Naamsveranderinge: Takseer eers elke geval
Pleknaamwysigings oes bloot laaghangende politieke vrugte.
Naamsveranderinge van dorpe, stede, strate, lughawens en streke is niks nuut nie – veral nie in veranderende politieke en demografiese omstandighede nie.
New York het aanvanklik New Amsterdam geheet en is verander toe die Engelse beheer daarvan by Nederland oorgeneem het (dit lui 'n klokkie). St. Petersburg is eers na Petrograd en toe na Leningrad verander ná Wladimir Lenin se dood in 1924, waarna dit in 'n referendum in 1991 weer terug verander is na St. Petersburg. Salisbury in Zimbabwe is in 1982 na Harare verander.
Baie hiervan is heeltemal geregverdig en selfs wenslik. Die wil van die plaaslike inwoners en trouens menige Russe het geseëvier met die naamsverandering van Leningrad. In 1991 was daar 'n uiterse en blywende tamheid vir die Sowjetunie, Lenin, kommunisme en 'n hunkering na 'n meer nasionalistiese verlede. Soms is daar slegs mag ter sprake, soos die geval van New York bewys. Soms word bestaande name verander om plaaslike tale se spelling en uitspraak beter te weerspieël en van koloniale variante ontslae te raak, soos in Indië ná onafhanklikheidwording in 1947.
Nodig in Suid-Afrika
Dit sou onafwendbaar wees dat sekere name in Suid-Afrika ná 1994 gewysig word. Dit was en is steeds 'n gepolariseerde samelewing met sekere name wat nie meer relevant is nie of aanstootlik is vir die plaaslike bevolking. Die demografiese en kulturele verspreiding het dit verstaanbaar gemaak en hoewel heelwat mense teen sekere veranderinge geskop het, is dit nietemin verander.
Nuwe provinsies is boonop geskep en hulle is name gegee wat (myns insiens altans) 'n breek sowel as kontinuïteit met die verlede verteenwoordig. Elke persoon wat ek ken (Afrikaners inkluis) praat van Mpumalanga, Limpopo, Gauteng, die Vrystaat en KwaZulu-Natal. Baie min mense verwys nog na Transvaal in hul alledaagse geselsies. Limpopo se demografie en die ANC se houvas op die politiek aldaar het dit genoodsaak dat heelwat plekname desnoods sou verander. Vroeg in die 21ste eeu is Ellisras (Lephalale), Duiwelskloof (Modjadjiskloof), Potgietersrus (Mokopane), Pietersburg (Polokwane) en Warmbad (Bela-Bela) se name derhalwe gewysig.
Weinig name is egter in die westelike helfte van die land verander, maar die Oos-Kaap as geestelike tuiste van die ANC het reeds baie plekname ingeboet – veral in die onlangse verlede. Port Elizabeth het byvoorbeeld Gqeberha geword, Grahamstad is na Makhanda verander en King Williams’ Town na Qonce. Altesame 21 pleknaamveranderinge in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal is onlangs aangekondig. Oos-Londen gaan voortaan KuGompo City heet en Graaff-Reinet sal as Robert Sobukwe Town bekendstaan.
Om slegs (politieke) naam te wil maak
Wat egter pla is wanneer die regte prosedures nie gevolg word nie en die naamsverandering nie die werklike wil van die plaaslike gemeenskap weerspieël nie. Dit het daarop uitgeloop dat Louis Trichardt se naam slegs tydelik na Makhado verander is, voordat dit weer terug verander is.
Van wat ek kan aflei hang daar ook vraagtekens oor Graaff-Reinet se naamsverandering. Die nuwe naam is deur Suid-Afrikaanse Geografiese Nameraad (SAGNR) – dus op nasionale vlak – aanbeveel voordat dit deur Gayton McKenzie as minister van sport, kuns en kultuur goedgekeur is. By die plaaslike openbare deelname-proses hieroor was die mening taamlik verdeeld tussen wit en bruin inwoners enersyds en swart inwoners andersyds. In die dorp en selfs die Beyers Naudé-plaaslike munisipaliteit is Afrikaans verreweg die meerderheidstaal en bruin mense die meerderheid. Dit is daarom onverstaanbaar en as’t ware ondemokraties om nogtans 'n plek se naam op sentralistiese wyse teen die wense van die plaaslike gemeenskap te verander. As dit verander moes word, moet die plaaslike gemeenskap ten minste ook voorstelle daaroor kan maak.
Die keuse vir die nuwe naam wek ook agterdog en gee straks weer nuwe aanstoot. Robert Sobukwe was dalk in Graaff-Reinet gebore, maar hy was geen groot politieke figuur of intellektueel nie. Hy was 'n aktivis wat onder meer gekant was teen samewerking met mense wat nie swart Afrikane is nie. Toevallig is talle ander prominente mense ook daar gebore, soos Beyers Naudé, Anton Rupert, Andrew Murray en Groot Trek-leiers. Hulle is seker nie almal se helde nie, maar hul prestasies op verskeie gebiede verdwerg dié van Sobukwe. Sommiges, soos Rupert en Naudé, was meer doeltreffend en invloedryk as Sobukwe om apartheid af te takel. Dit is sterk te betwyfel of vandag se inwoners van Graaff-Reinet sterk oor juis Sobukwe en 'n naamsverandering voel.
Dit laat die vraag ontstaan oor uitdruklik politieke name teenoor meer neutrale name wat straks minder verdelend is. “Mbombela” (voormalig Nelspruit) beteken byvoorbeeld “baie mense tesame in een plek” in Siswati. Lephalale beteken “om te vloei”. Dit is mooi betekenisse waarmee min mense nie kan vereenselwig nie.
Dit help ook nie as plekke se name amptelik verander is, maar dit word nie ooglopend as sulke aangedui nie. Naamboorde dui byvoorbeeld vir jare of nog steeds die ou name van veral dorpe aan. Die ANC se onbeholpe administrasie en wanregering het veroorsaak dat ofskoon plekke se name amptelik verander het, hulle nogtans nie inslag vind by die plaaslike (en veral nie-plaaslike) bevolking nie. Só raak naamsveranderinge 'n tydelike foefie met min substansie.
Dit is nie asof mense op 'n dorp heeldag loop en tob oor plekname nie en dis by uitstek 'n laerorde-kwessie tussen armoede, misdaad en werkloosheid. Daarom moet die koste, motiewe en nut van minstens sekere pleknaam-veranderinge bevraagteken word. Die volgende plaaslike verkiesing is minder as 'n jaar weg en daar kan en sal niks beduidend aan toestande in disfunksionele plaaslike munisipaliteite gedoen word nie. Pleks van beter dienslewering in Buffalo City of ander Oos-Kaapse munisipaliteite, kry inwoners eerder simboliese pleknaamwysigings as 'n soort troosprys en paaimiddel. Dit bied ook nuwe kanale vir tenderkorrupsie wanneer dokumentasie en borde (uiteindelik) die nuwe name weerspieël. Gaan vertel dit vir die bedelende bruin kinders in Graaff-Reinet dat hul dorp se naam verander en ongeërgdheid sal waarskynlik hul enigste reaksie wees. Hulle put niks daaruit nie.
Die selektiwiteit en konsekwentheid van naamsveranderinge laat ook vrae ontstaan. Johannesburg, Port Shepstone en Durban se name kon seker lankal verander word, aangesien hulle ook aan apartheid en kolonialisme (die regverdiging wat pal gebruik word) gekoppel kan word. Dit sou 'n beginselbesluit wees, maar dié name is al wat uiteenlopende inwoners ken en gebruik. Aanstoot en beginsel is dus uiters selektief.
Daar is laastens geregverdigde irritasie met mense wat die naam van metropolitaanse munisipaliteite pleks van onveranderde plek- en stadsname gebruik – boonop selektief. Heelwat TV-sportkommentators sal byvoorbeeld steeds na “Durban” verwys en nié “eThekwini” nie terwyl hulle eerder van “Tshwane” as “Pretoria” praat. Anders as byvoorbeeld Mbombela is Pretoria en Durban se name nooit amptelik verander nie, hoewel hulle deel is van metro’s met ander name. Meeste mense van alle rasse in Suid-Afrika sowel as oorsese media gebruik byvoorbeeld steeds “Pretoria” omdat dit die hoofstad is en ook só neerslag in die volksmond verkry het.
Almal moet verstaan dat name slegs dít is. Dit staan almal vry om nog steeds in jou handel-en-wandel watter naam ook al te gebruik al het die amptelike naam van 'n plek verander. Om name van veral dorpe te verander is laaghangende politieke vrugte en daar moet altyd vrae oor die afruilingswaarde en wenslikheid daarvan in gevra word.
Elke geval is uniek en die teikens vir nuwe name ná sowat 1500 veranderinge sedert 1994 raak ál hoe yler.
Dr. Brink is 'n entrepreneur, sakekonsultant en ontleder van die Paarl.
Nog artikels deur Eugene Brink:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











Eugene, jou argument oor die neutralteit van die naamsverandering van my tuisdorp, Nelspruit, na Mbombela, is geldig. So ook ten opsigte van enkele ander. Ek kan jou egter beloof dat dit ook maar 'n wrang smaak in sekere van ons se monde laat. Nogal ironies hoe baie swartmense egter nog steeds van Nelspruit praat, of "Nelsproet", soos hulle dit uitspreek. Ek dink dis die assosiaie met die ou kerndorp wat dit nog steeds makliker vir hulle maak om te sê hulle gaan van, sê, die KaNyamazane-township/-woonbuurt na die sentrale sakekern toe. Die pleknaam Nelspruit is dus nog lank nie dood in gewone gesprekke nie. En dis vir my persoonlik soos ek dink dit maar kan wees: Graaff-Reinet sal in my opinie ook maar net Graaff-Reinet bly vir baie. En dis oukei met my...