
Die uitkoms van die verkiesing is duidelik: die ANC is nie meer naastenby die oorheersende politieke mag wat dit eens was nie.
Die DA is 'n groeiende politieke mag wat nou ernstiger opgeneem moet word in 'n rol wat verder strek as dié van bloot die grootste opposisieparty. Dit is nou inderdaad die grootste party in die meeste metro’s en baie kleiner munisipaliteite. Dit gee die DA onmiddellik meer bedingingsmag en die ANC minder daarvan. Dit is 'n kardinale verskuiwing wat 'n aansienlike invloed sal hê op koalisievorming, wat nou in baie munisipaliteite aan die orde van die dag is.
Dit lyk vir my asof die oorkoepelende koalisievraag nou is of die DA en die ANC koalisies sal vorm. Die fondamente daarvoor is reeds gelê met die ontstaan en ietwat onstuimige voortbestaan van die RNE (regering van nasionale eenheid). Wat nou die reëls van die RNE sal verander, is egter die DA se nuutverkrygde, aansienlik groter bedingingsmag op munisipale vlak. Die RNE-eksperiment het duidelik gewys dat die ANC 'n veel groter stempel op die funksionering van die RNE kon afdruk vanweë sy groot meerderheid, wat gebruik is om die sleutelportefeuljes vir homself te beding (op te eis), soos natuurlik buitelandse beleid en geldsake. Dit het die ANC in staat gestel om vir alle praktiese doeleindes meestal sy eie beleide uit te rol, met min wat die DA daaraan kon doen indien hy teen sulke beleide gekant was.
Een van die DA se grootste lesse uit sy RNE-ervaring is dus waarskynlik dat sy deelname meer simbolies van aard was as enigiets anders. Ja, 'n paar DA-ministers het goed presteer en dit het nie ongesiens by die kiesers verbygegaan nie. Dit was ook van strategiese belang vir die DA, aangesien dit bewys het dat die party nie net op munisipale vlak goed kan presteer nie, maar ook op nasionale vlak.
Suksesvolle persepsiebestuur
Van groter belang was egter die DA se bereidwilligheid om die RNE saam met die ANC tot stand te bring. Dit het 'n doodskoot toegedien aan die persepsie van baie van die kiesers wat voorheen die DA – meestal op grond van die ANC se propaganda – as 'n wit party gesien het wat terugverlang na apartheid. Dit het duidelik die teenoorgestelde bewys en het ongetwyfeld munisipale kiesers verder oortuig dat hulle DA-stemme nie werklik anti-ANC sou wees nie, omdat die meningspeilings gewys het dat die meerderheid kiesers van die idee van die RNE gehou het.
Dit was 'n groot simboliese deurbraak vir die DA, wat saam met sy goeie reputasie vir munisipale bestuur, 'n groot deel van die vroeëre huiwering om vir die DA te stem uit die weg geruim het. Ek glo dat dit een van die redes is waarom die DA, ten spyte van interne terugslae en kritiek van sy tradisionele kiesersbasis, nie die RNE verlaat het nie. Dit was 'n baie goeie strategiese besluit, wat nou baie goed inspeel op die volgende fase van nasionale bestuur, naamlik onderhandelinge oor die samestelling van koalisies op plaaslikeregeringsvlak.
Dit bring ons by wat talle ontleders sien as die mees logiese, praktiese en stabiele koalisieformule om nasionale stabiliteit te bevorder: koalisievorming tussen die DA en die ANC as die primêre – en verkieslik enigste – koalisievennote. Die rede waarom ek sê dat hulle verkieslik die enigste koalisievennote moet wees, is die waarneming dat die ANC se destydse skuif om kleiner partye in die RNE in te bring, na my mening nie veel waarde toegevoeg het nie. Dit het soms die ANC gehelp, omdat dit vir die leiers van die kleiner partye lekker was om saam met die groot honde te blaf en soms koningmakers te speel deur hulle steun agter die grootste party van daardie era, naamlik die ANC, in te gooi. Ek dink die DA kan nou in sekere gevalle dieselfde op munisipale vlak probeer – hierdie keer tot sy voordeel as die nuwe meerderheidsparty in baie plaaslike regerings. Die ANC sal egter so 'n poging deursien, omdat dit juis sy RNE-strategie was waar hy die meerderheid gehad het. Die party sal waarskynlik dieselfde ook weer tot sy eie voordeel wil probeer, waar moontlik op plaaslikeregeringsvlak.
Ek glo egter dat 'n poging aangewend sal word om so na as moontlik te bly by tweepartykoalisies tussen slegs die DA en die ANC, ten einde meer doeltreffende regeringspraktyk op plaaslikeregeringsvlak tot stand te bring waar die DA-ANC-som meer as 50% beloop.
Die kaders is nog met ons
Wat natuurlik die DA se bedingingsmag in sulke koalisievorming verminder – selfs al het die party in sekere gevalle die meeste stemme – is dat die munisipale amptenare wat voorheen 'n ANC-beheerde stadsraad gedien het, in veels te veel gevalle ANC-kaders is wat ongelukkig – soos my eie ervaring oor baie jare in die binnekringe van ANC-staatsadministrasie my geleer het – nie op meriete en vanweë hulle vermoëns aangestel is nie.
Sommige van hulle sal vervang moet word en dit sal baie spanning tussen die koalisievennote veroorsaak. As iemand wat self jare lank 'n senior staatsamptenaar onder die ANC was, kan ek persoonlik getuig hoe moeilik dit was om wettiglik van amptenare ontslae te raak. Erger nog: ek het ervaar hoe hardkoppige amptenare hulle voete kan sleep met die uitvoering van opdragte en hoe hulle selfs doelbewus opdragte “misverstaan” en dan eenvoudig sê hulle is jammer oor die “misverstand”. Dit veroorsaak natuurlik groot vertragings en werp dan 'n swak lig op die raadslede in beheer.
Baie amptenare was natuurlik ook betrokke by die korrupsie van voormalige ANC-raadslede en weet waar die spreekwoordelike lyke begrawe is. Dit gee hulle 'n houvas op die ANC-raadslede in die nuutgevormde koalisies.
Waar die ANC natuurlik 'n groot voordeel bo die DA geniet, is sy beheer oor die nasionale regering. Die party sal dit kan gebruik om toegewings in koalisieonderhandelinge af te dwing, omdat die finansiële oordragte aan munisipaliteite die leeueaandeel uitmaak van die fondse waarmee munisipaliteite hulle verpligtinge moet nakom. Daar word ook op nasionale vlak besluit oor wetgewing wat munisipaliteite verplig om sekere beleide toe te pas. Dit kan wette wees wat pro-ANC-ideologie as uitgangspunt en einddoel het en wat dan munisipale agendas sal oorheers, ten spyte van die koalisie-ooreenkoms op plaaslike vlak.
Die ANC se nasionale oorheersing tot minstens 2029, soos hierbo uiteengesit, beteken dat die DA ernstig sal moet streef om sy nasionale invloed deur middel van die RNE te vergroot. Sy verbeterde bedingingsmag as gevolg van sy sukses in die verkiesing op munisipale vlak sal in hierdie opsig help. Quid pro quo tussen die DA en die ANC – tussen munisipale en nasionale vlak – sal moet geld om te verhoed dat dooiepunte in onderhandelinge dienslewering op plaaslike vlak verlam. Dieselfde geld natuurlik met betrekking tot die verhoudings met distriksrade en provinsiale regerings.
Nou moet ek ongelukkig my vorige wens vir die genadelose vernietiging van 'n verswakte ANC – wat ek in 'n vorige artikel op rekord gestel het (sien my vorige artikel) – ietwat temper. Die realiteite op die grond, soos ek dit in die paragrawe hierbo uiteengesit het, sal ongelukkig nog nie help om my wens te vervul nie.
Om 'n omstrede politikus aan te haal wat van 'n bepaalde dreungesingery hou, “ten minste vir nou” sal ons nie die ANC kan afmaak nie, om al die redes hierbo genoem. Dit gesê, moet ek byvoeg dat die DA-raadslede in koalisie met die ANC mini-Zilles met staal in hulle pype sal moet wees. Hulle sal toegewings en kompromieë slegs in uiterste gevalle moet toelaat, waaroor hulle baie noukeurig sal moet nadink. Daar mag veral geen ruimte vir korrupsie en onbevoegdheid wees nie. Die DA sal op nasionale vlak moet besluit wat die rooi lyne is wat nie op munisipale vlak oorgesteek mag word nie, en watter kriteria gebruik sal moet word om te bepaal of, en onder watter omstandighede, uitsonderings in buitengewone gevalle gemaak mag word.
Dit kom daarop neer dat 'n mens nooit die ANC moet vertrou nie, selfs as 'n koalisievennoot, aangesien ideoloë – soos hulle – kompromieë en toegewings eenvoudig sien as onvermydelike, tydelike terugslae ten opsigte van hul Marxisties-Leninistiese/sosialistiese agenda. Om die verswakte ANC 'n bietjie uitstel te gee tot by die algemene verkiesings van 2029, kan egter twee positiewe uitkomste hê.
Eerstens kan die koalisies so goed werk en presteer – en die kiesers so baie beïndruk – dat die twee partye (DA en ANC) tot die besef kom dat hulle inderdaad kan saamsmelt om 'n nuwe sentrumparty te vorm. Volgens meningspeilings bevind die meeste Suid-Afrikaanse kiesers hulle in elk geval in die politieke sentrum. Geen uitdager van buite sal so 'n alliansie/saamgesmelte party in 2029 se nasionale verkiesing kan klop nie.
Tweedens is dit die meer gematigde ANC-leiers (nie die Mashatiles/Lesufis nie) wat bereid sal wees om die DA-ANC-koalisies wat ek voorgestel het, te vorm. Hulle sal ook waarskynlik toestem dat die nasionale RNE-reëling, wat onder kiesers gewild is, dienooreenkomstig aangepas word, soos ek ook voorgestel het. 'n Versagting van ideologiese obsessies sal dus waarskynlik onder die gematigde faksie van die ANC begin posvat. Die rede is dat hulle die suksesse wat op sowel nasionale as munisipale vlak teweeggebring sal word, sal waarneem, wat hulle opnuut sal laat dink oor hul beleide wat in die verlede misluk het.
Die rol van die gematigdes
Die rede waarom ek vol vertroue is oor die twee genoemde positiewe uitkomste, is die feit dat slegs geliberaliseerde beleide die ontwikkelingslandskap van Suid-Afrika, nasionaal en plaaslik, sal verander. Die feit is dat die sentristiese, sosialistiese doktrines van die ANC dekades lank nie die ontwikkelingstoetse geslaag het nie.
Om dieselfde weer te probeer, sou waansin wees. Ek dink dat die gematigde ANC-lede dit teen hierdie tyd ook al besef het. Daarom kan ek na hulle verwys as “gematig” en daarom het hulle nog nie van die ANC weggebreek nie, soos baie radikales wel gedoen het. Ek glo dat die oorblywende radikales (harde ideoloë) die ANC-skip gou sal verlaat nadat die DA-ANC-koalisies wat ek propageer, 'n realiteit word. Dit sal “good riddance” wees, aangesien dit die Marxisties-Leninistiese/sosialistiese ideoloë wat nog in die party is – dié wat Suid-Afrika se vooruitgang terughou en dit al baie jare doen – sal dwing om die sprong uit die party te waag. As 'n mens na die onlangse plaaslikeregeringsverkiesingsuitslae kyk, het 'n groeiende meerderheid Suid-Afrikaanse kiesers ook daardie realiteit gesien en wil dit ook verander hê.
Ek glo dus dat samewerking tussen die DA en die ANC nog nooit meer sin gemaak het as juis nou ná die uitslag van die munisipale verkiesings nie. Dit is 'n scenario wat die beste moontlike “stabiliteit” in munisipaliteite se sake in die kortste moontlike tyd kan teweegbring. Terselfdertyd sal dit aanpassings aan die nasionale GNU aanmoedig wat baie sin maak in die lig van die algehele boodskap wat munisipale kiesers aan die politici gegee het: verreweg die meerderheid Suid-Afrikaners vertrou die ANC en die DA.
Piet du Plessis is 'n afgetrede konsultant met 'n agtergrond in die toegepaste maatskaplik-ekonomiese ontwikkelingsbedryf.

Nog artikels deur Piet du Plessis:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.








