Sedert my verhuising na die Wes-Kaap in 2023, het ek probeer om die alarmistiese opskrifte en beriggewing oor die provinsie waar ek grootgeword en meeste van my lewe deurgebring het, te vermy.
Sover moontlik het ek die nuus, gissings en klagtes met nuuskierigheid, en nie smaad en leedvermaak nie, benader. Op stuk van sake is ons deur 'n nuwe ervaring en geleenthede getrek, en nie soseer deur uitdagings gestoot nie. Ek besit ook nog eiendom in Gauteng en het familie en vriende wat daar bly.
Van buite beskou, hou woongebiede in Johannesburg, Pretoria en Krugersdorp kers vas by enigiets in die Eerste Wêreld in terme van netheid en swier. Indrukwekkende winkelsentrums en kantoorgeboue troon uit bo voetgangers en verkeer uit. Dit raak egter moeiliker om die leefbaarheid daarvan te verdedig en nie die vratte te erken nie. Terwyl die plattelandse provinsies altyd sou sukkel weens swak eenparty-bestuur, 'n gebrek aan belastingbetalers en 'n kleiner ekonomie, het Gauteng (en veral Johannesburg) soos 'n onstuitbare en unieke soort bastion uitgestaan. Helaas is dit nie meer die geval nie en die situasie het eers geleidelik en toe skielik versleg.
Troebel Waters
Die waterkrisis prut nou al vir 'n ruk, maar die ganse Suid-Afrika sukkel nou met waterkwessies. Maar waar die Wes-Kaap byvoorbeeld 'n baie warm somer beleef het met feitlik geen reënval en 'n rekord-toerismeseisoen, het Gauteng 'n koel somer met baie reënval gehad.
Laasgenoemde se verouderde en verwaarloosde infrastruktuur, groeiende bevolking en munisipale wanbestuur het tot 'n perverse situasie gelei waar mense in die reën stort en nie in hul badkamers in Brixton, Roodepoort, Melville en dele van Ekurhuleni nie. Wanneer watertenks vir sindikate 'n bron van inkomste word en die owerhede hulle nie kan of wil stop nie (weens vrees of samespanning) is daar min aansporing om die waterprobleme op te los – ondanks die katastrofale gevolge vir inwoners en besighede.
Indiensneming en die ekonomie ly hieronder. Dit is opsluit steeds die ekonomiese spilpunt van Suid-Afrika, soos die Gautengse premier Panyaza Lesufi onlangs in sy provinsiale rede uitgewys het. Maar dis 'n kwynende een – grootliks te wyte aan die infrastruktuur-tekortkominge. Gauteng het inderdaad ook die grootste bevolking van alle provinsies, maar dis nogtans onrusbarend dat dit 54 000 netto-werksverliese tussen 2025 se laaste twee kwartale gely het. Dit het nou 'n werkloosheidskoers van 33%, wat hoër is as die nasionale gemiddeld en ander meer verstedelikte provinsies, maar ook as armer provinsies soos Limpopo en Mpumalanga se syfers. Die provinsie se groei is net te traag om groot getalle ongeskoolde en selfs geskoolde werkers te absorbeer.
Miskien moet Lesufi meer besorgd daaroor wees om mense binne Gauteng veilig en betroubaar by die werk te kry as om te droom oor sneltreine wat pendelaars daagliks tussen Limpopo en Gauteng te vervoer. Of sy mees onlangse plan om nog 'n infrastruktuur-agentskap (met betaalde burokrate) vir grootmaat-infrastruktuur te skep, ondanks die provinsiale departement van infrastruktuur en die Gautengse infrastruktuur-finansieringsagentskap wat reeds tot sy beskikking is. Hierdie infrastruktuur-agterstande is stille getuienis van munisipaliteite se mislukkings terwyl halfklaar skole oor die provinsie se landskap besaai is. Township-kinders moet die weer in vraghouers as 'n semi-permanente plaasvervanger trotseer.
Die ouditeur-generaal (OG) het die voorbeeld van die Mayibuye Primary School in Tembisa in haar jongste verslag genoem. Die bou van die skool het in Maar 2015 begin en sou ses maande later voltooi wees. Ná gekanselleerde kontrakte met die oorspronklike kontrakteurs (dit is 'n algemene verskynsel in Suid-Afrika) en gevolglike vandalisme met skade van bykans R1 miljard toe die projek versaak is vir 'n wyle, is die skool in Februarie 2024 geopen. Oor die provinsie munisipaliteite skryf sy:
“Municipalities continued to experience challenges in delivering infrastructure projects due to poor planning, a lack of approved standard operating procedures, high vacancy rates in service delivery units, procurement irregularities and poor financial controls – leading to overpayments, unrecovered guarantees, delays, environmental risks and cost escalation.”
Slegs twee munisipaliteite, Midvaal en die Wes-Randse distriksmunisipaliteit, het skoon oudits ontvang. Die DA-beheerde Midvaal is die enigste een met agtereenvolgende skoon oudits.
Besoedel en Bek-af
Gegewe Gauteng se bevolking en ekonomiese aktiwiteit, sal dit waarskynlik ook die mees besoedelde provinsie wees. Dit is egter die skaal daarvan wat ernstige kommer wek. Daily Maverick het in die onlangse verlede breedvoerig hieroor berig.
In Oktober verlede jaar het hulle bekendgemaak dat slegs 12 (oftewel 39%) van die provinsie se 39 munisipale luggehalte-moniteringstasies volledig operasioneel is. Drie werk gedeeltelik en 16 is heeltemal buite werking weens 'n kwansuise geldtekort. Dr. Jamie Kelly, hoof van die Sentrum vir Navorsing oor Energy en Skoon Lug se gesondheidsimpak-assesseringspan, sê die lugbesoedeling in Gauteng is meer as dubbel dié van die nasionale standaard en tien keer hoër as die Wêreldgesondheidsorganisasie se riglyne.
Tewens is vandeesweek berig dat rivierbesoedeling in Gauteng “ 'n omgewing- en openbaregesondheid-krisis geword het” en meegebring word deur gebrekkige afvalwater-aanlegte, uitgediende rioolinfrastruktuur, toenemende verstedeliking, nywerheidsafval en mynbesoedeling. Groot riviere soos die Jukskei, Klip en Hennops, sowel as dele van die Vaalrivier-stelsel, bevat nou groot hoeveelhede riool, swaarmetale en ander besoedeling. In baie areas het dit gevaarlike vlakke van E. coli veroorsaak. Die waterkenner dr. Anthony Turton sê Gauteng beleef nou 'n stelselmislukking in die watersektor, vernaam in die metro’s.
Veral munisipaliteite is die sondebok in hierdie verband aangesien dit hoofsaaklik hul verantwoordelikheid is om na riviere om te sien en te keer dat onbehandelde afvalwater daarin vloei. Maar die provinsie het teen die einde van die huidige boekjaar slegs 26% van sy kapitale infrastruktuur-begroting uitgegee. Dus is dit nie altyd net 'n gebrek aan geld wat pla nie, maar wat daarmee gedoen word al dan nie.
Al hierdie faktore maak mense in die provinsie taamlik bedruk, soos uitgedruk in die Gauteng City-Region Observatory’s Quality of Life Index se jongste peiling. Dit meet 33 aanwysers om algehele welstand te peil en die nuutste een het die laagste vlak van tevredenheid sedert die peiling se aanvang aangeteken. Altesaam 85% van die bykans 14 000 respondente het aangedui dat dit moeiliker vir “mense soos hulle” is om werk te kry as vyf jaar gelede. Tevredenheid met basiese dienste (tesame met die regering in die algemeen) soos water, vullisverwydering en plaaslike paaie het aanmerklike dalings tussen die eerste en laaste peilings getoon. Dit is nie slegs abstrakte peiling-data nie. Persoonlike anekdotiese getuienis – versamel by vriende, familie en kennisse van my – bevestig hierdie bevindinge. Die impak hiervan op misdaad en sosio-politieke stabiliteit is vanselfsprekend.
Politieke verandering is al Salf te Smeer
Kiesers het die ANC in 2024 hiervoor gestraf. Wel, soort van. Hulle het hul grootste steundaling tot hede in die provinsie beleef, maar hulle is nogtans in beheer met die hulp van kleiner partye terwyl die verval voortduur. Baie mense het bloot gewoond geraak hieraan en ignoreer dit of werk daarom op abnormale maniere, maar die uitdagings raak nou vinnig te ernstig om te ignoreer en dit kan ten minste versag word.
Dit is nie normaal nie en uiteindelike verbetering is moontlik, maar beslis nie met die huidige provinsiale regering en munisipale rade nie.
Politieke verandering deur verkiesing is uiteraard die belangrikste faktor omdat grootskaalse dienslewering- en infrastruktuur-uitdagings nie aangespreek kan word sonder beter regering en die begroting wat daarmee gepaardgaan nie. Maar om vir die ANC en kleiner partye wat net weer met die ANC in koalisies gaan saamspan en hulle nie teengaan nie (en selfs saam met hulle plunder), gaan net dieselfde resultate oplewer. En op die oomblik kom die status quo op agteruitgang neer. Ek wil nie fatalisties klink nie, maar ek weet nie of Gauteng se munisipaliteite nog vyf jaar hiervan kan verduur nie. Dis beter om nie uit te vind nie en stem is maklik.
Terwyl stem eenmalig en slegs af en toe gebeur, kan burgerlike betrokkenheid en plig 'n voortdurende en kleiner maar wesenlike verskil maak. Want selfs met ’n volledige verandering in Johannesburg en elders (wat onwaarskynlik in selfs die beste scenario’s is), gaan die pad van herstel waarskynlik net so lank soos die proses van agteruitgang wees. En slegs ná sulke veranderinge sal munisipaliteite met beperkte fondse met die herstelproses begin en verbetering sal nie altyd liniêr wees nie want die onbevoegde en korrupte burokrasie gaan nie oornag vervang word nie.
Dus, hou daardie grasperk voor jou huis so pragtig as moontlik, maar help ook om die strate en openbare spasies skoon te hou waar en hoe jy ook al kan.
Dr Brink is 'n entrepreneur, sakekonsultant en ontleder van die Paarl.
Nog artikels deur Eugene Brink:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









