Struktuur en kultuur: Universiteite raak die pad byster
Hervormers van eietydse dogmatiese universiteitswese sal diep moet delf.
Universiteite voel al hoe minder soos plekke waar vrye debat, deeglike argumentasie en breë leer belangrik is. Hulle voel eerder rigied, dogmaties, en agterdogtig teenoor enige vorm van debat of meningsverskil. So wat het gebeur?
Twee onlangse stukke – “How Business Metrics Broke the University” deur Hollis Robbins en “Contra Critical Theory” deur Dan Williams – bied waardevolle insigte in hierdie verband. Robbins fokus op die struktuurveranderings aan universiteite, terwyl Williams die akademiese kultuur ontleed wat binne daardie nuwe strukture posgevat het. Saam beskou bied hulle 'n verklaring van hoe presies ons in dié situasie beland het.
Hierdie stuk is 'n samevatting van hul twee benaderings – Robbins oor struktuur, Williams oor kultuur.
Die Struktuur het Verander
Aldus Robbins het universiteite die afgelope twee dekades stelselmatig ontwikkel tot wat Christopher Rufo beskryf as “mega-komplekse”. Robbins meen dat dit nie toevallig was nie. Dit was die gevolg van besluite op die hoogste vlak oor hoe universiteite bestuur moet word.
Die bekendste voorbeeld, sê Robbins, is Michael Crow van Arizona State University, wat sedert 2002 die idee van 'n “New American University” bevorder. Robbins skryf dat die model daarop gemik is om tradisionele fakulteitsgrense af te breek, impak bo tradisie te stel, en studente as die nuwe spilpunt van die universiteit te posisioneer. Soos Crow self gesê het:
We have been transformed from a faculty-centric institution to a student-centric institution.
Hierdie verskuiwing, sê Robbins, het die akademiese kern verswak. Departemente het hul gesag verloor, vakrigtings is saamgevoeg, en senior akademici is weggestoot. Die ou model, waar departemente hulself bestuur en jong akademici mentorskap ontvang het, is vervang deur 'n sentralistiese administrasie wat prestasie meet aan inskrywingsyfers, studentebehoud en sogenaamde “impak”.
Robbins voer aan dat die ingeboude remme wat eens akademiese oordrewendheid in toom gehou het – soos kollegiale beoordeling en interne debat – verruil is vir 'n stelsel wat sigbaarheid en opspraakwekkendheid bo inhoud en nadenke stel.
Die Kultuur wat die Leemte vul
Met die ou strukture afgebreek, het 'n nuwe kultuur begin wortelskiet. Dan Williams maak duidelik watter soort kultuur hierdie gaping gevul het as hy beskryf hoe die geesteswetenskappe ontwikkel het tot 'n sogenaamde “prestige ekonomie”, waar akademici om aansien meeding deur nuwe en oorspronklike maniere te vind om Westerse samelewings te kritiseer. Hy skryf:
The academics who get credit for producing the best new ideas win social recognition, certified by things like large citation counts, big audiences, prestigious talk invitations, and publications in impressive journals.
Hierdie benadering tot die akademie is nie net kultureel beloon nie. Williams wys hoe Kritiese Teorie se woordeskat – terme soos skade, gelykheid, sistemiese onderdrukking en transformasie – maklik oorgedra kon word na die taal van institusionele strategie. Begrippe kon gemeet, gemoniteer en ingesluit word in strategiese doelstellings en diversiteitsouditverslae. Hulle het op groter skaal soos 'n handskoen gepas in groot, komplekse instellings.
Hoekom dit so goed gepas het
Al was hierdie aanpassing nie doelbewus nie, is dit nie heeltemal verrassend nie. Robbins wys hoe gesentraliseerde universiteitsmodelle die tradisionele teenwigte verswak het. As 'n mens op haar ontleding voortbou, sien jy hoe 'n omgewing geskep is waarin sekere soorte navorsing, vernaam kritiese teorie, 'n natuurlike voordeel gehad het, amper soos 'n intellektuele “oorlewing van die sterkste”.
Soos Robbins verduidelik, het departementele selfbestuur begin verbrokkel en daarmee saam ook die informele netwerke wat eens ekstreme idees in toom gehou het. Sy skryf:
Senior faculty mentored junior colleagues, shaped curriculum development, and maintained academic standards through collective governance. This system wasn’t perfect, but it organically created constraints on ideological extremes.
Met daardie meganismes uit die weg geruim, het nuwe aansporings oorgeneem. Akademici wat opspraak veroorsaak, protes gelei of hulself sterk vereenselwig het met aktivisme het begin floreer, want hulle werk het betrokkenheid, sigbaarheid en inskrywings by die universiteite bevorder.
Hoe het dit gewerk? Toe universiteite begin het om konsepte soos “studentesukses” en “gemeenskapsimpak” te meet (soos Robbins bespreek), het dit aansporings geskep wat sekere tipes navorsing bevoordeel het. 'n Hipotetiese artikel oor “mikro-aggressie in STEM-onderrig” sou byvoorbeeld maklik inpas in diversiteitsinisiatiewe, programme oplewer wat meetbaar is, en sigbare resultate lewer. 'n Artikel oor Middeleeuse poësie sou nie.
Wat Williams die “prestige ekonomie” noem, het opgebloei omdat dit, soos hy verduidelik, perfek in lyn was met hierdie strukturele aansporings. Kritiese teorie, wat reeds 'n sterk retoriese instrument was, het administratiewelik bruikbaar geword. Dit is nie van bo af afgedwing nie, maar eerder gekies weens institusionele druk wat idees bevoordeel wat oor fakulteite heen werk.
Wat ons verloor het
Robbins wys daarop dat die ou stelsel sy gebreke gehad het. Dit was dikwels hiërargies, 'n old boys-klub en traag om te verander, maar dit het tog meganismes van “wrywing” ingesluit soos gesprekvoering, ewekniebeoordeling en informele mentorskap. Dit was belangrike teenwigte in opposisie met ideologiese oordrywing en ekstreme idees.
Soos wat sy dokumenteer, het daardie teenwigte begin wegval toe universiteite oorgeskuif het na bestuurder-geleide stelsels in die akademie. Die ruimte vir volgehoue meningsverskille het gekrimp toe departemente ontbind is en akademici oor interdissiplinêre strukture versprei is. Baie senior akademici het eenvoudig onttrek, skryf Robbins, moeg om te baklei teen 'n burokratiese stelsel wat blokkie-tikkery eerder as akademiese oordeel beloon.
Die uitkoms was nie net politieke eenvormigheid nie, maar wat Robbins noem “intellektuele vernouing.” As die stelsel net een tipe navorsing beloon, verdwyn ander nie deur sensuur nie, maar bloot omdat hulle nie meer inpas nie. Akademici wat deeglike, nie-politiese of heterodokse werk doen, het hulself buite die hoofstroom aansporings bevind.
Sy voer aan dat die ou akademiese kultuur ruimte gebied het vir wat sy noem “organiese beperkinge”, synde die soort professionele oordeel en ewekniedruk wat ekstreme neigings getemper het. Die nuwe stelsel het daardie natuurlike grense verwyder en dit vervang met aanwysers wat ideologiese intensiteit beloon.
Meganismes van verandering
Die belangrikste insig uit beide Robbins en Williams se skryfstukke is dat hierdie verandering nie beplan was nie. Dit was bloot die gevolg van nuwe aansporings.
Soos Williams noem, beloon die akademiese wêreld werk wat aandag trek en impak toon. Gekoppel met Robbins se strukturele ontleding, word dit duidelik dat toe universiteite hulself herstruktureer het rondom sigbaarheid, behoud en grootskaalse kommunikasie, het hulle 'n ekostelsel geskep waarin kritiese teorie kon floreer, nie omdat dit noodwendig korrek was nie, maar omdat dit goed ingepas het by die behoeftes van die instellings.
Dit help verklaar die skielike kultuurskuif wat Williams uitwys. Dit was nie ’n gekoördineerde veldtog of vyandige oorneming nie. Dit was 'n aanpasbare reaksie op veranderde omgewingsfaktore. Die idees wat versprei het, was dié wat die beste aangepas was vir die nuwe landskap van sentrale administrasie en prestasiegedrewe beoordeling.
In biologiese terme het die institusionele omgewing sekere eienskappe bevoordeel soos skaalbaarheid, meetbaarheid en morele dringendheid, terwyl dit ander ontmoedig het, soos nuansering, tradisie en stadige kennisopbou. Die gevolg was 'n verskuiwing in die intellektuele ekostelsel.
Robbins en Williams beklemtoon elk 'n ander aspek van die verskuiwing. Robbins verduidelik hoe die strukture geval het en Williams wys hoe 'n nuwe kultuur daardie vakuum gevul het. Die sleutelvraag is hoekom het sekere idees binne die nuwe stelsel floreer, terwyl ander verdof het?
Die deurslaggewende insig wat hul ontledings verbind, is dat sommige idees bloot beter pas binne moderne hoër opvoedingstelsels. Hulle gebruik administratiewe taal, lewer meetbare resultate en projekteer morele dringendheid wat hulle besonder aantreklik maak vir gesentraliseerde burokrasieë.
Dit wys hoe universiteite sonder om dit noodwendig te beplan het, begin vorm gee het aan watter stemme gehoor word, en watter idees oorleef.
Die diepgaande pad na herstel
Die teenwigte het gebreek toe universiteite hulself herorganiseer het rondom besigheidstyl-aanwysers en sentrale beheer. Wat daardie vakuum gevul het, was nie toevallig nie, dit was net die tipe navorsing wat daardie nuwe strukture beloon het.
Om dié proses te verstaan is belangrik, want dit wys dat hervorming nie sal kom deur bloot 'n paar onkonvensionele akademici aan te stel of die diversiteitsbeleid te verander nie. Dit vra 'n herbesinning van die onderliggende aansporings en 'n heropbou van die toestande wat eens intellektuele balans, stadige denke en ware debat moontlik gemaak het.
Dit beteken nie ons moet terugkeer na 'n verbeelde goue era nie. Die ou stelsel het ook belangrike stemme uitgesluit. Maar dit beteken ons moet herontdek wat wérk, naamlik desentralisasie, ewekniebeoordeling, en gereelde, persoonlike interaksie wat op 'n natuurlike manier ekstreme idees in toom hou terwyl ruimte vir opregte meningsverskil bewaar word.
Soos Robbins afsluit:
The structures that once encouraged scholarly rigor and intellectual diversity must be restored.
Universiteitskulture het nie net spontaan verander nie. Die onderbou wat verskeidenheid moontlik gemaak het, is stelselmatig afgebreek. As ons iets beter wil bou, moet ons 'n nuwe onderbou skep, een wat dieper denke bo geraas beloon, waarheid bo tendense, en die geduldige soektog na insig bo die vinnige beloning van ideologiese opvoerigheid.
Die pad vorentoe begin by die insig dat idees nie in 'n vakuum slaag of faal nie. Hulle floreer of verdwyn binne institusionele raamwerke. Verander die raamwerk en jy verander wat vorentoe groei.
Eddie Gunn is 'n Amerikaanse opvoeder.
Hierdie artikel is met die vergunning van die skrywer na Afrikaans vertaal.
Nog artikels op OntLaer:
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.