Ek het meeste van my lewe in Johannesburg deurgebring.
My ouers het albei in die middestad gewerk en ek sou menigmaal saam met hulle oor vakansies kantoor toe gaan. My ma by binnelandse sake en my pa by die United-bouvereniging, wat later in Absa sou opgaan.
Vanuit die United-gebou se 30ste verdieping kon jy sien hoe wemel die strate van mense, voertuie en allerlei bedrywighede tussen al die imposante geboue. Hoofkantore van verskeie maatskappye – sanksies in die 80’s ten spyt – het oral rondom jou gepryk. Vir ’n kind was dit fassinerend en terselfdertyd intimiderend. Terugskouend was Johannesburg soortgelyk aan Londen in terme van prestige, argitektuur en ekonomiese mag – net kleiner. Style soos Victoriaans, Edwardiaans, art nouveau, funksionaliteit en brutalisme het die kosmopolitiese (maar sterk Angel-Saksiese) karakter van die stad weerspieël.
Nadat ek die oggende saam met my pa deurgebring het, sou ons die strate bewandel, winkelvensters beloer en iewers middagete eet. Daarna sou ek in die middae by my ma wees, waarna ons die trein na die suburbs in Roodepoort vanaf Park-stasie neem. Die stad se glans en ontembaarheid sou allengs eers plek maak vir beteuterde huisies, stasies, mynhope en -skagte, plase en yler ontwikkeling wat langs die spore verbysnel. Jy kon op só ’n reis die hele wêreld met al sy vratte en beste swier in een duiselingwekkende dag beleef.
Dis myne, want ek behoort daaraan
In die 90’s en vroeë 2000’s het die stad saam met die politiek geleidelik en toe skielik verander. Daar was steeds prestige en rykdom in die middestad, maar dit het onbewoonbaar vir die middel- en hoër klasse geword. Natuurlik was Johannesburg ’n stad van misdaad, gierigheid en moord sedert goud in die 19de Eeu daar ontdek is. Kontraste van rykdom en nypende armoede het nog altyd ongemaklik naasmekaar bestaan. Die mynbedryf het immers die Randlords asook berugte mense getrek en dit is vandag steeds die geval al draai die stad nie meer primêr om mynbou nie. Ted Botha meld in sy boeiende boek Daisy de Melker: Hiding among killers in the City of Gold dat Johannesburg beurtelings as die “City of Gold” én die “University of Crime” in die eerste helfte van die 20ste eeu bekendgestaan het.
Ewenwel, ek het in my studentejare die oorgang van die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) na die Universiteit van Johannesburg (UJ) beleef. Dit was die eerste histories Afrikaanse Universiteit (HAU’s) wat sou transformeer deur middel van ’n moedswillige samesmelting van die RAU (eerder as die Universiteit van die Witwatersrand) met swakker instellings in die stad. Die uittog van veral Afrikaanse akademici en die veranderende studentekorps by die kampus in Auckland Park het ’n onafwendbare impak op hierdie woonbuurt, sowel as omliggende buurte soos Melville en Westdene, gehad. Hulle is seker nogtans vandag boheems, maar hul eertydse sjarme en karakter het nietemin verdwyn. Laekoste-studentebehuising het oral opgeskiet. Woongebiede soos Linden se Afrikaanse karakter is ook gaandeweg weggekalwe. Sekere historiese laeinkomste-buurte soos Brixton het uiteraard verander, maar dit sou buitendien sonder die transformasie van die universiteit geskied.
Die universiteit pryk steeds hoog op die lys van universiteite in die land en munt veral in tegnologiese ontwikkeling uit, maar sy eertydse karakter is heeltemal ingeboet. Erkenning moet egter gegee word aan hoe dit steeds Afrikaans op verskeie maniere bevorder – terwyl ander HAU’s vandag bykans allergies vir die taal is.
Ek het na afloop van my studies boonop in dieselfde gebied gewerk. Eers by die SAUK se TV-gebou en daarna by Media24 se Mediapark af in die straat. Ek was tewens besig met my meesters- en doktorale studies by UJ en kon my studieleier by Melville se keurige en unieke koffiewinkels ontmoet. Daar sou jy altyd ’n bekende gesig in die persoon van ’n joernalis, skrywer, akademikus, intellektueel of akteur raakloop. Groot en kleiner maatskappye het toe reeds vanuit die middestad noord begin uitwyk na Sandton, Fourways en Midrand.
Vir ’n groot deel van my lewe was Johannesburg al wat ek geken het. Dit was immers die plek waarin ek grootgeword het en waar ek boonop kon studeer en werk kry. Vir meeste van hierdie periode het ek eintlik nie ’n rede gehad om te voel ek hoef iewers anders te woon en werk nie. Ofskoon die stad mettertyd verander het, was dit steeds skaflik en nie onleefbaar nie. My wêreld van werk, woon en studeer was steeds grootliks Afrikaans en die res het my nie gehinder nie. Johannesburg het vir my als gebied wat ek kon begeer. Soos die skrywer Truman Capote sy verhouding met New York beskryf het:
“I love New York, even though it isn't mine, the way something has to be, a tree or a street or a house, something, anyway, that belongs to me because I belong to it.”
Toe ek vanweë werk in 2010 na Pretoria verhuis, het die kontras eers vir my duidelik geword. Ek het daarna taamlik min in Johannesburg gekom. Behalwe vir uitstappies na die Emmerentia-dam en Melville saam met my gesin, of werkfunksies, het ek nie veel rede gehad om daar te kom nie. Dit was ook rondom hierdie tyd dat Johannesburg se kreeftegang vererger het. Misdaad was toe reeds ’n gegewe in die stad, hoewel dit my nooit persoonlik geraak of gepla het nie. Jy het altyd geweet sekere dele van die stad (soos Hillbrow, Yeoville en Bertrams) moet vermy word en jy moet in die algemeen versigtig wees. Dit was egter die algehele verval van infrastruktuur (selfs in spogbuurte), die totale ineenstorting van wet en orde, die disfunksie en die intense onnetheid van die state wat begin opval het. Verandering raak duideliker namate jy vergelykings kan tref – tussen stede en ook vroeëre en latere tye van dieselfde stad – en plekke selde besoek.
Voor my vertrek na die Boland was sekere van hierdie verval kennelik ook sigbaar in Pretoria, maar in Johannesburg was dit ongekend. Selfs sonder beurtkrag het die verkeersligte nie gewerk nie en die Goudstad kon net sowel die Donkerstad heet. Kragonderbrekings weens swak instandhouding by City Power was reeds sedert die 2000’s ’n werklikheid, maar die straatligte het ten minste gewerk as daar krag was. Dit het ’n bykomende laag van onheil gevoeg by ’n stad wat berug is vir geweldsmisdaad. ’n Skoolvriend wat al jare in Londen woon het onlangs ná ’n besoek dieselfde waarneming gemaak: Johannesburg het letterlik verdonker.
Die periodieke ondergrondse ontploffings en gevolglike skade aan infrastruktuur in die middestad staan in die teken van wanbestuur wat reeds dekades duur. Dit begin nou ’n toenemende tol eis. Die beton-oerwoud raak nou net ’n oerwoud van onkruid en gebreekte sypaadjies. Water- en kragonderbrekings is (altans in sekere dele) besig om die norm te word. Slaggate vermeningvuldig met elke besoek wat ek aan die stad bring. Biblioteke regoor die stad en die Johannesburg-kunsgalery is in ’n haglike toestand en vir lang periodes of permanent gesluit. Meeste van my vriende uit my grootwordjare en universiteitsdae woon lank ook nie meer daar nie. Die hartseerste deel is dat die stad sy energie, gees en lewenskrag weens hierdie probleme moes prysgee.
Multidimensionele oplossings
Daar is beperkte (maar straks verwante) oplossings maar die politieke een is besig om prominent na vore te tree. Daar is sterk gissings dat Helen Zille aanstaande jaar die DA se burgemeesterskandidaat vir die stad sal wees. Die gewone raskoor het weer opgeklink en die party is daarvan beskuldig dat hulle nie swart kandidate vir hierdie pos kan oplewer nie. Hierdie skynheilige sofisme drup egter van die ironie dat die ANC en die res pa moet staan vir die stad se huidige toestand. Hulle kon niemand op meriete oplewer nie en nou bly net rasargumente oor.
Die stad kort drastiese ingrepe en iemand soos Zille, met die ervaring as burgemeester en premier wat die ANC se brouwerk en korrupsie moes omkeer in Kaapstad en die Wes-Kaap, is uiters geskik daarvoor. Sy is immers gebore en getoë in Johannesburg. Niemand se vel is boonop dikker nie en die krisis in die stad is nie iets wat deur window-dressing vir groentjies reggestel gaan word nie. Die tyd daarvoor is verby en die kalf is lankal in die put (oftewel slaggat).
Of sy verkiesbaar is, is ’n ope vraag. Die DA het in onlangse tye nie sleg daar gevaar nie terwyl die ANC se steun bly daal. Op 74 kan Zille begryplik ook nie tot 2031 wag om haarself weer verkiesbaar vir hierdie pos te stel nie. William Saunderson-Meyer skryf onlangs op PoliticsWeb dat Zille aan hom gesê het haar en Johannesburg se tyd raak min en daarom moet die inwoners in 2026 beslissend besluit wat hulle wil hê. Hoe dit ook al sy, Stad Johannesburg gaan nie as metro oorleef sonder nuwe en beter politieke bestuur nie.
Die ander oplossings is meer burgerlik en ekonomies. Johannesburg is steeds die tuiste van die grootste privaat sektor en ryk indiwidue in die land. Maatskappy-geboue en swierige winkelsentrums glinster te midde van die verval rondom hulle. Landgoedere verskans lankal gegoede inwoners van die verkrummeling en gevare, maar hulle kan dit nie altoos ontwyk nie. Dit is seker nie hul plig om die verval om te keer nie, maar hulle kan verskillende bydraes lewer – al is dit net om die netheid van hul omgewings te help verseker. Daar is skynbaar reeds sulke inisiatiewe onderweg en dit moet versnel word.
Laastens het Johannesburg nogtans ’n aktiewe burgerlike samelewing wat met wisselende sukses druk toepas op die owerhede. Dit is veral die geval met die stad se erfenis. Indien hierdie sfere uiteindelik kan saamwerk, het die Goudstad ’n kans – straks nie om dadelik weer ’n goue era te betree nie, maar om nogtans ’n sweempie aansien te herwin en nie in die afgrond te verdwyn nie.
Dr Eugene Brink is 'n entrepreneur, sakekonsultant en ontleder van die Paarl.
Nog artikels deur Eugene Brink:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: