
Lesers sal onthou hoe ons in ons skooldae die juffrou of meneer moes vra of ons asseblief “die kamer kan verlaat” wanneer ons 'n badkamernood gehad het. Ai tog, en daar kry ons president toe ook 'n dringende nood so kort op die hakke van die bekendmaking van die uitslae van die plaaslike owerheidsverkiesings.
Die feit dat die president 'n nood ontwikkel het nadat hy gehoor het hoe groot sy politieke party se pakslae by die stembusse was, verbaas 'n mens natuurlik geensins nie. Wat wel verrassend is, is dat die agbare president homself, ten spyte van die nederlae, toe toestemming gegee het om “die kamer” te verlaat — en sommer 299 ander Suid-Afrikaners saam met hom genooi het.
Natuurlik is sommige mense wêreldwyd van mening dat Silicon Valley — waarheen die president met sy “klasverlating” vertrek het — nogal nie 'n ontoepaslike metafoor is vir die bestemming wat ons in gedagte gehad het toe ons op skool by meneer of juffrou toestemming gekry het om die kamer te verlaat nie. Ek sal eerder nie te veel hieroor uitbrei nie, want seer sekerlik is lesers bewus van die groeiende skeptisisme van sekere individue en gemeenskappe oor die vernietigende rol van die groot tegnologiefirmas, veral wat die ekologiese voetspore van hul datasentrums aanbetref: elektrisiteits- en waterverbruik, lig- en lugbesoedeling, en die verskuiwing van grondgebruik weg van byvoorbeeld landbou, bosbou en noodsaaklike behuising. Dit alles gaan dan verder gepaard met die skepping van besonder min permanente werksgeleenthede. Dan praat ons nie eens van die sekondêre effekte wat met datasentrums geassosieer word nie: die bekende vrese oor KI se potensiaal om die mensdom te vernietig of die mensdom se privaatheid verder te skend deur sogenaamde dataskraping.
Dis dan — uit 'n sekere oogpunt beskou — waarheen die president homself gehaas het terwyl hewige onderhandelinge hier te lande plaasvind om hopelik ons gesonke munisipaliteite van verdere ondergang te red. Ek onthou nog uit my skooldae hoe ek baie skielik 'n baie ernstige nood ontwikkel het, terwyl die kwaai meneer nader en nader aan my skoolbank gekom het met vrae om te toets of ons wel ons huiswerk gedoen het. Die president se gedrag klink insgelyks verdag.
Roelfie tot die redding (nie)
Maar kom ons gee die president vir eers die voordeel van die twyfel. Dalk het hy geweldig baie deure vir ons land oopgemaak. Hy het immers agt of nege kabinetsministers aan sy sy gehad. Om nie eens te praat van die agbare Suid-Afrikaanse ambassadeur in Amerika nie, die einste Roelf Meyer. As my inligting korrek is, kon Roelf egter nie daarin slaag om president Trump sover te kry om ten minste ons president Ramaphosa se foonoproep te beantwoord nie.
Ek is nie 'n kenner op die gebied van protokol ten opsigte van internasionale betrekkinge nie, maar ek sal verbaas wees as dit normaal is dat een president 'n ander president se land besoek sonder ten minste ‘'n gesprek op die “sidelines”, soos daar na sulke informele gesprekke verwys word.
'n Mens is natuurlik baie ten gunste van besigheid-tot-besigheid-interaksie oor internasionale grense heen, maar onder leiding van 'n president wat nie daarin kon slaag om die president van die land wat hy nou besoek, op diplomatieke terrein van sy bona fides te oortuig nie, en nou straks sakeleier speel?
Dit laat 'n mens onwillekeurig dink aan watter struikelblokke inderdaad die diplomatieke verhoudinge tussen Suid-Afrika en Amerika gekelder het. Verder wonder 'n mens ook of daar vordering gemaak is om die struikelblokke uit die weg te ruim sedert die twee presidente in Mei 2025 in die Withuis in Washington, DC, ontmoet het. Ons lesers is ingeligte mense. Ons weet dat daar nog geen wesenlike verandering in die houding van die ANC-in-regering ten opsigte van plaasveiligheid in Suid-Afrika was nie, ook nie ten opsigte van die aanhitsing van geweld teen die landbougemeenskap nie. Inteendeel, die Amerikaners se besluit om minderheidsgroepe wat fisies bedreig voel — of aan wie reeds fisieke skade berokken is — voorkeurstatus te gee as Amerikaanse vlugtelingimmigrante, is deur die ANC-in-regering verdag gemaak.
Wat is gedoen ten opsigte van Amerika se geregverdigde besware oor die ANC-in-regering se bedreiging van eiendomsregte en diskriminerende rasgebaseerde wetgewing? Is die vereistes dat Amerikaanse maatskappye wat in Suid-Afrika wil belê, eienaarskap en beheer moet prysgee, gewysig? Ja, daar “word daaraan gewerk”, maar Starlink se teenwoordigheid in Suid-Afrika is nog steeds so ver van ons af verwyderd as wat die sterre van ons af verwyderd is. En dan het ons president nog die arrogansie/vermetelheid om vir Musk te vra om “aan Suid-Afrika terug te gee”…!
Baantjies vir boeties?
Om terug te keer tot die besonderhede van die president se delegasiebesoek: Eerstens, hoe is besluit op die uitverkorenes wat deur die president in Silicon Valley bemark is? Onthou ons nog die wapenskandaal, toe ANC-in-regering-maatjies met buitelandse (toegeeflike) maatjies gepaar is vanuit die hoogste politieke kantore in Suid-Afrika? Onthou ons die uitkomste van die winsgewende parings wat plaasgevind het? Hoeveel van die baie skraal oes van oorlogswapentuig wat die resultaat van die skandaal was, vlieg nog, dryf nog of ry nog?
Behalwe vir die feit dat die president juis nou — ná die verkiesingsuitslae en tydens die hitte van koalisieonderhandelings — 'n nood ontwikkel het, is dit enigsins moontlik volgens enige soort logika dat die president kon dink hy moet 'n delegasie lei na die voorste land met die voorste tegnologiemaatskappye in die wêreld om hulle uit hul onkunde te verlos oor geleenthede in Suid-Afrika? Al draai 'n mens die redenasie om — kom ons plaas die klem op die missie se doelstelling om by Silicon Valley kers op te steek — dan is dit nog steeds 'n absolute klug om 300 Suid-Afrikaners, van wie die meeste hoogs ingeligte mense is, al die pad teen geweldige koste Amerika toe te laat vlieg om te probeer uitvind wat Elon se Grok my in my leunstoel vertel het met die insleutel van 'n vraag of twee via my tabletrekenaar se sleutelbord.
Regtig, geëerde OntLaer-lesers, die ANC-in-regering en kamtige leiers soos Ramaphosa slaan die land se naam elke dag met 'n plank. Dink net wat die aandag en geld wat aan die missie bestee is, kon beteken het as dit eerder aangewend was om hindernisse vir vaste buitelandse beleggings in Suid-Afrika uit die weg te ruim. 'n Klomp daarvan is reeds hierbo vermeld, maar daar is ten minste nog vier ernstige hindernisse wat dit vir buitelandse beleggers moeilik maak om weer in Suid-Afrika te begin belangstel: ons elektrisiteitsnetwerk, ons groeiende waterkrisis, ons misdaadvlakke en ons vervalle munisipale infrastruktuur en dienslewering. Voeg daarby ook nog ons wanfunksionerende en vervalle vervoer- en hawegeriewe.
'n Mens mag vra wat hoëtegnologie en KI daarmee te doene het. Die antwoord is: alles. Maslow het sy bekende hiërargie van menslike behoeftes in die vorm van 'n piramide voorgestel, met die mees basiese behoeftes wat die breë onderkant van die piramide vul en selfaktualisering wat eers by die nou bopunt van die piramide haalbaar is as al die laer en meer basiese behoeftes van die mens bevredig is. Net so kan moderne tegnologie en KI slegs aan die bopunt van die ekonomiese piramide bestaan, waar die laerorde-infrastruktuur reeds gevestig is.
Jammer om te moet sê, meneer die President van Suid-Afrika, maar die onderkant van die ekonomiese piramide kan nie met 'n lugleegte of met wensdenkery gevul word nie. Slegs harde infrastruktuur wat in werkende toestand is en behoorlik bestuur en onderhou word, sal daartoe aanleiding gee dat die wensdenkery wat u nou in Silicon Valley nagejaag het, die hoëtegnologiemaatskappye sal oortuig om noemenswaardig hier by ons te kom belê. U diskriminerende beleide sal ook moet verander en eiendomsekerheid sal gewaarborg moet word.
Ja-nee, soos hulle sê: hier kom 'n ding — hou hierdie spasie dop...

Nog artikels deur Piet du Plessis:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.







