
Die geweldpleging en verwoesting wat onlangs in Parys ontstaan het en verder deur Frankryk en na talle ander Europese stede versprei het, wek internasionaal groot opspraak. In Suid-Afrika is my waarneming op grond van kommentare op sosiale media dat reaksies soos gewoonlik in twee “kampe” ingedeel kan word:
Kamp een voel min of meer dat Westerse waardes en die Westerse beskawing besig is om ernstig bedreig te word. Hulle meen selfs dat dit nou vinnig die “point of no return” nader. Dit maak die “Westerse kamp” in Suid-Afrika baie hartseer en bekommerd, want hoewel daardie “kampinwoners” al vir baie geslagte in Afrika bly, lê Westerse waardes — en wat hulle leer ken het as die Westerse beskawing — nog steeds na aan hulle harte. Dit maak hulle nie mindere Afrikane nie, want hulle is diep gewortel in die Afrikagrond — soveel so dat sommige van hulle hulself na Afrika vernoem het om as Afrikaners bekend te staan.
Kamp twee, so klink dit vir my, kry bykans lekker oor die Europese gebeure. Hulle glo dat dit 'n welkome einde gaan bring aan die meerderwaardige Europese ingesteldheid van die verlede, toe daar neergekyk is op alles wat nie Westers was nie. Dit strek eeue terug in die geskiedenis, toe Europeërs met hul skepe ander kontinente kon ontdek en verken en in die proses die plaaslike “barbare” kon waarneem wat in bykans alle opsigte van hulle as Europeërs verskil het. Dit het die Europese nasies selfs laat glo dat dit hul plig was om die “barbare” op te hef deur hul grondgebiede as kolonies te annekseer en vir baie dekades te regeer, met die verwagting dat die plaaslike bevolkings onderdanig sou wees. Nou ja, dit het wrewel veroorsaak wat van geslag tot geslag oorgedra is en aldus amper blydskap by die inwoners van kamp twee veroorsaak wanneer hulle tekens sien van die val van Europa se Westerse kultuur.
Dis nutteloos om te probeer besluit watter kamp dit reg het, want dis diepgewortelde waardebepalings wat op 'n baie persoonlike vlak gemaak word en aldus die vorm aanneem van ideologiese voorkeure wat moeilik — indien enigsins — deur oorreding verander kan word.
Maar kom ons vergelyk wat in Europa aan die gebeur is met die Suid-Afrikaanse werklikhede — uiteenlopende ideologiese oortuigings vir eers opsy geskuif.
Wat word in die media as die grondoorsake van die Europese gebeure aangedui? (Nie volgens die graad van invloed gerangskik nie.)
Eerstens, jeugwerkloosheid: die skerp agteruitgang in werksekerheid en lewenstandaarde. Jongmense voel uitgesluit van stabiele werksgeleenthede, gaan gebuk onder hoë lewenskoste en voel vervreem van tradisionele politieke prosesse. Die skoolgaande jeug is ook van mening dat onderbesteding op onderwysterrein plaasvind, wat hulle nóg meer onvoorbereid gaan laat om die arbeidsmark te betree.
Tweedens, die mislukking van openbare dienslewering en die gevolglike bevraagtekening van die staat se legitimiteit. Die gevoel het begin ontstaan dat die staat die sosiale kontrak tussen staat en burgery versaak het. Burgers in Europese state betoog toenemend teen die agteruitgang van openbare dienste — vervalle skole, oorbelaste gesondheidstelsels en besuinigingsgedrewe begrotingsbesnoeiings.
Derdens is die onlangse onrus in Europese stede (van Parys tot Madrid en Lissabon) aangevuur deur 'n akute lewenskostekrisis — inflasie ten opsigte van noodsaaklike goedere, onbekostigbare energierekeninge en onbekostigbare behuising.
Vierdens, die persepsie in baie Europese stede van 'n tweevlakgemeenskap: die elite floreer terwyl die werkersklasbevolkings en voorstedelike randgebiede afgeskeep word. Dit voed woede teen die landsregerings.
Daar is sekerlik ook nog ander oorsake — sommige wat die hoofstroommedia en liberale regerings dikwels eerder wil wegdink: Europa se immigrasiebedeling het tot 'n oorvloedige instroming van vreemdelinge (vreemd aan die tradisionele Westerse kultuur) aanleiding gegee. Assimilasie is meestal nie 'n opsie vir baie van die kulturele en godsdienstige groepe wat hulle in Europa gaan vestig het nie. Aangesien die Europeërs min of geen weerstand gebied het teen die verwatering van hul eie kulture — weens oordrewe verdraagsaamheid — het die inkomelinge daardie swakhede begin uitbuit ten einde hul eie sieninge en waardes op die Europese gasheerlande af te druk. Gewelddadige opstande bied uiters waardevolle geleenthede om die proses van oorname te versnel. Selfs uiters legitieme opstandigheid word aldus uitgebuit ten einde die groter doel van kulturele staatskaping in Europese state te bewerkstellig of te versnel.
Onderliggende ekonomiese swakhede in Europa help ook die vervalprosesse aan. Europese ekonomiese groei is al lank ver onder wat dit behoort te wees en wat dit kan wees. Groot staatsskuldlaste en massiewe en onbekostigde maatskaplike ondersteuningsprogramme jaag skuldlaste op en demp ook produktiwiteit, omrede oordrewe maatskaplike staatsondersteuning dikwels privaatinisiatief en entrepreneurskap ontmoedig.
Kom ons keer terug na Suid-Afrika. Sien lesers die ooreenkomste met Europa aan die hand van my analogie van die twee kampe?
Eerstens, jeugwerkloosheid van meer as 60% in Suid-Afrika: jongmense bevind hulle uitgesluit van stabiele werksgeleenthede, gaan gebuk onder hoë lewenskoste en voel vervreem van tradisionele politieke prosesse wat hulle as nutteloos beskou om verandering mee te bring. Op onderwysterrein is die uitkomste in Suid-Afrika, veral onder die armer massas, uiters power, wat ons jeug nóg meer onvoorbereid laat om die reeds beperkte arbeidsmark te betree.
Tweedens, die mislukking van openbare dienslewering en die gevolglike bevraagtekening van die staat se legitimiteit. Die gevoel het begin ontstaan dat die staat die sosiale kontrak tussen staat en burgery versaak het. Burgers betoog toenemend teen die agteruitgang van openbare dienste — verkrummelende munisipale infrastruktuur, vervalle skole, 'n openbare gesondheidstelsel wat veel te wense oorlaat en oorstroom word deur hulpsoekendes, sowel as misdaadbekamping wat uiters gebrekkig is.
Derdens word onrus in Suid-Afrika toenemend ook aangevuur deur 'n akute lewenskostekrisis — die koste van noodsaaklike goedere, onbekostigbare elektrisiteit en 'n steeds groter wordende behuisingstekort onder lae-inkomstegesinne, asook voortdurend stygende vervoerkoste.
Vierdens bestaan daar ook in Suid-Afrika 'n toenemende persepsie van 'n tweevlakgemeenskap: die ANC-elite floreer terwyl die gewone burgers afgeskeep word. Dit voed woede teen die landsregering. Een van die min teenvoeters in Suid-Afrika wat tot dusver 'n totale landswye burgerlike opstand verhoed het, is die maatskaplike toelaes wat elke maand aan ongeveer 26 miljoen burgers uitbetaal word. Daar is egter geen twyfel dat die las daarvan onvolhoubaar is in 'n ekonomie wat nie groei nie en waarvan die belastingbasis voortdurend krimp. Die staat se voortdurende verhoging van staatskuld is allesbehalwe 'n volhoubare oplossing, omdat daar altyd 'n tyd van verrekening aanbreek wanneer skuld 'n land oor die afgrond laat stort (die oorskryding van die sogenaamde “indebtedness cliff”).
Vyfdens kan Suid-Afrika se immigrasiekrisis ook nie buite rekening gelaat word nie. Die opkoms van bewegings soos March and March in 2026 en die daaropvolgende onrus in stedelike sentrums soos Durban en Soweto wys op 'n ineenstorting van die staat se monopolie op geweld, ten spyte daarvan dat dit konstitusioneel verskans is. Die staat het inteendeel grootliks 'n toeskouer geword. Wanneer burgers die polisiëring in eie hande neem, word die staat se versuim om orde te handhaaf en menseregte binne sy grense te beskerm 'n ernstige versuim van sy grondwetlike en internasionale verpligtinge.
Vergelyk ons nou Europa se situasie direk met dié van Suid-Afrika, is daar baie onrusbarende ooreenkomste — soos reeds uit die voorgaande afgelei kon word — maar met onheilspellende Suid-Afrikaanse tendense wat die potensiaal het om Europa se stuwinge ver te oorskry.
Europa het oor die algemeen sterk maatskaplike veiligheidsnette. Baie Europese state is welsynstate met werkloosheidsvoordele en universele gesondheidsorg wat ekonomiese onstabiliteit versag en relatiewe welgesteldheid verseker. Suid-Afrika se veiligheidsnet van maatskaplike toelaes vir miljoene laat die ontvangers daarenteen op sy beste naby aan die absolute armoedegrens, maar meestal nog steeds daaronder.
Europese staatskapasiteit maak dat wetstoepassers meestal goed toegerus is om orde vinnig te herstel, indien die regering natuurlik die wil het om dit te doen (wat duidelik aanvanklik in Frankryk nie die geval was nie). Wetstoepassingsinstansies in Suid-Afrika is daarenteen dikwels oorbelas of onderbeman, wat lei tot 'n veiligheidsvakuum tydens grootskaalse onrus. Durban in 2021 was 'n goeie demonstrasie daarvan, en so ook die onlangse veldtog van March and March, wat dit laat lyk het asof burgerlike magte eerder as die Suid-Afrikaanse staat in beheer van 'n ernstige nasionale krisis was. Weermaglede moes selfs onlangs in Durban/KZN ontplooi word.
In Europa is armoede meestal relatief ('n lae inkomste relatief tot die nasionale lewenstandaard). In Suid-Afrika is absolute armoede en voedselonsekerheid wydverspreide werklikhede.
Die syfers vir gewelddadige misdaad in Europa is laag in vergelyking met dié van Suid-Afrika. Suid-Afrika se buitengewoon hoë daaglikse syfers vir gewelddadige misdaad maak onrus hier potensieel ook meer dodelik.
Gevolgtrekking
Uitsluiting van die jeug, onbekostigbare lewenskoste, verswakkende openbare ondersteuning en dienste, sowel as wantroue in politieke leierskap, is universele dinamika wat tans Europese nasies ontwrig, maar wat terselfdertyd die potensiaal inhou vir groot ontwrigting in Suid-Afrika — selfs baie groter as in Europa. Sowel Europa as Suid-Afrika worstel ook met immigrasieprobleme, en Suid-Afrika se ongelyke inkomste- en welvaartverdeling laat Europa s’n uit 'n Suid-Afrikaanse oogpunt in relatiewe terme bykans goed lyk.
Aangesien Suid-Afrika egter met 'n baie hoër basislyn van armoede, swakker staatskapasiteit en groter strukturele ongelykheid funksioneer, is die risiko van 'n vinnige meesleuring in destruktiewe onrus inherent hoër in Suid-Afrika as in Europa. Europa se betogings weerspieël 'n sosiale kontrak wat besig is om te erodeer, terwyl Suid-Afrika s'n 'n sosiale kontrak weerspieël wat nog nooit ten volle in die belang van die meerderheid gewerk het nie.
Wat tans in Europa gebeur, is in geografiese terme duisende kilometers van Suid-Afrika verwyder. Wat sosiaal-maatskaplike, politieke en ekonomiese aangeleenthede aanbetref, toon die oorsaaklike faktore vir onrus en geweld in Europa en Suid-Afrika egter merkwaardige ooreenkomste. Dan het ons ook daadwerklik binne-in Suid-Afrika se grense 'n “Westerse kamp”, waarna ek ter inleiding verwys het, met “kampinwoners” wat al vir baie geslagte in Afrika bly, maar vir wie Westerse waardes — en wat hulle leer ken het as die Westerse beskawing — nog steeds na aan hulle harte lê. Dit maak hulle nie mindere Afrikane nie, want hulle is diep gewortel in die Afrikagrond — soveel so dat sommige van hulle hulself na Afrika vernoem het om as Afrikaners bekend te staan.
Dit laat 'n mens egter tog onwillekeurig dink dat Europese gebeure heel moontlik soortgelyke konsekwensies vir ons eie “Westerse kampinwoners” in Suid-Afrika kan inhou: naamlik vir diegene wat níé bykans lekker kry oor die Europese gebeure nie.

Nog artikels op OntLaer:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.







