
Deur onwettige immigrasie oor dekades heen met passiewe verdraagsaamheid, institusionele ondoeltreffendheid en slegs periodieke simboliese kragdadigheid te hanteer, het die ANC-in-regering 'n menslike krisis geskep. Die bevrydingsparty het kwesbare individue by verstek toegelaat om hulself in Suid-Afrika te vestig, net om hulle later onbeskermd te laat toe samelewingsspanning in vigilantegeweld oorgekook het.
Die ANC regering se 30 jaar lange beleid teenoor onwettige immigrante was nie een van deernisvolle verdraagsaamheid soos hulle voorhou nie. Dit was berekenende nalatigheid en gevolglik 'n vorm van strukturele wreedheid wat stilswyend miljoene mense, Suid-Afrikaners en die buitelanders in ons midde, in die steek gelaat het. Vir meer as drie dekades het die Departement van Binnelandse Sake onwettige immigrasie “hanteer” met konstante agterstande, korrupsie en grensbestuur vol gate. In plaas daarvan om streng grensbeheer af te dwing of werkbare, wettige roetes vir streeksmigrasie daar te stel, het die regering ongedokumenteerde migrante toegelaat om hulself in die land te vestig, werk te aanvaar, besighede op te rig en gesinne te begin. Dit is alles nie gewone menslike gedrag van mense wat hulself vestig in 'n nuwe land.
Hierdie langdurige passiewe verdraagsaamheid het de facto 'n toevlugsoord geskep. Immigrante het in townships en plaaslike ekonomieë geïntegreer, in die oortuiging dat hulle deur die staat verdra word, en hulself sodoende aan enorme risiko’s blootgestel toe beleid verander of die openbare sentiment versuur het.
Geskiedkundige bewyse (van die xenofobiese uitbrake in 2008 en 2015 tot Operasie Dudula, onlangse bewegings soos March and March en geweld teen immigrante in Durban en Soweto) toon 'n konsekwente patroon. Die regering is grootliks passief totdat openbare woede gewelddadig word en die regering dan inderhaas moet optree. Waar is die staat se “oor op die grond” (intelligensiedienste), wat sulke gebeure kan voorsien deur metodes van inligtinginsameling wat wel bekend is en ook uiters doeltreffend kan wees om dit te voorkom?
Vertraagde optrede (byvoorbeeld sporadiese klopjagte, tydelike taakspanne en kortstondige grensontplooiings) was bloot politieke teater om plaaslike kiesers te paai, eerder as om as langtermynbeleidsoplossings te dien. En dan sodra interne woede afgekoel het en internasionale opspraak kwyn dan keur die regering terug na sy passiewe, en later noodlottige, verdraagsaamheid. En so duur die siklus van geweldpleging teen onwettige immigrante voort net op 'n uitgestelde basis.
Die opkoms van bewegings soos March and March in 2026 en die daaropvolgende onrus in stedelike sentrums soos Durban en Soweto toon 'n volledige ineenstorting van die staat se konstitusioneel verskanste monopolie op geweld. Die staat het inteendeel grootliks 'n toeskouer geword. Wanneer burgers die polisiëring in eie hande neem, kom die staat se versuim om orde te handhaaf en menseregte binne sy grense te beskerm neer op 'n ernstige versaking van sy grondwetlike en internasionale verpligtinge.
Die regering neem dikwels sterk morele standpunte in internasionale forums (byvoorbeeld die Verenigde Nasies of die Internasionale Hof van Justisie) rakende menseregteskendings elders, terwyl hy versuim om kwesbare bevolkings binne sy eie soewereine grondgebied te beskerm.
Hierdie kontras beklemtoon die dubbele standaarde en etiese inkonsekwentheid tussen die ANC-in-regering se eksterne menseregteveldtogte en sy interne bestuursmislukkings.
Die ANC-in-regering se saak teen Israel was uiters ironies, gegewe dat state ingevolge die internasionale reg oor menseregte (soos die Afrika-handves oor Mens- en Volkereregte) 'n duidelike verpligting het om die reg op lewe en die reg op persoonlike veiligheid van alle individue binne hul eie jurisdiksies te beskerm — ongeag hul regstatus. Dit is net mooi die teenoorgestelde van wat die ANC-in-regering by verstek toegelaat het om in Suid-Afrika te gebeur.
'n Regering skend sy internasionale verpligtinge nie net deur regstreekse dade van geweld te pleeg nie, maar ook deur te versuim om die nodige inisiatief te toon om vigilantisme te voorkom, te ondersoek en te straf.
Oor meer as 30 jaar van ANC-heerskappy in Suid-Afrika is 'n “stelsel van versuim” gevestig wat betref die behoorlike beheer van onwettige immigrasie en die afdwinging van orde tydens voorspelbare uitbrake van geweld teen onwettige immigrante. Aldus is die ANC-in-regering in Suid-Afrika medeverantwoordelik vir die gevolglike menseregteskendings ten opsigte van onwettige immigrante in die land. Dit kom neer op wreedheid.

Nog artikels deur Piet du Plessis:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.







