In die Amerikaanse politiek beklee die minister van buitelandse sake as die vernaamste diplomaat in die land – en vir sowat 'n eeu ook die wêreld – 'n spesiale en onafhanklike posisie. Trouens, hulle is in talle opsigte meer magtig as simboliese adjunkpresidente en ander hooggeplaastes.
Gegewe hul status as brug tussen die president en wêreldleiers asook hul toeëiening van die globale kollig, oortref hul aansien selfs veelal die president s’n. Menigte ministers se optrede, uitlatings en toesprake was seminaal en rigtinggewend – veral tydens die Koue Oorlog. Dit is nie met almal die geval nie, maar die vernaamste ministers neig om hul stempel op spesifieke maniere af te druk – soms op omstrede en vrypostige, maar voorkundige maniere.
George Kennan se “Lang Telegram” in 1946 oor die Sowjetunie se konkelary is in 1947 in 'n artikel getiteld The sources of Soviet conduct onder die skuilnaam X in Foreign Affairs omskep. Dit het die Stuiting (containment)-begrip geskep en dit is daarna vir jare as amptelike beleid jeens die Sowjetunie gevolg. Oudpres. Harry Truman het Dean Acheson in wese die leiding met betrekking tot buitelandse beleid laat neem. Hy het die Stuitingsbeleid verdere stukrag gegee, asook die Truman-doktrine, Marshall-plan en Noord-Atlantiese Verdragorganisasie (Navo) help boetseer.
Kissinger se Eggo en Rubio se Aanvulling
Marco Rubio, die huidige Amerikaanse minister van buitelandse sake, se onlangse toespraak by die München-veiligheidskonferensie kan voorlopig as só 'n seminale verklaring beskou word.
Dit het boonop 'n geskiedkundige presedent in die “Jaar van Europa”-toespraak wat dr. Henry Kissinger in 1973 in Londen gelewer het. Daar is geen twyfel dat Rubio ruim by Kissinger se toespraak geleen het nie, hoewel dit anders verwoord en aangepas is vir die huidige omstandighede en tydsgees in Amerika en die wêreld. Nuwe eise verg immers nuwe benaderings.
Die eerste punt wat opval is dat Europa in 1973 onverbiddelik maar gaandeweg besig was om ekonomies en polities te verenig. Kissinger het hierdie feit erken, maar taamlik sterk kapsie gemaak oor die gebrekkige konsultasie met die VSA terwyl hy darem ook Amerika se eiesinnigheid erken het. Hy het hierbenewens kommer uitgespreek oor die impak van Europese eenheid (en hul selfopgelegde onderskeid) op die trans-Atlantiese alliansie en die Weste, tesame met die problematiese bedinging tussen 'n verenigde Europa en Amerika. Terwyl hy gevra het dat formalistiese prosedures nie bilaterale betrekkinge en natuurlike dialoog moet vervang nie, het hy nogtans onomwonde verklaar:
“For our part, we will spare no effort to strengthen cooperative relationships with a unifying Europe, to affirm the community of our ideals, and to revitalize the Atlantic relationship.”
In 2026 is die Europese Unie (EU) meer as drie dekades oud en die Verenigde Koninkryk het dit reeds verlaat. Europese lande se status in die wêreld is radikaal anders as destyds en dit het opsluit vereniging gefasiliteer, maar euroskeptiese partye bly opgang maak ondanks faktore wat eenheid in die hand werk, soos Rusland se oorlog in die Oekraïne. Rubio se boodskap resoneer steeds sterk met Kissinger s’n deurdat hy Amerika se onbeskroomde steun vir die Transatlantiese alliansie uitspreek:
“Under President Trump, the United States of America will once again take on the task of renewal and restoration, driven by a vision of a future as proud, as sovereign, and as vital as our civilization’s past. And while we are prepared, if necessary, to do this alone, it is our preference and it is our hope to do this together with you, our friends here in Europe.”
Rubio se toespraak wyk egter hewig en op belangrike wyses van Kissinger s’n af om die nuwe werklikhede in oënskou te neem. Waar Europa se karakter en selfvertroue vanselfsprekend in 1973 was, het Rubio seker gemaak daarvan dat hulle onthou wie hulle is. Kissinger se toespraak het slegs abstrakte gedeelde belange geopper en, getrou aan sy geloof in magsbalans en die realisme-skool in die internasionale politiek, homself betreklik saaklik oor 'n gedeelde beskawing en identiteit van die Weste uitgelaat. Rubio se hooffokus was egter om met kulturele relativisme weg te doen en Europa as die heimat van die VSA te beklemtoon. Die volgende frase verwoord dit opsommend:
“We are part of one civilization – Western civilization. We are bound to one another by the deepest bonds that nations could share, forged by centuries of shared history, Christian faith, culture, heritage, language, ancestry, and the sacrifices our forefathers made together for the common civilization to which we have fallen heir.”
Hy noem derhalwe die talle spesifieke voorbeelde van hierdie spesiale verwantskap. Die Weste (en dus Europa) het die Koue Oorlog gewen, maar laat haarself op sleeptou neem deur voorkombare bedreigings, soos die klimaatkultus, welsynstate wat op empatiese selfmoord uitloop, migrasie wat Westerse state op verskeie maniere aftakel en destabiliseer, en multilaterale organisasies en onverkose burokrate wat Europese state se besluitneming en soewereiniteit ondermyn. Die Verenigde Nasies (VN) en die reëlsgebaseerde orde is goed en wel, maar help niks indien niemand behalwe die Weste dit nakom nie en is uiteindelik 'n papiertier. Dit was veel meer Reagan, as Nixon en Kissinger. En dit is ongehoord, maar noodsaaklik in die onlangse geskiedenis.
'n Westerse wekroep en wêreldorde
Rubio se toespraak was in wese 'n voorbeeld van lojale verset wat die sondes eerder as die sondaars kasty. Die klem op indiwidualisme en streeksintegrasie onder die EU het 'n lugleegte in Europa gelaat wat gaandeweg deur kulturele relativisme en burokrasie gevul is, en veral in groot stede toenemend deur anti-Westerse sentiment oorheers word.
Dit was egter ook 'n optimistiese wekroep wat ewe veel uitgewys het wat voor én teengestaan moet word. Sy taal was spesifiek, eerlik en soms vermanend, maar nie hovaardig en voorskriftelik jeens Europa nie. Terwyl pres. Donald Trump se optrede vrees by Europeërs inboesem en hulle laat wonder oor hierdie ou vriendskap, was Rubio (nes Kissinger) gerusstellend dog streng oor gedeelde laste en ander ooglopende gevare. Navo as militêre alliansie bestaan nog en die VSA is steeds die onontbeerlike pilaar daarvan – iets wat Mark Rutte, Navo se sekretaris-generaal onlangs ruiterlik erken het – terwyl die EU nie oor dieselfde middele en kohesie beskik nie. Terwyl Kissinger nog bekommerd was oor wie in die toekoms namens Europa gaan onderhandel en die behoud van buigsame interstaatlike betrekkinge in die Weste bepleit het, kon Rubio met wysheid agterna die demografiese, politieke, militêre en ekonomiese agteruitgang van Europa onder die EU snydend uitwys.
Terwyl Rubio sy toespraak voor politici gelewer het, was dit waarskynlik meer gerig op die bevolkings in verskeie Europese state om hul kultuur en grootsheid te herontdek en besef terwyl hulle hierop voortbou in die toekoms. Die historikus Niall Ferguson wys in sy boek Civilization: The West and the Rest die verskeie maniere uit hoe die Weste sedert die 1500’s die wêreld oorheers het, te wete deur mededinging, wetenskap, die oppergesag van die reg, moderne medisyne, verbruikerswese en die werksetiek. Rubio het ook melding hiervan gemaak en dit spruit uit Westerse tradisies soos vindingrykheid en die vervulling van die menslike potensiaal.
Hierdeur is indiwidue en Westerse state ongekend bemagtig terwyl dit tewens 'n wesenlike positiewe bydrae tot die res van die wêreld gelewer het, soos om die lewensverwagting in Afrika aansienlik te verhoog en suksesvolle regstelsels in lande soos Singapoer te vestig. Dit is inderdaad iets om onbeskaamd te vier en as 'n oorlewingsdaad te beskerm.
Dit kan as Rubio se magnum opus, en in die lig van ontluikende anti-Westerse en outokratiese groeperinge en multilaterale disfunksie, as 'n pleidooi vir 'n opnuut selfgeldende Westerse wêreldorde beskou word. Die vraag is wat Europa nou gaan doen.
Dr. Brink is 'n entrepreneur, sakekonsultant en ontleder van die Paarl.
Nog artikels deur Eugene Brink:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









