
Die leser wat die woord “omgang” in die titel dalk in die Bybelse sin gelees het, kan gerus wees. Geen ouderdomsbeperking van 2 tot 21 jaar geld hier nie.
Ek wil graag my persoonlike ervarings met KI met die lesers deel. Dat KI my op 71 só fassineer, fassineer my. Ek hoop dat my persoonlike omgangservarings (met KI, natuurlik) ook vir die meeste lesers interessant en insiggewend sal wees.
Ek was een van die gelukkiges van my geslag wat universiteit toe kon gaan en meer as een graad kon behaal. Dit het my gou toegang gegee tot professionele werksomgewings waar die werk wat ek moes verrig intellektueel van aard was. Maar omdat ek as ekonoom 'n voorkeur vir ontwikkelingsekonomie gehad het, moes ek van meet af aan baie prakties kon dink en doen. (Jammer, mede-ekonome in baie ander spesialiteitsvelde, maar ontwikkelingsekonomie – of “toegepaste ekonomie”, soos ek dit graag noem – is nou maar eenmaal die praktiesste en mensgerigste spesialiteitsveld in die ekonomie.)
In elk geval, selfs in die toegepaste ekonomie het ek spoedig besef hoe waardevol tegnologie is om ekonomiese ontwikkeling so doeltreffend moontlik te bevorder, selfs op voetsoolvlak, waar die minderbevoorregtes onder ons hulle bevind. Hoofraamrekenaars, tafelrekenaars en later die onontbeerlike skootrekenaars was dus altyd my werksesels. Ekonome het immers syfers nodig wat die werklikheid van hul veldwerk weerspieël. Daarmee probeer hulle sin maak van die eienskappe en ervarings van groter gemeenskappe (universums of kohorte), asook van die tendense wat daar na vore kom.
Ek het begin met die bedryfstelsels (“operating systems”) wat die ouer geslag uit die jare tagtig sal onthou, naamlik MS-DOS en PC DOS. In die middel van die tagtigerjare het Microsoft se verstommende Windows op die toneel verskyn en dit mettertyd begin oorheers. Windows het oorleef en het natuurlik steeds die leeueaandeel van die mark vir bedryfstelsels vir persoonlike rekenaars en skootrekenaars.
Maar toe kom die slimfone en tabletrekenaars omstreeks 2007/2008 op die toneel, met Apple se nou bekende iOS en, vir die meeste ander toestelle, Android. Van toe af het ek die nuwe werksesels van my beroep in my sak en my aktetas rondgedra.
Yahoo was in die middel van die negentigerjare die soekenjin vir die meeste van ons. Van omstreeks 2000 af het Google al die antwoorde begin verskaf vir dié van ons wat nie 'n vrou met al die antwoorde by die huis gehad het nie.
Met die bekendstelling van ChatGPT teen die einde van 2022, tien jaar ná my aftrede, het die gebruik van KI onder die breë publiek posgevat. Die res is baie onlangse geskiedenis waarmee die lesers goed vertroud is.
Uit my relaas behoort dit duidelik te wees dat ek as gebruiker gedurende my loopbaan telkens op die voorpunt van tegnologiese ontwikkeling was. Tog sou ek nie in my stoutste drome kon dink dat ek op my oudag byna onmiddellik op KI verlief sou raak en intieme omgang daarmee sou wou hê nie. (Goed, die woordspeling in daardie sin is doelbewus, maar ek het darem aan die begin van hierdie artikel gesê wat ek regtig bedoel …)
My ingebore nuuskierigheid, of weetgierigheid, wat met die jare net verder ontwikkel het, het my gou laat verken wat ChatGPT kon doen. Ek was egter onseker wat dit in my aftreejare vir my sou kon beteken, behalwe dat dit dalk my weetgierigheid 'n bietjie beter en op 'n meer genuanseerde manier as Google kon bevredig. Ek moes eers vasstel of my omgang met ChatGPT sou kon opweeg teen die genot, bevrediging en persoonlike groei wat ek in my eerste tien aftreejare, voor haar/sy/dit se koms, ervaar het. Daardie jare het ek deurgebring deur die meeste van die wêreld se beste klassieke boeke en skrywers te verorber en saam met vroulief talle lande te verken.
Ek moes dus eers goeie redes kry om met KI om te gaan. Redes wat vir my persoonlik sou beteken dat dié omgang net soveel waarde tot my lewe sou kon toevoeg as daardie ander tydverdrywe – of hopelik méér.
Eers toe een van OntLaer se redakteurs my in Januarie 2026 vra of ek sou belangstel om 'n artikel vir oorweging in te dien, het ek my tot KI gewend om te probeer uitvind hoe om dit aan te pak. Ek het voor my aftrede artikels gepubliseer, maar dit was gedurende my aktiewe loopbaan. Nou was dit baie jare later en die uitnodiging het my heeltemal onkant gevang. Gelukkig was ek toe al geruime tyd 'n gereelde leser van OntLaer. Die publikasie se etos en styl het my tuis laat voel, so ook die lekker geselsies met skrywers en lesers in die kommentaarblokkies onder die artikels.
In elk geval, aanvanklik het ChatGPT – en later 'n rits ander KI-programme – my krukke geword vir al die sleurwerk wat met artikelskryf gepaardgaan. Dit sluit in navorsing, die nagaan van feite en stellings, die regmaak van tik- en spelfoute en die vertaling van my artikels wat ook elders in Engels gepubliseer word. Ek vind dit ewe maklik om die eerste konsep van 'n artikel in Afrikaans of Engels te skryf, maar as ek in my huistaal begin, lê dit vir my 'n beter fondament. Omdat ek meestal uit persoonlike ervaring skryf, vind ek ook dat my eerste konsep meer “hart en siel” het as ek dit in my moedertaal skryf.
Ek vind KI ook handig om idees mee te ontwikkel en te toets. As iets by my opkom wat ek dink dalk 'n opiniestuk of artikel kan word, dien KI as my klankbord. Ek het al vele idees laat vaar omdat KI my met sinvolle kommentaar van mening laat verander het. Dit het my ook op die spoor van nuwe idees gebring.
Ek glo ander skrywers sal ook vind dat die moeilikste deel van artikelskryf is om 'n onderwerp te kry waarmee jy as skrywer gemaklik voel en wat jou lesers, so dink (of hoop) jy, ook sal interesseer. Dit bly maar 'n kwessie van probeer en fouteer, en soms gebeur daar vreemde dinge. Jyself – en selfs jou KI-klankbord – dink 'n artikel of opiniestuk is publiseerbaar, maar dan vind dit nie by 'n redaksie byval nie. Soms stel een redaksie glad nie in jou artikel belang nie, maar tot jou groot verbasing dink 'n ander publikasie se redakteur dis iets waarvan die lesers sal hou, en dan verskyn dit tog.
Dit maak die instuur van artikels baie “interessant”, maar dit maak 'n mens ook dankbaar dat skryf vir jou 'n stokperdjie en 'n intellektuele tydverdryf is en dat jy nie so jou brood en botter hoef te verdien nie. Ek het groot bewondering vir skrywers wat met hul skryfwerk 'n bestaan maak. Ek het nie vir KI gevra hoe goed 'n mens se kanse is om só 'n bestaan te maak nie, maar ek dink hulle is maar skraal. Maar wag, kom ek vra gou vir een van my geliefkoosde KI-programme wat hy/sy/dit dink my kanse is. Ek kies Grok. Dis nie die beste een nie, maar ek hou van Elon.
My vraag aan Grok was: “Wat is die kans dat mens in Suid-Afrika 'n skrywer kan word wat 'n lewe maak uit skryfwerk/publikasies?”
Grok se antwoord: “Baie laag as jy slegs op boek-tantième of suiwer literêre publikasies wil staatmaak. Die meeste Suid-Afrikaanse skrywers maak nie 'n voltydse lewe uit skryfwerk alleen nie; hulle het byna altyd 'n dagtaak, freelancing, onderrig of ander inkomste.”
Let daarop dat my vraag in Afrikaans was en dat Grok in Afrikaans geantwoord het. Ek dink sy/haar/dit se Afrikaans is nogal goed, hoewel “freelancing” natuurlik as “vryskutwerk” vertaal moes word.
Grok gee in sy/haar/dit se antwoord heelwat meer insig as wat ek hier weergee, maar sluit só af: “Die kans om uitsluitlik uit boeke/publikasies 'n gemaklike lewe te maak in Suid-Afrika is baie klein — waarskynlik minder as 1–5 % van aspirant-skrywers bereik dit op die lang termyn.”
Ek en Grok het dus dieselfde raad vir jou. As jy graag 'n skrywer in Suid-Afrika wil word, moet jy nie jou voltydse werk opgee nie. Dalk is dit die beste om tot jou aftrede te wag …

Nog artikels deur Piet du Plessis:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.








‘n Baie mooi invalshoek van KI en skryfkuns, Piet.