Vir 'n man van 42 het Nyiko Floyd Shivambu, wat hierdie week die stigting van sy nuwe party, die Afrika Mayibuye Movement, aangekondig het, 'n buitengewoon lang politieke CV.
Hiermee bedoel ek nie noodwendig sy politieke prestasies nie, maar eerder die hoeveelheid partye op sy kerfstok, of eerder, die hoeveelheid partye wat hom op hul kerfstok het. Na 'n debuut by die ANC het Shivambu die wyse sprong saam met sy mede-jeugligalid Julius Malema geneem en die EFF in 2013 op die been gebring. By die ANC sou Shivambu altyd betreklik onder op die lys gewees het, en teen 2013 was die skrif reeds aan die muur vir die ANC: die komende twee dekades sou sonder enige twyfel afsteek by die vorige twee, en die jeug was in die bui vir iets vars op hul stembriewe.
Alhoewel die EFF Shivambu nooit in 'n posisie van staatsmag geplaas het nie, was die party veral suksesvol in sy kritiek op Jacob Zuma. Min veldtogte was al so suksesvol soos die EFF se "Pay back the Money" poging, en die gate wat die rooi brigade in die ANC-damwal gesteek het is oënskynlik nooit regtig ten volle gelap nie. Waar die ANC ondanks groot foute steeds na 20 jaar van demokrasie as die party van Mandela en die bevryders van Suid-Afrika in die buiteland geken is, is die konsensus nou na die derde dekade dat die ANC 'n front geword het waaragter 'n klein groepie mense hul politieke mag misbruik om staatsbates en staatsrykdom na hul eie sakke en koffers te kanaliseer. Vir hul konstante en oorverdowende aandrang op terugbetaling van hierdie geld sal die EFF, en dus Shivambu, hul plekkie in die anale van hierdie lappie aarde kry en behou. Hul aanblaas van konflik tussen rasse en die wyse waarop haatspraak nie net aangewend is nie, maar verdedig is, sal wel daartoe lei dat EFF-kiesers hul kruisies in die toekoms verloën, daaroor het ek min twyfel. Of jou munt nou op kop of op stert land met betrekking tot die rooi oorpakke, Shivambu was 'n sentrale figuur in hierdie deel van die EFF se verhaal.
Teen Augustus 2024 het die EFF-gedeelte van Shivambu se verhaal egter tot 'n einde gekom. Nadat die EFF van 2019 se bykans 11% hoogtepunt af teruggesak het na net oor die 9,5% in die 2024 Nasionale Verkiesing, het Shivambu besluit om die momentum te volg en sy pad na Nkandla te vind, daardie einste Nkandla wat hy in 'n vorige hoofstuk so heelhartig en lekkerbekkig uitgejou het.
Aan die einde van 2024 is dit aangekondig dat Shivambu as die MK Party se sekretaris-generaal aangestel is, maar nadat hy venynige verskille met Oudpresident Zuma se dogter Duduzile opgetel het is Shivambu se loopbaan by MK skielik in Junie 2025 kortgeknip.
Uiteindelik alleen: Mayibuye na wat?
Shivambu het reeds in Junie vanjaar beloof om na die politieke verhoog terug te keer. Hy sou nasionale gesprekke voer en hoor watter tipe politieke beweging Suid-Afrika soek, alvorens hy sy verskyning sou maak.
Hierdie week het daardie onderneming uiteindelik vrug gedra, in die vorm van die nuwe Afrika Mayibuye Movement. Mayibuye dui in Zoeloe op 'n terugkeer; vir Shivambu is daar dus iets fout met die huidige rigting van Suid-Afrika, en ons moet na iets anders terugkeer. Die sleutelvraag is dan uiteindelik waarheen Shivambu wil terugkeer. Wil hy terugkeer na 2015, toe EFF-styl populisme geheers het? Wil hy terugkeer na 1993 tot 1995 toe die Grondwet onderhandel is, en 'n paar klousules uitruk en plattrap? Of wil hy terugkeer na 5 April 1652?
'n Uittreksel uit Shivambu se partymanifes is vandeesweek op Politicsweb geplaas onder die opskrif The White Question en ongelukkig maak hierdie uittreksel duidelik dat die laasgenoemde datum dalk in Shivambu se agterkop mag wees. In hierdie uittreksel, wat paragrawe 62 tot 69 van die manifes uitmaak, stel Shivambu sy party se houding teenoor en benadering tot witmense in Suid-Afrika klinkklaar en kristalhelder. Die hele dokument is die lees werd, maar hier sal veral op drie aanhalings gefokus word:
"Almost all white people in South Africa are descendants of colonial settlers who stole South Africa’s land and wealth"
asook
"the collective psyche and approach of white people to the all-inclusive dispensation illustrate that they collectively have not faith and confidence in political parties, sporting activities and teams, businesses and any other thing that is led by or predominated by black people"
en laastens
"White racism, embedded in apartheid’s legacy, continues through economic disparities and subtle discrimination, denying blacks full participation in society."
Die dokument wat Shivambu en sy kamerade opgestel het sal so lank as wat hierdie party bestaan die vormede en rigtinggewende basis vir hul ideologie wees. Die wêreldbeskouing waarop hulle dit bou, is dus uiters belangrik. Hoe ons oor die wêreld om ons dink veroorsaak wat ons dink fout is daarmee, en dus watter probleme ons op moet los. Vir Shivambu is dit wat in Suid-Afrika gebeur het eenvoudig saam te vat in die woord diefstal. Daar is so baie fout met hierdie stelling, foute wat oor dekades heen deur baie meer begaafde sprekers en skrywers as ekself uitgewys is, maar diefstal was dit eenvoudig nie. Hierdie dokument laat dit so amper klink asof hier 'n funksionele republiek van die Limpopo tot teen die Kaap was, en asof Jan en sy matrose dit oornag verower het. So histories en feitelik verkeerd as wat dit mag wees is hierdie realiteit die realiteit wat hierdie Mayibuye-party versprei, wat aan jeugligas geleer sal word, en waarmee wêreldbeskouings gevorm sal word.
Om dit wat jou omring sinies te betrag is die eerste stap na 'n vrot siel, dit glo ek vas, daarom onderdruk ek die siniese opmerking waarmee ek die tweede aanhaling hier bo aanvanklik begroet het. "The collective psyche and approach of white people" - asof so 'n monolitiese en oudmodiese veralgemening al ooit tot sinvolle gesprek gelei het. Die inhoud daarvan is ook eenvoudig nie waar nie. Die ondersteuning wat onder andere Mmusi Maimane en Siya Kolisi onder die wit bevolking gekry het en in die geval van Kolisi steeds kry is meetbare en tasbare bewysstukke wat direk teen Shivambu se Apartheidslense inskreeu. Wat besigheid betref is Shivambu net so kortsigtig. Ek sukkel om aan een mens te dink wat sy of haar Standerdbankrekening gesluit het toe Sim Tshabalala as Groepshoof aangestel is, maar ek ken heelwat witmense wat intussen 'n rekening daar oopgemaak het, of 'n verband daar uitgeneem het. 'n Onmiddelike gevolgtrekking moet dan wees dat Shivambu nie eerlik is nie, of nie ingelig is nie. Beide opsies is seker moontlik, alhoewel die meer siniese opsie sekerlik eersgenoemde is.
Met betrekking tot Shivambu en die Mayibuye-party se idee dat swartmense volle toegang en deelname aan die land en gemeenskap geweier word, kan ek eerlikwaar net hande in die lug slaan. Die minister van onderwys is swart, die minister van finansies is swart, die president is swart, die Bokke se loskopstut en die Proteas se aanvangsboulers is almal swart. Waar presies is hierdie subtiele rassisme waarvan gepraat word? Dit is genoeg om mens moedeloos te maak. Kruip die sistematiese rassisme dan êrens weg dat ons dit almal so alewig miskyk? Moedeloos maak dit mens veral omdat Shivambu elf jaar oud was toe Apartheid tot 'n einde gekom het. Heelwat van die mees onderdrukkende wette is reeds voor sy geboorte nie meer afgedwing nie, en hy was persoonlik die getuie van meer as drie dekades van 'n land wat onlangs baie noue ontkomings 'n kronkelpad na vrede begin uitkap het. Ja dit is 'n plek van diversiteit en verskillende kulture, so sou dit onder alle omstandighede gewees het, maar diversiteit is nie rassisme nie. Is ons nie verby hierdie goedkoop politieke punte nie? Is ons nie op die punt waar 'n jong leier wat 'n nuwe rigting inslaan uiteindelik werklik 'n nuwe rigting kan inslaan nie?
Die aanvanklike reaksies op Shivambu se party is dat daar te veel by die EFF afgekyk is. Die wapen lyk basies dieselfde, en die idees klink maar al te eenders. Teen daardie agtergrond kan mens sekerlik dieselfde kurwe verwag: Groei, aangevuur deur 'n krisis, aangeblaas deur 'n charismatiese leier, wat na 'n paar groot vlamme uitbrand tot 'n hoop ideeloosheid, omdat die wêreldbeskouing wat in die 1980’s hoort nie antwoorde op vandag se probleme het nie. Dit is daardie groot vlamme waarvoor ek versigtig is, hulle vat ons terug, hulle jaag belegging en talent weg.
In diens van eerlikheid moet 'n vierde aanhaling tog geplaas word:
"We acknowledge that a larger section of the white population in South Africa know of no other home except South Africa, having been born and raised here across generations, which binds them to this land as much as any other group."
Nou goed, hierdie sinnetjie lyk soos 'n olyftakkie van Shivambu se kant af, maar dit is werklik? Hoogswaarskynlik is dit 'n maklike agterdeur wat strategies tydens verhore of onderhoude opgehaal kan word as simbool van vredeliewendheid. Hoe kan jy 'n paar sinne gelede beweer het dat bykans alle witmense deelwas van een of ander massiewe landkaping, en nou bak jy mooi broodjies oor hoe ons ook hier hoort? Ekself het byvoorbeeld nie die goedkeuring van enigiemand nodig om my huis my huis te noem nie. Ek doen dit sommer omdat dit so is.
Samevatting: Teleurgesteld
Shivambu, vir so min as wat ek vermoed ons vir mekaar te sê het, het 'n sterk gevolg, en politieke ervaring wat min van sy portuurgroep ooit sal hê. Hy kon beter gedoen het. Hy kon sy rassebril afhaal, sy EFF keppie afhaal, en vra wat Suid-Afrika werklik nodig het. Wat hy gedoen het is om ou idees anders te verwoord en dit as nuwe idees te probeer verkoop. Die gevolg is dat Mayibuye êrens tussen MK en die EFF gaan lê, en vir daardie stemme gaan kompeteer, en dit is moeilik om te verstaan waarom mense in hul massas gaan wegdraai van karakters soos Zuma en Malema bloot vir Shivambu se persoonlikheid. Vir nuwe idees en 'n vars visie sou hulle dit dalk oorweeg het, maar van sulke dinge is daar, ten minste tot dus ver, maar weinig.
Nog artikels deur Paul Maritz:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.