Charlie Kirk en sy Kultuurmandaat
Waarom opstaan vir jou oortuigings belangrik is.
Die dood eis om oor gerou te word. Daarom mag 'n openbare dood soos dié van Charlie Kirk selfs harte tot so ver as Suid-Afrika aanroer.
Charlie Kirk was 'n broer in Christus, man, pa van twee en konserwatiewe politiese aktivis wat nie geweet het wat “terugstaan” beteken nie. Hy het self gesê dat as hy vir enige iets na sy dood onthou kan word, dit sy dapperheid in geloof moet wees. Wanneer mens na sy lewe kyk, is daar ook geen ander manier om hom te onthou nie.
Die “kultuurmandaat” is 'n konsep wat diep in die Afrikaner se denke vervleg is. Hierdie konsep beklemtoon die opdrag wat die Here aan Adam gegee het om te bewoon, bewerk en bewaar. Christene het die verantwoordelikheid om dit wat onder ons sorg geplaas is te onderwerp vir Christus. Ons het die opdrag om die heerlikheid van God uit te bou in die omgewing waar ons geplaas is nes Adam die heerlikheid van die tuin van Eden moes uitbou deur aan te plant en vir die diere name te gee. Die kultuurmandaat is net 'n groot woord wat ons herinner dat ons regtig op 'n praktiese vlak tasbaar moet bou vir die koninkryk van God.
Charlie Kirk was dalk nie 'n Afrikaner nie, maar hy het beslis die kultuurmandaat verstaan en aktief gewerk aan die uitbou van God se koninkryk in sy omgewing. Op 18-jarige ouderdom het hy die waaghalsige besluit geneem om nie te gaan studeer nie, maar om eerder die politiek te betree. In 2012 het hy die nie-winsgewende organisasie Turning Point USA (TPUSA) gestig, wat sedertdien nog nie opgehou groei het nie. TPUSA het vandag invloed by meer as 3500 skole en universiteite. Charlie Kirk het 'n missie gehad om jeug op te voed oor vryheid, vrye markte en beperkte regering. Die grootste doelstelling van TPUSA is om vryheid te bevorder. Dit mag dalk nie uit die staanspoor soos 'n Christelike missie klink nie, maar Charlie Kirk het geweet watter raamwerk 'n Christelike samelewing nodig het om te floreer en hy het aktief gewerk om dit tot stand te bring.
Vir ons is die stryd immers nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geeste in die hemelruim. Neem daarom die volle wapenrusting van God op, sodat julle op die dag van onheil weerstand kan bied en, nadat julle alles uitgevoer het, staande kan bly, lui Efesiërs 6:12-13. Om oorwinnaars in Christus te kan wees beteken dat daar iets is wat oorwin moet word. As Christene word ons ook opgeroep om nie net bystanders te wees nie, maar om ons wapenrusting aan te trek en aan die stryd deel te neem. Mens word gou in ons moderne wêreld geflous om te dink dat daar nie 'n oorlog is nie. Tog as mens net 'n klein bietjie onder die oppervlak kyk, is die geestelike oorlog wat woed baie duidelik sigbaar.
Charlie Kirk het nie vir een oomblik vergeet dat daar 'n oorlog is wat woed nie. Hy het sy wapenrusting aangetrek en waardig tot die stryd toegetree. Dit is sigbaar in die manier hoe hy nie net vir goeie beleid geveg het nie, maar ook vir die jeug van Amerika se siele. Hy het gebou aan 'n wêreld waar Christelike deugde kan seëvier deur die politieke invloed wat hy het nie net te gebruik nie, maar deurlopend ook uit te brei. Charlie Kirk was 'n baken van waarheid, geregtigheid en goeie deugde.
Meeste Suid-Afrikaners sou al die frase “protes as katalisator vir verandering” gehoor het. Dit is 'n gedagtelyn wat ontstaan in uiterste moedeloosheid en wanhoop. 'n Laaste halmpie waarna gegryp word deur mense wat vasgevang voel in omstandighede en glo dat hulle stemme net nie gehoor word nie. Dit was die gedagte wat die Soweto Opstande van 1976 aangedryf het en sedertdien in Suid-Afrika standaard praktyk geword het. Dit net om uit te wys dat dit nie onbekend is vir groot dele van 'n samelewing om ontevrede te wees nie.
Regdeur die geskiedenis lees ons van tydperke waar mensegroepe tot drastiese uiterstes gegaan het om verandering tot stand te bring. In die moderne samelewing, veral in Amerika, het Christene vir 'n tyd al meer gevoel of hulle stemme net nie gehoor kan word nie. Beleid en wetgewing het dit al hoe moeiliker begin maak vir normale Christene om hulle geloof op 'n alledaagse wyse in die samelewing uit te leef. Charlie Kirk het “oop debat as katalisator vir verandering” in Amerika tot stand gebring. Op sy “bewys-my-verkeerd”-toere het hy die platform geskep vir oop debat. Hy het selfs vir studente wat werklik van hom verskil die geleentheid gebied om hulle argumente te stel. Ons weet dit sit nie sommer in enige ou se broek om vrywilliglik in 'n oop debat in te stap nie. As voorbeeld kan ons maar net kyk na Suid-Afrika se “nasionale monoloog” van onlangs. Dit is werklik moeilik om 'n oop debat aan te bied en dit is presies wat Charlie Kirk gedoen het. Hy het nie 'n revolusie begin nie. Hy het nie 'n protes begin nie. Hy het 'n soeke na waarheid en eenheid geopen waar stemme gehoor kon word en probleme aangespreek kon word.
Vir 'n leier om revolusie en protes oor te sien om eerder debat as katalisator vir verandering te dryf, sê baie van 'n man se karakter. Kritiek teen Kirk is dat hy 'n polariserende figuur is. Dit is wel duidelik nie die geval nie. Uit die aard van debat word verskille baie duideliker blootgelê. Tog het Kirk definitief nie verskille tot stand gebring of aangevuur nie. Hy is, inteendeel, as nog “te goedgesind” beskou deur sommige verregse konserwatiewes. Hy was werklik bereid om sy standpunt te verander as iemand 'n goeie argument op die tafel gesit het. Charlie Kirk se passievolle strewe na waarheid behoort ons almal te inspireer.
Laat Charlie Kirk vir elkeen 'n inspirasie wees. Alle Christene is geroep om hulle wapenrusting aan te trek en tot die stryd toe te tree. Die eerste geveg wat geveg moet word, is die geveg in gebed. Maak erns daarvan om alles tot die Here te bring in danksegging en smeking. Tweedens moet erns gemaak word met die skrif, die Here se Woord moet 'n lamp vir jou voet en 'n lig vir jou pad word. Verder moet ons dit oorweeg om die boek wat Charlie Kirk aan die einde van 2025 sou uitbring ernstig op te neem. Die titel is, Stop, in die Naam van God: Hoe die eerbiediging van die Sabbat jou lewe kan verander. Laastens moet ons ook die stryd veg in ons alledaagse lewens deur alles wat ons doen aan te pak asof ons dit vir die Here doen.
Charlie Kirk het die goeie stryd gestry teen owerhede, teen magte, teen wêreldheersers en teen bose geeste in die hemelruim. Hy kon volhard tot die einde, want hy het sy krag gevind in die Here. Na alles, kon hy staande bly.
Rus sag, Charlie Kirk. Innige medelye aan sy gesin.
Leandrè Steenberg studeer ekonomie en filosofie aan die A.P. Akademie en is ook 'n wiskunde-tutor.
Nog artikels op OntLaer
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.