Die Afrikaanse Media en 'n Jaar van OntLaer
Van verval na vernuwing: Afrikaans vind nuwe platforms.
Twintig jaar gelede was ek 'n joernalis en subredakteur by onder meer die Afrikaanse media en daar was toe 'n doodsangs oor die oorlewing van hierdie media.
Dit was nie ongegrond nie, al het verskeie Afrikaanse koerante se drukformate nog steeds bestaan en taamlik flink verkoop. Byvoorbeeld, Beeld het op enige gegewe dag steeds tussen 100 000 en 120 000 koerante verkoop, maar sukses is gemeet aan of dit konstant kan bly en nie verder daal nie. Teen 2008 was daar reeds by Media24 ontluikende gissings dat die bestuur met koerante wil wegdoen. Daar was al sterk roeringe by die SAUK (waar ek ook vir 'n rukkie by TV betrokke was) dat Afrikaans aanstoot gee en afgeskaal moet word. Daar was (en is) steeds 'n klomp Afrikaanse gemeenskapsmedia, maar die oorlewing en sukses van hierdie media is nog altyd aan hul nasionale en gewestelike lewenskrag gemeet.
Hierdie vrees het ontstaan weens die klein getal groot rolspelers op daardie stadium. Naspers/Media24 het die geveg teen die ander groepe gewen en daarmee die Afrikaanse monopolie in die privaatsektor in die 21ste eeu gehad. Politiek sou die taal se voortbestaan by die SAUK dikteer. Die internet was nog nie eens 'n wesenlike faktor nie en YouTube was in sy babaskoene. Hoewel die digitale era se ontwrigting wel voorspel en erken is by die publiek en mediabestuurders, was dit nog iets wat vir 'n wyle sou moes wag en selfs met teenstand uit verskeie oorde begroet is. Radio, liniêre TV, koerante en tydskrifte het nog die septer stewig geswaai wat verbruik en advertensies betref.
Verandering en Veerkrag
In 2026 het baie dinge al verander terwyl daar steeds kontinuïteit is en die vrese oor die voortbestaan van die Afrikaanse media (in welke formaat ook al) grootliks besweer is, al duur die politiek by die SAUK rondom Afrikaans steeds voort.
Die ontstaan en toenemende gebruik van slimfone, sosiale media en die internet vir die verbruik van allerlei media-inhoud het die landskap vir alle media grondliggend verander. In 2011 het Maroela Media eers 'n klein ontstaan gehad maar het mettertyd tot 'n reus aangegroei. Media24 het mettertyd ook die digitale roete begin volg deur die afsonderlike koerante se webblaaie in Netwerk24 te konsolideer. Vandag bly slegs Die Burger en Die Son (albei in die Wes-Kaap) as fisiese koerant oor. Litnet het desgelyks en reeds vroeg 'n digitale teenwoordigheid met populêre en akademiese inhoud gehandhaaf.
YouTube en sosiale media het boonop uiteenlopende Afrikaanse stemme geskep en laat groei sonder korporatiewe geld of staatsteun – iets wat 20 jaar gelede ondenkbaar was. Wat radio betref, het RSG, Pretoria FM en Afrikaanse gemeenskapstasies veerkragtig gebly en selfs gegroei onder moeilike politieke en ekonomiese omstandighede. Hulle handhaaf ook 'n digitale teenwoordigheid vir nie-liniêre of vergeleë luisteraars. KykNET en ander Afrikaanse TV-inhoud bly gewild en die aanbod sterk.
Terwyl prominente Afrikaanse koerante en tydskrifte gesneuwel het, is die era van drukmedia nog lank nie verby nie. En drukmedia kom en gaan maar, soos lank reeds die geval is. Terwyl alle drukmedia – Afrikaanses inkluis – se oplaagsyfers besig is om te daal, oorleef en floreer heelwat gemeenskaps- en streekskoerante. Dit is vanweë die feit dat hulle in klein geografiese areas onder gemeenskappe met plaaslike belangstellings uitgegee word. Dit verlaag kostes en vergemaklik verspreiding terwyl dit gekonsentreerde nismarkte dien. Afrikaanse tydskrifte word minder gereeld uitgegee en 'n paar titels kan veelal deur gevestigde netwerke en geriewe gedruk en versprei word. Koerante en tydskrifte bied ook steeds iets tasbaar en deelbaar wat selfs in 2026 nie uitgedien is nie.
Die Papier is die jongste en ook tans enigste nasionale Afrikaanse koerant. Novus Media het Media24 se gemeenskapskoerante oorgekoop en dus ook daarmee saam 'n nasionale voetspoor om sodoende hierdie koerant uit te gee. Ek hoop van harte dat dit 'n sukses is en glo dit sal minstens vir 'n geruime tyd volhoubaar wees. Daar is ook 'n ervare span agter hierdie koerant wat die produk ongetwyfeld mettertyd sal verfyn en verbeter.
Terwyl die Afrikaanse media dus toenemend deur die “oorspronklike” bewakers as ongewens of 'n bysaak beskou word, het die gemeenskap en sy skeppende individue asook nuwe rolspelers gapings begin sien en die bedryf stroomop laat grense oorsteek en groei tot nuwe hoogtes wat 20 jaar gelede nie verbeel kon word nie. Dit help dus nie om te sanik oor programme en publikasies wat aan die aanbodkant sneuwel vir welke rede ook al nie (gewoonlik is hulle te lig deur die mark bevind), want die vraagkant en nuwe platforms het bloot nuwes geskep. Toenemend sal Afrikaanse media nie iets wees wat goedgunstiglik of teësinnig aan die gemeenskap “gegee” word nie, maar iets wat opnuut en meer gedesentraliseerd geskep word.
Inhoud bly Koning
Baie van hierdie omwentelinge was ondenkbaar tot slegs 'n kort rukkie voordat dit gebeur het. Dit is die aard van die digitale ekonomie, tempo van verandering en nuwe rolspelers se vernuf en ondernemingsgees.
Ek is oortuig dat die Afrikaanse media sal bly voortleef en dat daar nog baie lewe in ouer media en titels is terwyl nuwes hulle sal uitdaag of bloot ontluikende leemtes vul. Die mededinging kan net voordelig wees. Die Kanadese filosoof Marshall McLuhan het met die frase “the medium is the message” in die 60’s vorendag gekom, as synde dat die medium meer treffend as die boodskap as sulks is. Dis seker deels waar omdat elke nuwe medium op meer gevorderde en opsienbarende wyses boodskappe oordra en dus die boodskap soms selfs oorskadu. Dink net daaraan om oor misdaad te lees teenoor om ’n dokumentêr daaroor te kyk. Albei skok en dra die boodskap oor, maar die een is stellig meer grafies en boeiend.
Daarteenoor het Bill Gates in 1996 aangedring dat inhoud steeds koning is. Ofskoon hy meer bepaald na die internet verwys het, kan dit eweneens op enige medium van toepassing wees. Volgens Gates bou inhoud van hoë gehalte vertroue en dit lei uiteindelik tot sukses. Hy skryf onder meer in die opstel “Content is King” die volgende:
“Content is where I expect much of the real money will be made on the Internet, just as it was in broadcasting.
The television revolution that began half a century ago spawned a number of industries, including the manufacturing of TV sets, but the long-term winners were those who used the medium to deliver information and entertainment . . . the broad opportunities for most companies involve supplying information or entertainment. No company is too small to participate.
If people are to be expected to put up with turning on a computer to read a screen, they must be rewarded with deep and extremely up-to-date information that they can explore at will. They need an opportunity for personal involvement that goes far beyond that offered through the letters-to-the-editor pages of print magazines.”
Hoe dit ook al sy, enige medium gaan “oud” raak en mense gaan gewoond daaraan raak. Die medium sal derhalwe nie vir ewig die boodskap bly nie. Met die internet het die ontploffing van inligting en vermaak veroorsaak dat daar, anders as in vroeëre tye, te veel inhoud is wat vir mense se aandag meeding – selfs in 'n kleiner taal soos Afrikaans. Dit maak dit selfs meer deurslaggewend dat uniekheid en vertroue die voorvereistes van inhoud se sukses in die inligtingsekonomie is.
Toe ek verlede jaar genader is om bydraes vir OntLaer te begin lewer, het ek dadelik besef dit is iets waarvoor die Afrikaanse wêreld juis gewag het. Die digitale Vrye Weekblad se eindelike ondergang was op daardie stadium 'n uitgemaakte saak en hoewel ek nie hul getrouste leser was nie, het ek wel gedink dat hulle op 'n onvolmaakte manier probeer het om 'n unieke rol te speel. Hulle was nie soseer en noodwendig verkeerd as wat hulle onvolledig was nie. Hulle het nog stemme regoor die politieke spektrum gekort om nie so voorspelbaar en eentonig te raak nie – helaas 'n kwaal van te veel media se meningsblaaie.
Die naam “OntLaer” is reeds betekenisvol. Dit dui op 'n veelheid van stemme wat buite hul laers kan beweeg en sinvol en sonder korporatiewe (en ander organisasies se) grense aan debatte kan deelneem. Dit beteken nie net om die ANC te kritiseer of weer oor die Madlanga-kommissie te praat nie (die jongste nuusgebeurtenisse is immers dikwels nie die belangrikstes nie), maar om veel heiliger koeie te slag en indringend na dieper, omstrede en filosofiese kwessies te kyk. Die publikasie is tewens nie bang vir kritiek uit enige oord nie, want sonder kritiek is jy bloot 'n eentonige eggokamer.
Elke skrywer bring weekliks sy of haar eie unieke kennisveld na aktuele of nie-aktuele (maar nooit nietige en vervelige) aangeleenthede. Ek is self ideologies taamlik eklekties en is ruim deur my medeskrywers uitgedaag en verryk oor die laaste jaar. Hoewel ons almal oor ons eie blindekolle en vooroordele beskik, poog ons om so eerlik, intelligent en gebalanseerd as moontlik te skryf oor onderwerpe wat veelal as verbode of nie-hoofstroom beskou word – en daarmee Afrikaans te dien. Daar word nie in 600 woorde goedkoop politieke punte aangeteken of 'n organisasie of ideologie verkoop nie. Die idee is juis om deur middel van meer oorwoë menings (sogenaamde “sloernalistiek”) meer diepte aan verskeie aangeleenthede en tendense te verskaf, en juis goedkoop foefies ewewigtig te ontbloot. Dit is alles eienskappe wat nie die leser se intelligensie onderskat deur ideologiese kortpaaie, lui aannames en oorvereenvoudigde ontledings nie.
Soos wat OntLaer dan 'n jaar oud word, is daar na my wete geen ander aanlyn of drukpublikasie wat die veelheid van menings en onderwerpe toelaat en aanmoedig nie. Dis hoekom ek hierdie publikasie vier en bevoorreg voel om daartoe by te dra. Mag daar nog vele verjaarsdae wees!
Dr. Brink is 'n entrepreneur, sakekonsultant en ontleder van die Paarl.
Nog artikels deur Eugene Brink:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










Spyker op sy kop, Eugene.