Demokrasie is veilig onder Trump
Bedreig Trump demokrasie, of is hy die rede dat dit weer floreer?
Demokrasie was nog altyd 'n uiters bestrede konsep wat aan verskeie omskrywings en sienings uitgelewer is.
Die Weste is oor die algemeen en geskiedkundig as die bron en bastion van demokrasie volgens gesaghebbende bronne beskou, maar totalitêre regimes voeg ook die woord “demokraties” by hul name. Dit is daarom by uitstek 'n gelade begrip, maar as mense in hul hordes uit 'n land wil vlug is dit gewoonlik 'n teken dat dit nie 'n demokrasie is nie.
Oral klink die refrein onder linkses in Amerika en elders op dat demokrasie onder beleg is onder pres. Donald Trump. Die onlangse “No Kings”-protesoptogte in Amerikaanse stede het getuig van misnoeë met veral Trump se uitvoerende bevele, maar die vraag is of demokrasie werklik in gevaar is in die wêreld se oudste demokrasie.
Dit is uiteraard 'n moeisame en omstrede oefening om so iets met gesaghebbendheid te bepaal, maar beskou hierdie bydrae as 'n hopelik eerlike vertrekpunt vir verdere debat.
Die omskrywing van demokrasie
As iets gemeet moet word, behoort dit eerstens, sover moontlik, omskryf te word. Om enige selektiwiteit te vermy, gaan die oorsprong van hierdie konsep kortliks aan die bod kom, gevolg deur die Verenigde Nasies (VN) se eie beskrywing. Die woord demokrasie is afkomstig uit Grieks en is 'n samesmelting van die woorde dēmos (mense) and kratos (regering of mag). Dit het in die middel van die vyfde eeu ontstaan om die politieke stelsel in sommige Griekse stadstate, veral Athene, te beskryf.
As die grootste multilaterale liggaam ter wêreld het die VN se handves geen melding van demokrasie gemaak nie. Dit sou op stuk van sake nie kon bestaan indien state soos die Sowjetunie, die VSA, Groot-Brittanje, China en Frankryk nog hieroor gekyf het in die nadraai van die Tweede Wêreldoorlog nie. Dit sou ook nie tot bykans 200 lede kon aangroei nie.
Die VN erken hierdie weglating, maar erken ook tans dat demokrasie een van sy kernwaardes is. Inmiddels word daar verklaar dat die wil van die mense (oftewel bevolking van 'n land) die bron van legitimiteit is vir soewereine state en vervolgens ook die VN. Die volgende kenmerke van demokrasie word dan uitgelig:
“Democracy provides an environment that respects human rights and fundamental freedoms, and in which the freely expressed will of people is exercised. People have a say in decisions and can hold decision-makers to account. Women and men have equal rights and all people are free from discrimination.”
Dit verwys ook na die Universele Verklaring van Menseregte, wat weer klem lê op die wil van die burgers (oftewel volk) as die grondslag vir regeringsgesag. Vryheid van uitdrukking, die reg om vreedsaam te betoog en die reg om vrylik te assosieer word ook genoem. Hierdie gesigspunte en minimalistiese beginsels strook met die tipiese Westerse sienings van demokrasie.
Freedom House is een van die oudste Amerikaanse dinkskrums wat op die bevordering van demokrasie gerig is. Dit reik ook jaarliks 'n gesaghebbende verslag oor politieke en burgerlike vryhede uit. Nicole Bibbins Sedaca, die organisasie se voormalige president, erken dat geen demokratiese bestel eenders is nie, maar dat demokrasie in wese op “regering deur die mense” neerkom. Uiteraard gaan hierdie wil getoets moet word en ondanks die verskeie permutasies van kiesstelsels, moet daar ten minste vrye en regverdige verkiesings (vry van intimidasie, staatsinmenging, ensomeer) wees om te bepaal wie regeer. Verkiesings kan dus, op die keper beskou, as 'n hoeksteen van demokrasieë beskou word.
Ek wil nie ter wille van spasie (en tyd!) nie in te veel diepte ingaan op wat presies 'n liberale demokrasie is of nie is nie, maar sekere merkers is rigtinggewend hier. Sedaca noem voorts, afgesien van verkiesings, nog elemente wat by demokrasie inskakel. Dit sluit in 'n vreedsame oorgang tussen wenners en verloorders van verkiesings, die oppergesag van die reg, 'n onafhanklike regbank, die skeiding van magte (oftewel trias politica) en dus wigte en teenwigte, 'n vrye media en die beskerming van grondliggende menseregte.
Die toets van die wil van mense gaan kompeterend wees en sal in wisselende mates en na gelang van die politieke orde, wenners en verloorders oplewer. Die kontinentale Europese state en hedendaagse Suid-Afrika neig tot koalisies terwyl die VSA se wenner-vat-alles tweepartystelsel absolute wenners oplewer.
Ewenwel, meer maksimalistiese beskrywings en vereistes van demokrasie (soos Sedaca s’n) poog om te verhoed dat verkiesings nie die verloorders als laat inboet nie – veral as hulle deur die regerende party bekook word. Dit is wat dikwels in Afrika gebeur, hoewel dit nie altyd die geval is nie. Sekere fundamentele regte en instellings moet geld om wigte en teenwigte, sowel as regverdigheid, te verseker. Daar kan bepaald nog beginsels bygevoeg word om 'n liberale geur aan demokrasie te gee. Ek is persoonlik baie ongemaklik met verkiesings en meerderheidsregering as die enigste aanduiders van demokrasie. Indien dit die geval is, gee dit aanleiding tot wat die politieke wetenskaplike Fareed Zakaria “onliberale demokrasieë” noem. Hy tref hiermee 'n onderskeid tussen die eenvoudige geskiedkundige betekenis van demokrasie as die blote “regering deur die volk” (wat in praktyk tot ritualistiese verkiesings en meerderheidstirannie kan lei) en die grondwetlike liberalisme wat allerlei vryhede en beskerming verleen.
In selfs die beste demokrasie gaan daar tewens afruilings, moeilike besluite, gemene spel en relatiewe wenners en verloorders wees. Demokrasieë is weens hul aard morsig, nydig en vol wedywering. Dit is politiek en volgens Harold Lasswell se gesaghebbende maar bondige omskrywing gaan politiek kortom oor “wie kry wat, wanneer en hoe” – ongeag die regeringsvorm. Dit is oor demokrasie se voortvarendheid en skynbare rompslomp dat selfs sommige leiers van suksesvolle lande, soos Lee Kuan Yew van Singapoer, afwysend daaroor was. In die formele politiek waarby state en hul subeenhede betrokke is (ander entiteite kan ook politiek beoefen), moet wet en orde ook gehandhaaf word. Misdaad moet gestraf word en die uitdrukking van vryhede en protes kan nie knaend en met geweld die vrede en stabiliteit van 'n land bedreig nie.
Die deugde en ondeugde van regstreekse of verteenwoordigende demokrasie sal ook eers oorstaan tot 'n ander artikel. Kom ons fokus vir eers op Trump aan die hand van die algemeen aanvaarde en geskiedkundig-Westerse beskouing van demokrasie.
Trump se rekord
Trump se eerste verkiesingsege in 2016 was omstrede. Terwyl Hillary Clinton 'n absolute meerderheid van die stemme gewen het, het hy op grond van 'n meerderheid in die verkiesingskollege die president geword. Hy het dus meer state as Clinton ingepalm deur die sogenaamde swaaistate te wen. Hoe dit ook al sy, hy het volgens die reëls gespeel en gewen. Reform UK en hul leier, Nigel Farage – wat verkeerdelik as regse karikature uitgebeeld word – kla oor hoe die kiesstelsel in die Verenigde Koninkryk hulle benadeel. Maar hulle speel ook volgens die bestaande reëls terwyl hulle hervorming bepleit. Anders as in 2016, het Trump in 2024 egter die meerderheid van die volkstem – tesame met meeste van die deelstate – ingepalm.
Dan moet Trump ook gemeet word aan die nimlike argumente wat sy kritici oor sy kwansuise aftakeling van demokrasie opper. Die filosoof en emeritusprofessor Anton van Niekerk, voorheen verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, het in 'n onlangse meningstuk op Netwerk24 'n ander artikel hieroor uit The New York Times aangehaal. Die outeurs van die onderhawige stuk maak derhalwe melding van “competitive authoritarianism” (“mededingende outokrasie”). In om en by dieselfde trant as Zakaria, word hierdie konsep beskryf as die hou van verkiesings, maar dat die “misbruik van die verkose figuur se mag die speelveld laat kantel téén die opposisie”, aldus Van Niekerk. Hy maak dan hierdie term op Trump van toepassing.
Van Niekerk merk tereg op dat demokrasie oor meer as verkiesings gaan. Kortom gaan dit volgens hom oor “geïnstitusionaliseerde kritieklewering” en haal die skrywers van die artikel in The New York Times aan: “When citizens must think twice about criticizing or opposing the government because they could credibly face government retribution, they no longer live in a full democracy.”
Van Niekerk borduur dan voort oor Trump se aanvalle op die media, sy minagting van akademiese vryheid, sy aandrang dat Israel altyd reg is, sy dreigemente om Demokrate se finansiering te ondersoek en om diegene wat nie sy verkiesingsnederlaag in 2020 wou aanvaar nie, in Januarie 2021 tot geweld aan te hits. Dit is 'n groot kombers sonder konteks om kwynende demokrasie in Amerika te probeer bewys. Dit is ook skynheilig en bevooroordeeld.
Trump se taalgebruik op 6 Januarie en die voorafgaande paar dae kon meer taktvol en duidelik wees. Mens kan insien hoe sekere mense “fight like hell” verkeerd kon vertolk. Dit was egter een frase in wat andersins net nog vurige dog normale Trump-uitlatings was. Die gebeure op daardie dag is omstrede, kompleks en moet betreur word, maar die feit bly staan dat die betogers nie grootskaalse skade aangerig het nie (anders as die Black Lives Matter-betogings in 2021 en die onlangse betogings in Los Angeles) en 'n betoger was die enigste persoon wat daardie dag dood is weens direkte betrokkenheid by die betoging. Sommige van die betogers het lang vonnisse ontvang. Trump het heelparty van hulle vanjaar kwytgeskeld, maar as dit verkeerd is, is Demokrate se lakse benadering tot misdaad en straftoemeting ewe verkeerd. Trouens, laasgenoemde is dan baie erger weens die konsekwentheid daarvan.
Jy kan op enige sosialemedia-platform sien hoe Amerikaners Trump daagliks kritiseer. Die linkse media is behep met hom. Daarvan getuig die artikel waarna Van Niekerk juis verwys. Hulle doen dit openlik en sy aanvalle op die media is hoogstens retories. Daar is geen beleide of wetgewing om hulle in te perk nie. Niemand is al toegesluit of aangekla omdat hulle hom kritiseer nie. Nie nou of in sy eerste termyn nie. Die “No Kings”-protesoptogte is juis 'n voorbeeld daarvan.
Eweneens is daar geen beperkinge op wat akademici kan sê of publiseer nie. Daar is vele redes hoekom Trump besluit om byvoorbeeld Harvard in die skyf te kry en dis nie net omdat hulle anti-Semitiese betogings en aktiwiteite op kampus toelaat nie. Luidens die Withuis-webblad het Harvard versuim om inligting oor sekere radikale buitelandse studente te verskaf, voortgegaan met diversiteitsprogramme (in wese regstellende aksie) en misdaad op kampus geïgnoreer. Eie aan Trump se aard dreig hy eers met die mees drastiese stappe (soos om federale befondsing te staak) om sodoende sy teenstanders te laat skrik, optree en onderhandel. Dis ook wat hier gebeur het. Trump het toevallig onlangs verklaar dat Harvard wel bevredigende vordering ten opsigte van die problematiese kwessies gemaak het en dat 'n ooreenkoms in sig is. Maar dit wys ook dat hulle eers ná sy druk stappe gedoen het. En om te dreig om staatsbefondsing aan een van die rykste universiteite ter wêreld te onttrek het weinig met demokrasie te doen. Dis gewone politiek wat strook met Lasswell se omskrywing daarvan.
Dit is geen verrassing nie dat meeste van die 500 politieke wetenskaplikes wat vanjaar aan die Bright Line Survey deelgeneem het, nou dink dat Amerika besig is om vinnig van 'n liberale demokrasie na 'n outokrasie te beweeg. Van die hoofredes hiervoor is dat hy druk op universiteite uitoefen, uitvoerende bevele misbruik, asook die federale burokrasie afransel en met lojaliste vul. Daar moet in gedagte gehou word dat dit blote menings is van mense wat, nes Van Niekerk, hulself al vir lank in die woke eggokamers van die staatsgefinansierde geesteswetenskappe-departemente van universiteite bevind. Hul geldhokke is nog nie eers geskud nie en skielik is Amerika nie meer 'n liberale demokrasie nie. Die fyner besonderhede wys, soos met 6 Januarie 2021, dat enkele gevalle soos die uitlewering van ’n onwettige immigrant ondanks ’n hofbevel agterna skielik ’n teken van verbeurde demokrasie is.
Een van die min andersdenkendes in hierdie groep, James Campbell, het egter aan NPR die stil deel hardop gesê: Trump gebruik bloot die legitieme magte tot sy beskikking om ou probleme aan te spreek. Hy bevestig inmiddels dat meeste van hierdie respondente bloot net nie van Trump as persoon of sy politiek hou nie en berusting daarin vind om hom saam en verkeerdelik as 'n outokraat te tipeer. Campbell is ook afgetree en kan dus bekostig om te sê dat hy nie met die meerderheid saamstem nie.
Die federale burokrasie en uitvoerende bevele verg verdere ontleding. Dit is welbekend dat verreweg die meeste staatsamptenare op federale vlak, nes akademici en onderwysers in die openbare sektor, linksgesinde Demokrate is. Amerika sou moeilik andersins so woke kon word, hoewel dit 'n simptoom en oorsaak daarvan is. Dit is ook 'n massiewe monster wat te veel kos en staatsamptenare geniet gemaklike werksekerheid terwyl ander mense (soms weens regeringsbeleide soos die Covid19-grendelstaat) hul werk verloor het. Trump het aan bewind gekom danksy sy belofte om ten minste die federale regering te verklein en hervorm terwyl hy nie voorskriftelik is jeens state en munisipaliteite nie. Mense het dus daarvoor gestem. Dit kon in sekere gevalle nie anders as dat linkse amptenare deur mense in sy kamp vervang word nie. Hy het immers die verkiesing oortuigend gewen en sulke skommelinge gebeur in elke demokrasie as regerings verander.
Die Pew Research Center het in herhaaldelike peilings die afgelope paar jaar bevind dat Amerikaners van alle politieke oortuigings nie vertroue in die federale regering het nie. In September 2023 het 59% van die respondente hul frustrasie met hierdie regeringsvlak uitgespreek. Slegs 18% het aangedui dat hulle tevrede is en 21% is kwaad vir die federale regering.
Wat hofsake en uitvoerende bevele betref, het die ontleder prof. Victor Davis Hanson uitgewys dat geen Amerikaanse president al met soveel laerhof-bevele teen sy uitvoerende bevele te kampe gehad as Trump nie. “Indeed, dozens of cherry-picked, left-wing district judges – the real unchecked ‘kings’ – now routinely block almost every one of Trump’s executive orders,” skryf hy op sy persoonlike webwerf. Weliswaar 'n verhewe vorm van “geïnstitusionaliseerde kritieklewering”, sou ek sê.
Trump se taktiek was duidelik om in sy tweede termyn met duiselingwekkende spoed bevele uit te reik. Sommiges, veral wat immigrasie betref, sou die geregtelike grense getoets word terwyl die bevele se spoed verwarring en paniek onder sy teenstanders saai. Hy het wel vanjaar reeds 165 uitgereik en sy tweede termyn se telling kan nog veel hoër as sy eerste termyn se 220 wees. Maar Jimmy Carter het 320 bevele in slegs een termyn uitgereik terwyl Lyndon Johnson 325 in vyf jaar uitgereik het. In albei hul termyne het Bill Clinton 364 uitgereik, Richard Nixon 346, Harry Truman nagenoeg 1000, Dwight Eisenhower bykans 500 en Ronald Reagan 381. Trump het egter nie hierdie lawfare deur die laer howe geïgnoreer of gelate aanvaar nie. Hy het dit tewens deur die regbank beveg en deur middel van die Hoogste Hof sekere gekwalifiseerde seges behaal.
Trump is allesbehalwe 'n engeltjie. Hy kan immers nie een wees as president van Amerika nie. Hy is eenogig oor sekere aangeleenthede, maar andersins ideologies pragmaties, oplossing-gedrewe, robuus, soms onbeskof, transaksioneel, en les bes, onvoorspelbaar en onkonvensioneel. Hy is doeltreffend met die kwessies wat saakmaak vir Amerikaners, soos immigrasie en die ekonomie. Dit maak hom nie 'n outokraat of ondemokraties volgens objektiewe en redelike maatstawwe nie. Hy fokus juis op die take wat hom en die Republikeine in volgende jaar verkiesing verkies kan kry omdat, anders as die gemiddelde politikus, hy weet beloftes tel.
Nie een van sy kritici noem egter die kredietkant van sy demokratiese balansstaat nie. Die stryd teen diversiteit, gelykheid en inklusiwiteit (DEI) en sy inhuldigingsbelofte van die bevordering van kleurblinde meriete maak nie slegs moreel en ekonomies sin nie, maar strook lynreg met selfs die VN se siening oor demokrasie. Indien hy wel Demokrate se skenkings laat ondersoek en niks onreëlmatig vind nie, sal dit tog positief vir hulle wees. Indien nie, werk dit deursigtigheid en aanspreeklikheid in die hand en dít is onteenseglik positief vir demokrasie. Hy het in baie gevalle dwang oor woke-kwessies (veral in skole) in vryheid van keuse omskep sonder om mense se reg om woke te wees, weg te vat. Die staat gaan egter nie meer wokeness bevorder of daarvoor betaal nie. Dit is waaroor sy kritici eintlik woedend is. Dit blyk ook dat baie van hulle, in weerwil van hul kwalifikasies en ruim akademiese ervaring, nie eens begryp wat demokrasie werklik behels nie.
Laat die linkse trane mildelik vloei. Die Demokratiese Party en hul menigte meelopers het self al veel meer ondemokraties opgetree. Hulle het Trump al genadeloos en selektief vervolg en geteister. In weerwil hiervan is demokrasie is nie net springlewendig in die VSA nie, dit is met mening terug.
Dr. Brink is 'n sakekonsultant, entrepreneur en ontleder van die Paarl.
Nog artikels deur Eugene Brink op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in:
Puik stuk.