories en verhale te lees.
Ek het al vergeet van Klein Duimpie se pa wat sy kinders bos toe lei, omdat die gesin se kos op is en gelukkig is daar bessies in die bos (ek is wel nie seker hoekom hulle nie net die bessies pluk en terugvat huis toe nie). Of van Nils Holgersson, die stout seuntjie wat in 'n kabouter verander word en op die rug van 'n wilde gans oor die lengte van Swede vlieg. Die boek was oorspronklik deur Selma Lagerlöf geskryf as 'n aardrykskunde-handboek vir Sweedse skoolkinders.
Alhoewel dit nie meer soos vroeër op elke kinderboekrak staan nie, was Jonathan Swift se bekende verhaal Gulliver’s Travels vir lank 'n hoeksteen van Westerse kinderliteratuur. Ek het die boek onlangs teen spotgoedkoop vir my seuntjie gekoop. Maar min mense besef dat Swift eintlik die verhaal as politieke satire geskryf het.
Die verhaal gaan oor Lemuel Gulliver, 'n avontuurlustige Engelsman wat na 'n reeks vreemde en verre lande reis, elk bewoon deur ongewone wesens wat verskillende aspekte van die menslike natuur en samelewing weerspieël. In Lilliput ontmoet hy klein mense wat besig is met nietige politieke twiste. In Brobdingnag is hy 'n klein man tussen reuse wat tipies Europese gebruike kritiseer. In Laputa ontmoet hy onpraktiese intellektueles wat heeltemal van die werklikheid ontkoppel is, en in die land van die Houyhnhnms vind hy rasionele perde wat in vrede saamleef met wilde, mensagtige wesens genaamd Yahoos.
Soos Gulliver in Lilliput gesien het, kan 'n klomp slim mense met slim planne hulself só verstrengel in prosedures, komitees en kompromieë dat niemand meer weet wie eintlik iets doen nie of wie vir die mislukking aanspreeklik is nie. Soos die mense van Lilliput in Gulliver’s Travels is die Suid-Afrikaanse regering besig, woelig en ingewikkeld. Maar niemand neem werklik verantwoordelikheid nie. Suid-Afrika se proporsionele verteenwoordigingsmodel is veronderstel om elke stem te laat tel, maar het in werklikheid die band tussen kieser en verteenwoordiger laat verdwyn. Politici is nie aan gemeenskappe gebonde nie, maar aan partylyste. Gevolglik vervaag hul gesigte in die kollektiewe “ons” van partypolitiek.
Die tekort aan aanspreeklikheid wat in Lilliput gevind word, is vir Suid-Afrikaners ongelukkig te bekend. Dus glo ek dat Suid-Afrika binne ons leeftyd die toue van ons kiesstelsel gaan breek en 'n stelsel bou waar mag terugkeer na waar dit hoort, naamlik by die burgers self.
Huidige kiesstelsel sukkel
Selfs onder ingeligte Suid-Afrikaners, mense met universiteitsgrade, professionele loopbane en 'n gesonde belangstelling in politiek, is daar 'n ontstellende onkunde oor hoe ons eie kies- en regeerstelsel werk.
Dit verstom my byvoorbeeld hoeveel mede-regspraktisyns, mense wat staatsreg moes slaag om hul graad te kry, steeds nie weet hoe die Nasionale Raad van Provinsies saamgestel of verkies word nie of wat die verskil tussen 'n kategorie A-, B- of C-munisipaliteit is, of watter funksies aan elkeen behoort nie. As selfs diegene wat die stelsel as universiteitsvak moes bestudeer het, nie die stelsel verstaan nie (dalk sê dit ook iets oor die gehalte van ons LLB-grade), hoe kan ons verwag dat gewone burgers hul verteenwoordigers tot verantwoording sal roep? 'n Stelsel wat reeds ingewikkeld is, word sodoende 'n doolhof waarin mag skuil, en waarin aanspreeklikheid verlore raak.
'n Mens moet uit die staanspoor erken dat geen kiesstelsel perfek is nie. Die Amerikaanse skrywer Thomas Sowell herinner ons dat daar geen “oplossings” is nie, net afwegings en wisselwerkings. In Suid-Afrika beteken dit ons moet eerlik kies watter afwegings ons bereid is om te maak gegewe ons meervoudige kultuursamestelling, ons nasionale selfverhaal (of mythos), en die stadium van ons ontwikkeling in 'n mededingende wêreldekonomie. 'n Kiesstelsel kan nie gelyktydig maksimum verteenwoordiging, maksimum aanspreeklikheid, maksimum stabiliteit én maksimum reageerbaarheid oplewer nie.
Meer proporsionaliteit koop regverdigheid vir kleiner stemme, maar dikwels teen die prys van duidelike aanspreeklikheid en besluitvaardigheid. Kleiner kiesafdelings versterk die band tussen verteenwoordiger en kieser, maar kan nasionale proporsionaliteit verswak. Skerp uitvoerbaarheidsfokus kan besluitneming versnel, maar minder inklusief wees.
Die kernvraag is dus nie “watter stelsel is perfek?” nie, maar watter kombinasie van afwegings en wisselwerkings weerspieël ons waardes en praktyk en spreek tot Suid-Afrika se huidige behoeftes.
Belangrike leeswerk
Donald L. Horowitz wys in Ethnic Groups in Conflict daarop dat lys-gebaseerde proporsionele verteenwoordiging in verdeelde samelewings dikwels die teenoorgestelde effek het van wat dit beoog.
In plaas daarvan om nasionale eenheid te bevorder, versterk dit etniese of groepsgebaseerde partye en dryf dit politieke onderhandelinge in 'n nul-somstryd, waar elke groep probeer om soveel moontlik vir homself te wen. Suid-Afrika is geen uitsondering nie: ons parlement weerspieël toenemend verskansde groepsbelange eerder as gedeelde nasionale doelwitte en op 'n unieke Suid-Afrikaanse manier, is dit tot nadeel van almal. Horowitz bepleit verkiesingstelsels wat kruisgroepondersteuning aanmoedig, waar kandidate moet steun werf buite hul eie etniese of politieke “stam” om verkies te word.
Carey en Hix wys in hul invloedryke artikel “The Electoral Sweet Spot” (2011) daarop dat daar 'n breekpunt bestaan waar verteenwoordiging en aanspreeklikheid mekaar begin teenwerk. Hulle toon aan dat hoe groter die kiesafdelings — of hoe hoër die proporsionaliteit van 'n stelsel — hoe swakker word die regstreekse aanspreeklikheid van verteenwoordigers teenoor kiesers. In hoëskaalstelsels, soos Suid-Afrika waar die hele land basies een reuse-kiesafdeling vorm, verdwyn die persoonlike band tussen verteenwoordiger en gemeenskap heeltemal. Carey en Hix stel 'n middelweg voor: kleiner kiesafdelings binne 'n proporsionele raamwerk wat beide regverdigheid en aanspreeklikheid bevorder. Vir Suid-Afrika sou só 'n “sweet spot” beteken dat die voordele van proporsionaliteit behou word, maar dat verteenwoordigers weer in werklike gemeenskappe ingebed word — waar hulle geken, gesien en verantwoordbaar gehou kan word.
Gemengde-lede proporsionele verteenwoordigingstelsel
Suid-Afrika hét trouens al 'n mengstelsel wat hierdie balans beoog. Op plaaslike regeringsvlak stem die kieser in een helfte vir wyksverteenwoordigers (wyke of “wards”) en in die ander helfte vir partye op proporsionele lyste. By die stembus met die volgende plaaslike regeringsverkiesing gaan elke kieser dus ten minste twee stembriewe ontvang: een om 'n wykskandidaat regstreeks te kies, en een vir die politieke party van hul keuse. In gebiede met tweevlak-plaaslike regerings, waar daar streeks- en distrikmunisipaliteite bestaan, kry kiesers 'n derde stembrief, waarmee hulle hul verteenwoordiging op distriksvlak bepaal. Oor hierdie sinnelose duplisering sal ek myself in 'n volgende stuk uitspreek.
Die stelsel is 'n verstaanbare, konkrete skakeling tussen verteenwoordiger en buurt, sonder om kleiner partye heeltemal uit te sluit. Op nasionale en provinsiale vlak bestaan hierdie regstreekse skakeling nie. Selfs met die onlangse wysiging dat onafhanklike kandidate nou vir die Nasionale Vergadering en provinsiale wetgewers kan staan, bly die stelsel oorwegend geslote en partygesentreerd. Kiesers stem steeds in die praktyk vir partye eerder as persone, en daar is geen vaste geografiese of gemeenskapsband tussen 'n verteenwoordiger en die mense wat vir hom of haar gestem het nie. En tans is die grootste mag steeds op nasionale vlak gesetel. Met ander woorde, die politici wat die meeste kan bereik is die minste aanspreeklik teenoor die kieser.
Dit behoort ons dus nie te verras nie dat lank voor die 2024 regering van nasionale eenheid (RNE) en regerings van provinsiale eenheid, ons dinamiese (soms woelige) koalisie-politiek op plaaslike vlak beleef het, te danke aan plaaslike verkiesings se meer dinamiese stelsel. Dink aan Kaapstad in 2006, toe breër alliansies gevorm en Helen Zille tot burgemeester verkies is. Of aan Tshwane, Johannesburg en Nelson Mandelabaai ná 2016. Omdat die plaaslike stelsel nader aan Carey en Hix se “sweet spot” lê, het ons vroeër meer dinamiese politiek op plaaslike vlak gesien as op nasionale of provinsiale vlak.
Mense weet wie hul raadslid is, want hulle is dikwels op dieselfde gemeenskaps-WhatsAppgroep, saam in die kerk of het kinders in dieselfde skool. Belangriker nog, hulle ry deur dieselfde slaggate, sukkel met dieselfde water- en kragonderbrekings, en sien dieselfde onkruid in die park. Wanneer dinge skeefloop, het die gemeenskap 'n naam en 'n nommer om te bel, 'n persoon wat werk by die stad, wie regstreeks kan opvolg en 'n rekord het van wat belowe en wat gelewer is. Dít is die soort nabye aanspreeklikheid wat 'n stelsel skep wanneer verteenwoordiging konkreet en plaaslik is. Dit is wat eenvoudig nie bestaan waar verteenwoordigers net op 'n geslote partylys bestaan nie.
Die plaaslike koalisies het natuurlik vele uitdagings gehad (ons weet almal van die koalisiekwale in onder meer Johannesburg sedert 2016). 'n Nuwe kiesstelsel op nasionale en provinsiale vlak is natuurlik ook nie 'n towerstaffie wat al ons probleme net gaan oplos nie. Suid-Afrika benodig 'n kultuur van aanspreeklikheid. Selfs met hierdie meer regstreekse model vir aanspreeklikheid op plaaslike vlak, sien ons hoe munisipaliteite in duie stort en plaaslike regerings in hul plig om dienste te lewer misluk. Maar hierdie kwale spruit uit faktore wat weinig met die kiesstelsel te doen het. Dit is hoofsaaklik die gevolg van kaderontplooiing, versmorende burokratiese en nakomingsvereistes wat daadwerklike bestuur verlam, en strukturele afhanklikhede van nasionale en provinsiale regerings vir kernfunksies soos elektrisiteits- en watervoorsiening, openbare vervoer en ekonomiese beleid. Wanneer dié nasionale stelsels self misluk, stort plaaslike administrasies daarmee saam ineen.
Ons grootste aanspreeklikheidsvakuum by munisipaliteite sit egter heel bo, waar die belangrikste besluite oor beleid, begrotings en aanstellings geneem word. Die geslote lysstelsel beteken dat die partyhoofkantoor belangriker is as die kieser, en dat lojaliteit opwaarts beloon word, eerder as dienslewering na onder. 'n Gemengde stelsel kan daardie dinamika omkeer. Dit skuif die persoonlike aansporing: 'n verteenwoordiger moet nie net sy party behaag nie, maar ook 'n herkenbare kiesersgemeenskap. Só 'n stelsel vervang nie professionele kapasiteit of goeie bestuur nie, maar dit verhoog die prys van mislukking vir individuele politici, die een ding wat ons huidige, suiwer proporsionele model op nasionale en provinsiale vlak byna glad nie het nie.
'n Kiesstelsel wat meer aanspreeklikheid toelaat gaan hopelik bydra tot die kweek van die kultuur van aanspreeklikheid wat Suid-Afrika nodig het. As ons dus die lesse van plaaslike regering na provinsiale en nasionale vlakke vertaal, kan Suid-Afrika 'n eenvoudiger, verstaanbare en meer aanspreeklike demokratiese stelsel bou.
'n Nuwe kiesstelsel op beide nasionale en provinsiale vlakke is dus nie nie 'n towerstaffie nie, maar wel 'n beter hefboom. Suid-Afrika kan die Lilliput-toue wat ons vashou breek.
Nog artikels op deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











